Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring - 25 Mei  2022
Terug na media

Mthethwa en sy departement speel woer-woer met Afrikaans 
Afrikaanse taalmonument  werk binne 'n mandaat


Verklaring deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Afrikaanse Taalmonument deur sy mandaat doen reeds 
wat die minister nou eis 
- Die minister en sy DG speel woer-woer met Afrikaans 

Ons het deur die media kennis geneem van die Direkteur-Generaal van Kuns en Kultuur Vusumuzi Mkhize wat nou laat blyk dat die Afrikaanse taalmonument eintlik maar net moet transformeer en inklusief wees en dat sy minister – Nathi Mthetwa - nie ʼn opdrag gegee het nie. Die departement van Kuns en kultuur se minister en amptenare speel woer-woer met die Afrikaanse Taalmonument in hulle woordspeletjies om ideologies onderdanig te wees. 
  
In die 2020/21 Jaarverslag van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument wat opgestel word en ingedien word in ooreenstemming met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996); die Wet op Bestuur van Openbare Finansies, 1999 (Wet No. 1 van 1999 soos gewysig deur Wet No. 29 van 1999); Tesourieregulasies, 2005; Wet op Kulturele Instellings, 1998 (Wet No. 119 van 1998), asook ander toepaslike wette en regulasies, bepaal die Afrikaanse Taalmuseum en -monument sy mandaat: 
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se mandaat (volgens die verslag) is:
  • die ATM se kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine asook die erfenis van Afrikaans sodanig in stand te hou dat nasiebou en maatskaplike samehorigheid bewerkstellig word;
  • die oorsprong, ontwikkeling en voordele van Afrikaans uit te beeld, met spesiale fokus op inklusiwiteit om historiese wanbalanse aan te spreek, deur middel van versameling, bewaring en navorsing én dit deur uitstallings te belig; en
  • Afrikaans op alle vlakke van die samelewing, veral in minderbevoorregte gemeenskappe, te bevorder en te stimuleer deur middel van lesings en publikasies, opvoedkundige programme, begeleide toere en kulturele aktiwiteite.

Hiermee kan geen fout gevind word nie en doen die Afrikaanse Taalmonument juis dit wat deur ʼn groot bohaai vereis word. Dit is weer eens duidelik dat dit nie die monument, sy mandaat of sy funksionering is wat in die spervuur is nie maar deur sy naam word Afrikaans as teiken opgestel en onder beleg geplaas deur ʼn minister met ideologiese tonnelvisie.
  
Deur die verklaarde mandaat is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in werklikheid besig om brûe te bou tussen gemeenskappe, veel meer as wat die minister en sy amptenare doen. Waar die minister aan die absurde idee vandaan kom om die naam te verander is nie duidelik nie, maar dit is duidelik dat nog die minister nog die amptenare die verslae lees, wat aan hulle voorgehou word. Indien die minister wel die inhoud en die bogenoemde mandaat gelees het sou hy homself en sy departement ʼn verleentheid gespaar het. 

25 Mei 2022

_____________________________________________________

Share by: