Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 23 April 2020
Terug na e-Afrikaner

Die Korona-krisis en Suid-Afrika se eie "Marshall-plan"


Prof Andre Duvenhage
Potchefstroom

Die aankondiging van Pres. Cyril Ramaphosa dat R500 miljard beskikbaar gestel gaan word om die Suid Afrikaanse ekonomie te ondersteun (midde-in die Korona-krisis) is om verskeie redes betekenisvol. So ook die feit dat bykans 73 000 weermaglede vir enkele maande op bystand geplaas is. Dit is ʼn direkte aanduiding van die erns van die situasie en die regering se bereidheid om daadwerklik hiermee te handel. 

Die vraag is: Wat moet ons hierin lees en wat is die betekenis hiervan vir ons groter politieke scenario en ook vir die scenario rakende die Afrikaner in Suid Afrika? Die inhoud van die aankondiging op 21 April behels kortliks die volgende:

  1. R500 miljard word beskikbaar gestel as kapitale inspuiting om die COVID-19 pandemie te hanteer, die ekonomie te stabiliseer (en selfs te laat groei) en om sosiaal-maatskaplike verligting vir bepaalde groepe te bring
  2. R200 miljard is begroot vir ondersteuning van die sowat 700 000 Klein- en Medium grootte besighede en sowat 3 miljoen werkers
  3. ‘n Verdere R100 miljard is beskikbaar vir die stabilisering van bestaande werksgeleenthede en ook om nuwe werksgeleenthede te skep.
  4. R50 miljard sal aangewend word om mense in nood by te staan, waaronder kospakkies vir sowat 250 000 geaffekteerde gesinne.
  5. R20 miljard sal aangewend word om munisipaliteite te ondersteun om noodsaaklike dienste te lewer.
  6. Die versterking van mediese en gesondheidsdienste ter ondersteuning van ʼn eskalasie van die pandemie
  7. Verskeie stappe om finansiële sisteme te ondersteun en te stabiliseer in terme van rentekoersverlagings, ruimte om skuldeisers te ondersteun ens. 

In die algemeen is die besluite soos aangekondig deur die President positief ontvang en wel om die vogende redes:
  • Die buitelandse geld wat waarskynlik hoofsaaklik van die IMF sal kom, sal voorwaardelik wees, en die magsbasis van populiste soos Magashule en Malema aan bande lê.
  • ʼn Gedeelte van die geld is bloot die rondskuif van bestaande bates en nie ʼn volledige inspuiting van R500 miljard nie. Dit is geld wat reeds in die ekonomie is en bloot anders aangewend gaan word.
  • Dit kan bydrae om populistiese wetgewings (wat in proses is om deurgevoer te word) versag, of selfs van die toneel verwyder. Hier dink ons in besonder aan die wysiging van Artikel 25 van die grondwet.
  • Noodsaaklike gelde word beskikbaar gestel vir die behoud en selfs die uitbouing van Klein- en Medium grootte maatskappye en die beskerming van werksgeleenthede in hierdie verband. 
  • Noodsaaklike maatskaplike ondersteuning word verskaf wat kan bydra tot groter stabiliteit binne die Suid Afrikaanse samelewing.
  • Dit stel ʼn grondslag daar vir ekonomiese groei en stabiliteit, wat tans krities noodsaaklik is.
  • Ondersteuning vir munisipaliteite is noodsaaklik in die lig van ʼn onvermoë om noodsaaklike dienste te lewer en wat vererger met die koms van die pandemie. 

Hierdie raamwerk het egter ook uitdagings wat baie deeglik verreken moet word en waarvan die volgende uitstaan:
  • Wie gaan vir die groterwordende skuldlas betaal? Suid-Afrika se skuld eskaleer en moet dringend afbestuur word wat moeilike en harde besluite gaan meebring.
  • Korrupsie en wanpraktyke het reeds voorgekom en sal baie deeglik en streng bestuur moet word.
  • Magsmisbruik deur die veiligheidsinstellings is alreeds ʼn probleem.
  • Die beskikbaarheid van geld om radikale politieke agendas te bevorder was ʼn probleem en bly steeds ʼn probleem. Die president het hom immers onlangs weer tot radikale ekonomiese transformasie verbind terwyl BBBEE-wette volledig van toepassing bly.

ʼn Belangrike pluspunt is dat die krisis nie net as ʼn uitsluitlike gesondheidsprobleem bestuur word nie, maar dat die ekonomiese implikasies ook nou deeglik verreken word. Trouens, daar is aanduidings dat die regering die erns van die ekonomiese dilemma besef en ten minste daarvolgens begin handel.

Tog is daar ook groot kommer oor wat ons te wagte kan wees – veral die aankondiging later oor die algemene hantering van die krisis vorentoe. Een van die hooftake van die regering is om ʼn stabiele omgewing te bevorder waarin die ekonomie en ekonomiese aktiwiteite kan groei en vooruitgaan. Die inperking bereik presies die teenoorgestelde en is besig om die ekonomie tot stilstand te dwing. Konserwatief word hier van ‘n verlies van 400 000 werksgeleenthede gepraat, maar dit kan tot 4 miljoen eskaleer indien die inperking nie vinnig en drasties hersien word nie. Die argument dat ons besig is om ʼn ekonomie te vernietig deur weg te kruip vir ʼn virus wat ons (volgens kenners) buitendien vroeër of later gaan kry in tye van werklike krisis, hou gewoon net nie water nie.

Ernstige kommer bestaan ook oor die aanwending van fondse om armes en behoeftiges by te staan en of dit nie net ʼn skema is om “eie mense” se belange te bevorder nie en ʼn “constituency” te bou met die oog op die 2021 plaaslike verkiesings nie. Die ANC se baanrekord in hierdie opsig spreek vanself en dit is bekend dat Luthuli-huis ook bankrot is.

Daar moet vorentoe moeilike besluite geneem word oor die staat van inperking. Dit is my oordeel dat ʼn meer gedifferensieerde benadering nodig is – anders as die huidige “one size fits all”. benadering. Die model wat Nieu-Seeland gebruik kan hier van waarde wees naamlik ʼn viervlak-model met verskillende toepassings ooreenkomstig die ernstigheid van die situasie in ʼn bepaalde omgewing. Dit is kommerwekkend dat groot ondernemings, soos byvoorbeeld Spur, aangedui het dat hul nie bereid is om te heropen nie, indien bestaande beperkinge op getalle en drank steeds van toepassing sou wees Dit behoort rooiligte vir die regering te stuur.
Wat belangrik is, is dat die regering ʼn pragmatiese benadering volg waarin die virus en sy dinamika bestuur word sonder om die ekonomie in die proses te vernietig. Hierin lê die groot uitdaging vir die Ramaphosa-regering. 

Daar bestaan min twyfel dat donker tye vir ons voor die deur lê. Moeilike besluite moet geneem word wat mense se lewens drasties kan raak. Ook vir die Afrikaner wat reeds met talle uitdagings gekonfronteer word, gaan die huidige episode sy merk laat. Dit is ʼn tyd van saamstaan en saamwerk, maar tog is die interne konflikte sterker as vantevore. Die onlangse afsterwe van Genl. Constand Viljoen (en sommige Afrikanergroepe se reaksie in die verband) was betekenisvol in terme van hoe diep die konflik van die verlede nog in mense se gemoedere lê. Krisisse bring dikwels die geleentheid vir introspeksie en die ontwikkeling van nuwe denke en toekomsperspektiewe. 

Die gesegde lui dat jy nooit ʼn goeie krisis moet laat verbygaan sonder om munt daaruit te slaan nie. Mag dit ons kyk wees op die pad vorentoe en mag ons die uitdagings wat myns insiens vorentoe net meer gaan word, so benut dat die Afrikaner as groep sterker hieruit kom. ʼn Riglyn in hierdie verband is om altyd jou naaste (veral jou naaste in nood) te ondersteun en behulpsaam te wees. In die moeilike tye moet ons sterk staan, maar ook bereid wees om te lei, te help en te ondersteun. Dalk nog meer so as in die verlede.

Deel met ander belangstellendes

Share by: