Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 25 Junie  2021
Terug na e-Afrikaner

Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte 
Vuurwapens - Breë konsensus dat wetgewing onaanvaarbaar is 


Samevatting van Ad Hoc Gesprek – 23 Junie 2021 (Gesprek by TLU SA) 
Aan die einde van die gesprek het prof André Duvenhage van NWU die volgende samevatting gelewer.  

Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte is ‘n groepering van organisasies wat gesprek fasiliteer. Die Ad Hoc Groep is nie in kompetisie met andere of om die die funksies van individuele organisasies te vervul nie. Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se gesprek oor die beoogde Vuurwapenbeheer Wetsontwerp verteenwoordig soveel diverse en uiteenlopende standpunte maar die doel met die gesprek was om ook ‘n bepaalde standpunt en bepaalde boodskap na buite uit te dra. Alhoewel daar verskille is, het ons oor die spektrum almal presies dieselfde taal gepraat. Daar is wel verskillende beklemtonings maar daar is een sentrale boodskap wat ons dan probeer saamvat. 

Daar is breë konsensus dat die wetgewing in sy totaliteit onaanvaarbaar is. Net so is die gevoel dat dat die voorgestelde wetgewing verkieslik heeltemal geskrap moet word of tenminste indringend hersien of herbekyk moet word. Die redes hiervoor hou verband met die volgende sake:
- Die polities staatkundige konteks en daarmee saam die verswakkende staat en wat daarmee gebeur, die legitimiteit van die staat, die verslegtende veiligheidsituasie in die land en die wyse hoe die grondwet uitgekalwe word. 
- Die voorgestelde wetgewing is in wese ondemokraties. Daar is toenemend aanduidings dat die tipe van wetgewings diktatoriaal van aard is. Kyk ook na die proses oor wysigings van Artikel 25 van die grondwet. 
- Juridies gesproke is die wetgewing in konflik met bestaande wette. Dit is in stryd met met die letter en gees en aspekte van die grondwet.  
- Administratief gesproke is die wetgewing nie uitvoerbaar nie. Hulle kan die bestaande wetgewing nie bestuur en uitvoer nie. Die Vuurwapenregister het vir alle praktiese doeleindes in duie gestort. Die kapasiteit vir die uitvoering van die voorgestelde wetgewing bestaan dus nie. Daar is ook duidelike getuienis van wanoptrede aan die kant van die polisie en selfs die verspreiding van wapens na kriminele. Dit is ook ‘n moraliteitskwessie.
- Dit word in sekere kringe gesien as ʼn poging tot die ontwapening van die burgery en waarin verskuilde politieke agendas aan die orde is.

Teen hierdie agtergrond is die standpunt baie sterk dat daar pro-aktief gehandel moet word, dat die groeperings hulle moet verbind tot vorme van protes en verset. Ons praat nie van oorlogspraatjies nie. Dit gaan oor verskillende vorme van protes – pro-aktief die burgery in alle opsigte gemobiliseer word en alle metodieke gebruik en toepas om die wetgewing van die wetboek te verwyder. Voorgestelde aksies sluit in: 

- Pro-aktiewe optrede, protes en verset teen die voorgestelde wetgewing deur ʼn aktiewe burgerlike samelewing waarin elke organisasie teenwoordig sy eie modus operandi en plan van aksie kan volg;
- Die gebruik van petisies en beswaarskrifte. 
- Bewusmakingsveldtogte in die media en sosiale media;
- Regsaksies waar en soos van toepassing sover as moontlik 
- Die mobilisasie van onbetrokkenes om steunbasissie uit te bou; (wat die Ad Hoc hier reggekry het, is om ‘n groot aantal groepe bymekaar te kry om gesprek te voer oor sake van belang.)
- Die inskakeling van alle burgers by privaat (burgerlike) veiligheidsinstellings; Die punt het verskeie kere deurgekom en ek dink dit is kernbelangrik dat ons ‘n veiligheidsbewustheid en veiligheidskultuur skep en met strukture in die verband saamwerk.
- Dit is ook belangrik dat “private of burgerlike veiligheidstrukture” met mekaar koördineer. 
- Die skepping van veiligheidsones. ‘n Staat se mees fundamentele taak is orde, sekuriteit en stabiliteit – daarsonder verloor die staat sy bestaansreg. Ons is besig om daardie funksies te dupliseer op soveel wyses. Hier moet Minister Cele eerder erken dat die SAPD nie hul grondwetlike mandaat kan nakom nie. 
- Demonstratiewe optredes soos “Swart Vrydag”
.
Binne bogenoemde raamwerk moet ledegroepe self beplan en verantwoordelikheid neem en sovêr moontlik onderling koördineer.

In ‘n neutedop dink ek ons kan baie tevrede voel met die feit dat ons ‘n klomp groeperinge hier bymekaar kon trek. Dat ons letterlik aanvullend en ondersteunend tot mekaar kon praat en dat ek dink ons sterker uit hierdie gesprek uitgaan as waarmee ons daarmee ingegaan het.  


Die Afrikanerbond is in die proses van die opstel van kommentaar oor die voorgestelde Vuurwapenwetgewing. Sommige lede het reeds insette gelewer en ons dank en waardering daaroor. Direkte insette kan gelewer word voor 4 Julie 2021 en besonderhede hieroor die wetgewing kan ook by die volgende skakel gelees word. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: