Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Credo van die Afrikanerbond 


ONS, DIE AFRIKANERBOND, 
’n Organisasie van en vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes

GEDAGTIG DAARAAN
DAT ons, die Afrikaners, die enigste volk op die kontinent van Afrika is wat onsself spontaan en uit eie beweging – meer as tweehonderd jaar gelede – vernoem het na die kontinent waarop ons en ons voorouers gebore is, en
DAT ons taal, Afrikaans, hier op die Afrika-bodem ontstaan en ontwikkel het en self ook na die kontinent van Afrika vernoem is;

VERKLAAR HIERMEE  
DAT ons, hoewel ons oorsprong sovele geslagte gelede hoofsaaklik in Europa – maar ook in die Ooste en elders was – ons vandag onherroeplik kinders van Afrika, en meer spesifiek, kinders van Suid-Afrika is en wil wees;
DAT ons lojaliteit toegespits is op Suid-Afrika as land en Afrika as kontinent omdat Suid-Afrika ons verlede, ons hede en ons toekoms is.

OMDAT ONS GLO EN VAS OORTUIG IS  
DAT ons eie belange en dié van ons mede-Afrikaners onlosmaaklik verbind is aan dié van elke ander Suid-Afrikaner en elke ander volksgroep in Suid-Afrika, en
DAT die belang van elke ander Suid-Afrikaner daarom ook óns belang is;

DAAROM VERBIND ONS ONSSELF
OM ons energie en vermoëns onvoorwaardelik aan ons vaderland diensbaar te stel ten einde die kwaliteit van lewe van alle mense in Suid-Afrika te verbeter en hul menswaardigheid te bevorder.

OMDAT ONS VERDER GLO EN OORTUIG IS
DAT hierdie geliefde vaderland van ons die groot probleme waarmee hy te kampe het, alleenlik sal kan oorkóm en sy hoë potensiaal ten volle sal kan ontwikkel as die energie, kundigheid en entoesiasme van al sy mense in dinamiese harmonie aangewend word. 

DAAROM STAAN ONS GEREED OM
DIE kundigheid, ywer en vermoëns van ons mense te mobiliseer, beskikbaar te stel en aan te wend om hierdie doelwitte na te streef.

IN HIERDIE PROSES SAL ONS
WAAR nodig en toepaslik, saamwerk met die Owerheid en Staatsinstellings op alle vlakke en met alle patriotiese organisasies in die Burgerlike Samelewing om die gemeenskaplike doelwitte te bereik.

OMDAT ONS OOK GLO EN OORTUIG IS
DAT ons mense net hul beste bydrae kan lewer indien hulle fisies, emosioneel, kultureel en ekonomies geborge voel in hulle geboorteland en nie onder onregverdige beperkings, van watter aard ook al, gebuk gaan nie.

DAAROM SAL ONS
  • DIE fundamentele regte van elke indiwidu en elke groep in hierdie land met vasberadenheid verdedig;
  • ONS beywer vir die uitskakeling van diskriminasie op elke terrein waar dit voorkom;
  • DIE belange van die mense uit wie se ideale ons gegroei het en steeds geïnspireer word, noulettend beskerm en uitbou;
  • ONS beywer vir die handhawing en uitbouing van alle inheemse tale, met besondere klem op Afrikaans;
  • DIE aard en wese van 'n ware demokratiese staatsbestel beskerm en bevorder en enige ondemokratiese aspekte en neigings met mening bestry; en
  • ALLES in ons vermoë doen om geregtigheid, billikheid en die hoogste etiese en morele waardes in Suid-Afrika te bevorder.
ONS, DIE AFRIKANERBOND, VERBIND ONSSELF, 
UIT hoofde van hierdie diepgesetelde sentimente, hiermee by hernuwing aan hierdie hoë ideale en verklaar by herhaling dat ons onsself en ons Organisasie toewy aan die verwesenliking daarvan.

EN, GEDAGTIG AAN 
DIE groot genade wat ons as Suid-Afrikaners oor die dekades en die eeue ontvang het uit die hand van die Almagtige Vader, die Beskikker oor die lotgevalle van volke en nasies,

GAAN ONS DIE TOEKOMS TEGEMOET 
IN hierdie mooi en geliefde land met geloof, vasberadenheid, blymoedigheid en optimisme.

As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika
Share by: