Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Julie 2022
Terug na e-Afrikaner

Ope brief aan Pres Ramaphosa 


Ope Brief aan President Ramaphosa 

Die onderstaande ope brief deur Dries Wiese, Voorsitter van die Afrikanerbond is op 11 Julie 2022 na die kantoor van President Ramaphosa gestuur. 

Die kantoor van die president het reeds ontvangs erken. 
    
– Die land is by ʼn kruispad. Die President se keuse tussen ʼn disfunksionele ANC aan die een kant en Suid-Afrika aan die ander kant – Dit kan nie beide wees nie! 


Geagte President Ramaphosa 

Met u ontvangs van die finale verslag oor staatskaping op 22 Junie 2022 en die vrystelling daarvan in die openbaar het u aangedui, “Ek sal, in ooreenstemming met die opdrag van die Hooggeregshof, binne vier maande vanaf hierdie datum die volledige verslag van die Kommissie formeel aan die Parlement voorlê, tesame met 'n aanduiding van my voornemens oor die implementering van die Kommissie se aanbevelings.” 

Die media het die koste van die staatskaping op R57 miljard geraam. Dié bedrag is deur die Gupta-familie en hul volgelinge uit die staatskas gebuit, en hulle het self minstens R15,5 miljard in hul eie sakke gesteek. 

Die Zondo-verslag raam dat 97% van die R57 miljard van Transnet en Eskom gebuit is (Rapport, 26 Junie 2022), te midde van voortgesette wanadministrasie en korrupsie in staatsdepartemente en ons plaaslike regeringsowerhede. Terwyl ons hierdie brief skryf, betaal Suid-Afrika die prys. Ons gaan gebuk onder beurtkrag van tot fase 6 weens dekades van wanadministrasie, diefstal en sabotasie by Eskom, 'n staatsbeheerde entiteit.  

Tydens die onrus in Julie 2021 het oproerige skares nog miljarde geplunder en infrastruktuur gevandaliseer. Tot op hede is daar nog geen bevredigende redes gegee of gereageer op die onluste en plundering nie, wat ook hul oorsprong gehad het in diepgesetelde ANC-verdelings en die arrestasie en gevangesetting van mnr. Jacob Zuma. Ons grondwetlike demokrasie is deur anargie bedreig, en die omvang van die onrus moes voorkom gewees het.

Daar is tans 'n geweldige gebrek aan vertroue in Suid-Afrika. Die burgerlike samelewing het alle vertroue in die regering, politici, die staatsdiens en die polisie verloor. Dit kon (ten minste gedeeltelik) aangespreek gewees het in die nasionale konsensus wat u in die staatsrede (SONA) van 10 Februarie 2022 belowe het, wat veronderstel was om binne 100 dae na die staatsrede te gebeur – nog 'n verbreekte belofte.   

Suid-Afrikaners het dus die volste reg om skepties te wees oor u versekering dat daar binne vier maande op die Zondo-kommissie se aanbevelings gereageer sal word. Enige optrede sal per slot van rekening verreikende implikasies vir die regerende party self hê, asook vir baie leiers en openbare verteenwoordigers binne die regerende party. 

Ons kan nooit weer terugkeer na ‘sake soos gewoonlik’ nie. As die regerende party word die ANC van growwe skendings teen Suid-Afrika aangekla. Dit gaan nie meer net oor staatskaping of korrupsie of kaderontplooiing nie. Die vraag is nou of Suid-Afrika dit kan bekostig om deur die ANC met sy skadelike ideologieë en beleide regeer te word. Vir veels te lank het die leiers van die ANC – u voorganger inkluis – van die standpunt uitgegaan dat die ANC eerste kom. Die ANC se leiers gee deurgaans voorkeur aan die belange van die party, bo dié van die land en die Suid-Afrikaanse grondwet. Ons het nou die resultate van hierdie onhoudbare situasie gesien. 

Nog ’n struikelblok is die ANC se ongrondwetlike posisie wat betref sy kollektiewe verantwoordelikheid. Ons grondwet eis aanspreeklikheid, verantwoordelikheid en deursigtigheid. Die ANC-kollektief – sy strukture, verteenwoordigers en leierskap – is aandadig aan die huidige gemors waarin ons land hom bevind, en moet dus kollektief blaam aanvaar vir die ondermyning van ons staatsbestel. 

Ons glo vas dat u tans by 'n kruispad staan. Om die uiters skadelike gevolge van staatskaping aan te spreek en die implementering van die Kommissie se aanbevelings te oorweeg, is van kardinale belang — nie net uit 'n finansiële oogpunt nie, maar ook om die vertrouensbreuk wat ons nou in die gesig staar, aan te spreek. U wys dikwels daarop dat apartheid 'n misdaad teen die mensdom was. In dieselfde trant moet toegegee word dat staatskaping, en die gevolglike ongebreidelde korrupsie, eweneens 'n misdaad teen Suid-Afrika en sy mense is. Dit kan nie meer betwis word nie. 

Ons glo u sal tussen Suid-Afrika en die ANC moet kies wanneer u die aanbevelings oorweeg wat deur Hoofregter Raymond Zondo gemaak is. U sal moet kies tussen die disfunksionele ANC-alliansie en onbekostigbare party-eenheid aan die een kant, en 'n suksesvolle en welvarende Suid-Afrika aan die ander kant. Wanneer dit kom by die redding van hetsy die ANC-alliansie of die land, kan u nie albei doen nie; nie op hierdie punt in die geskiedenis nie, en nie in die lig van Suid-Afrika se verdeelde en brose toestand nie. 

In u weeklikse nuusbrief van 27 Junie 2022 en met verwysing na staatskaping het u gesê: “Die immorele, onetiese en kriminele gedrag van selfdienende individue in gesagsposisies het die vertroue van die mense in die leiers en instellings wat bedoel is om hulle te dien, ondermyn. Dit het ’n vertrouensgaping geskep wat ’n rukkie sal neem om te herstel.” (Ons vertaling) Hierdie sin impliseer dat u baie goed weet dat die individue na wie u verwys óf lede en verteenwoordigers van die ANC is, óf `n noue verbinding met die party het. 

U word herinner aan die Ampseed wat u as President van die Republiek van Suid-Afrika afgelê het, toe u verklaar het, “in die volle besef van die hoë roeping wat ek as President van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar, sweer ek […] plegtig trou aan die Republiek van Suid-Afrika, en dat ek die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig, onderhou en handhaaf.” U het plegtig en opreg belowe dat u te alle tye:  
- “sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad; 
- die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder;
- u pligte met al u kragte en talente na u beste kennis en vermoë en getrou aan die stem van u gewete sal verrig;
- aan almal reg sal laat geskied; en 
- u aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy.”

Nog nooit in die geskiedenis van ons nuwe demokrasie het getrouheid aan die voorskrifte van sy gewete dieper geresoneer vir 'n president van Suid-Afrika nie. Die tyd het gekom, en hoe u op die aanbevelings van die Zondo-kommissie reageer sal u blywende nalatenskap wees. Uiteindelik moet u besluite en optrede dié van die President van die Republiek van Suid-Afrika wees, en nie die president van die ANC nie. 

Staatskaping en grootskaalse korrupsie het Suid-Afrika onherroeplik geskaad. U ampseed vereis optrede, en die regerende party sal ongetwyfeld die prys moet betaal. Die keuse berus by u – lojaliteit aan die ANC ten alle koste, of om in belang van die land en alle Suid-Afrikaners deur die voorskrifte van u gewete gelei te word. 

Met groete

Dries Wiese 
Voorsitter van die Afrikanerbond

Datum: 11 Julie 2022

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: