Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 25 Junie  2021
Terug na e-Afrikaner

Gemeenskapsbeveiliging: Midde in misdaad-terreur
"Ons het 'n baie belangrike rol om te speel om kragteloosheid, hulpeloosheid en magteloosheid in hoop en vertroue en geloof te omskep."  
Verslag oor webinaar met Genl.  Roland de Vries 


“Wat tans in die land aan die gang is, is niks anders as misdaad-terreur nie. Ons is verby die punt van konvensionele polisiëring en wetstoepassing, sê Roland de Vries, ’n internasionaal gerekende militêre kenner en voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër.” (Artikel in Netwerk24 op 4 Augustus 2020

Op 16 Junie 2021 het die elfde AB in Dialoog Webinaar plaasgevind met Genl. Roland De Vries wat oor die tema “Beveilig jou gemeenskap” gepraat het. Altesaam 357 lede en gaste het geregistreer vir die webinaar. 

Genl De Vries het die webinaar ingelui met ʼn voorstelling van ’n venster met vier rame, die linkerkantste boonste kwadrant is nr. 1, regs bo is nr. 2, links onder nr. 3 en regs onder nr. 4. Alles wat bokant die horisontale lyn gebeur, is in der waarheid die sigbare wêreld is. Dit is waar ons lewe, waar ons ons kinders skool toe vat, kerk toe gaan, rugby kyk, op vakansie gaan. Dit is ons wêreld waar ons leef en waar ons graag in veilig wil wees. As ’n mens onderkant die horisontale lyn kyk na die kwadrante 3 en 4, is dit in der waarheid die area wat ek beskryf as die onderwêreld, waar die kriminele hoogty vier, waar jy georganiseerde misdaad kry en waar die kriminele hulle werk doen. Die interessantheid van die inligtingsvenster is dat die kriminele in der waarheid daardie hele area beheer. Ons kry hulle in kwadrant 1 en kwadrant 2, maar hulle vier hoogty in kwadrant 3 en 4.

Nou wat gebeur in kwadrant 1, in ons wêreld, daar waar ons leef? Dis waar misdadigers inligting insamel. Kenners sal sê dat meer as 80% van die inligting wat aan misdaadbendes voorsien word, kom in der waarheid uit jou eie woning uit. Daar waar jou huisgesin op hulle veiligste voel. 

Ons weet nou al dat ons nie meer net op buurtwagte of plaaswagte kan staatmaak nie, maar dat ons as ’n gemeenskap, wanneer ons onsself wil beveilig, na ander vermoëns moet kyk en ons kan miskien nou-nou bietjie na die tipe vermoëns kyk wat veiligheidsorganisasies nodig het om hulleself te beskerm.

Blok 4, veroorsaak geweldig baie trauma. Dit is die area wat ons stuur na hulpeloosheid, na magteloosheid en kragteloosheid. Ons moet ’n punt bereik in ons land waar ons as weerbare gemeenskappe hierdie hele proses kan omdraai na hoop en na vertroue skep en dit moet in geloof geskied. 

Met ander woorde, ons moet hierdie hele proses omdraai. ’n Mens kan hierdie inligtingsvenster uiteraard gebruik om jou operasionele konsepte te ontwikkel, om jou inligtingsvermoëns te ontplooi en om ook dan jou operasionele beplanning te doen sodat jy suksesvol teen enige misdadiger element kan optree. Dit bring my by die situasie wat later ontluik het ons saam met ander kundiges en organisasies’n gemeenskapsveiligheid-strategie ontwikkel wat baie proaktief van aard is. In die proses het ons baie ernstig gekyk na die Bybelse boek, Nehemia en ons het baie lesse daaruit geleer. In der waarheid, as ’n mens gaan kyk na die boek Nehemia, dan is dit jou gemeenskapsveiligheid-strategie wat jy net so kan toepas.

Kom ons kyk wat gebeur het met Coligny – Gemeenskapslede ondersteun deur nasionale organisasies soos Solidariteit het ’n baie, baie belangrike rol gespeel om die mense te motiveer, en gehelp met befondsing sodat ons ’n beheersentrum op die been kon bring, Mense kon patrollies ry en brandstof is befonds. Die belangrikste les wat ek daar geleer het, is dat met die gesamentlike aksies kon ons die media-oorlog wen. Organisasies soos die EFF en die BLF, moet ons nie onderskat nie. Hulle bedink hulle strategieë in detail. 

In Coligny kon ons vinnig deur ’n gesamentlike operasionele beplanningsiklus gaan en kyk na die situasie. Ons het almal se insette gekry. Wat was die situasie, wat was die oorsaak en gevolg wat ons hier in die gesig gestaar het? Ons het die bedreiging ontleed in terme van tyd en ruimte. Hoe het ons voorspel, wat sou gebeur binne die volgende ses ure, twaalf ure en dan ook vier-en-twintig uur sodat ons kon gereed wees vir dit wat moes gebeur. Ons het toe gaan kyk na die vermoënsanalise, wat het ons in plek en wat het ons nie in plek nie, om die veiligheid van ons mense te verseker. Ons het ’n plan gemaak. Ons het die organisasie op dreef gekry, die buurtwag, die plaaswagte en die sel-ontplooingsvermoëns wat ons tot ons beskikking gehad het, ontplooi. Ons het ook gekyk na lugsteun 

Dis belangrik dat ons sinvol, koel en kalm na ons veiligheid situasie moet kyk en dat ons moet ingestem wees op die veiligheid van ons mense en dat ons nie anders as om wettig en professioneel op te tree met betrekking tot die proses waarmee ons besig is nie. 

Wat hierna gebeur het is dat ek toe besluit het dat ek op my eie gaan werk. Ek behoort aan geen organisasie nie. Ek is onverbonde, maar ek werk met almal saam wat baie nugter oor die beveiliging van ons mense dink. 

Ons tipiese beplanning is soos volg en ek gebruik graag Vaalharts as model: 
Ons kom die Vrydagaand bymekaar in die NG Kerk se saal. Ons het daar begin met die beplanning. ’n Groepie fantastiese mense, boere van die gemeenskap, rolspelers, lede van die polisie. Ons begin dan met ʼn bevelswaardering, waar ons die situasie ontleed, kyk na die behoeftes van die gemeenskap en dan riglyne bepaal vir verdere beplanning. Ek werk nog op die ou militêre manier, op ’n 1:50 000 topografiese kaart wat ongelooflik baie inligting beskikbaar het op die vel. Ons het toe met hulle leiergroep begin om die terrein-waardering te doen. Dit is ’n baie belangrike proses van die beplanning waar ons so saamwerk, die kaarte merk, begin ontleed en heelwat inligting op die wyse ontsluit. Ons kyk na die verantwoordelikheidsareas en die sektore waarin ons die area wil indeel. 

Met daardie gemerkte kaart begin ons dan die Saterdagoggend, met ’n gesamentlike operasionele beplanningsiklus, dit is ’n baie en deelnemende proses wat ons by die Israelies geleer het en wat toelaat dat almal hulle sê kan sê en dat alle informasie op hierdie manier ontsluit kan word.

Dit is ’n baie intense proses met ʼn groot klomp plaaslike rolspelers wat besluit het om eienaarskap oor hulle eie veiligheid te aanvaar. Ons kan nie blind veg teen kriminaliteit nie. Ons moet goeie inligting hê, ons moet presies weet wie gaan wat doen, waar, wanneer, hoe, waarom, en wat daarna gaan gebeur.

Ons kyk spesifiek na wat in die toekoms kan gebeur. Ons dink byvoorbeeld hier aan verkiesings en wat die uitkomste van verkiesings kan wees. Indien die wet oor grondonteiening sou deurgaan, wat die gevolge daarvan sal wees. Grondonteiening, Artikel 25 sonder vergoeding en die psigose van grondgrype, wat dit byvoorbeeld kan ontketen. Die nuwe wapenwet waar hulle ons mense wil ontwapen, wat ons sal verhoed om onsself behoorlik te beskerm. Ons kyk na al die fasette en alhoewel die tyd beperk is, ons almal vrywilligers is, is dit harde werk hierdie. 

Ons kom uiteindelik by die inligtingsproduk uit wat vir ons ook die basis voorsien vir die ontwikkeling van die inligtingstelsel en die inligtingsbeplanning wat daaruit sal voortspruit. Ons breek in groepe op wat meer in detail kyk na bepaalde kwessies. 

Teen so 15:00 die middag is ons gereed om aanbiedings aan mekaar te doen. Die inligtingswaardering, ons kyk na die bedreiging, ons bespreek dit. Ons bied die operasionele planne aan, ons stel strukture voor, ons kyk na die samestelling van bestuurstrukture. Ek verwys daarna as ’n bevelsgroep, waaruit die groep moet bestaan wat die gemeenskap kan gebruik as basis vir verdere beplanning. 

Die boek Veiligheid vir Gemeenskappe, is in der waarheid ’n volledige veiligheidsdoktrine in vier dele, wat voorsiening maak in deel een vir die oorhoofse gemeenskapsveiligheid strategie, die bedreiging word daar bespreek. Deel twee maak voorsiening vir die operasionele konsepte wat toegepas word en die beginsels wat hierdie proses onderlê. Deel drie sê vir jou hoe moet jy operasies beplan en dit uitvoer. Ek praat van ’n veiligheidsoperasies. Deel vier maak voorsiening vir die ondersteuning van jou veiligheidsvermoëns. 

Met gesprekke en webinare soos hierdie deel ons insigte en kennis met mekaar en ontwikkel ons verdere prosesse 

Wat is die beginsels wat die basis vorm van ons proses: 
Die heel eerste beginsel is selfbehoud en daadwerklike optrede. Ons weet dat die staat nie in staat is en nie oor die wil beskik om ons mense te beskerm nie. Ek verwys hier spesifiek na kwesbare minderheidsgroepe. Ons weet van die goeie werk wat ʼn groot klomp organisasies in veiligheidsverband verrig. Nie een van hierdie organisasies kan egter statutêr of nie-statutêr ons mense effektief beveilig, as ons kyk na die aard en omvang van misdaad in ons land nie. Ons weet dat as die aanval op die grondwet voortgaan, gaan dit nog erger raak. 
Die tweede beginsel wat ek voorhou, is die vestiging van veiligheidsteunkringe. ’n Handboek wat ons gebruik het in die teen-revolusionêre stryd, was die boek wat geskryf was deur ’n Amerikaanse kolonel, John J. McCuen, The Art of Counter-Revolutionary Warfare. Een van sy belangrike beginsels wat hy van gepraat het, was “establish strategic base areas”. Hy het in der waarheid daarna verwys as oliekolle.Ons ken die oliekol op ʼn vel bruin papier en hoe dit versprei. Waar ons begin met Gideonsbendes versprei dit. So is daar orals veiligheidsteunkringe besig om gevorm te word waar gemeenskappe hul eie veiligheidsorganisasies op dreef bring. Ek kan dit amper met ’n spinnerak vergelyk. As jy daardie spinnerak iewers aanraak, dan tril hy dwarsdeur. Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe gemeenskappe eienaarskap vat vir hierdie prosesse. Dit is vir my ’n baie belangrike faset van hierdie hele onderliggende veiligheidstrategie, om ons veiligheidsteunkringe in plek te kry en om ons veiligheidseenhede te vestig.
Die derde beginsel is om ons gemeenskappe te mobiliseer. Met ander woorde, om hulle te bemagtig ter selfbeskerming, om hulle georganiseerd te kry, dat hulle eienaarskap vir hulle eie veiligheid vat, maar dat ons in ’n georganiseerde formaat begin opereer. 
Die laaste beginsel wat ek vinnig wil meld is die belangrikheid van langtermyn strategiese beplanning. Oral waar ons met gemeenskappe werk is ons takties ingestem. Ons sal anders moet begin dink oor ons situasie, ons sal anders moet begin optree. Met ander woorde, ’n baie belangrike beginsel wat hierdie hele veiligheidsproses onderlê, is dat inligting ’n belangrike dryfveer is vir hierdie proses. Ons moet inligtingstelsels op dreef bring sodat ons meer ingelig is en dat ons beter besluitneming kan doen, sodat ons ons vermoëns beter kan aanwend, al is ons vrywilligers. 

Wettige en professionele optrede is baie belangrik. Ons kan nie buite die wet optree nie. Ons het ’n baie, belangrike rol om te speel om kragteloosheid, hulpeloosheid en magteloosheid in hoop en vertroue en geloof te omskep. Die kernboodskap wat ek altyd met my mense deel is, luister ouens, die veiligheid van ons mense kom eerste.. Ons glo daaraan dat ons ons omgewing moet organiseer sodat ons onself veiliger kan kry en dat ons goeie verhoudinge met ander mense wil kweek en dit is tyd dat gemeenskappe opstaan en saamstaan om meer oor hulle eie veiligheid situasie te kry. 

Vraag: U verwys deurgaans na misdaadterreur, in die boek wat u geskryf het en ook in die artikels wat verskyn het, dat ons misdaadterreur in Suid-Afrika ervaar. 

As ek praat van misdaadterreur, dan kyk ek na die wyse waarop geweldsmisdaad gepleeg word in ons land en verwys ek na vierde generasie oorlogvoering. , Alhoewel ons dit beskryf as lae intensiteit oorlog, is dit nog steeds onkonvensionele oorlogvoering. Ek kyk na die wyse waarop misdaad gepleeg word. Plundery, protesoptogte, taxi geweld. Ons weet wat in die munisipaliteite gebeur. Ons kan amper daarna verwys as kriminele kartelle. Die gewelddadigheid waarmee plaasaanvalle uitgevoer word, die geweld in die informele nedersettings wat elke nag plaasvind nie. As ons kyk na die aard van misdaad, wat intensiteit en dan ook die geografiese verspreiding aanbetref, dis geweldig. Ons het al gewoond geraak daaraan in ons land.

’n Mens moet in der waarheid nie kyk na politieke partye en aanhitsing nie. Mens moet kyk na die tentakels wat net onder die oppervlakte nie sigbaar is nie, en hoe daardie netwerke in mekaar steek, en hoe daardie netwerke ook verbind is met internasionale organisasies wat onrus in ons land wil saai en dan ook beheer wil kry oor die ekonomie en so meer. ’n Mens moet baie sorgvuldig daarna kyk.

As ’n mens gaan kyk na ’n tipiese plaasaanval, goed bewapen, goed opgelei, goeie beplanning, vooraf verkenning en dan die uitvoering van die daad met militêre presiesheid. Op een van die persone se rug is daar ’n selblokkeertoestel en dan verdwyn hulle in die onderwêreld in.

My gevoel is, dat ons sit met ’n redelike ongure situasie van wetteloosheid. Die staat beskik nie oor die wil om beheer oor hierdie situasie te kry nie. Hulle hou ons besig met verwarringstaktiek en hulle hele proses om te kyk na radikale transformasie, gaan niks goed vir ons land beteken nie.

Vraag: U betrek rolspelers in beplanning in gemeenskapsveiligheid. Oor die algemeen wil dit lyk of die polisie al hoe minder vertrou kan word.

As ons gaan kyk veral na die senior geledere van die polisie en baie van ons senior polisielui is in der waarheid by georganiseerde misdaad betrokke. Daar is geen kwessie daaroor nie. Ek het egter oral waar ek kom gevind kry jy baie goeie lede van die polisie. Hulle is net so gefrustreerd is, maar hulle is mense wat hulle werk wil doen. Ons riglyn vir beplanning is om te sê, kry die mense in die polisie geledere wat jy kan vertrou en werk saam met hulle, beplan saam met hulle, maar wees ook seker dat jy nie onkant gevang kan word nie. Ons hele ingesteldheid is om vermoëns te ontwikkel, stelsels te ontwikkel om ons mense te beveilig. Ons wil die polisie ondersteun om hulle werk beter te doen en ons wil, waar dit moontlik is, van hulle ondersteuning gebruik maak om ons mense te ondersteun. 

Vraag: Die persepsie met gemeenskapsveiligheid is dat ons dink aan landelike veiligheid. Kan die beplanning ook in die groot stede uitgerol word? 

Ek wil Heidelberg as ’n voorbeeld noem waar ons so paar weke gelede ’n omvattende beplanning gedoen het en wat ook deur die polisie bygewoon is. As jy gaan sit en jy doen die bevelswaardering vir daardie area, sien jy baie vinnig daar is ’n stedelike gebied en daar is ’n landelike gebied. Vanuit die oogpunt van die beplanning neem jy dit in ag. Elke area het sy eie eienskappe en dit onderwerp ons in ’n behoorlike beplanning en daarvolgens maak jy jou beplan nadat jy jou bedreiging ontleed het en jou vermoënsanalise gedoen het. Die beplanning is gebaseer op bepaalde beginsels. Wat belangrik is, is eenheid van bevel en ekonomiese aanbieding van vermoëns, sodat die groep mense wat in ’n spesifieke area woon, die vermoëns wat hulle tot hulle beskikking het ten beste kan benut. Kom ons maak saam ’n plan, ’n geïntegreerde plan en ons wens ons gesamentlike vermoëns ten beste aan om ons mense veilig te maak.  

Vraag: Waar kan mens meer inligting kry, hoe kan mense met jou of met jou netwerk in kontak kom, dalk ook vir hulp in gemeenskappe waar dit nodig is.

Julle kan belangstellende mense met ons in verbinding bring. Ek en my spannetjie vra nie konsultasiefooie nie. Voorsien egter die ouens vir hulp met brandstof en gee vir ons blyplek. Ons help graag met beplanning.  
___________________
Hiermee die skakel na die geredigeerde weergawe van die webinaar waarvoor daar heelwat navrae was. Die data verbinding tydens die webinaar was nie altyd na wense nie en is die video kwaliteit soms swak.   

Daar was ook weer heelwat navrae vir die boek van Genl. Roland de Vries - Veiligheid vir Gemeenskappe  
Bestel die boek by Naledi Uitgewers - Volg die skakel 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: