Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 23 April 2020
Terug na e-Afrikaner

Korona en ons nuwe virtuele wêreld


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Die begrip virtueel was dalk nie relevant genoeg of selfs bekend toe die Agste uitgawe van die Verklarende Afrikaanse Woordeboek van Labuschagne en Eksteen in 1993 gepubliseer is nie, want die woord kom glad nie daarin voor nie. 

ʼn Vinnige internet soektog by VIVA (Die Virtuele instituut vir Afrikaans) bring die volgende betekenisse na vore:  
“vir·tu·eel b.nw., bw. [virtuele]
1 wat betref ’n voorstelling van die werklikheid; skynwerklikheid.
2 (rekenaar) wat betref die voorstelling van ’n werklike plek en bepaalde dienste daaraan verbonde deur middel van optiese beelde en gepaardgaande klank op ’n rekenaarskerm, waardeur gebruikers elektronies daartoe toegang kan verkry: ’n virtuele inkopiemark • Danksy die internet kon sy verskeie buitelandse universiteite virtueel besoek om inligting oor hulle onderrigprogramme te kry. ◊ Uit die gehoor is voorgestel dat ’n virtuele Afrikaanse universiteit tot stand gebring word waar lektore voor videokameras optree en studente landswyd die lesings in spesiale lesingsale volg (Die Burger).
| virtuele werklikheid nabootsing deur ’n rekenaar van ’n driedimensionele omgewing, waarmee ’n mens deur middel van spesiale elektroniese toerusting, soos ’n helm met ’n beeldskerm aan die binnekant, of handskoene met sensors, op ’n skynwerklike manier in wisselwerking kan tree.
[Latyn virtus krag, deug]”

Delf ons bietjie dieper op die internet dan kry ons die volgende betekenis – “Van iets wat op 'n rekenaar of aanlyn gesimuleer word.” Of die volgende “iets wat in effek bestaan, indien nie in werklikheid of realiteit nie; nageboots, gesimuleer.”

Hoe het die Koronavirus ons nie sedert inperking op 27 Maart 2020 in ʼn nuwe virtuele wêreld ingedwing nie. Alhoewel nie almal dieselfde werklikheid deel nie, was die omgewing by ons in Randburg wel een van ʼn nuwe virtuele realiteit. 

Die aanvanklike aankondiging was vir ʼn tydperk van drie weke, maar dit het later geblyk dat dit maar net die begin was. Die tydperk is verleng tot 30 April en nou is alle aanduidings dat dit nog langer, of met geleidelike aanpassings, verslap kan word. Dit het mense genoop om drastiese aanpassings te maak en die tegnologie aan te gryp en daardeur ons eie virtuele werklikheid te skep.    

Ons personeel hou nou twee keer ʼn week ʼn Zoom videovergadering, elkeen in die gemak van sy of haar huis waar ʼn studeerkamer of vertrek ingerig is vir ʼn volledige werkslokaal vir die tydperk van inperking. Elke lid van die personeel kan mekaar, per video op die rekenaar- of selfoonskerms sien, en so die vergaderings meer persoonlik maak. 

My 16-jarige dogter wat baie ernstig is oor die Skotse Highland danse en verlede jaar in Augustus aan die wêreldspele in Skotland kon deelneem, se dansstudio het feitelik dadelik die tegnologie aangegryp en bied nou klasse aan via Zoom en kry my dogter nou baie meer persoonlike aandag. Sy doen haar dansoefeninge laatmiddag op die buitestoep, met haar skootrekenaar se kamera op ʼn spesifieke hoek , sodat haar dansafrigter haar en die ander dansers kan dophou.  

Die hoërskool waarin beide ons kinders is, het ook die virtuele wêreld aangegryp in die inperkingsperiode. Al die onderwysers moes ʼn blits aanlynkursus doen om klasse oor die internet aan te bied en het ons kinders sedert ʼn week gelede die virtuele klaskamerwêreld betree deur Google Classroom. Vir onderwys oor die algemeen is dit nie meer ʼn keuse nie, dit het ʼn harde realiteit geword. Die kinders neem ook gereeld deel aan ander instansies se virtuele klaskamers soos Solidariteit se Wolkskool en ons matriekseun kry ook ondersteuning deur Netwerk24 se #Myskool projek.   

My vrou wat in die administrasie omgewing van ʼn universiteit werk hou gereelde daaglikse vergaderings via Zoom en ook Microsoft Teams en was hulle gereed, om sedert Maandag, aanlyn klasse vir al hulle studente regoor die land te kon aanbied. Die wêreld van onderrig en onderwys het vir ewig en vir altyd verander.              

Dit is nie net gesinne wat die nuwe uitdagings met albei hande aangryp nie. Ek lig my hoed vir Die Voortrekkers wat die sprong in die virtuele kuberruim ingemaak het. Ek is verlede week genooi om met die Pikkewyne, ‘n Graad 11 span, van die Klapperkop Kommando in Pretoria, ʼn Zoom-sessie te hou om te praat oor die Afrikaners in die tydperk sedert republiekwording tot in 1994. Met 30 gesigte voor my op my rekenaarskerm, van jong Voortrekkers wat deelneem deur middel van video fasiliteite op hulle selfone, of skootrekenaars, kon ek my aanbieding maak.

Ek het enkele dae gelede ook die voorreg gehad om enkele van ons bestuurslede te koppel deur middel van Zoom. Selfoon in die een hand, en met my ander hand op my rekenaarmuis, neem ek hulle stapsgewys deur die verskillende maniere om die video- en klankfasiliteit te aktiveer en deel te word van die virtuele wêreld. As hulle rekenaar uiteindelik met die virtuele wêreld verbind word, is die verbaasde uitdrukking op hulle gesigte oor en oor die moeite werd. Die ontdekking van die virtuele wêreld wag nog op soveel van verskillende generasies, maar dit is onafwendbaar. 

Dit is nie net op die akademiese of werksterrein waar die virtuele wêreld ons getref het nie. Direksies van maatskappye en regerings het noodgedwonge die wêreld betree en word ingrypende besluite geneem, in virtuele raadsale en kabinetskamers. Dit blyk dat die video sessies ook Afrikaner diaspora gesinne van regoor die wêreld bymekaar gebring het, vriende hou virtuele speletjie aande soos Bingo en vasvra kompetisies. Mense in verskillende dele van die land en die wêreld wys foto’s van gesinsvakansies vir mekaar en deel selfs resepte.

Die virtuele wêreld was die laaste paar jaar teenwoordig maar dit was, na ons oningeligte mening die wêreld van rekenaar programmeerders en dalk onregverdiglik so geoordeel, ʼn paar asosiale introverte wat in hulle eie wêrelde vasgekluister is. Die Koronavirus het die realiteit omgekeer. Vir ʼn paar weke is ons gedwing om deel te word van ʼn nuwe virtuele orde. Nuwe spelreëls, nuwe manier van dinge doen, nuwe moontlikhede is op ons afforseer. 

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het al vir ʼn paar jaar die projek waar woorde gekoop of geborg word. Toe die projek begin is, het die Afrikanerbond die woord “Afrikaner” gekoop. ʼn Paar jaar later het die woord “Toekoms” gevolg. Pas het dr Willem Botha, van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, bevestig dat die term “Virtueel” vir die Afrikanerbond gereserveer is.

Was prof Marinus Wiechers dalk sy tyd ver vooruit toe hy in 2010 in ʼn besprekingsdokument vir die Afrikanerbond oor taal en kultuur geskryf het oor die moontlikheid van ʼn virtuele provinsie? Nuwe moontlikhede wag vir Afrikaansprekendes en vir Afrikaners as kultuurgroep. ʼn Virtuele metropool, ʼn virtuele provinsie, ʼn virtuele staat, ʼn virtuele ekonomie. Die moontlikhede is onbeperk.

Chris Milk ʼn Amerikaanse entrepreneur en kunstenaar sê oor virtuele realiteit: “Dit verbind mense aanmekaar op 'n diepgaande wyse wat ek nog nooit vantevore in enige ander media gesien het nie. Dit kan mense se persepsie van mekaar verander. En dit is hoekom ek dink dat virtuele realiteit die potensiaal het om die wêreld te verander.” Terwyl 2020 die jaar van die groot inperking was, sal dit seker ook bekendstaan as die jaar waarin die mens die virtuele wêreld betree het. Die mens het sy eie aanlyn skynwerklikheid in realiteit omskep. 
 

Deel met ander belangstellendes

Share by: