Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 26 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Betaal die keiser wat hom toekom? 


Deur Prof Jannie Rossouw 
Tussentydse Hoof: Wits Bestuurskool
Universiteit van die Witwatersrand

In debatte oor belasting is daar dikwels verwysings na Jesus se woorde in Markus 12:17, naamlik “(b)etaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom”.   Dit word vry algemeen geïnterpreteer as ‘n Bybelse opdrag om belasting te betaal.

Hierdie interpretasie van die belastingplig is problematies, aangesien dit slegs Christene aan belasting onderwerp. Aldus South Africa’s People: Pocket Guide to South Africa 2011/12 , identifiseer sowat 80 persent van Suid-Afrikaners as Christene. Diegene wat nie as Christene identifiseer en dus nie in die Nuwe Testament glo nie (byvoorbeeld ateïste, Jode/Israelies, Moslems), is vrygestel van hierdie Nuwe Testamentiese opdrag om belasting te betaal.

Belastingpligtigheid spruit dus eerder uit wetgewing as uit die Bybel voort. Suid-Afrika het omvattende wetgewing wat ‘n wye reeks belastings voorskryf. Billike belastingwetgewing moet aan sekere toetse voldoen, byvoorbeeld:
(i) Dit moet neutraal wees, met ander woorde dieselfde transaksies en inkomstes moet op dieselfde wyse belas word, sonder aansiens des persoons.
(ii) Dit moet deursigtig wees; belastingbetalers moet weet hoekom en hoeveel belasting betaal moet word.
(iii) Belastingheffing moet nie lei tot ‘n onvermoë om dit te betaal nie.
(iv) Belasting moet tot voordeel van die bevolking aangewend word.

Suid-Afrikaanse belastingwetgewing slaag die eerste twee toetse. Belasting word sonder aansiens des persoons gehef en is deursigtig. Hierdie oogmerke sal natuurlik verder ondersteun word as die belastingopgawes van die President, die Adjunkpresident, provinsiale premiers, kabinetsministers, adjunkministers en lede van provinsiale uitvoerende rade jaarliks vir openbare insae gepubliseer word. Sodanige publikasie sal net moontlik wees as die toepaslike wetgewing gewysig word.

Die laaste twee toetse hierbo is meer problematies. Die vraagstuk of belastings bekostigbaar is, hou verband met die koers waarteen belasting gehef word en die basis waarop dit gehef word. Inkomstebelasting is teoreties bekostigbaar teen enige koers tot 100% van inkomste, maar só ‘n belastingkoers het natuurlik geen praktiese waarde nie. Individuele belastingbetalers sal ophou werk lank voor belasting teen ‘n marginale koers van 100% betaalbaar is.

Die hoogste effektiewe marginale belastingkoers op individuele inkomste in Suid-Afrika is vroeg in die 1970s tydens die bewind van die destydse Nasionale Party bereik. Destyds is die inkomste van getroude pare saam belas en byvoordele was nie belasbaar nie. Die effektiewe marginale belastingkoers was 72%, naamlik ‘n koers van 60% met ‘n belastingtoeslag van 20% op 60% (‘n bykomende 12 persentasiepunte). 

Dit was betaalbaar op belasbare inkomste van R28 000 per jaar en meer, wat na aanpassing vir inflasie vandag sowat R1 800 000 (sonder byvoordele) beloop. Vergelykenderwys beloop dit vandag met insluiting van byvoordele sowat R2 700 000, natuurlik op die gesamentlike inkomste van egpare. Soos ons onder hierdie omstandighede te wagte kan wees, het belastingbetalers eenvoudig hul inkomste verminder deur korter ure te werk. Teen hierdie koers was inkomste minder aantreklik as vrye tyd.

Op dieselfde wyse kan eiendomsbelasting problematies wees. ‘n Persoon met ‘n klein inkomste wat in ‘n eiendom met ‘n hoë waarde woon, kan nie jaarliks gedeeltes van die eiendom verkoop om belasting te betaal nie. Mense kan letterlik uit hul huise belas word.

Die laaste toets, naamlik dat belasting tot voordeel van die bevolking aangewend moet word, is die grootste uitdaging in enige belastingstruktuur. Dit is ook die basis waarop belastingweerhouding (tax revolt) deur belastingbetalers oorweeg en gepropageer word. Belastingbetalers kry die indruk dat belastings wat betaal word, nie tot die bevolking se voordeel aangewend word nie.

In Suid-Afrika is belastingweerhouding ter sprake weens die hoë vlakke van korrupsie waarvan ons daagliks bewus raak. Belastinggeld word gesteel, eerder as oordeelkundig spandeer. Groot elemente van die ANC is inderdaad eenvoudig ‘n rowerbende wat onder die dekmantel van ‘n regering opereer. Belastingweerhouding as ‘n opsie kom periodiek ter sprake. Die onderliggende aanname is dat suksesvolle weerhouding van belasting die regering tot ander insigte oor die aanwending van belastinggeld sal dwing.

Dit werk ongelukkig nie in die praktyk nie. Regerings word deur resultate by die stembus tot ander insigte gedwing. As regerings die steun van kiesers verloor, stop hul dwaalweë.

Hierdie beheermeganisme geld nie in Suid-Afrika nie, want ‘n groot persentasie van individuele belastingbetalers stem nie vir die regering nie. Die stembus as instrument om belastingverantwoordelikheid van die regering te eis, verloor dus sy effektiwiteit.

Die grootste gros kiesers wat vir die regering stem, betaal hoogstens belasting op toegevoegde waarde (BTW) op hul aankope, waarvan sekere items van BTW vrygestel is. Hieroor moet ons nie verbaas wees nie. In die vroeë 1970s het die Nasionale Party kiesers “bewusteloos” belas en ten spyte van ‘n effektiewe maksimum marginale belastingkoers van 72%, steeds hul steun behou. Kiesersgedrag is totaal onvoorspelbaar.

Diegene wat hoë vlakke van belastings betaal, voel dus ‘n onmag om hulle misnoeë by die stembus te toon en oorweeg ander opsies soos belastingweerhouding. Behalwe die wetlike probleme wat uit sodanige aksie voortspruit, is daar praktiese oorwegings wat belastingweerhouding as instrument vir verandering aan bande lê.

Groot bedrae belasting word ingevorder en aan die SA Inkomstediens oorbetaal sonder dat dit deur die hande van belastingbetalers gaan. Voorbeelde is BTW, inkomstebelasting wat deur die lopende betaalstelsel (PAYE) afgetrek word en dividendterughoubelasting. As belastingweerhouding as strategie enigsins slaag, sal die regering bloot stappe neem om dit aan bande te lê, byvoorbeeld terugeisbare terughoubelasting op rentebetalings en kapitaalwinste. Op dieselfde wyse kan terugeisbare terughoubelasting op die markverhandeling van landbouprodukte ingestel word.

Belastingweerhouding wat deur individuele belastingbetalers beplan word, het dus ten beste beperkte suksesmoontlikhede. Om werklik te slaag, sal ‘n baie groter vlak van burgerlike ongehoorsaamheid nodig wees. So byvoorbeeld sal sakeondernemings BTW- en inkomstebelastingoorbetalings moet staak. Kanse op sukses is dus uiters skraal.

Die ander kant van dieselfde munt is die gevolge van suksesvolle belastingweerhouding. Die Fund for Peace beskryf ‘n mislukte staat (failed state) as lande en regerings wat beheer verloor oor:
• grondgebied
• die toepassing van regeringsbesluite
• interaksie met ander lande en regerings
• die voorsiening van openbare dienste.

Suksesvolle en totale belastingweerhouding sal onmiddellik lei tot die opskorting van openbare dienste en Suid-Afrika op die pad na ‘n mislukte staat plaas. ‘n Mislukte staat as die prys vir belastingweerhouding is té hoog, want in ‘n mislukte staat is daar bitter min wenners. Die middelklas word normaalweg onmiddellik vernietig.

Met suksesvolle belastingweerhouding sal alle rentebetalings op staatskuld onmiddellik staak. Dit sal tot bankrotskap van pensioenfondse lei, want hul inkomste uit beleggings in staatseffekte sal opdroog. By gevolge sal miljoene pensioenarisse hul pensioeninkomste verloor.

Belastingweerhouding kan dus ernstige onbedoelde gevolge hê en is nie in die beste belang van Suid-Afrika se toekoms nie. ‘n Beter alternatief is ondersteuning aan die regering se pogings om korrupsie uit te roei en ekonomiese groei te herstel.

Ons moet versigtig wees waarvoor ons vra of waarvoor ons wens. Dit mag onbedoelde gevolge hê.

Bronne: 
Afrikaanse Bybelvertaling, 1933/53
Aanlyn by https://www.gcis.gov.za/sites/www.gcis.gov.za/files/docs/resourcecentre/pocketguide/004_saspeople.pdf
Aanlyn by https://fundforpeace.org/ 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: