Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 27 Julie 2021
Terug na e-Afrikaner

Die regering doen die verkeerde dinge op die verkeerde tyd  


Deur Dries Wiese 
Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond 

(Onderstaande is gebaseer op 'n mediaverklaring wat die Afrikanerbond op 13 Julie 2021 uitgereik het.)  
Die Afrikanerbond was, net soos duisende ander  diep verontrus en uiters bekommerd oor die anargie in groot dele van die land. Dit was ongekende vlakke van misdadigheid wat polities aangestook word. 

Saam met inperking gaan die plundery en vandalisme enorme skade aan Suid-Afrika se reeds brose ekonomie aanrig. 

In sy ongeveer 1900 woorde toespraak aan die land op 12 Julie 2021, het President Ramaphosa onder andere onderneem dat wet en orde herstel sal word. Dit is van die mees basiese funksies van enige staat en die situasie moes nooit toegelaat gewees het om so te eskaleer nie. Indringende vrae moet dus gevra word oor die intellegensievermoëns van die regering of die gebrek daaraan.

Spreek die kern van die probleem aan: 
  • Suid-Afrika betaal nou ʼn bitter duur prys vir die ANC se onvermoë om sy eie interne faksies in toom te hou. Die interne gevegte het nou oorgespoel na misdadigheid op ongekende vlak in die openbare arena, en Suid-Afrika word gyselaar gehou deur ʼn kriminele gepeupel. 
  • Dit is duidelik dat die misdadigheid aangevuur word in die naam van Jacob Zuma. Die resultate van staatskaping van staatstrukture en ongebrydelde korrupsie is nou eers sigbaar. 
  • Die ANC het laat blyk dat dit beplande oproer is. Dit sal dringend en met ernstige implikasies vir individue betrokke hanteer moet word. Goedkoop politieke praatjies en beloftes gaan nie wet en orde herstel nie. 
Die regering moet ophou met verkeerde dinge op verkeerde tye!
  • Politieke leierskap ontbreek in die portefeuljes wat wet en orde moet toepas en handhaaf. Eweneens dwing die gesagsfigure, en veral Bheki Cele, nie meer respek af nie. Trouens, sy teenwoordigheid word afgelag deur wetsgehoorsame burgers, wat nog te sê van misdadige elemente. Die Kabinet se onvermoë om effektief op te tree is met die pandemie uitgelig, maar met die anargie ontbloot. Dit gee nou gulde geleentheid vir die President om mense in die posisies te plaas wat wel met gesag en ervaring kan optree en wat respek afdwing. 
  • Die regering is berug daarvoor dat die verkeerde dinge op die verkeerde tye gedoen word. Wet en orde moet nou gesien word dat dit met ʼn ferm greep toegepas en afgedwing word. Dit help nie om polities senstief te wees vir eie en die opposisie se ondersteunersbasisse nie. 
  • Suid-Afrika is in sy geskiedenis al deur fases van oproer en misdadigheid. Ekonomiese herstel kan plaasvind en dit kan oornag gebeur, mits die Regering sy ideologiese verknegtheid opsy skuif en toelaat dat besighede, entrepreneurs en minderhede ongehinderd hul kundigheid kan aanwend tot voordeel van die land.   

Saam kan ons Suid-Afrika weer herstel
  • Die groot saambindende faktor in die huidige krisis is dat dit ʼn minderheid is wat plunder en vandaliseer. Die groter saakmakende meerderheid oor ras en kleurgrense heen, is diegene wat hard werk en vredeliewend is. 
  • Anargie is nou besig om ons grondwetlike demokrasie te bedreig en moet verhoed word. 
  • Alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe moet met kalmte optree, hande neem oor grense heen en weer help om Suid-Afrika op te bou. 
  • Terwyl dit die taak van die Suid-Afrikaanse Polisie en Weermag is om wet en orde af te dwing, moet Suid-Afrikaners hulself en hul eiendomme terselfdertyd beveilig. Te veel mense teer op emosie en aanhitsing van vigilante optrede en dit is nie die oplossing nie. 
  • Terwyl ons alles doen wat nodig is om die land weer op te bou is dit terselfdertyd nodig vir alle Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskappe om te bly bid vir vrede en kalmte vir Suid-Afrika.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: