Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 16 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Teks van aanbieding van voormalige President FW De Klerk 
tydens AB in dialoog webinaar op 11 November 2020 


DIE STAND VAN DIE SUID-AFRIKAANSE GRONDWET IN 2020

TOESPRAAK DEUR VOORMALIGE PRESIDENT FW DE KLERK - AFRIKANERBOND-WEBINAAR
11 NOVEMBER 2020

Dit is vir my 'n groot plesier om die AB toe te spreek - vir die eerste keer via elektroniese media deur middel van 'n Zoom-webinaar. 

Ek is gevra om te praat oor die stand van die Suid-Afrikaanse Grondwet in 2020 - insluitend die bedreigings vir die Grondwet, die posisie van minderhede en veral Afrikaners - en wat ons kan en moet doen om die Grondwet tot ons voordeel te gebruik. 

26 jaar ná die totstandkoming van die Nuwe Suid-Afrika is die Grondwet steeds staande - maar dit is onder toenemende druk: 
• die taal- en kulturele regte word ernstig ondermyn; Engels het die enigste de facto amptelike taal geword en min of niks is gedoen om ons inheemse tale te ontwikkel nie; 
• die reg op onderwys in die taal van jou keuse word nie meer in enige wesenlike sin by voormalige Afrikaanse universiteite erken nie en is onder toenemende druk in ons skole; 
• die regering beplan om die Grondwet te wysig om dit moontlik te maak om eiendom te onteien sonder vergoeding; 
• toenemend strenger SEB-maatreëls beperk geleidelik die ekonomiese ruimte waarbinne minderhede kan werk; en, die ernstigste 
• Suid-Afrika kan nie meer as 'n nie-rassige samelewing beskryf word nie. Die deurslaggewende beskerming wat burgers teen onbillike diskriminasie geniet het, is vir alle praktiese doeleindes weggekalwe - soms deur die einste howe en instellings na wie minderhede vir beskerming gedraai het. 

Linkse sowel as regse kritici voer nou aan dat dit die Grondwet is wat misluk het. Aan die linkerkant kla radikale dat dit 'n uitheemse neo-kolonialistiese konstruksie is wat 'n onaanvaarbare belemmering van radikale ekonomiese transformasie bied. Aan die regterkant is reaksionêres kwaad dat die Grondwet ooit aanvaar is en wil hulle onderhandel oor 'n nuwe ooreenkoms waarin gemeenskappe onbeperkte selfbeskikking sal hê. 

Waarom dan is ons Grondwet onder sulke druk? Wat het verkeerd geloop? 

Die basiese probleem is dat een van die hoofopstellers daarvan - die ANC - die Grondwet nie as 'n permanente grondslag vir ons nuwe samelewing beskou het nie, maar bloot as 'n wegspringplek waarvandaan hy sou kon voortgaan met wat hy sy 'nasionale demokratiese rewolusie' noem. Dit word al hoe duideliker dat die ANC van mening was dat, sodra hy volle beheer oor die hefbome van staatsmag kon verkry, hy van die taktiese toegewings wat nie-ANC-partye in die grondwette van 1993 en 1996 afgedwing het, sou kon afsien.

In Maart 2012 het die ANC aangekondig dat die eerste - of politieke - fase van die oorgang na vryheid in Suid-Afrika voltooi is. Die magsbalans het genoegsaam in die guns van die ANC verskuif om dit in staat te stel om van die kompromieë, wat hy in 1996 moes aanvaar, af te sien. Soos minister Jeff Radebe dit in Maart 2012 gestel het 
“our First transition embodied a framework and a national consensus that may have been appropriate for political emancipation, a political transition, but has proven inadequate and inappropriate for our social and economic transformation phase.” 
In Januarie 2011 merk president Zuma op dat “political emancipation without economic transformation is meaningless, that is why we have to commit ourselves to economic freedom in our lifetime.” 

Die jongste verwoording van die tweede fase is Radikale Ekonomiese Transformasie. Dit word gedefinieer as “a fundamental change in the structure, systems, institutions, and patterns of ownership, management and control of the economy in favour of all South Africans.” Dit bly die ANC se kernprogram - en dit hou 'n baie ernstige bedreiging in vir die toekoms van nie net Afrikaners nie, maar ook vir die ekonomiese belange van alle Suid-Afrikaners. 

Binne hierdie konteks kan ons die volgende spesifieke bedreigings vir die Grondwet identifiseer: 

Die eerste bedreiging is die moontlikheid dat die Parlement die Grondwet wettiglik kan wysig. Die Parlement kan enige bepaling van die Handves van Regte en die res van die Grondwet self met 'n tweederde-meerderheid in beide die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies en met die steun van ses van die nege provinsies wysig. Dit is egter belangrik om daarop te let dat artikel 1 van die Grondwet slegs met 'n meerderheid van 75% gewysig kan word. Met ander woorde, dit sou moeilik wees om enige bepaling te wysig wat die basiese instellings van demokrasie sou ondermyn; die oppergesag van die reg; en die waardes van nie-rassigheid, menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede. 

Tot sy krediet het die regering weinige geneigdheid getoon om wesenlike wysigings aan die Grondwet aan te bring - al het hy vir etlike jare die nodige tweederde-meerderheid geniet. Die belangrikste uitsondering is die huidige dreigement om artikel 25 te wysig om dit onder sekere omstandighede uitdruklik moontlik te maak om eiendom sonder vergoeding te onteien. 

Die tweede bedreiging spruit uit die invloed van wetgewing. In hierdie proses word grondwetlike regte geleidelik afgebreek deur bepalings wat in gewone wetgewing versteek is. 

So, byvoorbeeld, sou die jongste Onteieningswetsontwerp sommige van die beskermings wat ingevolge artikel 25 aan eiendomseienaars verseker is, aftakel.

Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Verbod op Onbillike Diskriminasie plaas ook veel groter beperkings op die vryheid van uitdrukking as wat in artikel 16 (2) van die Grondwet toegelaat word. 

Talle diensbillikheids- en ander wette oorheers nou gereeld die duidelike verbod op onbillike diskriminasie in artikels 9 (3) en 9 (4). 

Die derde bedreiging spruit uit verwaarlosing deur die uitvoerende gesag. Ingevolge hierdie praktyk steur die regering hom eenvoudig nie aan elemente van die Grondwet waarvan hy nie hou nie. Dit blyk veral uit die manier waarop die Grondwet se taal- en kulturele bepalings sedert 1994 stelselmatig geïgnoreer word. 

Feitlik al hierdie bepalings is sedert die aanvaarding van die Grondwet in 1996 geïgnoreer of verwater - ondanks die aanvaarding in 2012 van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale - wat die regering eenvoudig nie nagekom het nie. 

Die vierde bedreiging kom van bestuur se onvermoë. Op baie gebiede blyk dit dat die staat nie in staat is om sleutelregte doeltreffend te verseker nie. 
• Meer as 400 000 mense is sedert 1994 vermoor. Miljoene het weens fisieke geweld, diefstal en roof gely. Hulle is ontneem van hul reg op lewe; hul reg om vry te wees van alle vorme van geweld; en hul reg op eiendom; 
• die reg op gelykheid is ontken deur die feit dat ons na 24 jaar steeds een van die ongelykste samelewings ter wêreld is. 
• die regte van kinders word nie na behore gerespekteer nie - soos geïllustreer deur hoë vlakke van mishandeling en verwaarlosing en die bestaan van te veel straatkinders en huishoudings waar kinders aan die hoof is. 
• die reg op basiese onderwys is ernstig beperk deur die versuim om ordentlike onderwys te lewer. 

Die vyfde bedreiging kom van die moontlikheid dat die Grondwet al hoe meer deur die howe geïnterpreteer kan word om 'n bepaalde ideologie of 'n bepaalde deel van ons samelewing te bevoordeel. 

Ons howe het 'n goeie rekord van sake rakende regeringsbestuur. Die Hoofregter het egter ondubbelsinnig sy steun vir die ANC se transformasie-agenda uitgespreek. Hierdie benadering het 'n duidelike impak gehad op sake rakende ras, kultuur en taal. 
Die Konstitusionele Hof het deurgaans uitsprake gelewer wat die vooruitsigte vir die voortgesette gebruik van Afrikaans op universiteitsvlak ernstig beperk, en het op ten minste een geleentheid 'n benadering gevolg wat openlik vyandig jeens die Afrikaanse taal was. 

Nog meer ontstellend blyk dit of die Konstitusionele Hof in City of Tshwane vs AfriForum in 2016 die reg van “white South Africans, particularly white Afrikaner people,” om 'n kulturele tradisie te geniet wat in die geskiedenis gegrond is, bevraagteken, “because that history is inevitably rooted in oppression”. 

Waar laat dit alles minderhede in die algemeen en Afrikaners in die besonder? 

Die ANC beklemtoon dat “the main thrust of the NDR is not to promote fractured identities, but to encourage the emergence of a common South African identity”. Dit is van mening dat sommige identiteite wat verband hou met 'kultuur' of 'etnisiteit' of 'godsdiens' in stryd is met die opbou van 'n nuwe nasie wat gebaseer is op beginsels van billikheid en dat dit gebruik kan word om voorspraak te maak vir rasse- of etniese verdeeldheid onder burgers. 

In 'n beleidsdokument van 2005 het die ANC daarop aangedring dat “..in the South African context, the national question is not principally about the rights of minorities or ethnically motivated grievances. It is, in fact, principally about the liberation of the African people.” Dit het bygevoeg dat hierdie stelling nie bedoel is om die belangrikheid van die regte van minderhede te verminder nie. Dit vra ook vir “a continuing battle to assert African hegemony in the context of a multicultural and nonracial society.” 

Die ANC verwerp die idee dat Afrikaners of wit mense ooit aanspraak op nasionale selfbeskikking gehad het - alhoewel dit langer as 150 jaar die sentrale tema in die Afrikanergeskiedenis was. Volgens Pallo Jordan in 1999 “International law, convention and established tradition does not recognise any right to self-determination by an oppressor group or nation. This is a right that can be claimed exclusively by the oppressed!” 

Hy het bygevoeg dat dit 'heeltemal verkeerd' sou wees om die aanvaarding deur die ANC van 'n Volkskamer te interpreteer as 'n vorm van erkenning van die reg op selfbeskikking aan die kant van die Afrikaners. Sy standpunt was dat dit elke wet van die internasionale reg sou oortree ... en dit sou ook strydig wees met die ANC se eie opvatting van selfbeskikking.” 

Hoe moet ons op dit alles reageer? 

Eerstens moet ons geen illusies hê oor die ANC se bedoelings en oor die doelstellings van die Nasionale Demokratiese Revolusie nie. Ons moet ANC-beleidsdokumente bestudeer en glo wat hulle sê. 

Tweedens moet ons baie versigtig wees vir versekerings wat die ANC gee. Die feit is dat die ANC Afrikaners herhaaldelik en bewustelik mislei het oor sy ware bedoelings in 'n proses waarna hy verwys as “discretion in tact” and “firmness of principle”. 

Derdens moet ons toenemend op ons eie hulpbronne terugval. Ek hou van Flip Buys se siening dat ons nie kan bepaal hoe stormagtig die see gaan wees nie - maar ons kan wel die sterkte en seevaardigheid van ons skip bepaal. 

Ten slotte moet ons nie moed opgee oor die Grondwet nie.

Myns insiens sou dit 'n groot fout wees om 'n dokument te laat vaar, wat nasionale en internasionale erkenning geniet, en wat die hoofwaarborg van ons fundamentele regte moet wees. 

Die Grondwet verleen aan ons almal wesenlike magte: 
Dit gee ons die reg tot vryheid van spraak: 
• Ons moet al die media tot ons beskikking gebruik om aan die wêreld te vertel dat ons nuwe vorme van rassisme, onder die dekmantel van ongebalanseerde regstellende aksie en demografiese verteenwoordiging, verwerp; 
• Ons moet ANC-pogings om ons geskiedenis af te maak, verwerp; 
• Ons moet ons mede-Suid-Afrikaners waarsku oor die katastrofiese implikasies van die ANC se huidige aanslag op eiendomsreg. 

Die Grondwet gee ons ander belangrike regte: 
• Ons het die reg om bymekaar te kom, te demonstreer en te betoog. Ons moet hiervan gebruik maak om ons griewe sigbaar en hoorbaar uit te druk en om aan te dring op ons regte. 
• Ons het die reg om te staak om ons belange te verdedig. 
• Ons het die reg op vrye politieke aktiwiteit. Ons moet dit gebruik om by die politieke partye van ons keuse aan te sluit en om NRO's te ondersteun wat ons belange bevorder. 
• Ons moenie moed opgee oor die howe nie.
o Ons moet onaanvaarbare wetgewing in die howe bestry. 
o Ons moet teen enige wysiging van die Grondwet wat eiendomsreg kan verwater, teëstaan. 
o Sakeliga se onlangse oorwinning teen die minister van finansies in die Appèlhof dui op die belangrikheid daarvan om voort te gaan om die howe te gebruik. 

Ervaring het gewys dat goed beplande veldtogte deur nie-regeringsorganisasies beduidende suksesse kan behaal: 
• dit het gelei tot die ontrekking van die 2008-onteieningswetsontwerp; 
• ook in 2008 het hulle daarin geslaag om die ernstige bedreiging vir die onafhanklikheid van die regbank, wat deel was van die oorspronklike 14de wysigingswet op die Grondwet, te verhoed; 
• hulle het die bedreiging vir vryheid van spraak, wat die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting van 2010 ingehou het, aansienlik versag; 
• in 2013 het hulle die Departement van Korrektiewe Dienste verhinder om onbillik te diskrimineer teen bruin werknemers in die Wes-Kaap; 
• hulle het gehelp om die onafhanklikheid van sleutelinstellings te verseker deur die aanstellings van Menzi Simelane en later Shaun Abrahams as Nasionale Direkteure van Openbare Vervolging ter syde te stel en deur die onafhanklikheid van die Valke, na die skrapping van die Skerpioene, te versterk; 
• tesame met vreeslose ondersoekende joernaliste en die howe het hulle 'n leidende rol gespeel in die bekamping van staatskaping en om voormalige president Zuma te dwing om te bedank. 

Dit is belangrik om te onthou dat die ANC sal voortgaan met die implementering van sy Nasionale Demokratiese Revolusie-doelwitte slegs as hy seker is dat die magsbalans in sy guns is. 

Ons moet dit duidelik maak - deur middel van gesamentlike optrede deur die bevordering van ons grondwetlike regte deur die mobilisering van al ons hulpbronne in Suid-Afrika en in die internasionale gemeenskap - dat die balans van magte nooit gunstig sal wees vir die implementering van ongrondwetlike en onaanvaarbare doelstellings nie. 

Dit is heel waarskynlik dat ons na COVID 'n baie stormagtige periode gaan betree en ons moet seker maak dat ons vaartuig so seevaardig is as moontlik. Ek is vol vertroue dat ons die storm sal kan deurstaan as ons sterk en vasberade optree. 
• Ons moet ons by hernuwing toewy aan die waardes wat die Grondwet ten grondslag lê; 
• Ons moet werk, nie slegs vir die behoud van ons eie regte nie - maar vir die regte van alle Suid-Afrikaners; 
• Ons moet aandring op die reg om ons taal te gebruik en ons kultuur te beoefen; 
• Ons moet onbillike diskriminasie van enige aard uit enige oord teenstaan; 
• Ons moet die morele hoë grond handhaaf deur sterk standpunt in te neem oor die Grondwet wat ons almal te goeder trou tussen 1990 en 1996 beding het; en 
• Ons moet bowenal bly vertrou op ons Skepper wat ons die afgelope 370 jaar in hierdie mooiste deel van die wêreld begelei het. 

Soos ek dit in Mei 2015 aan die AB gestel het: (Volg skakel) Die toekoms van ons mense is weer eens in ons eie hande - soos dit al baie keer in ons onstuimige geskiedenis was. Ons moet dié uitdaging weer eens aanvaar en ons plek in ons gekose land verseker - in harmonie en vriendskap met al die ander mense en volke in ons streek - nou en tot ver in die toekoms.

11 November 2020 

Deel met ander belangstellendes

Share by: