Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring - 25 Februarie 2021
Terug na media

Onteiening - President Ramaphosa se versekeringe hou nie water nie 


Verklaring deur Dries Wiese 
Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond 

President Ramaphosa se versekeringe hou nie water nie – 
- Onteiening bring ʼn ernstige breuk in die saambindende krag van ons onderhandelde skikking en grondwet gebaseer op vertroue, integriteit en respek vir mekaar 

Kommentaar tydens die indiening van die Afrikanerbond se kommentaar op die Onteieningswetsontwerp - Die Afrikanerbond - kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening 2020 [B23-2020] - Sien die skakel op ons webwerf: Ingedien op 25 Februarie 2020 

Tydens die Afrikanerbond se eeufeesviering op 7 Junie 2018 in Paarl het president Ramaphosa onder meer die volgende gesê: 
“Laat ons die toekoms van hierdie land saam beplan en bepaal. Laat ons vrede soek vir hierdie verskeurde, tragiese, verdeelde Suid-Afrika. As dit reg hanteer word, sal grondhervorming help om die nasie saam te bind en voordele vir almal oplewer. As dit swak bestuur word, sal dit eenvoudig gegriefdheid herversprei, die ekonomie benadeel en maatskaplike vrede vernietig. As dit glad nie gedoen word nie, sal die land in sy wese verdeeld bly.”

(English original) Let us plan and determine the future of this country together. 
Let us seek peace together in this torn, tragic, divided South Africa. “If well handled, land reform will help bind the nation together and produce benefits for everyone. If badly managed, it will simply re-distribute resentment, damage the economy and destroy social peace. If not undertaken at all, the country will remain divided at its heart.”

Die huidige Onteieningswetsontwerp en die voorgestelde proses om Art 25 in die Grondwet te wysig gaan alles bereik waarteen President Ramaphosa in 2018 gewaarsku het en nou onder sy leiding volvoer word. 
- Talle versekerings is gegee, soos dat dit nie “die ekonomie moet benadeel en maatskaplike vrede moet vernietig nie” – met ander woorde, dit mag nie voedselsekerheid benadeel nie. 
- In die president se woorde: Dit mag nie die ekonomie benadeel nie. Ongelukkig daal beleggersvertroue sedert 21 Desember 2017, toe die ANC sy voorneme verklaar het om die Grondwet te wysig. Mense wantrou nuwe beleide en nuwe eksperimente, omdat ons 'n onlangse geskiedenis van chaos en staatskaping het.

Net soos die versekering op 7 Junie 2018 en die soortgelyke versekeringe in die onderhandelde skikking van die 1990’s kan die ANC nie meer sulke versekeringe met enige integriteit, geloofwaardigheid of enige eerbaarheid maak nie. 
- Die huidige regering eksperimenteer al 27 jaar lank met die verkeerde beleide en raamwerke, en dit was rampspoedig in elke opsig. 
- Om onteiening soos voorsien in die konsepwetsontwerp sowel as die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet, sal nie 'n kitsoplossing meebring vir die gemors wat deur die regering en die regerende party vererger word nie. 
- Onteiening soos voorsien in die konsepwetsontwerp en enige wysiging van die Grondwet sal nie die behoefte aan grond en eiendomsregte en die behoefte aan titelaktes op sowel landelike as stedelike grond verlig nie.
- Oor die afgelope 27 jaar was daar ongelukkig weinig vordering met landelike ontwikkeling en grondhervorming. Dit was ’n tydperk van verlore kanse en verspeelde geleenthede as gevolg van politieke opportunisme en mislukkings deur die verantwoordelike departemente.

Eiendomsreg het ʼn politieke speelbal geword wat deur die huidige ANC regering aangewend word om stemme te werf. Niks meer nie en niks minder nie. Die politieke motiewe geniet voorrang bo ekonomiese stabiliteit en daadwerklike en noodsaaklike ekonomiese groei vir Suid-Afrika. .  

Die Afrikanerbond is op rekord en ons wil dit weer onomwonde stel dat enige proses om in eiendomsreg deur die konsepwetsontwerp te verander en ʼn wysiging in die grondwet, artikel 25, nie aanvaar kan word nie. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom het slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes geword met geen voordele vir die land of sy mense nie. Deur enigsins met ʼn proses te begin vir onteiening sonder vergoeding, hoe ook al verdoesel, is ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet. 

Beide die konsepwetsontwerp sowel as die proses om die grondwet te wysig tas die wese van eiendomsreg aan. Dit is nie net ʼn verbreking en oortreding van die Suid-Afrikaanse grondwet nie maar ook van die Universele Verklaring van Menseregte. "Die Verklaring is deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in Parys op 10 Desember 1948 aanvaar (Algemene Vergadering Resolusie 217 A) as 'n gemeenskaplike standaard vir alle mense en alle nasies. Dit verklaar dat die fundamentele menseregte vir die eerste keer universeel beskerm word (www.un.org).”

Een van die hoekstene van die Universele Verklaring van Menseregte handel oor eiendomsregte soos vervat in artikel 17:
1. Elkeen het die reg om individueel en in assosiasie met ander eiendom te besit.
2. Niemand se eiendom sal arbitrêr afgeneem word nie.   

Engelse weergawe van Property Rights 
The Declaration was proclaimed by the United Nations General Assembly in Paris on 10 December 1948 (General Assembly resolution 217 A) as a common standard of achievements for all peoples and all nations. It sets out, for the first time, fundamental human rights to be universally protected.” (www.un.org)  

One of the cornerstones of the Universal Declaration of Human Rights deals with property rights as contained in Article 17:
 “(1) Everyone has the right to own property alone as well as in association with others.
(2) No one shall be arbitrarily be deprived of his property.”

Dit word algaande duideliker dat die ANC se eens morele hoë grond rondom internasionale aanvaarding van die beginsels waarop die “struggle” berus het, weggekalwer het en dat die ANC nou in ʼn ideologiese moeras vasgeval het. 

Met bostaande uitgangspunt soos vervat in die VN se Universele Verklaring van Menseregte sal die Afrikanerbond voortgaan met steun vir enige inisiatief vanuit die burgerlike samelewing tot moontlike regsaksie, mobilisering van internasionale begrip en openbare druk deur middel van vertoë en petisies of enige ander aksie wat nodig mag wees. 

Ons moet opnuut waarsku dat enige afwatering van eiendomsreg verreikende implikasies sal inhou vir enige vertroue in Suid-Afrika, sy regering en toekomstige beleggings. ʼn Reeds vuisvoos ekonomie sal wanneer eiendomregte deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering bedreig word, enorme negatiewe implikasies inhou vir nasionale en internasionale beleggingvertroue.  


Deel met ander belangstellendes

Share by: