Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 23 April 2020
Terug na e-Afrikaner

Ekonomiese realiteite waaraan niemand, nie politici, medici, of die Koronavirus kan ontsnap nie


Deur Ulrich Joubert
Onafhanklike ekonoom

Op 26 Februarie word die staatsbegroting gelewer en word dit duidelik dat Moody’s, die laaste van die drie groot kredietgraderingagentskappe wat ons nog nie tot rommelstatus verlaag het nie, dit wel teen einde Maart sal doen. Die begrotingstekort is té groot, die groeikoers van die ekonomie is té swak en geen belangrike besluite word aangekondig om die beleidsfoute van die afgelope vyf-en-twintig jaar reg te stel nie.

Intussen is die koronavirus besig om baie vinnig deur die wêreld heen te versprei, maar vir ons as Suid-Afrikaners is dit ’n probleem wat op daardie stadium slegs die Chinese en ’n paar ander lande ontwrig. In Maart verander hierdie prentjie en word aangekondig dat die land se mense en dus sy ekonomie vanaf middernag op 26 Maart vir drie weke ingeperk sal word. Dít is ’n onverwagse ramp wat op die aand van 27 Maart opgevolg word met die te wagte kredietafgradering van Moody’s.

Omdat die kredietafgradering reeds geruime tyd verwag is, kon baie beleggers en spekulante hulle daarop voorberei, en het internasionale en plaaslike kapitaal die land oor ’n periode van tyd verlaat. Die inperking van die ekonomie wat vanaf 26 Maart geld, was egter ’n onverwagse skok, iets wat niemand nog ooit beleef het nie en iets waarop niemand hom kon voorberei nie.

Die gevolge van die Covid-19 pandemie is tweërlei van aard naamlik medies en ekonomies.

Medies

Op mediese terrein het Suid-Afrika die probleem dat die staatsgesondheidsektor oor die afgelope vyf-en-twintig jaar verwaarloos is en in baie gevalle nie meer die dienste wat voor 1994 gelewer is, kan lewer nie. Daar is veral bekommernis oor die skynbaar gebrekkige opleiding van verpleegpersoneel, asook die gebrek aan goed toegeruste hospitale met toerusting wat behoorlik in stand gehou word. Terselfdertyd is daar die bekommernis oor die gróót aantal arm mense waarvan baie blootgestel is aan tuberkulose en/of die MIV/Vigs probleem. Tot watter mate sal hierdie persone wat in baie gevalle steeds nie lopende water tot hul beskikking het om hul hande mee te was nie, die prooi word van die koronavirus pandemie? 

Privaat en staatshospitale is aangesê om gereed te wees vir die stormloop van pasiënte wat teen die Paasnaweek verwag is. Geen nie-noodsaaklike operasies mag uitgevoer word in die periode tot die Paasnaweek nie, maar teen die Paasnaweek was al die hospitale eintlik leeg — geen normale pasiënte nie, maar ook geen Covid-19 pasiënte nie. Was dit omdat die inperking van die land so goed gewerk het, of was dit dat ’n groot persentasie van die bevolking weerstandig is teen die virus weens die medikasie wat hulle kry, of het ons net nie daarin geslaag om die regte persone vir die virus te toets nie? Blykbaar weet niemand regtig wat die rede is nie.

Die vraag wat nou ontstaan, is tot watter mate moet die inperking van die ekonomie en sy mense voortduur of tot watter mate kan daar ’n verslapping van die maatreëls aangekondig word. Wanneer gaan die pandemie werklik toeslaan? Sal dit in Junie wees of sal dit eers in September kom? Sal daar na die eerste vlaag van besmetting later ’n tweede vlaag kom — dalk eers in 2021? Dit wil voorkom asof niemand hierop ’n antwoord het nie. Volgens ’n mening van professor Salim Abdool Karim, die mediese adviseur ten opsigte van die Covid-19 epidemie aan die staatspresident, het ons die voordeel van die inperking gehad en moet ons maar die epidemie se verloop afwag. Oor die algemeen word aanvaar dat sowat 70% van die bevolking wel deur die virus besmet sal word en dat dit veral persone oor 70 is, wat ernstige gesondheidsprobleme sal ervaar. Bespiegelings ontstaan dan ook dat persone bo 60 vir die periode tot na September ingeperk moet bly om die impak van die pandemie tot ’n mate te kan vryspring.

Die vraag ontstaan hoeveel persone sal weens die Covid-19 pandemie te sterwe kom en hoeveel persone sal weens die nagevolge van die verswakking van die ekonomie en die verarming van die bevolking weens honger te sterwe kom in die komende maande en jare? Tans is daar nie antwoorde nie.

Ekonomie

Bo en behalwe die onsekerheid en gevolglike angs wat die verloop van die pandemie en sy impak op die bevolking het, is daar die verdere onsekerheid en angs wat die gevolge van die inperking van die ekonomie op elkeen van ons het.

Tans is die voorspellings dat die wêreldekonomie negatiewe groei van sowat 3% in 2020 kan toon, terwyl lande soos die VSA en die VK negatiewe groei van sowat 8% en Wes-Europa en Japan negatiewe groei van meer as 7% kan beleef. In die geval van die RSA word negatiewe groei van tussen 5% en selfs 9% voorspel. Die jongste voorspellings is dat die Chinese ekonomie wel net meer as 1% positiewe groei vanjaar sal toon. Oor die algemeen word verwag dat die wêreldekonomie asook Suid-Afrika in 2021 sterk positiewe groei sal toon. Indien daar egter soveel onsekerheid oor die verloop van die pandemie bestaan, plaaslik sowel as internasionaal, moet aanvaar word dat enige voorspellings oor die prestasie van die ekonomie ook op baie onsekere aannames berus.

In Suid-Afrika kan ons egter aanvaar dat werkloosheid en armoede tans en in komende maande skerp sal toeneem. Hoe gaan ons hierdie probleem aanspreek? Gaan ons kospakkies uitdeel aan veral die mense wat vir die regerende party gestem het, of gaan ons aan hulle ’n paar honderd rand in die hand stop sodat hulle vir die volgende paar uur versorg is? Of gaan ons daadwerklike langtermyn oplossings probeer vind vir die groei- en werkloosheidsprobleem?

Ons kan aanvaar dat baie klein, middelslag en groot maatskappye nie die inperkings finansieel gaan oorleef nie. Gaan ons aan die wat voldoen aan swart ekonomiese bemagtigingsreëls R50,000 in die hand stop? Of gaan ons kyk na ons beleidsbesluite sedert 1994 en dit wat reggestel moet word, regstel, sodat die langtermyngroeipotensiaal van die ekonomie kan herstel?

Gaan ons so gefokus raak op die Covid-19 pandemie dat ons vergeet dat daar steeds boerderygemeenskappe is wat dringend finansiële ondersteuning nodig het om net die voortslepende droogte te kan oorleef? Gaan ons die boerderygemeenskap in die algemeen help, of gaan dit net ’n paar uitgesoektes wees wie se stemme ons by die volgende verkiesing benodig, wat hulp sal ontvang? Of gaan ons poog om toekomstige voedselsekerheid te verseker?

Ons weet dat die toerismesektor en alle sektore wat daarmee saamhang, plaaslik en internasionaal onder geweldige druk verkeer. Hoeveel lugvaartmaatskappye, hotelle, gastehuise, restaurante, die jagbedryf en hul werknemers gaan die inperking oorleef? In die geval van die toerismebedryf is dit die een sektor waar Suid-Afrika weens ons weer en natuurlike erfenis ’n mededingende voordeel bo baie ander lande het. Ons kan nie toelaat dat hierdie sektor, wat ’n belangrike werkskepper is, nie so spoedig as wat moontlik is, weer kan besigheid doen en finansieel op sy voete kom nie. Gaan ons hierdie bedryf finansieel ondersteun of gaan dit weer eens net uitgesoektes wees wat ondersteun word?

Hoeveel kleinhandelaars in die klerebedryf sal die inperkingstydperk oorleef en wat gaan die impak op die tekstielbedryf wees? En watter impak gaan die verswakking van omset op die eienaars van inkoopsentrums hê? Gaan persone na die inperkingstydperk verkies om eerder van die huis te werk as om elke oggend en aand in verkeersknope te sit op pad na en van die werk? Dit kan ’n negatiewe impak hê op die benutting en verhuring van kantoorspasie. Sal dit selfs ’n impak op die motorbedryf hê omdat gesinne besluit dat hulle met minder voertuie oor die weg kan kom? 

Terselfdertyd is daar sektore wat deur die huidige situasie bevoordeel word soos byvoorbeeld die tegnologiesektor, die wat mediese toerusting vervaardig of die farmaseutiese bedryf in die algemeen. 

Die jongste voorspellings is dat die ekonomie eers weer teen die einde van 2023 of die begin van 2024 op dieselfde vlak sal wees as wat dit was voor die pandemie die ekonomie ontwrig het. Indien die bevolkingsgroei dus sou voortgaan of die instroming van mense uit die res van Afrika gedurende hierdie tyd voortduur, sal die verarming van die bevolking meer intens word en kan sosiale onrus toeneem. 

Finansieel

Die skerp verswakking van die ekonomie het die Reserwebank reeds genoop om sedert die begin van die jaar rentekoerse met 2.25% te verlaag en aan te dui dat rentekoerse in die volgende twaalf maande met ’n verdere 1.25% verlaag sal word. Intussen moet aanvaar word dat die verlaging van rentekoerse nie die langtermyn groeipotensiaal van die ekonomie kan verbeter nie. Dit gee wel verligting aan persone en besighede wat finansieel swaar kry, maar dit veroorsaak terselfdertyd probleme vir persone of besighede wat staatmaak op renteinkomste om van te leef. Veral pensioenarisse, wat hoofsaaklik van renteinkomste afhanklik is, sal mooi moet beplan hoe hul begrotings bestuur moet word.

Ongelukkig word ook verwag dat maatskappye in 2020, maar ook in 2021 moeilike tye sal beleef wat hul winste nadelig sal raak. Dit beteken dat dividende in die volgende jaar tot twee jaar onder druk sal wees en persone en pensioenfondse wat op hierdie inkomste staatmaak, hul begrotings moet aanpas.

Die begroting van 26 Februarie het duidelik getoon dat die staat se finansies uitgeput is. Dit is die gevolg van swak bestuur, korrupsie, verkwisting en wanaanwending van fondse. Staatsuitgawes sal vanjaar verder toeneem weens die sosiale impak van die virus, terwyl staatsinkomstes verswak weens die impak van die virus op die ekonomie. Die oormatige besteding aan salarisse en lone sal onder die loep geneem moet word. Of die regering die moed het om dit te doen voor die munisipale verkiesing van 2021 sal nog gesien moet word, alhoewel die aanduiding dat salarisverhogings nie vanjaar toegestaan word nie, wel bemoedigend is. Die herprioritisering van staatsuitgawes asook die aanpassing van beleid om groei te stimuleer, word noodsaaklik. Hopelik dwing die huidige situasie die regering om moeilike politieke besluite te neem sodat die huidige 1% ekonomiese groeipotensiaal kan verbeter.

Die finansiële knyptang waarin die staat hom bevind, veroorsaak enersyds dat daar op die privaatsektor staatgemaak moet word — die wat dit kan bekostig — om finansiële ondersteuning aan die ekonomie te verleen en andersyds die staat dwing om moeilike besluite te neem. Dit wil voorkom asof die besluit uiteindelik geneem is om die bodemlose SAL put toe te maak. Hopelik sal dit help om die politiek ook uit baie ander staatsondernemings te haal, hul toe te laat om hul deure te sluit of kundige bestuur aan te stel wat sonder politieke inmenging moeilike besluite sal neem.

Die toekoms

Die mens is ’n baie aanpasbare wese. Die wat medies en finansieel die huidige gesondheids- en ekonomiese krisis oorleef, sal nuwe planne beraam om aan te gaan en suksesvol te wees. Hopelik gebeur dit ook op politieke terrein en word daar besluite geneem wat die ekonomie op ’n gesonde groeibasis plaas en word die ekonomie nie doodgewurg deur die oormatige beheer wat politici die laaste vyf-en-twintig jaar probeer toepas het nie. Dalk kom daar selfs ’n politieke herskikking in Suid-Afrika.

Daar bestaan sekere ekonomiese realiteite waaraan niemand, nie politici, medici of die koronavirus kan ontsnap nie. Hopelik leer die huidige mediese krisis ons hierdie lesse!  

Deel met ander belangstellendes

Share by: