Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 9 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Brief aan die president - Protes is NIE rassisme nie


Onderstaande skrywe is op 12 Oktober 2020 aan die president gerig. Die presidensie het reeds ontvangs erken van die brief. 

Deur Dries Wiese, 
Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond

Die President, mnr Ramaphosa 

Ons verwys graag na u weeklikse e-pos brief van vandag (12 Oktober 2020) as president van die Republiek van Suid-Afrika.   (Volg skakel om die brief te lees) 

Die Afrikanerbond spreek opregte simpatie en meegevoel uit met die naasbestaandes van enige misdaad, of dit nou bendegeweld, kriminaliteit of plaasmoorde is. Net so moet die dood van enige persoon deur sinnelose misdaad en geweld, misdaad of terreur, swart of wit veroordeel word.

Dit is goed dat u uiteindelik u stem gevind het oor die kwessie van landelike veiligheid, plaasaanvalle en plaasmoorde. U sal u herinner aan ons brief aan u op 1 Julie 2020 waarin ons presies dit versoek het. “U stem moet gehoor word oor plaasaanvalle en die vernietigende effek wat dit op die landelike ekonomie het, en in die toekoms vir voedselsekuriteit kan inhou? Die laaste weke word ons feitelik daagliks gekonfronteer met plaasmoorde en aanvalle. Veral die brutaliteit hiervan word vir ons ʼn realiteit.” U het egter verkies om nie op die brief en die inhoud te reageer nie. 

U maak egter weer die onvergeeflike fout om die Senekal insident van 6 Oktober 2020 opnuut te verhef tot ʼn raskwessie. Elkeen het die Grondwetlike reg tot optogte, standpunte en algemene protes – Dit was die doel met die optog om algemene protes aan te teken teen plaasmoorde. Swart en wit het aan die protes deelgeneem. Die reg tot protes kan egter nie insluit dat hof eiendom en polisievoertuie beskadig is nie. Die geweld kan daarom nie geregverdig word nie en moet veroordeel word . Daardie klein groepie protesteerders het deur die onbesonne misdaad die morele hoë grond en protes oor die emosionele kwessie laat skade lei. Dit is nie rassisme nie. 

In ʼn tyd waarin Suid-Afrika sy morele kompas verloor het en waarin koel koppe, insig en wysheid gevra word van almal is dit daarom so teleurstellend dat u die gebeure te Senekal vereenvoudig en verskraal tot rassisme tussen wit en swart en tussen plaaswerker en plaaseienaar. 
“The brutal killing of a young white farmer, allegedly by black men, followed by the spectacle of white farmers storming a police station to get to a black suspect has opened up wounds that go back many generations”  
en die volgende: 
“What happened in Senekal shows just how easily the tinderbox of race hatred can be ignited. As a nation we must resist any attempts to use crime on farms to mobilise communities along racial lines.” 

Is die honderde diensleweringproteste, beskadiging en vandalisme van munisipale infrastruktuur en die afbrand van skole dan ook ʼn vorm van rassisme of is dit net protes? Dit het egter simptomaties geword van hierdie regering oor etlike jare heen om ʼn klomp swere in die samelewing toe te plak met ʼn diagnose van rassisme.  

Die meer dieperliggende kommer is dat u as president beter ingelig moes gewees het oor die agtergrond tot die emosie van Senekal. Senekal se protes was uiteindelik ʼn kulminasie van frustrasie met die regering se onvermoë tot behoorlike misdaad intelligensie en behoorlike misdaadvoorkoming. Die erodering van landelike veiligheid moet direk toegeskryf word aan die Suid-Afrikaanse polisie se onvermoë en die diep kanker wat sy oorsprong het in politieke aanstellings, kader ontplooiing en korrupsie en geen politieke leiding nie. Dit strek reeds oor etlike jare heen. 

Veel eerder moet die vraag gevra word oor die Suid-Afrikaanse polisie se rol ter voorkoming van veediefstal en landelike terreur? U is immers nie onbekend met die toename in plaasaanvalle nie. Toe u adjunkpresident was, het u op 2 Julie 2017 in die parlement gesê dat belangrike sake soos die toename in plaasmoorde en plaasaanvalle aangespreek moet word. ʼn Jaar later ontken u egter die kwessie van plaasmoorde tydens u besoek aan New York. 

Ons het in ons onbeantwoorde skrywe van 1 Julie 2020 gesê : “Die aanvalle kan nie meer net as ʼn misdaad gesien word nie. Sommige handelinge en veral die wreedheid wat met die aanvalle gepaard gaan, kan ingevolge die wet “Protection of constitutional democracy against terrorist and related activities, Act 33 of 2004” as terreur geklassifiseer word. Dit is tyd dat u regering die erns van plaasvalle en moorde insien!” 

Dit gaan egter ook ʼn stappie verder en moet u regering en ook die regerende party se moontlike aandadigheid in die toename van plaasaanvalle en plaasmoorde ook nie onderskat word nie. Wanneer u self mense verdeel en ons soos tydens u Versoeningsdag toespraak op 16 Desember 2019 as indringers beskou, en wanneer mildelike beskuldigings van gronddiefstal tydig en ontydig gemaak word dan moet u en u party self in die beskuldigdebank staan.

Ons kan nie anders as om te vra wat nog moet gebeur en hoe barbaars en koelbloedig moet misdaad oor die algemeen met verwysing na bendegeweld, moord en diefstal, in transito rooftogte en gekoördineerde misdaad op sagte teikens in winkelsentrums nog wees, alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik toetree nie? Suid-Afrikaners belewe egter ook terreur en sabotasie in die landelike omgewing en dit verg spesifieke, dringende en nuwe prioriteite.  

Die algemene verwagting is dat die regering plaasaanvalle en die terreur wat daarmee saamgaan as ʼn prioriteitsmisdaad moet hanteer. Dit sal die polisie fokus met spesiale hulpbronne en alles wat daarmee saamgaan 

Destyds, toe veediefstal as 'n besondere misdaad geklassifiseer is, is dit gedoen met inagneming daarvan dat veediefstal: 
• relatief maklik gepleeg kan word agv die uitgestrekheid en afsondering van plase;
• lei tot groot ekonomiese verlies wat eerder voorkom moet want die skade kan selde herstel word.
Daarmee saam moet die polisie die knellende probleme soos vee en gewasse diefstal voortydig aanspreek. Voortgesette diefstal, en dan veral die brutaliteit van aanvalle en moorde moet anders hanteer word. Hierdie misdade kan reeds met strenger bepalings en swaarder voorgeskrewe strawwe doeltreffend aangespreek word. 

Dit blyk duidelik dat u aannames en stellings op verkeerde en foutiewe inligting berus. Ons het daarom reeds op 1 Julie ʼn gesprek versoek om hieroor en ander belangrike kwessies met u aan te spreek. Ons is ook oortuig dat ʼn reeds gespanne situasie ontlont moet word. Landbou moet uit die voortdurende beskuldiging van rassisme verwyder word en moet bo die politieke arena verhewe wees. U en lede van die regering wat erns het met die situasie sal waarskynlik die beste ingelig kan word oor die werklike toedrag van sake in ʼn gekoördineerde gesprek met organisasies soos georganiseerde landbou, belange organisasies en instansies gemoeid met landelike beveiliging. Ten spyte van alles wat gesê of gedoen is bly mense verbind tot voedsel sekerheid vir alle Suid-Afrikaners. 

In die lig van bogenoemde, maar in die gees van konstruktiewe samewerking, wil ons opnuut ʼn ernstige pleidooi tot u rig, dat u optrede en u uitsprake gerig sal wees op die vertoon van staatsmanskap en die belang van alle Suid-Afrikaners, dat u in landsbelang sal luister na alle goedbedoelde advies en voorstelle, ook van opposisieleiers en dat u bereid sal wees om ook voorstelle wat oor soveel jare gemaak is, weer te oorweeg. Met ons verwysing na die morele verval is dit ook nodig dat ons dringend gesprek moet voer oor ʼn nuwe moraliteit en waardestelsel vir Suid-Afrika. Ook hierin sal ons graag ons gedagtes met u wil deel. U mag moontlik verbaas wees oor die gedeelde ideale en verwagtinge tussen so baie gematigde Suid-Afrikaners. 

Met vriendelike groete 

Dries Wiese 
Voorsitter. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: