Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 25 Junie  2021
Terug na e-Afrikaner

Vyf en veertig jaar ná die Soweto-opstand is rassisme 
nie die probleem nie 


Deur Dr. Anthea Jeffrey,
Hoof van Beleidsnavorsing 
Instituut vir Rasseverhoudinge 

Die onderstaande artikel is oorspronklik op 17 Junie 2021 in Engels gepubliseer in die Daily Friend (aanlyn nuusbrief van die Instituut vir Rasseverhoudinge) . Met die vergunning van Dr Anthea Jeffrey en met volle erkenning aan die Daily Friend is die artikel deur die Afrikanerbond vertaal

16 Junie 2021 was die 45ste herdenking van die begin van die Soweto-opstand. Destyds, op 16 Junie 1976, het swart Suid-Afrikaners verreikende rassediskriminasie ervaar op die gebied van die onderwys, die werksmark, huiseienaarskap, grondaankope en vele meer. Rassegesindhede en beleide was nietemin reeds wesentlik aan die verander — ’n proses wat deur die oproer verdere stukrag gekry het.

Met 16 Junie 2021 se herdenking was die swart meerderheidsregering reeds vir bykans drie dekades aan bewind. Tog hou die ANC en sy sosialistiese bondgenote, tesame met vele ander in die media, die akademie en die burgerlike samelewing, vol dat rassisme steeds die kernprobleem is waarmee die land te kampe het.

Hervormings in die apartheidsera
Die algemene opvatting vir die grootste gedeelte van die apartheidsjare was dat die Nasionale Party (NP) nie in staat was om te hervorm nie en deur gewelddadige rewolusie omvergewerp moes word. Die geskiedenis toon egter die teenoorgestelde.

Teen die einde van die 1960s was dit duidelik dat die blanke bevolking te klein was om in die behoeftes van ’n groeiende ekonomie te voorsien. Met werkreservering wat in elk geval aan die verbrokkel was, het die eerste minister John Vorster in 1973 verder aan sakedruk toegegee deur te bevestig dat sy regering nie langer in die pad sou staan van swart mense wat na hoër poste aspireer nie. Dit het aansienlike vooruitgang vir swart mense en ’n afname in rasse-ongelykheid beteken. Die toenemende vraag na swart vaardighede het ook tot beter besteding aan en ander hervormings in swart onderwys gelei. In die 1970s en 1980s is dit gevolg deur maatreëls om “kleinlike” apartheid, ongelyke vakbondregte, beperkings op swart huiseienaarskap, toestromingsbeheer, “groepsgebiede” segregasie, en die hele ideologie van afsonderlike ontwikkeling deur die sogenaamde onafhanklike tuislande tot ’n einde te bring.

In die vroeë 1990s is die oorblyfsels van die apartheidsonderbou afgebreek deur die ontbanning van die ANC en sy bondgenote, die herroeping van die verfoeilike wette oor grondbesit, en die begin van grondwetlike onderhandelings vir ’n nuwe politieke bestel. Ook van kritiese belang was ’n referendum in Maart 1992 waarin twee derdes van die Wit bevolking gestem het om politieke mag prys te gee. Dit het die weg gebaan vir die oorgang na meerderheidsregering in April 1994 onder ’n (kortstondige) regering van nasionale eenheid.

’n Ferm verbintenis tot nierassigheid
Een van die belangrikste NP-hervormings in die vroeë 1990s was die herroeping in Junie 1991 van die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950. Dit was die wetgewing waarvolgens alle Suid-Afrikaners aan ’n veragtelike rasseklassifikasie stelsel onderworpe was, wat allerweë in die land en oor die wêreld veroordeel is.

Die sterk aandrang in Suid-Afrika, soos in die Verenigde State in die 1960’s, was op ’n nierassige regeringsbestel. Ingevolge hierdie nuwe bestel sou mense nie meer beoordeel word op grond van hul velkleur nie, maar eerder volgens “die gehalte van hul karakter”, in Martin Luther King jr se onvergeetlike woorde.

“Nierassigheid” van hierdie aard is uitgewys as ’n grondliggende waarde van die nuwe Suid-Afrika in die heel eerste artikel van die land se Grondwet. Toe die Grondwet in 1996 in die parlement aanvaar is, het Thabo Mbeki, die destydse adjunkpresident, boonop sy verbintenis tot nierassigheid in sy nou reeds bekende “Ek is ’n Afrikaan” toespraak met groot omhaal gestel. In hierdie toespraak het mnr Mbeki wyd verklaar: “Die Grondwet waarvan ons die aanvaarding vier, verklaar onomwonde dat ons weier om te aanvaar dat ons Afrikaanskap deur ons ras, kleur, gender, of historiese oorsprong gedefinieer word. Dit is ’n vaste onderneming wat ons gee dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, swart en wit.”

Die verydeling van die nierassige ideaal
Hierdie toespraak is egter spoedig opgevolg deur Mbeki se “twee nasies”-toespraak in 1998. By dié geleentheid het hy die rassekloof beklemtoon en gesê: “Ons wil dit dus onomwonde stel dat Suid-Afrika ’n land van twee nasies is. Een van hierdie nasies is wit [en] relatief welvarend ... Die tweede en groter nasie van Suid-Afrika is swart en behoeftig ... Ons is nie een nasie nie, maar twee nasies. Ons is ook nie op pad om een nasie te word nie.”

Hierdie toespraak het die weg gebaan vir die geleidelike herrassifisering van Wetgewing deur die aanvaarding van ’n verskeidenheid rasgebaseerde wetgewing, onder meer die Wet op Gelyke Indiensneming (GI) van 1998 en die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) van 2003.

Die ANC beweer dat veral die Wet op Gelyke Indiensneming noodsaaklik was om die rassisme om te keer wat swart mense verhoed het om in die werkplek te vorder. Tog het 90% van die 150 groot werkgewers wat ondervra is deur FSA-Contact, ’n konsultantmaatskappy oor menslike hulpbronne, reeds in 1997, voor die wetsbepaling aanvaar is, vrywillige regstellende aksieprogramme ingestel waarvolgens swart verteenwoordiging op seniorbestuursvlak van 5% in 1995 tot 12% in 1998, en tot 21% in 2001, sou styg.

Daarbenewens het 63% van die werkgewers in die opname ’n “wegrokkeling” beleef deur ondernemings wat bereid was om hul swart bestuurders teen aansienlike vergoeding weg te lok. Hierdie wegrokkeling van personeel het getuig van ’n enorme onbevredigde vraag na swart bestuurders in die privaatsektor, eerder as ’n rassistiese weiering om hulle in diens te neem of te bevorder.

Die Wet op Gelyke Indiensneming is nogtans gepromulgeer en die rasseklassifikasie stelsel wat die NP regering in 1991 afgeskaf het, is teruggebring. Ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming -regulasies word daar van mense verwag om hulself “vrywillig” te klassifiseer volgens die apartheidsera kategorieë “Afrikaan”/Swart, “bruin”, “Indiër” en “wit”. Indien werknemers egter “onakkurate inligting” verskaf of enigsins weier om hulself te klassifiseer, moet werkgewers die rasseklassifikasie taak oorneem — en vir hierdie doel “betroubare historiese en bestaande data” gebruik, wat dit ook al mag beteken.

’n Regering wat tot staatsbeheer op elke gebied verbind is, het dus die onsmaaklike klassifikasie-oefening, waarvan sy hele onderbou van rasgebaseerde wette afhang, geprivatiseer.

Rassisme as die land se kernprobleem
Om sy rasgebaseerde wette te regverdig, beweer die ANC voortdurend dat rassisme Suid Afrika se kernprobleem is — en dat enige versuim om hierdie ontleding te aanvaar en by die regerende party se “stryd” teen rassisme aan te sluit, op sigself rassisties is. Hierdie ingesteldheid maak die party ten diepste onverdraagsaam teenoor mense wat ’n ander standpunt inneem: selfs wanneer daardie mense ’n meerderheid van swart Suid Afrikaners uitmaak.

Hierdie realiteit het in 2001 skerp na vore gekom toe die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) die eerste keer ’n verteenwoordigende meningspeiling onderneem het oor kwessies wat op ras betrekking het. In die eerste vraag wat aan die respondente gestel is, is mense gevra om te identifiseer wat hulle meen die twee belangrikste probleme is wat sedert 1994 steeds onopgelos is. Geen aansporing is gegee nie en mense kon enige kwessie kies wat by hulle opgekom het.

In reaksie hierop het ongeveer 58% van die swart respondente werkloosheid as so ’n probleem uitgewys, terwyl 38% misdaad en geweld beklemtoon het. Daarenteen het slegs 5% rassisme as ’n belangrike onopgeloste kwessie uitgewys.

Essop Pahad, die minister in die presidensie van die eerste Thabo Mbeki-regering, was verontwaardig. Hy het die bevindings van die IRV as “dwaas” afgemaak en aangevoer dat rassisme die oorsaak van werkloosheid is. Dit is egter simplisties en absurd om rassisme die skuld te gee vir dwingende sosio-ekonomiese probleme wat duidelik ander oorsake het.

Die krisis van werkloosheid onder jeugdiges 
Die huidige werkloosheidsyfer onder jeugdiges van 15 tot 24 jaar staan op ’n verbysterende 75% van die uitgebreide definisie, met inbegrip van diegene wat nie aktief werk soek nie. Onder jongmense van 15 tot 34 jaar is meer as die helfte (51%) werkloos. Die 6,8 miljoen jongmense wat nie werk kan vind nie, verteenwoordig sowat 60% van die 11,4 miljoen Suid-Afrikaners wat op die oomblik werkloos en armlastig is.

Hierdie krisis het werklik min met rassisme te doen, veral ná 27 jaar van ANC (wan)regering. In plaas daarvan spruit dit grotendeels voort uit swak bestuur, nog swakker beleide, en die volgehoue mislukking van die onderwysstelsel.

Suid-Afrika bestee meer as 6% van die BBP aan onderwys — meer as wat baie ander lande kan bekostig — maar kry min waarde vir die aansienlike belegging. Inteendeel, minder as 40% van die leerlinge wat in graad 1 begin skoolgaan slaag in die matriekeksamen, terwyl slegs 14% slaag met punte wat goed genoeg is om universiteitstoelating te bekom. Slegs 4% behaal ’n gemiddeld van 50% of hoër in matriekswiskunde.

Die meer as 60% jongmense wat die skool sonder ’n matriek verlaat, is dikwels funksioneel ongeletterd en ongesyferd. Boonop word hulle gekonfronteer deur ’n ekonomie wat grotendeels investering verskrik deur volgehoue nasionaliseringsdreigemente — en asof dit nie genoeg is nie, wat geteister word deur verlammende beurtkrag, verswakkende infrastruktuur, die verbrokkeling van plaaslike besture, en toenemende korrupsie.

Behalwe al hierdie hindernisse wat in die weg van groei staan, is daar die dwang van arbeidswetgewing. Hierdie wette is vernietigend vir werklose jeugdiges, omdat dit beginsalarisse opstoot tot ’n vlak hoër as hul produktiwiteit — en hulle sodoende uit die arbeidsmark prys. Hierdie hindernisse in die weg van opwaartse mobiliteit het niks met rassisme te doen nie. 

Dit is meestal die produk van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), waarmee die regerende party beplan om die kapitalistiese ekonomie dermate te verswak dat dit mettertyd na sosialisme en eindelik na kommunisme gedryf word. Die meeste gewone Suid-Afrikaners het min insig in die NDR omdat die media en ander kommentators dit oor die algemeen nie wil aanroer of die enorme impak daarvan wil erken nie. Die meeste mense sien egter deur die ANC se rassisme verdraaiings.

Dit blyk uit omvattende IRV-meningspeilings wat soos reeds vermeld nie net in 2001 gedoen is nie, maar ook jaarliks van 2015 tot 2020 uitgevoer is. Die mees onlangse peiling was in November en Desember 2020, en die resultate daarvan toon feitlik dieselfde patroon as voorheen.

Die prentjie op voetsoolvlak
Die data wat tydens die IRV-veldopname in 2020 versamel is, toon dat rasseverhoudinge oor die algemeen positief bly — en veel beter as wat die ANC, die EFF en verskeie ander in die media meestal beweer. Daar is nietemin ’n afname in sommige areas, wat sorgvuldige oorweging verdien, met ’n skuif weg van raspolariserende retoriek en beleid.

Een van die mees positiewe uitkomste is dat 81% van die swart respondente wat in 2020 ondervra is, gesê het dat hulle die afgelope vyf jaar nie enige vorm van rassisme ervaar het nie. Boonop het slegs 3% van swart mense rassisme as een van die belangrikste onopgeloste probleme in die land sedert 1994 uitgewys. In plaas daarvan het die meeste swart respondente die grootste uitdagings as werkloosheid (56%), misdaad (18%), behuising (17%) en korrupsie (16%) geïdentifiseer.

Bemoedigend is ook die bevinding dat 73% van swart mense glo dat “met beter onderwys en meer werkgeleenthede, ongelykheid tussen die rasse geleidelik sal verdwyn”. Daarbenewens stem 71% saam dat “die onderskeie rasse mekaar nodig het vir vooruitgang en dat daar gelyke geleenthede vir almal moet wees”.

Aan die ander kant meen slegs 43% van die swart respondente (teenoor 50% in 2019) dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het. Verder het die persentasie swart mense wat meen dat politici die probleme oordryf wat rassisme en kolonialisme bied, van 60% in 2019 tot 52% in 2020 gedaal. Dit dui daarop dat die politieke retoriek rondom rassisme ’n groter invloed op populêre persepsies kan hê as in vroeër jare.

Dit is veral opvallend — maar glad nie verbasend nie — dat werkloosheid in al sewe die IRV veldopnames sedert 2001 as die grootste kommer van die meeste Suid Afrikaners uitgewys is. Werkloosheid is die hooffaktor in die voortslepende armoede en (kleiner wordende) ongelykheid tussen rasse. Dit is ook die hoofrede vir die toenemende gaping tussen die relatief klein en polities verbonde swart elite, wat deur GI en SEB bevoordeel word, en die sowat 10 miljoen werklose swart mense wat dikwels te moedeloos is om die vrugtelose soeke na werk voort te sit.

Vyf en veertig jaar ná die begin van die Soweto-opstand is dit nie rassisme wat die hoop van miljoene swart jeugdiges verydel nie. Inteendeel, dit is verlammende werkloosheid vanweë swak skoolopleiding en 27 jaar se steeds skadeliker NDR ingrypings.

Dit is tyd om te besef dat rassisme nie die probleem is nie. (Kom hier meer te wete.) En dat die rasgebaseerde wette wat gebruik word om die NDR aan te moedig, geen oplossing is nie, maar eerder ’n belangrike rede vir die versnelling van ongelykheid en die voortslepende ekonomiese agteruitgang. 

Lees die oorspronklike artikel 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: