Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Februarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Die 100 dae mitiese wonderwerk wat moet plaasvind


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 
 
(Die artikel is geskryf vir gebruik as kommentaar deur Pretoria FM)  

Op 10 Februarie 2022 lewer President Ramaphosa sy staatsrede in die Stadsaal van Kaapstad. Onder meer sê hy “Ons het onsself 100 dae gegee om 'n omvattende sosiale ooreenkoms te finaliseer om ons ekonomie te laat groei, werk te skep en honger te bekamp. Dit sal voortbou op die grondslag van die ekonomiese heropbou en herstelplan, wat ons gemeenskaplike program bly om die ekonomie te herbou! Om effektief te wees, moet hierdie sosiale ooreenkoms elke Suid-Afrikaner en elke deel van ons samelewing insluit.” 

As ons die president se onderneming dan letterlik opneem beteken dit dat die ekonomiese wonderwerk teen Saterdag 21 Mei 2022 sal plaasvind. Die werklike betekenis van die president se woorde is ook dat die sosiale ooreenkoms of kontrak waarna hy dan verwys dan iewers langs die pad in die laaste 28 jaar verbreek is want met sy inhuldiging as president op 10 Mei 1994 sê mnr Nelson Mandela: “Hiermee sluit ons ʼn plegtige verbond waarin ons ʼn samelewing gaan bou waarin alle Suid-Afrikaners, beide swart en wit, in staat sal wees om hulle koppe hoog te hou, sonder enige vrees in hulle harte, verseker van hul onvervreembare reg op menswaardigheid - 'n reënboognasie te vrede met homself en die wêreld."  

Die woorde van Mandela impliseer dat daar wel ʼn ooreenkoms/kontrak/plegtige verbond was. Die ideaal wat hy voorsien het, en wat die meerderheid van Suid-Afrikaners ondersteun het, is egter in 28-jaar deur sy eie party en opportunistiese aasdier politici, sowel as kaders vernietig.

Meer as dit – daar was ʼn verbreking van die gees en aard van die onderhandelinge wat die Suid-Afrikaanse grondwet tot gevolg gehad het. Die verbreking van die sosiale kontrak of ooreenkoms, was die gevolg van ʼn eensydige toepassing van ʼn verouderde ideologie met transformasie ten alle koste en met staatsverval en staatskaping as die enigste resultaat. Dit saam met grootskaalse plundering van die staatskas het Suid-Afrika in die posisie geplaas waarin ons vandag is. Die nuwe sosiale ooreenkoms kan nie geskied in ʼn omgewing waarin die faktore nie aangespreek of uitgewis is nie. Nie in ʼn 100 dae of 100 jaar nie.

Midde in alles wat eeue geneem het om op te bou, het die regerende party in enkele dekades feitlik alle owerheidstrukture, instellings en sake van nasionale belang, drasties, ondenkbaar en onaanvaarbaar vernietig. 

Ons ervaar gevolglik tans ‘n ernstige vertrouenskrisis in die land. Die burgerlike samelewing en besigheid het vertroue verloor in die ANC as regering, daar is ‘n besliste gebrek aan vertroue in politici, amptenare en die staatsdiens, in die polisie,weermag en die strafregstelsel. Dit bring die SA grondwet onder verdenking terwyl dit in werklikheid die burgers van Suid-Afrika se enigste buffer is teen anargie en staatsvergrype. 

'n Sosiale ooreenkoms of kontrak is deel van die oplossing maar dan moet Suid-Afrikaners se onderlinge vertroue eers weer herstel word en daar ook weer vertroue is in ‘n regering wat erns het met ekonomiese ontwikkeling en die diversiteit van Suid-Afrika erken en respekteer. In kort - ʼn nuwe waardestelsel vir alle Suid-Afrikaners is ononderhandelbaar!

Flip Buys van Solidariteit skryf in 2009 in Beeld “Die feit is dat Afrikaners die regering nodig het om die land suksesvol te regeer en dat die regering die Afrikaners in die proses nodig het om te help om hul beloftes aan die massas na te kom. Die meeste Afrikaners is verbind tot die land en is ironies ’n natuurlike vennoot vir die regering.“

Dit sou dus ook logies wees dat Afrikaners deel moet wees van enige sosiale ooreenkoms en ʼn direkte belang het met enige planne wat die regering het. Dit is egter wensdenkery dat die regering op sy eie so ʼn ooreenkoms sou kon opstel en uitvoer as die volgende vereistes nie deel is daarvan nie. So ‘n sosiale kontrak kan drie basiese vertrekpunte hê en dit is al voorheen aan belanghebbers, waaronder die regering gestel.  

Die eerste vertrekpunt moet een wees waar die regte van minderhede met die regte van die meerderheid gebalanseerd is. In 'n land soos Suid-Afrika kan dit nie geïgnoreer word nie.        

Die tweede vertrekpunt wat deel van die sosiale kontrak moet wees, is 'n groeiende ekonomie wat werkgeleenthede kan verseker. Dit moet ‘n ekonomie wees waarbinne elkeen se potensiaal ten volle verwesenlik kan word en wat niemand uitsluit nie en wat teen niemand diskrimineer nie. Of anders gestel dit moet nie ‘n ekonomiese stelsel wees wat slegs een groep bevoordeel nie. 

Die derde vertrekpunt vir ‘n sosiale kontrak is ‘n verbintenis tot die vereiste van hoë kwaliteit regeringsbestuur op alle vlakke. Die grootste gevaar vir dienslewering is egter die feit dat die ANC voortgaan met kader-ontplooiing en so die staatsdiens lamlê vanuit Luthuli-huis met verlore kundigheid, basiese onvermoë en onbevoegdheid, korrupsie en nepotisme.

Daar is dus hoop vir ʼn nuwe sosiale ooreenkoms/pakt of sosiale kontrak, maar dan moet dit gebeur binne die riglyne van die SA grondwet en nie volgens ʼn uitgediende revolusionêre ideologie nie. Daar is reeds ʼn parallelle struktuur op vele terreine wat die burgery van Suid-Afrika effektief opgerig het en in stand hou. Opleiding, onderwys, mediese dienste, veiligheid, infrastruktuur. Dit moes reeds ʼn waarskuwing gewees het van die gebrekkige vertroue en ontevredenheid. Die staat se brouwerk gaan nie in 100 dae reggestel word nie. 

Kommentaar: 100 Dae Wonderwerk

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: