Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Julie 2022
Terug na e-Afrikaner

Die staat en die taalbeleid by skole - Indien van kommentaar


Sentralisering van skoolbeleide - Implikasies vir onderwys is nie verreken nie en skuif die fokus weg van disfunksionele skole  

Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Die Portefeuljekomitee van Basiese Onderwys het 'n uitnodiging aan belanghebbendes en individue gerig om skriftelike kommentaar te lewer op die Konsepwysigingswetsontwerp op onderwyswette (BELAB) Die BELAB bevat voorstelle om die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (SASA), en die Wet op Indiensneming van Opvoeders, 1998 (EEA) te wysig.

Die Afrikanerbond het omvattend gereageer op Konsepwet B2-2022 (“Basic Education Laws Amendment Bill”). Ons moet ernstige kommer registreer oor die Konsepwetsontwerp wat belangrike wysigingsvoorstelle inhou met verreikende gevolge vir belange soos moedertaalonderrig en die relatiewe vryheid wat beheerliggame tans geniet om te kan beskik oor toelatings- en taalbeleid. (Sien die skakel na die volledige kommentaar) 

Met meer as 80% van skole wat disfunksioneel is, sou dit tog redelik wees om te dink dat die herstel van díe skole 'n prioriteit vir die departement sou wees. Om nog meer magte by ʼn beheerliggaam weg te neem en te sentraliseer deur dit aan ʼn departement te gee wat reeds hulle agenda duidelik gedemonstreer het, is om vir wolf skaapwagter te maak. Die nasionale departement en ook provinsiale departemente is eenvoudig nie te vertrou met so ʼn belangrike kwessie nie. 

Dit word toenemend duidelik dat die herstel van disfunksionele skole gepaard moet gaan met harde werk en kreatiewe denke. Dit saam met die nodige politieke wil is egter heeltemal afwesig. Daarom is dit makliker om die werkende en funksionerende skole verder te teiken met ʼn eenvormige taalbeleid en dan die skole verder af te breek. Dit is meestal ook Afrikaanse skole wat as eilande van uitnemendheid en met 'n betrokke ouergemeenskap goed funksioneer en wat in die visier is van die minister, die nasionale departement en veral sekere provinsiale politieke hoofde, soos wat Panyaza Lesufi gister duidelik gedemonstreer het. 

Wat die wetsontwerp aanbetref moet ons ernstige kommer uitspreek oor sommige implikasies wat nie ernstig genoeg verreken word nie. Afgesien van die sentralisering van mag na hoofde van departemente word sommige magte van die beheerliggaam ondergeskik gestel aan die magte van die HOD. Daar kan nie veel sprake van taalkeuses wees waar die bevoordeling van Engelstaligheid deur die staat en staatsinstellings die keuse vir ‘n taal anders as Engels manipuleer nie. Die staat gee ook gevolg aan ‘n demografiese taalvoorkeur vir Engels as onderrigtaal.

Die breedvoerige beskikkingsmagte wat in die wetsontwerp aan die Hoofde van Departemente toegewys word moet nie die HOD toekom nie, maar bestaande skolegemeenskappe, wat ten beste geposisioneer is om hierdie soort besluite te neem. Die HOD se beskikkingsregte in hierdie Konsepwet openbaar ook ernstige grondwetlike tekortkominge wat betref die gevestigde reg oor hierdie kwessie. Die wetgewer moet magte afwentel aan skoolgemeenskappe en daarop fokus om moedertaalonderrig, en die rol wat skole se taalbeleid in gemeenskappe speel, te balanseer eerder as om dit aan meerderheidstaalvoorkeure ondergeskik te maak.

Die Afrikanerbond sal saam met ander organisasies en gemeenskappe werk wat die onsinnige, ondeurdagte en onwerkbare voorstelle van die departement van onderwys sal stuit. Ons wil ook ʼn beroep op die ouer en skole gemeenskappe doen om omvattend te reageer. Taalimperialisme, sentralisering en verengelsing is NIE die antwoord nie, veral nie in ʼn land met grondwetlike regte wat verleen word aan taal-kultuur- en geloofsgroepe nie. 

Ons wil skole, onderwysgemeenskappe en belanghebbendes aanmoedig om almal te reageer op die wetsontwerp wat nie in die beste belang van ons skole is nie. 

Sien die volgende besonderhede: 
Kommentaar op die Konsepwetsontwerp moet die portefeuljekomitee bereik teen 15 Augustus 2022 om 16:00

Volg die skakel na die wetsonwerp op die Parlement se webwerf : https://www.parliament.gov.za/bill/2300398  of lees onder 

Kommentare kan soos volg ingedien word: 
Aanlyn: https://forms.gle/MoC6AdbdQyYPk3Y49 or
WhatsApp: +27 60 550 9848.
E-pos: belabill02@parliament.gov.za

Vir enige navrae kan mnr Llewellynn Brown by die Parlement gekontak word on 083 709 8450

Lees die Afrikanerbond se volledige kommentaar aanlyn - Volg skakel 
Kommentaar vir die Afrikanerbond kan ook onder ingedien word. 

Kommentaar: SA Skole Wetsontwerp

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: