Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 23 April 2020
Terug na e-Afrikaner

Covid-19 vanuit 'n Afrika perspektief


Deur Dr. Coetzee Bester
Pretoria 
 
Die COVID-19-virus het nie in Afrika sy oorsprong gehad nie, maar Afrikane word ook blootgestel aan die ongemaklike, rampspoedige en selfs dodelike gevolge daarvan.

Inleiding
Ten tyde van die skrywe hiervan, is die volle omvang van die uitwerking van die COVID-19-virus in Afrika nog onseker. Terwyl lande buite Afrika die uitbraak, prosesse en gevolge van die pandemie akkuraat kan meet, is Afrika ongeveer twee weke of selfs ʼn maand agterweë. In China, Europa en die VSA is die roetes, kurwes en spore wat die virus volg, baie duidelik. Afrika kan hieruit leer en aanpas, maar op die oomblik het ons nog nie regtig al die feite om die virus hok te slaan nie. Daar is enkele redes wat veroorsaak dat die inwoners van hierdie vasteland onkundig is, en wat hulle wantrouig maak. 

Sieninge en gedrag waardeur waarnemings van Afrikane gefiltreer word
Dit is nie die eerste wêreldwye siekte wat ʼn invloed op Afrika het nie. Daar was al verskillende soorte siektes en daar sal waarskynlik nog vele in die toekoms wees. Dit is dus belangrik dat ons na die historiese redes vir Afrika se planne hieroor en die bestuur van die virus kyk. Dalk kan hierdie lesse gebruik word om Afrika se rol, regte en verantwoordelikhede in die wêreld te heroorweeg en te herstruktureer. 

Ander voorbeelde kan genoem word, maar gebaseer op politieke verskille, het die ontslape President Mugabe, terwyl hy sy land verwoes het, elke moontlike geleentheid gebruik om sogenaamde Westerse magte te beledig, gering te skat en te verontagsaam. Sy uitsprake en sieninge het om verstaanbare redes ʼn impak gehad op die sieninge van baie Afrikane en hulle vertolking van feite en waarhede, wat insgelyks hul gedrag beïnvloed het. Onlangs het President Trump na Afrika verwys as ʼn “shithole country’. Sy neerhalende opmerking het baie Afrikane (ek sluit myself in) beledig en gegrief laat voel. Nie alleen het sy verregaande opmerking elke poging om die vasteland te herstruktureer genegeer nie, maar dié wat binne hulle vermoëns probeer om beter lewens na te streef, die josie ingemaak. President Trump stel dalk nie belang daarin om vertroue tussen homself en die Afrikane op te bou nie, maar sy opinie het ook 'n wig ingedryf tussen enige vertroue wat tussen Afrika en ander ontwikkelde lande, en tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande, opgebou is. 

Hierbenewens moet ons nie uit die oog verloor nie, dat baie van die Afrikagemeenskappe wat dit aangehoor en vertolk het se filosofie, gebou is op hulle ervaring van kolonialisme wat oor ʼn lang tydperk hulle motivering afgekraak, inligting gefiltreer en vertroue verbreek het. 

Die sieninge en haatspraak van Mugabe en Trump het waarskynlik verder tot ʼn omgewing van onsekerheid, woede, wantroue en suspisie in Afrika bygedra. En, dalk dra dit ook by tot Afrika se onvermoë om volhoubare en konstruktiewe inspirasie te genereer. 

Die bestuur van inligting
Die vernietiging van Afrika se vertroue in wêreldwye inligting, verantwoordelikhede en programme mag tot die dood van baie mense lei, en onverskillige mense sal dalk nie eers deur so ʼn tragedie geraak word nie. Maar, die wêreld sal nie ʼn veilige plek wees as die bevolking van meer as een miljard mense op die vasteland van Afrika nie in ag geneem, gerespekteer en ingelig word deur betroubare bronne en strukture nie. Kwesbare, ontstoke en misnoegde mense is gewoonlik nie vatbaar vir goeie argumente, beleide en voorstelle nie – selfs nie indien sodanige insette noukeurig nagevors en feitelik korrek is nie. Onlangs is die MIV/vigs- en polio-inentingsprogramme in baie Afrikagemeenskappe vertroebel met fopnuus en alternatiewe feite. Swak beleide en woede deur Mugabe, asook fopnuus en alternatiewe feite deur sommige Westerse leiers, het tot hierdie internasionale gesondheidsramp bygedra. Dit is baie duidelik dat dit makliker is om politieke wantroue te saai as om ʼn beter wêreld te skep. 

Swak politieke beleide, fopnuus en leuens het ook bygedra tot verkeerde vertolkings oor 5G-tegnologie, biologiese oorlogvoering en entstowwe – ook in Afrika. Die inligting, fopnuus en leuens oor sekere Europese lande wat oningeligte en arm Afrikane in ʼn eksperiment wil betrek om entstowwe te toets, behoort niemand te verbaas nie. Baie Afrikane mag, in dollar uitgedruk arm wees, maar hulle is nie onnosel nie. Is dit waartoe wantroue, gebaseer op kolonialisme, Mugabe-beleide en Trump-sieninge oor Afrika gelei het? 

Die COVID-19-virus en sy uitwerking in Afrika 
Soos in die res van die wêreld hanteer elke land in Afrika die virus op sy eie manier en volgens goeddunke; binne die beperking van eie bronne asook die vertolking van inligting en persoonlike sienings van elke land se leiers. Hulle optrede sal nooit goed genoeg of onbestrede wees nie – insgelyks die reaksie op die planne van ander Westerse of Oosterse streke. 

Kort voor die Paasnaweek, het OXFAM voorspel dat die koronavirus 'n halwe miljard Afrikane tot armoede sal dryf. Dit, met die voorspelling deur die Wêreldbank dat die voortgesette ekonomiese impak van die koronavirus vir Afrika suid van die Sahara, tot sy eerste resessie van hierdie millennium kan voortstu. Lande in die streek sal oneweredig deur die pandemie geraak word. Daar word voorspel dat die BBP van die drie grootste ekonomieë in die streek, Suid-Afrika, Angola en Nigerië, beduidend sal daal as gevolg van bestaande en aanhoudende swak groei en investering. Verskeie ander lande in die streek, insluitende Rwanda en Botswana, het nasionale inperkings ingestel in ʼn poging om die verspreiding van die virus te voorkom. Die Afrika-unie, onder voorsitterskap van die Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa, is aangemoedig om die reg van Afrikaregerings te verdedig om hul burgers teen die ergste pandemie in 100 jaar, te beskerm.

In Suid-Afrika steun die regering en die hele nasie die planne van President Cyril Ramaphosa. Sy planne is beduidend beïnvloed deur die bewese sukses van Suid-Korea en ander wetenskaplike getuienis. Die land is in ʼn uiters ongewone posisie want dit vorm deel van ʼn goed-ontwikkelde globale handels- en toeristenetwerk wat binne die vaste geografiese werklikheid van Afrika bedryf moet word. Hierdie sensitiewe balans skep ʼn bewuswording van onmiddellike wetenskaplike keuses en planne, asook ʼn kritiese realisering van menslike behoeftes en gedrag, in ʼn wêreld vol feitelike teenstrydighede. Op die oomblik het Suid-Afrika ʼn sterftekoers van 0.7% van geïnfekteerde gevalle. 

Aanbevelings
Dalk het COVID-19 ons oë wawyd oopgemaak om ons eie vooroordele, chauvinisme en onnoselhede raak te sien. Ons is deel van een totale wêreldgemeenskap. Ons kan nie die feit ignoreer dat Afrika arbeid (en ons praat nie nou van slawerny nie) en minerale aan die wêreld verskaf het nie. Dit was die begin en die einde van ons bydrae. Ja, dalk het die houding en arrogansie van die mynmaatskappye, buitelandse regerings en die gevolge van kolonialisme ons nie aangestaan nie, maar vir dekades lank het ons produkte en hulpbronne verskaf om welvaart te skep. Nou kan Afrika nie geïgnoreer en vervloek word – soos die mooi meisie die oggend na die nag tevore – nie. 

As Afrikane kan ons nie ons tyd en arbeid, of die welvaart wat van ons lande gestroop is, terugeis nie, maar ons kan wel ons deel eis uit die voordele van die beter wêreld wat ons gehelp het om te skep. Daar is tyd om verhoudinge te herstel en om ʼn billike balans in die wêreld te skep, deur te fokus op:
• ʼn Goedgestruktureerde program van herinvestering in Afrika. Dit behoort mediese voorraad, goeie en betroubare inligting en deursigtigheid in te sluit met die doel om sterftes in die korttermyn te verhoed. 
• ʼn Omgewing waarin Afrika en die res van die wêreld regverdig deel in die voordele van globale hulpbronne, verantwoordelikhede en geleenthede. Dit behoort redelike toegang tot tegnologie, kennis en voorspoed te ontwikkel wat gemik is daarop om globale radikalisme en ekstremisme aan te spreek en te vermy. 
• Aksies met inagneming van realiteite, waardes, beginsels, maatskaplike geregtigheid en respek oppad na inklusiewe globale strukture. Dit behoort ʼn inklusiewe wêreld te skep wat ongelykheid en globale apartheid teenwerk.

Kom ons gebruik die COVID-19-ramp om selfbesinning te doen oor die mensdom wat ons verlang en om ons te beywer om ʼn beter wêreld vir almal rondom ons te skep. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: