Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 9 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Harde werk gee geloofwaardigheid - nie jou van nie


Dit is harde werk wat geloofwaardigheid gee en nie of jy ʼn mev Van der Merwe is nie – Die nuwe heersersklas se skeefgetrekte raskaarte 

Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Die voormalige voorsitter van die SAL, mev. Dudu Myeni, het verlede week “getuienis” gelewer voor die Zondo-kommissie na staatskaping maar merendeels haar swygreg gebruik om haarself nie te inkrimineer nie. Sy het wel op Donderdag 5 November die geleentheid misbruik om ʼn paar desperate politieke houe in te kry en haarself te regverdig: 
• Sy het onder andere gesê sy word gekriminaliseer omdat sy 'n sterk swart vrou is wat toevallig met oudpresident Jacob Zuma geassosieer is.
• En dan maak sy die verbluffende stelling “As ek die keuse gehad het, sou ek die volgende dag graag wou wakker word as mev. Wit (White) of mev. Smith, of mev. Van der Merwe, omdat die name vir my geloofwaardigheid in my eie land sou gee.” 

Hierdie stellings wat sy maak is die mees tasbare bewyse van die politieke arrogansie en toeëiening wat in die huidige politieke heersersklas teenwoordig is. 

Die 56-jarige Dudu Myeni het ʼn laerskool Onderwysersertifikaat van Madadeni College en 'n Sekondêre Onderwysersdiploma van Umlazi College in KwaZula-Natal. Sy het kontroversie veroorsaak toe sy aandui dat sy ʼn BA Graad in Administrasie van die Universiteit van Zululand verwerf het. Dit is later reggestel en is verduidelik dat sy wel ingeskryf is vir die graad. Dit is egter nie bekend of sy toe wel later die graad verwerf het nie. 

Met haar onderwyskwalifikasies het sy egter besonder goed gevorder om dan later voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, verskeie direksies en ook die voorsitter van die Jacob Zuma Stigting te word. Dit moet egter gesien word in alles wat in haar guns getel het sedert 1994. 
• Mev Dudu Myeni as ʼn swart vrou kon alles en meer ontvang as ʼn begunstigde of nuut bevoorregte van Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende aksie en alles wat ʼn mev van der Merwe of Smith nie kon kry nie omdat hulle name en velkleur teen hulle sou tel. As dit ʼn middeljarige mnr van der Merwe of Smith was, sou dit nog meer teen haar gehou word want omgekeerde diskriminasie op grond van geslag en ras maak hulle nog meer onwenslik in enige werkplek. Ons moet ook aanvaar dat ʼn mev van der Merwe Afrikaans is, en dit maak dan van haar ʼn teiken vir rassisme en taalbenadeling, beslis nie geloofwaardigheid nie. 
• Mev Dudu Myeni moet ons ook aanvaar is ʼn lojale ANC kader. Haar kaartdraende lidmaatskap van die ANC sou deure geopen het en haar loopbaan is vanuit Luthuli huis beplan. As ANC kader kan sy droogmaak op een plek maar weet dat sy herontplooi sou word na ʼn ander staatsdepartement of instelling of dalk as ambassadeur in die buiteland aangestel kon word waar enige prestasie, kundigheid en vermoë ondergeskik gestel word aan haar party lidmaatskap. Ons moet dus aanvaar dat mev Dudu Myeni en duisende ander se ANC lidmaatskap hulle wel bevoordeel het want op Woensdag 17 Julie 2019 erken mnr. Jaco Zuma voor die Zondo-kommissie na staatskaping dat “lojaliteit aan die ANC een van die faktore is wat oorweeg word wanneer individue vir die regering en ondernemings in staatsbesit aangestel word.”  
• Daar is ʼn ander faktor wat in spel is en wat Mev Dudu Myeni waarskynlik ook begunstig. Omdat sy besonder naby aan die persoon van Jacob Zuma is en deurentyd in die Jacob Zuma dampkring is, is sy vermoedelik ook ʼn ernstige begunstigde van die Zuma patronaatskappe wat poste, gunste, kontrakte en tenders kon insluit. Dit alles het die grondslag gelê vir staatskaping. Dit is dus nie net assosiasie nie, maar direkte voordeel uit patronaatskappe, iets wat ʼn mev van der Merwe beslis nie sou kon regkry nie. 

Die nuwe demokrasie het besondere bevoorregting gebring vir iemand soos Dudu Myeni. Sy was op die regte tyd op die regte plek as ʼn swart vrou, wat polities verbind is tot die regte party en tot die voormalige president, mnr Jacob Zuma. Regstellende aksie, Swart ekonomiese bemagtiging, kader ontplooiing en patronaatskappe het almal ʼn besondere klas van bevoorregtes geskep. Mev Dudu Myeni kan ʼn regmerkie maak langs elkeen, iets wat nie mev Smith of Van der Merwe kan doen nie. Die wilde stelling dat die name geloofwaardigheid kon gee is van alle waarheid ontbloot en sou die naam van der Merwe in 1994 teen haar getel het net soos wat dit in 2020 teen haar sou tel. 

Deur die ANC se toepassing van kader-ontplooiing het die ANC die staatsdiens en ander semi-staatsinstellings absoluut verpolitiseer met rampspoedige gevolge vir die mislukte staat deur staatskaping, korrupsie en wanbestuur. ‘n Eens suksesvolle staatsinfrastruktuur is deur wanbestuur, gebrekkige bestuur of doodeenvoudige onbekwaamheid laat verval omdat lojale party kaders in posisies van verantwoordelik geplaas is waarvoor hulle nie opgelei is, nie ervaring het nie maar wel lojaal aan die ANC is. Dit is wat met die een trotse Suid-Afrikaanse Lugdiens gebeur het waarvan mev Myeni voorsitter was. 

Sy kon geloofwaardigheid vir haarself verseker het deur net soos enige ander persoon ongeag ras of geslag hard te werk en deur uitnemendheid te presteer maar hiervan sal mev Myeni nie baie weet nie en sou die van Wit (White), Smith of Van der Merwe ook in haar besondere posisie nie veel gehelp het nie. Sy het al die brûe reeds agter haar verbrand en speel nou soos elke politikus wat in die knyp is, die desperate raskaart.  

Deel met ander belangstellendes

Share by: