Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 9 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Die einde van 'n politieke bedeling en era verg strategiese denke 


Op Donderdag 5 November 2020 het die Afrikanerbond wat optree as fasiliteerder en sameroeper van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte weer ʼn byeenkoms van die dagbestuur van die Ad Hoc Groep in Pretoria aangebied. Die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsreg is ʼn informele groepering van organisasies, burgerlike instellings en politieke partye van regoor die politieke en maatskaplike spektrum wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is.

Tydens die staat van inperking het die Ad Hoc Groep op gereelde basis virtueel ontmoet maar was die gevoel dat die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte tydens ʼn fisiese byeenkoms, die bedreiging van onteiening sonder vergoeding daadwerklik en meer indringend kon bespreek. Senior verteenwoordigers van opposisiepartye het ook die geleentheid bygewoon. 

Die Afrikanerbond se deurlopende betrokkenheid sedert 2008 is ook onlangs bevestig deur die Nasionale Raad wat dit onomwonde gestel het dat enige proses om ʼn verandering in eiendomsreg in die grondwet, artikel 25, teweeg te bring, nie aanvaar kan word nie. Die Afrikanerbond bly van mening dat alle bestaande metodes en moontlikhede nie naasteby ontgin is nie en is van mening dat die ontneming en onteiening van eiendom slegs ʼn simbool geword het vir politieke doeleindes en ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet. 

Die dagbestuur van die Ad hoc-groep vir die Beskerming van Eiendomsregte is tydens die onlangse vergadering in Pretoria weer voorgelig deur prof. André Duvenhage van NWU. Prof. Duvenhage het die gesprek ingelei met verwysing na die ideologiese agtergrond en klimaat waarbinne die voorgestelde grondwetwysigings nagejaag word. Hy het ook verskeie bedreigings vir die Suid-Afrikaanse samelewing uitgewys. 

Prof Duvenhage het verwys na vorige navorsing wat hy gedoen het en waarin hy gesê het Suid-Afrika staan by ʼn kantelpunt. As ons dit vandag ontleed word kan ons sê dit is die einde van ʼn politieke bedeling wat begrens is tussen 1994 tot 2020. Waarom is dit die afsluiting van ʼn era het Prof Duvenhage gevra?   
- “Ons ervaar uitgebreide patrone van politieke en institusionele verval. Elke vlak van die staat en samelewing is in verval, munisipaliteite en staatsondersteunde entiteite soos ESKOM. Dis staat is in wese in ʼn krisis.  
- Suid-Afrika is in ʼn finansiële krisis. Baie ontleders sê ons is by ʼn fiskale afgrond met ons soewereine skuldkrisis; Amper R2 miljard skuld ʼn dag. 
- Ons sien die inploffing van die strafregstelsel. Die politieke wil bestaan nie om op te tree nie want in vele opsigte is die ANC die begunstigde van endemiese korrupsie en in sommige opsigte funksioneer die ANC soos ʼn misdaadsindikaat.  
- Die beramings is dat staatskaping en korrupsie die land tussen R500 miljard en R1500 miljard kos. 
- Daar is ʼn rekonfigurasie van die politieke omgewing met verwysing na die onlangse eise van die MK generaals, die opstel van faksies in die ANC teen mekaar in die ANC en hoe dit op die beleidsomgewing uitspeel;
- Daar is die sosiaal maatskaplike uitdagings (diensleweringsproteste, geweld,
armoede, ongelykheid) wat elke dag al hoe groter word.”

Prof Duvenhage het daarna gesê dat “staatkundig gesien is ons aan die een kant ʼn normatiewe staat met ʼn grondwet en derhalwe ʼn de jure grondwetlike demokrasie, maar de facto ʼn empiriese staat. Ons sien dit in 'n staat wat inplof en waarin die afwesigheid van wet en orde die grondwetlike bedeling soms onbeduidend laat.”

Prof Duvenhage het verwys na huidige aksies soos “regsaksie (met verwysing na die onlangse Sakeliga oorwinning in die Appèlhof oor SEB) wat binne die normatiewe omgewing moet gebeur maar die vraag moet gevra word hoe lank dit nog gedoen kan word binne die konteks van inploffing?”
  
“Aksies soos die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte moet ook op empiriese vlak in erns begin kyk na nuwe strategiese rigtings want die status quo is nie volhoubaar nie”, het prof Duvenhage gesê. “Daar is nuwe spelreëls op die ekonomiese, politieke, sosiaal maatskaplik vlakke wat risiko’s bring.” Hy het die spelreëls van die nuwe empiriese bedeling wat ons omgewing verander drasties kortliks uitgelig en gevra “hoe reageer ons: 
- op beleidsraamwerke wat nie finansieel volhoubaar is nie en waar pensioengelde en IMF-lenings befondsing moet verskaf?
- op die groter wordende Chinese invloed?  
- op die staat se toenemende onvermoë om basiese dienste te lewer? 
- op al swakker grens beheer? 
- Al groter wordende rasse polarisasie?
- Op die kultuur van geweld?” 

Die staat se hooffunksies het prof Duvenhage verduidelik, is “Orde, sekuriteit en stabiliteit. Tans is daar meer as 9 000 veiligheidsmaatskappye wat werk voorsien aan meer as 500 000 mense. Veel groter as die polisiemag. Dit demonstreer die groot disfunksionaliteit in ons bedeling.” 

Ter afsluiting het prof Duvenhage gesê “Artikel 25 van die Grondwet wat handel met Eiendomsreg, is ʼn kernaspek van die Grondwet en die Nasionale Akkoord. As Artikel 25 gewysig word, is dit ʼn direkte bedreiging vir die grondwet, en die onderhandelinge en ooreenkoms van 1994/96 en die vraag gevra hoe bindend gaan groepe die grondwet dan vorentoe ag in 'n omgewing van 'n falende staat?” Daarom is dit belangrik dat instansies en organisasies soos die Ad Hoc groep, strategies moet dink en handel rondom die kwessies.”  

Deel met ander belangstellendes

Share by: