Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 25 Junie  2021
Terug na e-Afrikaner

Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte 
Vuurwapens - Nog 'n stap om Suid-Afrikaners te onteien 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Die Ad Hoc-Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, georganiseerde landbou en landbou verteenwoordigers, burgerlike en burgerregte instellings, opposisiepartye en akademici sowel as geloofsinstellings. Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg akkommodeer diverse groeperinge en gedagtes oor die spektrum heen.

Tydens ʼn byeenkoms van bogenoemde organisasies op 23 Junie 2021 te Pretoria is die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet wat Vrydag 19 Mei in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is, indringend bespreek. 

Die AD Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte word gelei deur Jaco Schoeman van die Afrikanerbond wat as sameroeper optree en Jan Bosman Hoofsekretaris van die Afrikanerbond wat die sekretariaat hanteer. Die byeenkoms is op hibriede basis aangebied met verteenwoordigers wat by TLU se kantore in Silverton ontmoet het en gaste en deelnemers wat by wyse van Zoom kon inskakel.  

In die eerste gedeelte met inleidende perspektiewe het die volgende sprekers opgetree: 
- Politieke Omgewingsperspektief - Prof Andre Duvenhage van NWU wat die konteks van die wetgewings gestel het   
- Regs en grondwetlike perspektiewe is ingelei deur Prof Koos Malan van UP 
- PEPUDA (Wysigingswet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie) en die konteks van wetgewing deur Adv Jacques du Preez van die FW De Klerk Stigting. (lees ook sy artikel in die nuusbrief)  
- Vuurwapen Spesifieke perspektief deur Fred Camphor van SA Jagters]

In die volgende sessie met die Parlementêre perspektief oor die wetgewing was insette gelewer deur 
- Die VF Plus - Dr Pieter Groenewald (Partyleier)  
- Die Demokratiese Alliansie - Andrew Whitfield – (DA Woordvoerder oor SAPD) 

Die breë Vuurwapengesprek is ingelei deur 
- Bennie van Zyl  van TLU -SA
- Tshepi Mmekwa van Gun Owners South Africa 
- Lynette Oxley van Girls on Fire
- Jonathan Deal van die Safe Citizen Campaign 
(Meeste van die aanbiedings sal binnekort as video op Youtube gelaai word en ook as afsonderlike dokumente gesirkuleer word.  

In die strategiese gesprek wat hierna gevolg het kon verskeie standpunte oorgedra word deur organisasies, jagtersverenigings, belangegroepe. Hierdeur is  
• Terugvoer gegee oor bestaande aksies
• Oorkoepelende en individuele perspektiewe kon so oorgedra word.  
 In die verband het Pieter Vorster van die Afrikanerbond ook stewige insette en ʼn perspektief oorgedra. 

Die samevatting is gedoen deur Prof Andre Duvenhage van NWU (Sien verder in die nuusbrief) . 

Hier volg dan die standpunte wat na die tyd ook as verklaring uitgereik is. 

Die Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing word gesien as nog ʼn aanslag op eiendomsreg en in die geval is dit vuurwapen onteiening van Suid-Afrikaanse burgers. Wanneer enige eiendomsreg bedreig word hetsy dit grond of vuurwapens is, moet dit op dringende basis hanteer word. 

In ʼn land waarin 8,3 uit elke 100 000 van Suid-Afrikaanse burgers vermoor word (4 976 in die eerste drie maande van 2021) en wanneer kontakmisdaad toeneem en daar gemiddels een plaasaanval per dag is, is dit ondenkbaar dat die Suid-Afrikaanse Polisie dit as teiken stel om gewone wetsgehoorsame mense te ontwapen in ʼn tyd wanneer vuurwapens en selfverdediging juis hul enigste buffer is teen algehele anargie.

Die Ad Hoc Groep vir die beskerming van Eiendomsregte het die voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet oorweeg aan die hand van die volgende breë agtergrond: 
- In die verswakkende / falende staat verloor die staat al meer kapasiteit en dienslewering bestaan in sommige areas nie meer nie. 
- Sosiaal maatskaplike uitdagings neem toe. Die grootste uitdaging is armoede met 7-10 miljoen werksgeleenthede wat verlore geraak het oor die laaste jaar of meer. 
- Interne ANC woelinge bring polities al meer onstabiliteit. 
- die ANC Ideologie van die NDR word bo die grondwet gestel word. 
- Suid-Afrika beleef al meer misdaad-terreur wat nie meer gestuit kan word met normale polisiëring nie. 

Deur hierdie handeling vervreem die regering hom van die wetsgehoorsame burgers en skaar hom by implikasie by die kriminele. Indien die regering voortgaan met hierdie voorgestelde wetswysiging sal die wetsgehoorsame burgers gedwing word tot by 'n punt waar daar besluit sal word TOT HIERTOE EN NIE VERDER NIE! Die gevolge wat daaruit sal voortspruit sal op die gewete van die regering geplaas word.

Die grootskaalse ontwapening van wetsgehoorsame burgers kan nie gebeur in ʼn omgewing waarin misdaad floreer nie. Die staat sal eers sy eie huis in orde moet kry alvorens daar gedink kan word aan enige wetsontwerp wat vuurwapenbesit en beheer inperk:  
  • Misdaadvlakke sal met die nodige politieke wil tot internasionaal aanvaarbare standaarde gebring moet word; 
  • Die SAPD sal die chaos en absolute verval in die administratiewe proses met die vuurwapenregister en die proses van aansoeke tot lisensiëring van vuurwapens moet opknap en digitaliseer tot ʼn aanvaarbare en professionele wyse. 
  • Die misdaadsindikate wat vanuit die SAPD en SANW bedryf word of waarby lede betrokke is, moet uitgewis word en behoorlike en sigbare vervolging van betrokkenes moet plaasvind. 
  • Behoorlike verslagdoening en rapportering moet plaasvind oor verlore SAPD en SANW vuurwapens en die betrokkenheid van individue wat wapens aan misdadigers (ook die wat tydens vuurwapen amnestie ingedien is) moet plaasvind. 
  • Behoorlike navorsing moet gedoen word oor wapenverwante misdade wat insluit die oorsprong van wapens wat tydens misdaad gebruik word, die operasionele intelligensie waaroor misdadigers beskik en die rol wat lede van die SAPD en SANW speel in kriminele aksies. 
  • Dit is voorts ook nodig om te bepaal wat die rol en invloed van nie-Suid-Afrikaners is in die tipes misdaad wat in Suid-Afrika gepleeg word. Dit vind aansluiting by die verval in grensbeheer en kan deur omvattende navorsing uitgewys en aangespreek word. 
  • Wetgewing moet voorberei word om misdaadterreur en ekonomiese sabotasie drasties aan te spreek en te vervolg. Brei die bestaande wetgewing uit of pas wetgewing aan wat voorsiening maak vir misdaad terreur en sabotasie. 
  • Kaderontplooiing en staatskaping het ʼn vernietigende effek gehad op die SAPD en SANW leierskap en operasionele vermoëns. Kundigheid en ervaring is ingeboet en dit moet op pro-aktiewe en dringende wyse herstel word.
  • Dit is dringend noodsaaklik om vir een en altyd vas te stel wat die rol is van politieke partye en bewegings in sommige misdade. Dit is bekend dat transitorooftogte in die verlede gebruik is om politieke aksies te befonds. 
  • Laastens moet gekyk word na die rol van die politieke omgewing, haatspraak en opruiende standpunte teenoor minderhede aangesien die politieke omgewing verander en geradikaliseer het.  
Alvorens die bogenoemde sake nie drasties aangespreek word nie, sal die ontwapening en ontneming van Suid-Afrikaners se reg tot vuurwapenbesit vir selfverdediging en ander redes geen doel dien nie. Inteendeel, Suid-Afrika sal sonder slag of stoot in ʼn slagveld en bloedbad omskep word in toenemende misdaadterreur en anargie. 

Laastens moet bevestig word dat die Ad Hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg NIE die rol vervang wat individuele organisasies speel nie. Elke organisasie vervul sy rol op sy spesifieke en kundige terrein. Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg tree slegs fasiliterend op. 

Met staatstrukture wat nie by magte is om die veiligheid van sy burgers te verseker nie, is ontwapening allermins die antwoord. Hierteen neem die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte nou sterk standpunt in. Daarom ook die algemene ondersteuning vir die eis dat die voorgestelde Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing in sy geheel onttrek word. 

Afgesien van gesamentlike aksies wat in die toekoms oorweeg kan word sal individuele organisasies optrede ook ondersteun word. Verdere aksies kan insluit ; 
  • die nodige regsoptrede, waar individueel en gesamentlik van toepassing; 
  • die mobilisasie van steun op alle vlakke van die samelewing; en nie-gewelddadige verset en optrede ooreenkomstig die ontwikkeling van die situasie; 
  • Internasionale mobilisering sal saam met inligting en standpunte oor onteiening en voorgenome grondwetwysigings versprei word; 
  • Parlementêre prosesse om die wetgewing te stuit sal ondersteun word.
Daar is talle voorbeelde in die wêreldgeskiedenis waar ontwapening van burgers die begin was van staatsgeweld teen onderdane en selfs massa-uitwissing. Hiervan moet Suid Afrika en al sy burgers gevrywaar word en daarom kan geen risiko’s geneem word nie. Niemand kan sy plig en verantwoordelikheid hier versaak nie.

Die Afrikanerbond is in die proses van die opstel van kommentaar oor die voorgestelde Vuurwapenwetgewing. Sommige lede het reeds insette gelewer en ons dank en waardering daaroor. Direkte insette kan gelewer word voor 4 Julie 2021 en besonderhede hieroor die wetgewing kan ook by die volgende skakel gelees word. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: