Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Februarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Hulde aan Genl. Christiaan de Wet


Op Maandag 14 Februarie 2022 het die Finkom van die Afrikanerbond en die Christiaan de Wet Fonds by Die Eike in Randburg ontmoet.  

Ter aanvang het Dr Carel Stander ʼn mosie gestel om hulde te bring aan generaal Christiaan de Wet wat op 3 Februarie 1922 oorlede is. Die jaar sal dit 100-jaar gelede wees. Die Afrikanerbond se beleggingsfonds is die Christiaan de Wet Fonds en daarom is dit gepas om op die wyse hulde te bring. Die mosie van hulde is eenparig aanvaar en plaas ons graag die erkenning aan Genl Christiaan de Wet. 

Met spesiale vergunning van die historikus, prof Fransjohan Pretorius, en en met erkenning aan Beeld en Die Burger plaas ons graag die volgende rubriek wat op 2 Februarie 2022 geplaas is.  

Terugblik - Deur Fransjohan Pretorius , ’n Monument vir genl. Christiaan de Wet (2.2.2022)
Die afgelope Sondag was ek bevoorreg om teenwoordig te wees by die onthulling van ’n gedenkmonumentjie vir genl. Christiaan de Wet op die plaas Klipfontein in die Dewetsdorp-distrik, waar hy op 3 Februarie 1922 oorlede is, môre ’n honderd jaar gelede.
Die oprigting van die monument was die hartsprojek van mev. Rentia Joubert van Klipfontein, wat ’n liefdevolle bewondering vir genl. De Wet koester. Terselfdertyd is ses geslagte mans met die name Gideon Jacobus Joubert op Klipfontein gedenk. Die oudste het die plaas in 1930 by genl. De Wet se weduwee gekoop. Sy pa was getroud met ’n niggie van genl. De Wet.

Toe wonder ek: Waarvoor sal ons Christiaan de Wet die beste onthou? Sy nuut opgevlamde gees met die 1914-Rebellie, toe Jan Celliers kon dig: “Stil broers, daar gaan ’n man verby...”? Nee, my gedagtes het teruggegaan na sy werklike groot oomblikke, almal wel rondom die militêre.

Hierdie Vrystater met sy rustelose gees was tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog vir ’n wyle ’n Transvaler van die Heidelberg-distrik, en hy was een van die manne wat Majuba op 27 Februarie 1881 bestorm het.

Met die uitbreek van die (Tweede) Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het hy as gewone burger van die Heilbron-distrik op kommando gegaan. Op 31 Oktober het hy as waarnemende kommandant die Britte by Nicholsonsnek ’n les in oorlogvoering gegee toe hy hulle oorweldig het met ’n verrassingsaanval teen die steil heuwel waar hulle dit nie verwag het nie.

De Wet, toe al generaal, kon die vasgekeerde genl. Piet Cronjé met sy 4 000 burgers by Paardeberg einde Februarie 1900 nie red nie, deels omdat hy van Cronjé-hulle verwag het om hul waens agter te laat en onder dekking van De Wet se burgers deur die Modderrivier te ontsnap.

Maar toe wys hy met die Slag van Sannaspos op 31 Maart 1900 sy briljantheid, toe hy die Britse kamp vanuit die noordooste laat bombardeer en die vlugtende Britte in ’n hinderlaag in die Koringspruit voorlê. Dit was die eerste guerrilla-aanslag van die Boere – verras en val terug.

Of was sy aanval by Roodewalstasie op 7 Junie 1900 die hoogtepunt? Toe hy lord Roberts se opgehoopte voorrade in ’n verrassingsaanval gebuit het en die orige ammunisie wat die Boere nie kon wegvoer nie opgeblaas het om vir die grootste nagtelike vuurwerkvertoning ooit te sorg?

Of dalk Groenkop (Krismiskop) op 25 Desember 1901, toe hy – weer soos by Nicholsonsnek – die Britte verras het met ’n aanval teen die steilste heuwel op waar hulle dit die minste verwag het?

Miskien is dit sy verbysterende vermoë om enige Britse vangnet te ontsnap. Daar was drie Britse dryfjagte om hom te probeer vang, maar elke keer het hy ontkom. Toe, en baie ander kere. Hiervoor het hy op sy verkenners se deeglikheid staatgemaak. Deur sy kragtige leierskap, helder insig en kalme houding het hy vertroue ingeboesem. Ook sy onvoorspelbaarheid en vermoë om die foute van die vyand uit te buit, en sy grondige kennis van die veld, het sukses verseker. Inderdaad ’n merkwaardige figuur

oooOOOooo

Op 3 Februarie 1922 sterf generaal Christiaan de Wet in die ouderdom van 67 jaar. Hy is aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Dit is daarom gepas om die digter Jan F.E. Celliers se gedig “Generaal De Wet” te plaas:
Stil, broers,
daar gaan 'n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar's nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.
Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink -
die arendsblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per' ruiterskaar?
Gewis!
en soos hy ons s'n was
en is.
Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.
En hierdie pure man
jou kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees
Voortwaarts,
Suid-Afrika!

In ’n artikel wat in die Tydskrif vir Militêre Geskiedenis verskyn het, word De Wet se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog soos volg beskryf: “Hy was ’n uitstekende taktikus, soos gedemonstreer tydens byvoorbeeld die gevegte by Sannaspos en Groenkop. Die Britse magte kon hom nooit vang nie, ten spyte van drie groot dryfjagte wat spesiaal vir die doel georganiseer is. Hy tree uit die stryd as ’n legendariese figuur, wat by vriend en vyand respek afdwing.” 

Ons eer sy nagedagtenis

Kommentaar: Genl Christiaan de Wet

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: