Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Julie 2022
Terug na e-Afrikaner

Cele is verby sy vervaldatum, 


Bheki Cele is verby sy vervaldatum – Sy woede uitbarsting en tirade toon dat hy nie meer geskik is nie – Hoe lank moet die minister nog geduld word? 

Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Ons het opnuut weer kennis geneem van die polisieminister Bheki Cele se tirade teenoor ʼn lid van die burgerlike samelewing. Dit sluit aan by sy soortgelyke uitbarsting by ʼn ander openbare veiligheidsbyeenkoms in Normandien in KwaZulu-Natal in September 2020 en waar hy ook met woede gereageer het en emosioneel gemeenskappe teen mekaar opgesweep het. 

Terwyl hy predik oor menseregte en dan in ʼn woede uitbarsting reageer, tree hy en sy polisiebeamptes op soos die karikatuur wat mens verwag van ʼn diktator wat onaanvaarbaar is in ʼn grondwetlike demokrasie. Misdaad is ʼn algemene probleem in alle gemeenskappe en mense het frustrasies in die hantering of nie-hantering daarvan. As die minister ernstig is oor konsultasie met mense om oplossings te vind, sou hy luister na almal in die Wes-Kaap en alle sfere van regering betrek. Duidelik gebeur dit om politieke redes nie. 

Die minister het lankal sy vervaldatum bereik en doen die posisie waarin hy dien geen eer aan nie. Netso is sy struggle verlede lankal nie meer relevant nie en dit gee hom geen spesiale status nie. Dit is nou huidige resultate wat tel en nie sy verlede nie. Die minister was in die vergadering in ʼn hoek gedryf deur die gebrekkige optrede van die polisie wat aan hom uitgewys is en het hy duidelik die aandag probeer aflei deur die uitbarsting.    

Mens sidder om te dink watter besluite hy neem tydens die woedeuitbarstings. Duidelik is Bheki Cele nie opgewasse vir die taak nie en kan nie langer in die belangrike portefeulje geduld word nie.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: