Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 26 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Geloftedagvieringe en die agtergrond tot die Gelofte  


Geloftepaneel by die Voortrekkermonument

Dit is vir die Afrikanerbond ʼn gepaste bydrae tot Geloftedag om hierdie jaar die Geloftepaneel by die Voorttrekkermonument te kon “koop.” Deur ‘n steen of ander gedeelte van die Voortrekkermonument te “koop”, help die koper om die Voortrekkermonument en Bloedrivier vir die nageslag te bewaar. Daardeur word hy/sy ‘n ere “eienaar” van die Monument en word sy/haar naam in die VTM-argief aangeteken as een van dié wat die Monument tydens die Covid-19-krisis in 2020 weer virtueel “herbou” het. 

Agtergrond tot die Historiese Fries waar die Geloftepaneel is - Die besoeker wat by die groot kiaatvoordeur van die Monument inkom, word begroet deur ‘n asemrowende gesig: ‘n massiewe, hoë saal, 25 x 25 x 41 meter, met marmervloere en ‘n indrukwekkende marmerfries (92 meter lank en 2,3 meter hoog) wat historiese taferele uit die geskiedenis van die Groot Trek verbeeld. Vier groot boogvensters met geel Belgiese glas omflank die Heldesaal en onwillekeurig skep dié ruimte die indruk van ‘n gewyde plek, soos ‘n tempel. 

Al die marmer in die Heldesaal, buiten dié van die Fries, kom uit groewe by die dorpie Marble Hall in die Noordelike Provinsie. As daar van die boonste koepel af op die interieur van die Heldesaal afgekyk word, is dit duidelik dat die marmer volgens ‘n spesifieke patroon op die vloer uitgelê is. Dit neem die vorm aan van waterrimpels wat wyer en wyer na buite uitkring, met die Senotaaf as middelpunt – simbolies van ‘n trek na vryheid wat op klein skaal begin het, maar uiteindelik ‘n magtige golfbeweging in die geskiedenis geword het, wat vandag nog sy golfslag laat voel.

Die Historiese Fries bestaan uit 27 panele wat in Italië uit Quercetta-marmer gekap is. Die beeldhouwerk vorm ‘n unieke eenheid, hoewel vier verskillende kunstenaars daaraan gewerk het – insigself ‘n merkwaardige prestasie.

Die verhaal van die lief en leed van die Trek word uitgebeeld vanaf 1835 tot 1852, en nie net die politieke geskiedenis en betekenis daarvan nie, maar ook die maatskaplik-kulturele sy. Daar is verhale van moed en deursettingsvermoë, siekte en dood, neerlaag en oorwinning, vriendskap en verraad. Nie net beeld die fries die volkswording van die Afrikaner uit nie, maar ook die kontak en verhoudinge met Swart Volke in die binneland in die 19de eeu – vir dié volke ook ‘n tyd van onderlinge magstryd en stryd om oorlewing.
Die werk aan die Fries het reeds in 1942 begin en die beeldhouers wat letterlik jare van hulle lewe daaraan gewy het, was Hennie Potgieter, Peter Kirchhoff, Frikkie Kruger en Laurika Postma. Die totale koste verbonde aan die vervaardiging van die Fries was £60,000. (Inligting uit die Voortrekkermonument webwerf)  

Die Afrikanerbond het deur sy bydrae van R100 000 die paneel “gekoop” waarin die aflegging van die Gelofte voorgestel word. Die Voortrekkers, onder leiding van Sarel Cilliers en Andries Pretorius besluit om 'n Gelofte aan God te doen. Hulle beloof God dat, as Hy aan hulle die oorwinning sou gee, hulle daardie dag as 'n dag van danksegging sou gedenk. Hulle sou ook 'n kerk bou om die oorwinning te gedenk. Die Gelofte is op 9 Desember 1838 die eerste keer afgelê en daarna elke aand tot en met 15 Desember herhaal. Volgens beskikbare inligting het die hele kommando die Gelofte afgelê. Op die paneel sien ons Sarel Cilliers op die kanon Grietjie.
Dit is Paneel 20 van 27 en die kunstenaar is Laurika Postma

Lees die besprekingsdokument met die agtergrond oor die Gelofte en die implikasies vir vandag. 

Geloftedagvieringe 2020 
Volg die skakel na die Geloftefeeskalender vir 2020. Vanjaar word 'n rekordgetal van 175 feeste en dienste regoor die land gelys. 

Ons is versoek om die Geloftedag verrigtinge van 16 Desember 2020 te Hartenbos onder lede se aandag te bring.  
08:00 - Erediens in NG Hartenbos met Ds Dawid de Wet
09:00 - Feesgeleentheid in die binnehof van die NG Kerk
Aanbieding en spreker is dr. Cecelia Kruger die HUB van die Voortrekkermonument
Kuier saam rondom koppie tee / koffie in die Groot Trek Museum oorkant die kerk. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: