Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 16 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Aktiewe strategieë om Onteiening sonder Vergoeding teen te staan 


Deur Jaco Schoeman 
Sameroeper van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte 

Besinning oor strategiese kwessies oor Onteiening sonder vergoeding
OSV gaan die pilare van ekonomiese groei, voedselsekerheid, stabiliteit, kohesie, vryheid en vryemarkbeginsels vernietig. 

Op Donderdag 5 November 2020 het die dagbestuur van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte weer in Pretoria ontmoet. Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, burgerlike instellings en politieke partye van regoor die politieke en maatskaplike spektrum wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is. Senior verteenwoordigers van opposisiepartye het die geleentheid bygewoon. 

Onteiening sonder vergoeding, ʼn onaanvaarbare beleid wat die huidige regerende party se ideologie gedienstig is, het verander in ʼn slagspreuk vir kortstondige politieke gewin, nyg om rasgebaseer toegepas te word, en is stelselmatig besig om van die pilare van die ekonomie groei, voedselsekerheid, stabiliteit, kohesie, vryheid en vryemarkbeginsels in duie te laat stort. 

Die basiese uitgangspunt van die Ad hoc-Groep vir Die Beskerming van Eiendomsregte is dat eiendomsregte, binne die internasionaal gevestigde beginsels van menseregte, die basis van ekonomiese groei en vooruitgang is.

Die dagbestuur van die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte is tydens die vergadering in Pretoria weer voorgelig deur prof. André Duvenhage van NWU. Prof. Duvenhage het onder meer gesê: “Artikel 25 van die Grondwet wat handel met Eiendomsreg, is ʼn kernaspek van die Grondwet en die Nasionale Akkoord. As Artikel 25 gewysig word en die skikking daarmee ongedaan gemaak word, kan dit burgerlike aksies en regte ontsluit wat dit onmoontlik mag maak om ekonomiese herstel te bevorder en stabiliteit te handhaaf.” 

Tydens die gesprek wat breedweg gekyk het na die proses rondom onteiening sonder vergoeding, het dit duidelik geword dat die stap ʼn laaste en desperate proses kan wees vir die huidige bedeling om polities te kan oorleef maar ook nog ʼn stap in die stroping van alle beskikbare hulpbronne. Dit sal die land onomkeerbaar op sy knieë dwing. 

Die deelnemende organisasies het almal die proses bevraagteken en alle aksies ondersteun om die proses wat ʼn skyn van parlementêre deelname deur “openbare deelname” en “skriftelike kommentaar” het, te stuit. Al wat dit bereik het, was dat groter verdeeldheid geskep is deur die beskuldiging van gronddiefstal en die skep van onrealistiese en onhaalbare verwagtinge. 

Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte is in die proses om deur deelnemende organisasies en ander netwerke te fokus op aktiewe strategieë wat individueel of gesamentlik kan fokus op:
o Die daarstelling van ʼn behoorlike feitestel oor grond, grondbesit, grondhervorminge en ander feitelike inligting; 
o Deurlopende konsultasie en gesprekvoering met die regering, die regerende party en opposisiepartye; 
o ʼn Parlementêre veldtog – wat die volle proses van enige parlementêre aksie kan teenstaan met koördinasie van die aksies van opposisiepartye; 
o ʼn Litigasieveldtog wat gekoördineerd maar ook ondersteunend tot mekaar kan wees – so kan duplisering gesny en fondse vir litigasiekostes oor ʼn wye spektrum ingesamel word; 
o Algemene mobilisering van die openbare mening met ʼn verskeidenheid van inisiatiewe; 
o Sleutel internasionale rolspelers soos ambassades en internasionale organisasies moet voorgelig en betrek word. 

Die Ad hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte nooi opnuut alle organisasies, instansies en Suid-Afrikaners wat erns het oor die toekoms van ons land om deel te word van die breë burgerlike opposisie teen die destruktiewe ideologiese beleidsrigting van eiendomsregteskendings.

Deel met ander belangstellendes

Share by: