Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 9 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Matrieks 2020 - Nuwe Covid-19 pioniers


Dries Wiese, Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond dra langs die weg graag groete oor aan die ouers en grootouers van alle matrieks van 2020 en net die beste wense aan alle matrieks met die eindeksamens wat tot middel Desember 2020 geskryf word.   
 
"Julle het volhard onder uiters moeilike omstandighede! Ons besef dat met Covid-19 dit seker die moeilikste omstandighede was waarin julle moes studeer en voorberei. Namens die Afrikanerbond se Nasionale Raad wens ons julle die allerbeste toe met hierdie eksamen. Hou moed, hou koers en sit alles in vir die laaste paar weke. Ook ons leuse Wees Sterk is vir julle gepas," het Wiese gesê.    

Tydens ʼn kort boodskap aan die Klas van 2020 by ʼn hoërskool in Gauteng sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond en ʼn ouer van ʼn Graad12 leerder: “Die lewe het in die 12 jaar draaie geloop met elkeen van ons en veral met julle en kan ons oor die 12 jaar julle lewe vergelyk met die tipe paaie wat ons almal so goed ken. Ons ken snelweë wat die pad vinnig maak, ons ken opdraandes en afdraandes, grondpaaie en sinkplaatpaaie. Ons ken almal kortpaaie en langpaaie. Paaie met baie draaie - oneindige reguit paaie - Paaie met slaggate en ander hindernisse en ons ken U-draaie en doodloopstrate. Dit het ons almal op een of ander tyd in ons lewens ervaar! Teen Maart 2020 weet ons egter dat die pad wat ons gedink het reeds uitgelê was skielik en sonder waarskuwing opgehou het. Ons almal – julle die matrieks van 2020 moes skielik saam op ʼn nuwe pad vertrek waar niemand nog voor julle was nie, nie die hoof of julle onderwysers nie, nie julle ouers nie. Elkeen van ons moes ʼn pad oopkap uit die akademiese onsekerheid met virtuele klaskamers, aanlyn klasse, selfstudie –Die klaskamers was nou Google Classrooms, en Zoom – Vir die matriekgroep van 2020 nog erger – die belangrikste jaar van julle skoollewe was nou onbekend – ongetoets – ongekarteer – julle – elkeen van julle het almal verander in pad kateerders, verkenners, trekkers, virtuele pioniers.” 

“Die klas van 2020 het vir die jaargroepe wat na julle kom gewys wat dit is om onbekende uitdagings die hoof te bied, nuwe paaie te maak. Covid-19 pioniers te wees. Julle was ʼn inspirasie vir ons almal - Ons wens julle daarom net die beste toe in die komende eksamens,” het Bosman gesê. 

Deel met ander belangstellendes

Share by: