Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 10 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Onteiening - Suid-Afrika op 'n kantelpunt (Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte) 
en onderhoud met Prof. André Duvenhage


Sien die onderhoud met Prof André Duvenhage onder  - skakel na Youtube
 
Op Donderdag 6 Mei 2021 het die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg weer in Pretoria ontmoet. Die Ad Hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbou verteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings en opposisiepartye, sowel as geloofsinstellings. Die Ad Hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg ontmoet op gereelde basis om enige beleidsraamwerke wat eiendomreg mag skaad of ondermyn, te bespreek en dan onderlinge standpunte, aksies en inisiatiewe te oorweeg. 
 
Die vertrekpunt vir die dag se vergadering was om die ideologiese basis van die ANC se aanslag op eiendomsreg te bespreek. Die Ad Hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg het die slotsom bereik dat die aanslag niks met grondhervorming te doen het nie - maar eerder op die implementering van die ANC se beleid van Radikale Ekonomiese Transformasie gerig is wat die hele ekonomiese bestel fundamenteel en katastrofies sou verander. Die Ad hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg het ooreengekom dat Suid Afrika hom op ʼn kantelpunt en selfgeskepte krisis bevind as gevolg van staatskaping, korrupsie en erge wanaanwending en wanbestuur. Die Ad hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg beskou die voorgestelde wysiging van Artikel 25 van die Grondwet en die wetsontwerp op onteiening as ʼn ernstige en onaanvaarbare aantasting van fundamentele regte.
 
Dit is duidelik ʼn situasie wat nie langer toegelaat kan word om so voort te gaan nie. Die rol van die burgerlike samelewing sal groter en meer intens moet word. Dit is bemoedigend dat sommige inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing reeds as oogmerk beplan word om die regering te oorreed om die wetsontwerpe terug te trek. Litigasie, plaaslike en internasionale mobilisering en verskillende vorme van protes is maar enkele van die kwessies wat indringend bespreek is. 
 
Laastens is kwessies oor sekuriteit wat landelike veiligheid direk raak ook ernstig oorweeg. Dit word al meer duidelik dat die burgerlike samelewing al meer ingestel moet wees op individuele weerbaarheid en dan veral om die staat verantwoordbaar te maak vir die nakoming van een van sy basiese funksies en om plaasaanvalle uit te lig as prioriteit.

Die Afrikanerbond behartig die sekretariaat van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg.   
 
Youtube skakel met opname met Prof André Duvenhage - soos voorgehou aan die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg op 6 Mei 2021 (Pretoria - TLU SA Kantore) 
Prof André Duvenhage praat oor die ideologie, die Radikale Ekonomiese Transformasie faksie van die ANC, onteiening, rassisme en ander politieke gebeure in die onderhoud van 6 Mei 2021

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: