Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 19 Mei 2020
Terug na e-Afrikaner

Skenking aan die Voortrekkermonument


Ons het in die laaste paar nuusbriewe die aandag gevestig op die kritiese en desperate situasie waarin die Voortrekkermonument verkeer. In die tyd van inperking, het die Voortrekkermonument wat die laaste paar jaar suksesvol bemarking gedoen het by buitelandse toeriste en veral die Chinese mark, skielik die inkomste verloor. Die Voortrekkermonument was genoodsaak om hulp te vra van bevriende organisasies. 

Die naelstring met die Afrikanerbond en sy voorganger is wyd bekend. Dit was deur die AB se toedoen in 1931 dat die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) gestig is met die oog op die oprigting van ’n monument ter ere van die Voortrekkers. Hoewel die oprigting van die Voortrekkermonument en die reëlings vir die Voortrekkereeufees van 1938 nie as sodanig AB-projekte was nie, was leidende figure in die Sentrale Volksmonumentekomitee en die Voortrekkermonument-eeufeeskommissie ook lede van die AB. Die Afrikanerbond dien vandag nog steeds op die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting. 

Die voorsitter van die Afrikanerbond, Dries Wiese, het in die AB se maandelikse nuusbrief hieroor geskryf en bekend gemaak dat “gegewe die ernstige probleme by die Voortrekkermonument (het die Afrikanerbond deur die Christiaan de Wet Fonds se direksie pas besluit om R100 000 te bewillig aan die Voortrekkermonument en Erfenisstigting en so te help om die nood by die Voortrekkermonument te verlig. Lede word individueel ook versoek om waar moontlik skenkings te maak.”

In die skrywe aan die direksie van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting het die hoofsekretaris, Jan Bosman, die skenking bevestig en gesê: “Net soos telkens in die verlede, waartydens Suid-Afrika groot onsekerhede ervaar het, weet ons dat die staat van inperking ʼn onsekere fase is, maar dat dit sal oorgaan en dat almal van ons opnuut sterker hier sal uitkom. Ons wil julle daarom graag alle sterkte toewens. Die Voortrekkermonument is ʼn kosbare erfenis vir Afrikaners en behalwe vir die finansiële ondersteuning dra ons die saak ook in gebed op. Ons sal ook voortgaan om die situasie in ons nuusbriewe deur te gee en weet ons reeds van lede wat in hulle persoonlike hoedanigheid ook reeds skenkings gemaak het.”     

Dr Cecilia Kruger. Besturende Direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting skryf na aanleiding van die skenking. “Dit is met opregte dank dat ons kennis neem van die bereidwilligheid van die AB om fondse uit die Christiaan de Wet Fonds vir ons twee instansies toeganklik te maak in hierdie uitdagende tyd waarin ons ons bevind.”

“Hoewel ons omstandighede die afgelope twee maande ingrypend verander het, staan een feit soos ‘n paal bo water – die Voortrekkermonument gaan nêrens nie – en dit is ONS verantwoordelikheid om dit na die beste van ons vermoëns te bestuur. Die pre-COVID bedryfsuitdagings het nie verdwyn nie en met die AB bydrae gaan ons die projek aanpak wat die grootste verskil in die post-COVID tyd gaan maak en dit is om die waterbestuur op die terrein onder beheer te kry.” 

Na aanleiding van al bogenoemde bring ons daarom ook graag die volgende onder die aandag van ons lede: 
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) stel as deel van sy geskiedenisfonds ’n omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekend om hulle finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, “is kultuur en monumente vir baie mense ’n lae prioriteit te midde van die baie uitdagings wat ons land tans in die gesig staar. Tog is monumente inspirasieplekke wat ons sigbaar herinner aan die vele uitdagings wat ons voorgeslagte met onderskeiding te bowe gekom het. Elke monument wat deure moet sluit, is nie net ’n langtermynverlies vir Afrikaners se kultuurhistoriese erfenis nie, maar ’n kultuurhistoriese ramp.”

“Die staat gaan nie ons monumente help nie. Afrikaners sal self verantwoordelikheid moet aanvaar om in krisistye ons geskiedenis vir ons nageslag te bewaar. Die kultuurkaarte is nie net praktiese bemarkingshulp aan ons monumente om meer voete te lok nie, maar saam met finansiële ondersteuning ’n daadwerklike poging om ons erfenis se deure oop te hou.”

Lees meer oor die FAK projek en bydraes tot Afrikaner monumente https://www.monumente.co.za/voortrekkermonument

Deel met ander belangstellendes

Share by: