Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 10 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Die Afrikanerbond en getalle na 1994 
'n kommentaar op "Die Broederbond"


Anoniem 

In die boek oor die Afrikaner-Broederbond wat pas verskyn het skryf Prof Hermann Giliomee in sy voorwoord tot die boek:  
"Veral waardevol in laasgenoemde boek (Met Verwysing na die Eeufesboek van 2018) is die tekste van onderhoude gevoer met dertien prominente politieke figure oor die historiese rol van die Bond. Veral waardevol is die getuienis van oud-lede soos Chris Stals, voormalige goewerneur van die Reserwebank, Niel Barnard, voormalige direkteur-generaal van Nasionale Intelligensie, en Roelf Meyer, oud-minister. Ek deel terloops Barnard se gesonde minagting van sommige Broederbonders wat tydens die onderhandelings hul AB-lidmaatskap probeer wegsteek of verbloem het.
Waar die AB in die vroeë 1990’s ongeveer 20 000 lede georganiseer in ’n duisend ‘afdelings’ of takke, gehad het, is die huidige Afrikanerbond se ledetal ongeveer ’n tiende daarvan. Vergeleke met AfriForum en die ATKV het die Afrikanerbond ’n heelwat laer nasionale profiel, maar op sy onlangse eeufeesdinee, was pres. Cyril Ramaphosa die hoofspreker, terwyl Mmusi Maimane en Mosiuoa Lekota en Dr Pieter Groenewald van die ander eregaste was, terwyl ’n besondere verskoning en groeteboodskap van dr Mangosuthu Buthelezi ook voorgehou is."

Bogenoemde moet verder toegelig word skryf Anoniem aan Die Eike: 

Daar word gereeld bespiegel oor die redes vir die afname in die ledetal van die Afrikanerbond nadat hy die vaandel by die Broederbond (AB) oorgeneem het. Verskeie redes is aangevoer. Onder meer was die oopstelling van lidmaatskap een van die vernaamste redes wat aangevoer is. Die vraag ontstaan: waarom sou lede dan bang wees dat hulle name openbaar gemaak word?
 
In ‘n informele rondvraag by lede wat die organisasie verlaat het, was daar een gemeenskaplike rede: vrees vir intimidasie. Uit gesprekke met oud-lede het dit duidelik uitgestaan. Op daardie stadium in die openbare debat was dit mode om die AB te demoniseer. Self mede-Afrikaners het lustig daaraan meegedoen. Die beeld is geskep dat dit die AB was wat apartheid ingestel en lewendig gehou het, en daarom moet die bordjies nou drasties verhang word. Die tydsgees het daartoe bygedra dat talle professionele mense gemeen het dat dit in die beste belang van die gemeenskappe wat hulle gedien het sou wees indien hulle bedank.
 
Dat die vrese nie ongegrond was nie, het spoedig geblyk. Talle staatsamptenare en onderwysers is gedreig dat hulle nie langer in diens gehou sou word as hulle lede van die AB was nie (daar is nie onderskei tussen die Afrikanerbond en die AB nie). Dit is ook duidelik aan hulle gestel dat daar van bevordering nie eens sprake was nie. Daar was egter enkele uitsonderings. Dat ‘n AB-lid vandag in ‘n senior hoedanigheid in die staatsdiens kan werk, grens aan die onmoontlike. 
 
Ook in die sakesektor is firmas gewaarsku dat as daar lede van die AB in hulle besture dien, hulle nie ‘n kans het om ooit eendag enige werk van die staat te kry nie. 
 
Die vraag oor waarom bang wees, moet by nabetragting omgekeer word. Dit moet eerder lui: Van wie, wat vir sy inkomste van die staatsektor afhanklik is, sou dit verwag kon word om openlik te erken dat hy lid van die AB is en daarmee sy toekoms en die van sy gesin in gevaar te stel? Vir private ondernemings sou die rimpeleffek nog groter wees. Honderde werknemers se toekoms sou in gevaar gestel word as groot kontrakte verloor word. 
 
Wat sou die leunstoel-kritici onder sulke omstandighede gedoen het? 
 
Dit is daarom nie verbasend dat soveel lede van destyds met swaar harte van die AB afskeid geneem het nie. Hulle sou geviktimiseer word indien hulle langer lede sou bly. Natuurlik is dit so dat daar lede kon gewees het wat bedank het omdat die organisasie nie meer vir hulle enige nuttigheidswaarde ingehou het nie. Geen organisasie is volmaak nie. Maar die groot gros het nie bedank omdat die AB nie meer dienstig was vir hulle persoonlike doeleindes nie, maar omdat omstandighede hulle daartoe gedwing het.   

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: