Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 27 Julie 2021
Terug na e-Afrikaner

Uit die puin van Suid-Afrika - Eendrag maak weer mag 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

As laerskoolkind in 1976 was ek geruk deur die vernietigende effek van onluste. Ons het deur die relatiewe nuwe medium van TV, maar veral daagliks vanaf 16 Junie 1976 in die dagblaaie die skokbeelde gesien van infrastruktuur soos skole wat vernietig is, drankwinkels en biersale is aan die brand gesteek, optogte proteste van skoolgaande kinders. In ons geordende wêreld het ons bekommerde ouers in fluisterstemme gepraat oor die politiek en was daar ʼn gevoel van onrustigheid en angstigheid. 

Tog het die politieke omgewing gestabiliseer en het gemeenskappe weer saam begin bou uit die puin en as van vernietigde geboue en ander infrastruktuur. Oornag het herstel plaasgevind en mense kon midde in die politieke onstabiliteit van daardie tyd, tog weer hande neem en saam in ons gedeelde land weer bou. In my kantoor by die Afrikanerbond hang die oorspronklike spotprent van die destydse spotprent tekenaar van Die Vaderland, Len Lindeque wat op 21 Junie 1976 in Die Vaderland verskyn het. Dit beeld duidelik wit en swart hande wat mekaar se hande neem groot uitgebeeld teen die agtergrond van rook en brande van Soweto en die opstande wat op 16 Junie 1976 begin het met die woorde – “Laat ons saam weer begin opbou.”   (Sien onder) 

Net meer as 45 jaar later smeul Suid-Afrika nog steeds van die massa vernietiging van anargie en plundertogte wat polities uitgebuit en misbruik is in die ANC se interne faksiegevegte. Dit het oorgespoel in grootskaalse vernietiging van infrastruktuur, voertuie, eiendomme, informele ekonomiese aktiwiteite en plundery van winkels op ongekende skaal. 

Maar terwyl die rook nog uit die puin smeul en terwyl Suid-Afrika die enorme skade verreken terwyl wet en orde toegepas word en soldate winkelsentrums oppas, was daar weer sprankies hoop. Suid-Afrikaners, Wit, Bruin, Indiër en Swart ryk en arm, swart en wit, Afrikaans, Engels en Zoeloe, het weer na mekaar uitgereik. Saam word sleutel infrastruktuur opgepas en beveilig, woonbuurte word gepatrolleer. AfriForum en taxiverenigings en boereverenigings, Indiër sakemanne en swart vakbonde neem hande. Dit is die ewigdurende wonderwerk van Suid-Afrika. Eendragtig is die boodskap “laat ons saam weer begin opbou.” 

Hierdie aksies en sprankies hoop toon reeds weer die onmiskenbare groeiende krag van eendragtigheid wat aan die oplaai is om Suid Afrika te red, te ontwikkel , sy regmatige plek in die internasionale arena weer in te neem omdat Suid-Afrikaners nie langer wil speel in die liga van korrupsie, kortsigtigheid, wanbestuur, wetteloosheid, rasbeheptheid en politieke retoriek waarin ons verval het nie. Alle Suid Afrikaners verdien veel beter as dit wat die ANC en faksiegevegte bied. Eendrag maak weer mag en hopelik kan ons begin bou aan 'n nuwe waardestelsel vir ons land en sy mense. 

Die laaste paar weke het Suid-Afrika in 'n skrikwekkende spieëlbeeld gesien wat ons nooit wil wees nie. 'n Duiwelse boosheid is losgelaat wat ons laat skrik het. Dit het ons laat besef dat ʼn land wat misluk, en in puin is, is gevaarlik en kan ons dit nie toelaat nie. Die diversiteit van Suid-Afrika het die land beskerm terwyl ʼn gepeupel anargie aanblaas. Wit Bruin, Swart en Indiër het as burgerlike samelewing reeds weer hande begin neem. Dit is die wonderwerk van ons land en sy mense. 

Suid-Afrika betaal ongelukkig nou ʼn bitter duur prys vir die ANC se onvermoë om sy eie interne faksies in toom te hou. Die interne gevegte het nou oorgespoel na misdadigheid op ongekende vlak in die openbare arena, en word Suid-Afrika gyselaar gehou deur ʼn kriminele gepeupel. 

Slegs ʼn paar dae na anargie en uit die asse en vernietiging van ons land Suid-Afrika – staan gematigde Suid-Afrikaners weer op en sê genoeg is genoeg – tot hiertoe en nie verder nie. Die boodskap wat uitgestuur word deur die kragtige beelde van wit, swart, bruin en Indiër is dat ons saam Suid-Afrika se belange sal beskerm en bevorder en sê ons weer net soos 45 jaar gelede – “Laat ons saam weer begin opbou.” 
(Oorspronklik in Maroelamedia gepubliseer) 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: