Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 25 Junie  2021
Terug na e-Afrikaner

PEPUDA - Suid-Afrika se nuwe voorgestelde gelykheidswet  
Die implikasies vir die burgerlike samelewing


Deur Adv. Jacques Du Preez 
Hoof Uitvoerende Beampte 
FW De Klerk Stigting 

Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling het onlangs die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (1)  wysigingswetsontwerp gepubliseer.  (2) 

Die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie wet staan kortweg bekend as die Gelykheidswet (in Engels as “PEPUDA”) en die oorkoepelende oogmerk daarvan is om gelykheid te bevorder in Suid-Afrika en gevolg te gee aan artikel 9 van die Grondwet.(3) Die wet se verdere algemene oogmerke is om onbillike diskriminasie, haatspraak en teistering te voorkom. 

Die wysigingswetsontwerp se doel is om die bestaande Gelykheidswet te vervang en skriftelike kommentaar daarop moet die departement bereik voor of teen 30 Junie 2021.   

Indien die wysigingswetsontwerp in sy huidige vorm aanvaar word, sal dit verreikende gevolge vir alle Suid-Afrikaners inhou aangesien dit ‘n aantal kommerwekkende ongrondwetlike regsverwikkelinge en voorgestelde wysigings bevat .

Gelykheid –en die bereiking daarvan- word as een van Suid-Afrika se grondliggende bepalings bevestig. Artikel 1 van die Grondwet bepaal dat Suid-Afrika een, soewereine, demokratiese staat is gegrond op menswaardigheid, die bereiking van gelykheid, die uitbou van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme asook oppergesag van die Grondwet en heerskappy van die reg. (4)  Artikel 2 van die Grondwet bepaal ook spesifiek dat die Grondwet is die hoogste reg van die Republiek en enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar is ongeldig en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.

Die reg op gelykheid word in artikel 9 van die Grondwet uiteengesit en die Gelykheidswet se ontstaan word verleen uit die bewoording van artikel 9(4):

(1) Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg. 
(2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is. 
(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
(4) Geen persoon mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) nie. Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet. 
(5) Diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.

Vryheid van uitdrukking –asook ‘n verbod op haatspraak- word in artikel 16 van die Grondwet uiteengesit:

(1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is – 
(a) die vryheid van die pers en ander media; 
(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; 
(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en 
(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. 

(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie– 
(a) propaganda vir oorlog nie; 
(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of 
(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

Die Gelykheidswet definieer onbillike diskriminasie as –

“any act or omission, including a policy, law, rule, practice, condition or situation which directly or indirectly- 
(a) imposes burdens, obligations or disadvantage on; or 
(b) withholds benefits, opportunities or advantages from, any person on one or more of the prohibited grounds.” (5)

Die Gelykheidswet bevat ook ‘n algemene verbod op onbillike diskriminasie en bepaal dat “nie die staat of enige ander persoon mag onbillik teen ‘n ander persoon diskrimineer nie”. (6)  Artikel 10 van die wet plaas ‘n spesifieke verbod op haatspraak:

(1) Subject to the proviso in section 12, no person may publish, propagate, advocate or communicate words based on one or more of the prohibited grounds, against any person, that could reasonably be construed to demonstrate a clear intention to- 

(a) be hurtful; 
(b) be harmful or to incite harm; 
(c) promote or propagate hatred. 

Artikel 12 van die wet plaas verder ‘n verbod op die verspreiding en publikasie van informasie wat onbillik diskrimineer: 

No person may- 
(a) disseminate or broadcast any information; 
(b) publish or display any advertisement or notice,
that could reasonably be construed or reasonably be understood to demonstrate a clear intention to unfairly discriminate against any person: Provided that bona fide engagement in artistic creativity, academic and scientific inquiry, fair and accurate reporting in the public interest or publication of any information, advertisement or notice in accordance with section 16 of the Constitution, is not precluded by this section. 

Sekere sleutel voorgestelde wysigings in die wysigingswetsontwerp sal op onaanvaarbare wyse inbreuk maak op ‘n hele aantal fundamentele grondwetlike regte, wat spesifiek die volgende insluit, maar nie noodwendig daartoe beperk is nie:

- Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening; (7) 
- Vryheid van uitdrukking; (8)   en 
- Vryheid van assosiasie. (9)

Wysiging van die definisies van diskriminasie en gelykheid. (Artikel 1 van die wysigingswetsontwerp)

Die wysigingswetsontwerp verbreed die definisie van ‘gelykheid’ om onder meer “gelyke regte en toegang tot hulpbronne, geleenthede en voordele” in te sluit. Vanuit ‘n regsperspektief kan dit geargumenteer word dat hierdie nuwe voorgestelde definisie (van gelykheid) veel wyer is as wat in die Grondwet uiteengesit word en daarom ongrondwetlik is. 

Dit is insgelyks vaag, onbepaalbaar en subjektief.  

Gekoppel hiertoe –en moontlik meer kommerwekkend- is die voorgestelde verandering van die definisie van ‘diskriminasie’ deur die sogenaamde opset-vereiste te verwyder. Dit sal tot gevolg hê dat selfs onbedoelde optrede as diskriminasie geag kan word en strafbaar gemaak word. 

In die verband is die wysigingswetsontwerp se bewoording as volg –

'discrimination' means any act or omission, including a policy, law, rule, practice, condition or situation which, whether intentionally or not, directly or indirectly—  
(a) imposes burdens, obligations or disadvantage on;[or]
(b) withholds benefits, opportunities or advantages from[,];  
(c) causes prejudice to; or
(d) otherwise undermines the dignity of,
any person [on] related to one or more of the prohibited grounds  (10)  [;], irrespective of whether or not the discrimination on a particular ground was the sole or dominant reason for the discriminatory act or omission;

Soos hieruit blyk – en buiten die kernfrase whether intentionally or not- sluit die voorgestelde nuwe definisie die woorde “causes prejudice to” en “or otherwise undermines the dignity of any person” in.
 
Dit maak die deur oop vir ‘n uiters subjektiewe interpretasie -en aanwending- van die konsep ‘diskriminasie’ en hierdie gevolglike subjektivering is gevaarlik omdat dit vatbaar is vir misbruik en tot geweldige regsonsekerheid sal aanleiding gee en dit onduidelik sal wees vir individue of organisasies of, en selfs wanneer, hul die wet oortree. 

Van ‘n gemenereg en strafregtelike perspektief druis dit in teen die welbekende beginsel van nullum crimen sine lege –‘n persoon mag nie gestraf word vir sy/haar optrede wat nie ‘n misdaad was tydens hul optrede nie en dit strook nie met aanvaarde internasionale regsnorme en praktyk dat onopsetlike optrede -selfs vooroordeel wat moontlik die waardigheid van iemand anders mag ondermyn- strafbaar gemaak word nie.

Die voorgestelde bewoording en definisies mag ook lei tot ‘n ongelyke toepassing van die wysigingswetsontwerp se bepalings deur een party teenoor ‘n ander. Ander gestel – vanwee die vae bewoording en subjektivering van die definisies kan die wysigingswetsontwerp, eerder as om ‘gelykheid’ te bevorder, die deur oop maak vir potensiele viktimisering. 

Hierdie gevaar word versterk deur die feit dat enige persoon of klaer wat wil litigeer in terme van die wysigingswetsontwerp van regshulp voorsien sal word maar diegene wat beskuldig word van diskriminasie nie noodwendig, en op gelyke basis, dieselfde reg geniet nie. Die wysigingswetsontwerp suggereer die verskaffing van regshulp aan klaers deur die Regshulpraad van Suid-Afrika en die sogenaamde Gondwetlike Instellings (bv. Die Menseregte kommissie) (11)   maar noem nie dat diegene wat beskuldig word dieselfde reg sal geniet nie.

‘n Verdere gevaar van die insluiting van die woorde “causes prejudice to” en/of “or otherwise undermines the dignity of any person” is dat dit die moontlik skep om subjektief baie ander optrede (wat nie pertinent gelys word as ‘n verbode grond nie) potensieel in te sluit as ‘diskriminasie’ en dit kan teoreties amper enige iets wees “that causes prejudice to or otherwise undermines the dignity of any person”.

Die wysigingswetsontwerp se voorgestelde definisies van ‘gelykheid’ en ‘diskriminasie’ is wyd genoeg dat dit in effek sensuur daarstel – selfs byvoorbeeld waar ‘n individu, individue of organisasies optree of hulself uitdruk in ‘n manier wat geinterpreteer kan word as ‘anti-gelyk’ of ‘n ondermyning daarvan sal dit gevolglik strafbaar wees. So ‘n benadering is nie net onvanpas nie – dit maak direkte inbreuk op die grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking in artikel 16 van die Grondwet.

In lig van die bestaande regsraamwerk wat onbillike diskriminasie, teistering en haatspraak verbied (artikel 9 van die Grondwet en die bestaande Gelykheidswet) moet die vraag gevra word waarom die staat dit op so ʼn drakoniese manier wil verander en reguleer?

Middellike aanspreeklikheid vir teistering, diskriminasie en haatspraak (Artikel 6(3) van die wysigingswetsontwerp)

Bovermelde voorstel sal werkgewers gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik maak vir enige teistering, diskriminasie of haatspraak wat gepleeg word deur hul werknemers – behalwe as die werkgewer kan bewys dat hy/sy redelike stappe geneem het om dit te voorkom. 

Alhoewel die voorstel opsigself kommerwekkend is omdat dit werkgewers in ‘n onmoontlike posisie plaas, word dit erger gemaak deur die regsonsekerheid wat geskep sal word deur die voorgestelde subjektiewe definisies van ‘gelykheid’ en ‘diskriminasie’ soos hierbo uiteengesit. 

Die vraag kan weer eens geopper word waarom die staat werkgewers op hierdie wyse wil oorreguleer wanneer die wetlike raamwerk alreeds bestaan daarvoor? Die Wet op Gelyke Indiensname (12) bepaal alreeds as volg –

60. Liability of employers 

(1) If it is alleged that an employee, while at work, contravened a provision of this Act, or engaged in any conduct that, if engaged in by that employee’s employer, would constitute a contravention of a provision of this Act, the alleged conduct must immediately be brought to the attention of the employer. 
(2) The employer must consult all relevant parties and must take the necessary steps to eliminate the alleged conduct and comply with the provisions of this Act. 
(3) If the employer fails to take the necessary steps referred to in subsection 2, and it is proved that the employee has contravened the relevant provision, the employer must be deemed also to have contravened that provision. 
(4) Despite subsection (3), an employer is not liable for the conduct of an employee if that employer is able to prove that it did all that was reasonably practicable to ensure that the employee would not act in contravention of this Act.

Regulering van privaat en openbare instansies deur die staat (Artikels 24(4), 26(5)(b), 27(1)(b), 28(2) en 28(4) van die wysigingswetsontwerp)

Die wysigingswetsontwerp beoog ‘n reeks uitgebreide verpligtinge en verantwoordelikheid vir alle persone (natuurlik en regspersone), besighede, nie-winsgewende organisasies, tradisionele leiers, gemeenskap gebaseerde organisasies, tradisionele instellings (bv. Kerke en geloofsinstansies) asook entiteite wat besigheid doen met die staat om in die algemeen ‘gelykheid’ te bevorder. 

Hierdie voorstelle sluit onder andere in –

  • Openbare liggame sal fondse opsy moet plaas om ‘diskriminasie te elimineer’ en om ‘gelykheid’ te bevorder (indien dit nie gedoen is of bewys kan word nie, is die liggame verantwoordbaar daaroor aan die staat oor waarom nie);
  • Die wysigingswetsontwerp beoog om die uitvoerende gesag die mag te verleen om verskillende kodes en regulasies betreffende ‘gelykheid’ uit te vaardig vir spesifieke entiteite, persone, nie-winsgewende organisasies of ander instellings (ministers sal die mag verkry om kodes vir regulering op te stel); en
  • Besighede, nie-winsgewende organisasies, gemeenskap gebaseerde organisasies en tradisionele instellings (ongeag hul grootte) sal kan moet bewys dat daar in hul begrotings fondse opsy geplaas is om ‘gelykheid’ te bevorder soos beoog deur die wysigingswetsontwerp.

Buiten enkele fasette soos hierbo bespreek is die bepalings van artikels 25(3) en 25(6) van die wysigingswetsontwerp -met hul onderskeie gepaardgaande subartikels- ook kommerwekkend daarin dat die wysigingswetsontwerp sal vereis dat die staat alle wetgewing, beleide, kodes en strukture in lyn moet bring met die wetsontwerp en spesifiek waar dit nie voldoen aan die voorgestelde nuwe definisies van ‘gelykheid’ en ‘diskriminasie’ nie.

In die verband bepaal artikel 25(6) van die wetsontwerp dat – 

“The measures to be adopted by the State to achieve equality must proactively address systemic and multidimensional patterns of inequality and discrimination found in social structures, rules, attitudes, actions or omissions which prevent the full and equal enjoyment of rights and freedoms as contemplated in the Constitution, including equal access to resources, opportunities, benefits and advantages and social goods.”

Die praktiese haalbaarheid hiervan is bevraagtekenbaar - indien die staat so behep is om ‘gelykheid’ te bevorder en onbillike diskriminasie die hok te slaan, waarom gebruik dit nie die bestaande regsraamwerk wat daarvoor in plek gestel is deur die Grondwet en die bestaande Gelykheidswet nie?

Die voorgestelde wysigings moet ook gesien word teen ‘n breër konteks – waarom wil die staat Suid-Afrika se samelewing mikro reguleer op sosiale vlak, in lig van Suid-Afrika se groter probleme soos sosio-ekonomiese agteruitgang, verval van staatsbeheerde instellings, geweldsmisdaad, ekonomiese afgraderings, werkloosheid, die Covid-19 pandemie, korrupsie en beleidsonsekerheid?

Die wysigingswetsontwerp is grondwetlik defektief en aanvegbaar op ‘n hele aantal vlakke (soos hierbo uitgelig) en kommer moet uitgespreek word oor die geweldige verpligtinge en finansiële implikasies wat dit sal hê indien dit aanvaar word in huidige vorm. Die wysigingswetsontwerp is ook op ‘n regsbasis prematuur – dit stel nuwe definisies voor vir ‘gelykheid’ en ‘diskriminasie’ terwyl daar gewag word op die Grondwetlike hof se lang verwagte uitspraak in die Jon Qwelane-saak (13)  wat juis hierdie konsepte gaan aanspreek en gaan bepaal of die bestaande Gelykheidswet se definisie van haatspraak grondwetlik is al dan nie. 

Laastens moet dit gevra word of dit bloot per toeval is dat hierdie spesifieke wysigingswetsontwerp in die pyplyn is terselfdertyd as die voorgestelde wysiging tot artikel 25 van die Grondwet (die eiendomsreg klousule) en die nuut voorgestelde Onteieningswetsontwerp, wat onteiening van eiendom sonder vergoeding onder bepaalde omstandighede sal toelaat – en dit binne die konteks van die regerende party se beleid van radikale ekonomiese transformasie (RET) en gebruik van nasionale demografiese verteenwoordigendheid?

Die wysigingswetsontwerp is een van die mees onaanvaarbare inisiatiewe wat die ANC tot nou toe voorgestel het. Dit sou ‘n dodelike uitwerking op politieke vryheid, vryheid van uitspraak en die vryheid van die burgerlike gemeenskap behels en sou Suid-Afrika in ‘n totalitaristiese rigting stuur in lyn met die ANC se NDR-doelwit om die "leier van die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap" te wees.

_____________________
Verwysings: 
1. Wet 4 van 2000
3. Grondwet van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996
4. Artikel 1(a), (b) en (c), Grondwet van Suid-Afrika
5. Wet 4 van 2000, Artikel 1
6. Wet 4 van 2000, Artikel 6
7. Artikel 15, Grondwet van Suid-Afrika
8. Artikel 16, Grondwet van Suid-Afrika
9. Artikel 18, Grondwet van Suid-Afrika
10. Die verbode gronde is die volgende: (a)race, gender, sex, pregnancy, marital status, ethnic or social origin, colour, sexual orientation, age, disability, religion, conscience, belief, culture, language, birth and HIV/AIDS status; or
(b) any other ground where discrimination based on that other ground—
(i) causes or perpetuates systemic disadvantage;
(ii) undermines human dignity; or
(iii)adversely affects the equal enjoyment of a person’s rights and freedoms in a serious manner that is comparable to discrimination on a ground in paragraph (a);
11. Artikels 25(8) 26(4)(2) van die Wysigingswetsontwerp
12. Wet 55 van 1998 
_____________________

Volg die skakel vir meer besonderhede oor die wysigingswetsontwerp “Die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie” wet wat kortweg bekend staan as die Gelykheidswet (in Engels as “PEPUDA”)
Kommentaar voor of teen 30 Junie 2021

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: