Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring -  16 Februarie 2024 
Terug na media

Afrikaans en die SABC
Word Afrikaans polities geteiken en nou verder gemarginaliseer?   


Die Afrikanerbond is nie verras deur die SABC se “nuwe strategie” vir Afrikaans nie. In Julie 2014 het die SABC met soortgelyke stappe gekom maar moes na druk van die Afrikaanse burgerlike gemeenskap die besluite herroep. Dit bly ʼn onverklaarbare en ondeurdagte besluit van die SABC om Afrikaans te teiken en te skuif vanaf SABC2 na SABC3 ’n veel kleiner kanaal. 

Die “nuwe strategie” om Afrikaanse inhoud na SABC3 te skuif word waarskynlik polities gedryf. Die reikwydte en opvangs van SABC3 is veel kleiner en sal Afrikaanssprekers in die Wes-Kaap en Noord-Kaap gevolglik aan die kortste ent trek. Die besluit is gevolglik ‘n ontkenning van die demografiese realiteite. Die 2022 sensusuitslae het getoon dat isiZulu steeds die mees gesproke taal is, met (24,4%) van die bevolking in die taalgroep. Tweede is isiXhosa (16,3%). Dit word gevolg deur Afrikaans (10,6%), Engels is in die vyfde plek met 8,7% van die bevolking.  

In die Wes-Kaap praat twee uit elke vyf mense Afrikaans, terwyl meer as 50% van Afrikaanssprekendes in die Noord-Kaap te vinde is. 

Ons oortuiging dat hier politieke motiewe agter die besluit is, word gebaseer op die SABC se eie nienakoming van redaksionele beleid en verbintenis tot die bevordering en uitbreiding van die taalaanbod. Volgens die SABC se eie verbintenis tot veeltaligheid en die ontwikkeling van tale het die SABC die volgende in 2023 gesê (Vertaal uit Engels) 

(SABC Teks) 
Volgens artikel 8 (c) van die SABC-handves, "Die Korporasie moet 'n Gedragskode ontwikkel wat verseker dat die dienste en personeel voldoen aan die grondwetlike vereiste van gelyke behandeling van alle amptelike tale." Dit beteken dat die openbare uitsaaikorporasie 'n verantwoordelikheid het om te verseker dat alle Suid-Afrikaanse tale eweredig behandel word in sy radio- en televisieprogrammering/inhoud.
Verder is die SABC se taalbeleid oor inhoud, soos vervat in sy Redaksionele Beleid, duidelik: "As Suid-Afrika se openbare uitsaaier erken en aanvaar die SABC sy grondwetlike plig om alle amptelike tale gelyk en met gelyke respek te hanteer. Die Grondwet erken ook die behoefte om Suid-Afrikaanse Gebaretaal en die Khoi, Nama en San tale te bevorder. Die SABC is bewus van sy rol om die vervulling van taalregte van individue en gemeenskappe te fasiliteer.

Die inleiding van die Taalbeleid oor Inhoud verklaar verder dat "Die SABC erken dat:
6.1.1 vryheid van uitdrukking volledig gerealiseer kan word slegs wanneer elke Suid-Afrikaner in sy of haar gekose taal ingelig kan word en self kan inlig.
6.1.2 taal speel 'n kritieke rol in die bevordering en bereiking van die doelwitte om die demokrasie te versterk en die unieke en diverse kulture van die land te beskerm en te ontwikkel.
6.1.3 die ontwikkeling en gebruik van tale is nou verbind aan die ontwikkeling van kultuur en identiteit.
6.1.4 as gevolg van sy bykans universele toeganklikheid en gebruik, het die SABC 'n unieke verantwoordelikheid om inhoud aan te bied wat die ontwikkeling van 'n nasionale identiteit bevorder terwyl dit die bevordering van tale en kulture ondersteun.

Die SABC herhaal sy toewyding om sy grondwetlike mandaat na te kom deur inhoud te lewer wat die diverse Suid-Afrikaanse samelewing wat dit bedien, weerspieël, en sal voortgaan om taal as 'n sleutelhulpmiddel te gebruik om aan die miljoene Suid-Afrikaners wat op SABC-radio en -televisiedienste staatmaak vir nuus en inligting, te lewer. (Einde van SABC Teks) 

Van ewewigheid en gelyke respek is hier nie sprake nie want Afrikaans word afgeskaal en beperk met die aanbod in die “nuwe strategie”. Die vraag ontstaan dus wie die invloed het om taalbeleid eensydig te wysig om besluite wat waarskynlik polities beïnvloed is, af te dwing op kanale en taalgebruik deur ʼn openbare uitsaaier.   

Dit sou dus interessant wees om te verneem of die SABC se bestuurshoofde hulle onderwerp het aan hulle eie redaksionele beleid, wat insluit ʼn taalbeleid, in die kortsigtige besluit om Afrikaans af te skaal na ʼn veel kleiner kanaal. Indien wel sou die bestuurshoofde besef het dat Afrikaans nie net ʼn streekstaal is nie maar in werklikheid ʼn groeiende EN nasionale taal is.

Die SABC pluk egter die vrugte van eie finansiële tekortkominge en wanbestuur en ʼn verminderde aanbod van Afrikaanse inhoud die laaste jare, wat sepies insluit. Dit is jammer dat die openbare uitsaaier die geleentheid mis en so skouspelagtig faal in hulle openbare mandaat.  

Ander kommersiële kanale en maatskappye het die geleentheid en waarde van Afrikaans ingesien en benut dit ten volle. Dit is aanduidend van die waarde van Afrikaans en getuig opnuut daarvan dat Afrikaanssprekendes altyd vasberade is om ’n pad te vind om hulle eie taal te handhaaf, deur gedrukte media, radio en ook met TV-dienste en kanale.

16 Februarie 2024 
Share by: