Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 9 November  2020
Terug na e-Afrikaner

Swart ekonomiese bemagtiging of ontmagtiging?


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Die laaste paar dae het Swart Ekonomiese bemagtiging weer ʼn speelbal geword waarmee die regering sy uitgediende en onwerkbare ideologie probeer afdwing selfs nadat die Appélhof verlede week staatsinstellings verbied om maatskappye vooraf summier te diskwalifiseer om weens hul SEB-status om staatskontrakte mee te ding. ʼn Ontstelde Ace Magasule het oor die naweek in ʼn ANC verklaring te velde getrek teen “die bedoeling van die wit, Afrikaner gedomineerde besigheidsgroep Sakeliga...” wat die aansoek gebring het. Verder aan in die verklaring lig hy die sukses van Swart Ekonomiese Bemagtiging uit en sê “daar moet nog baie verder gegaan word om swart Suid-Afrikaners ten volle ekonomies te bemagtig, sodat hulle beheer oor die ekonomie kan kry.” Die noodwendige rassekaart word weer gespeel “want enige rassistiese pogings om (Swart Ekonomiese bemagtiging) en sy noodsaaklike doelwitte te ondermyn, of te vertraag, terwyl die revolusie onvoltooid bly, moet ten alle koste weerstaan word.”   

Of dit bedoel was om saam te val met die bogenoemde uitspraak of nie, moet prof William Gumede van Wits se Skool vir Regeerkunde se uitstekende ontleding van Swart Ekonomiese Bemagtiging in die Sunday Times van Sondag 8 November 2020 gelees word. Hy skryf “Swart ekonomiese bemagtiging, een van die mees vermorste, duurste en oneffektiefste herverdelingstrategieë - wat in die postkoloniale samelewing sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog bedink is, moet geskrap word.” Hy beskryf die begunstigdes soos volg: “Deur te konsentreer op die bemagtiging van politieke kapitaliste, het SEB legitieme swart en wit, klein en mediumgrootte ondernemings vernietig en bestaande en potensiële swart ondernemings ontmoedig.” 

Prof Gumede verwys dan na moontlike oplossings en sê “suksesvolle bemagtigingstrategieë elders het gefokus op die ondersteuning van bestaande entrepreneurs, die skep van nuwe bedrywe en die bevordering van uitvoergroei om nuwe markte te skep.” 

Vermoedelik is Prof Gumede net soos meeste Suid-Afrikaners hartlik sat vir die gevolge van transformasie soos omgekeerde diskriminasie in Swart Ekonomiese Bemagtiging, regstellende aksie en die gevolge wat gesien is in ongebreidelde korrupsie, staatskaping, onbevoegdheid, staatsverval en gebrekkige dienslewering, die ineenstorting van infrastruktuur, misbruik van staatsbates en swak regering. 

Dit bly ironies dat die term transformasie nie een keer in die Suid-Afrikaanse grondwet voorkom nie, maar is dit waarskynlik die term wat die meeste gebruik word om ʼn bepaalde politieke agenda te pas en te dryf. Swart Ekonomiese Bemagtiging, kwotas en regstellende aksie word meer aggressief bevorder onder die vaandel van Radikale Ekonomiese Transformasie. Die meer onlangse getuienis voor die Zondo Kommissie oor die verval van die SAA, het prakties gedemonstreer wat die gevolge is in die teëlaarde wat geskep vir middelmatigheid, nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie. Mense is in posisies aangestel waartoe hulle nie die bevoegdheid, ervaring of kundigheid het nie. Dit het ook nie in uitsonderlike gevalle gebeur nie maar is die massa ontplooiing van onbevoegde kaders en die geknoei met Swart Ekonomiese Bemagtiging waarskynlik die direkte oorsaak van die ineenstorting van soveel staatsondersteunde entiteite soos Eskom, SAA, PRASA, Denel, Landbank, Poskantoor en vele ander en ook ʼn magdom munisipaliteite.    

Hierdie entiteite se verval kon vermy word as Suid-Afrikaners, wit en swart se aanleg, vermoë, belangstelling, vaardigheid, persoonlikheid en vernuf erken en waardeer is. Waar apartheid die inherente gelykheid van mense in terme van hulle menswaardigheid misken het, doen regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging dieselfde en meer. Waar regstelling moes plaasvind, vind benadeling plaas, waar opheffing moes gebeur, word waardigheid aangetas, waar instandhouding moes gebeur vind verval plaas en waar bemagtiging moes gebeur vind dit eerder neerslag in ontmagtiging. Al die mooiklinkende doelwitte wat aanvanklik gestel is om die onbillikhede en ongeregtighede van die verlede te herstel, vind uiting in nuwe vorme van diskriminasie en onbillike behandeling en ongeregtighede. 

Reeds in 2009 het die Afrikanerbond in ʼn gespreksdokument oor regstellende aksie die volgende beginsels gestel. Dit word in verkorte vorm weer voorgehou. 

Beginsel 1: Transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing kan net bereik word binne ‘n stabiele en inklusiewe demokratiese stelsel. Sonder politieke stabiliteit kan geen hervormingspogings slaag nie. Politieke stabiliteit word bereik deur die mate waartoe alle inwoners in die proses van politieke besluitneming gekonsulteer en betrokke gemaak word. Die marginalisering van enige minderheidsgroep sal uiteraard lei tot polarisasie en politieke weerstand wat politieke hervorming sal rem. 

Beginsel 2: Transformasie vereis volhoubare ekonomiese groei. Sonder volhoubare ekonomiese groei is werkskepping nie moontlik nie. Waar bevolkingsgroei die skep van werksgeleenthede oortref, is die versekering van gelykberegtiging kwalik moontlik omdat daar geen nuwe werksgeleenthede geskep word wat vir hervorming en regstellende aksie benutbaar is nie. Binne sodanige situasie kan daar kwalik sprake wees van die herverdeling van rykdom maar eerder van ‘n herverdeling van armoede en word nuwe ekonomies afhanklike groepe geskep wanneer voordele van een groep weggeneem en aan ‘n ander groep toegewys word.

Beginsel 3: Transformasie vereis kwaliteit onderwys en opleiding. Waar bepaalde groepe histories benadeel is, kan hul posisie selde binne die arbeidsmark reggestel word sonder die aanspreek van histories kumulatiewe agterstande. Om op gelyke voet met voorheen bevoordeelde groepe mee te ding, moet kwaliteit onderwys verseker word wat die mededinging op gelyke voet moontlik sal maak.

Beginsel 4: Transformasie vereis dat meriete en verdienste as beginsels vir aanstelling en bevordering gehandhaaf word. Enige stelsel wat daartoe lei dat persone sonder die nodige bevoegdheid en vaardigheid in poste aangestel word, wreek sigself op die kwaliteit van diens wat gelewer word en die twyfelagtigheid van besluite wat geneem word, wat uiteraard negatief op ekonomiese groei en produktiwiteit sal impakteer. Dit stel die stelsel bloot aan korrupsie, wanbestuur en swak dienslewering.

Beginsel 5: Transformasie moet in die ontwikkeling van beleid en prosesse toenemend weg beweeg van enige vorm van voorskriftelike kriteria wat geld by aanstelling en bevordering. Rassisme en seksisme kan nie reggestel word deur nuwe vorme van rassisme en seksisme te verskans nie. Sosiale gelykberegtigingskriteria behoort ontwikkel en bevorder te word. Dit veronderstel byvoorbeeld, dat enige persoon wat werkloos is net so benadeeld is as enige ander werklose persoon en net soveel reg het om op gelyke voet mee te ding met ander persone om beskikbare poste. Ras of geslag kan dus nie geld om hierdie persone wat reeds sonder inkomste is, verder te marginaliseer nie. Indien ‘n voorskriftelike kriterium hierdie persone sou uitsluit uit die kompetisie om werksgeleenthede sou dit op blatante rassisme neerkom wat teen die gees en intensie van die Grondwet en internasionale konvensies is.

Beginsel 6: Arbeidswetgewing moet daarop gerig wees om die skep van werksgeleenthede te bevorder en te fasiliteer binne ‘n omgewing waar gelykberegtiging en regstellende aksie aangemoedig word sonder om dit meganisties af te dwing deur die stel van kwotas. Strategieë moet die seleksie, opleiding en ontwikkeling van regstellende aksie aanstellings ondersteun, volgehoue ontwikkeling van personeel aanmoedig, realistiese tydraamwerke daar stel en nie net op bepaalde posvlakke te konsentreer nie, maar differensieer binne die poste strukture, arbeidsektore en geografiese areas. 

Beginsel 7: Transformasie moet in die uitvoering daarvan ‘n hoë premie plaas op die menswaardigheid van elke landsburger in ‘n gees van versoening en die bou van ‘n nuwe nasionale identiteit wat nie uitsluitlik op ras gebou is nie. Elke inwoner het die potensiaal en reg om ‘n bydrae tot die totale ontwikkeling van die land te lewer. Dit wat die individu anders maak bied derhalwe nie rede (substansie) vir die uitsluiting van die individu uit enige gemeenskapsvoordeel wat sy waardigheid sal ondermyn nie.  

Beginsel 8: Geen stelsel van regstellende aksie kan toegelaat word om onbepaald voort te duur nie. Historiese onregverdighede kan nie op 'n nuwe opkomende geslag gewreek word nie. Die daarstel van tydsraamwerke is derhalwe van die uiterste belang. Hierdie tydsraamwerke moet binne inklusiewe prosesse onderhandel, ontwerp en eerbiedig word. Uiteindelik is die ideaal om 'n samelewing daar te stel wat sonder diskriminasie is.

Die politieke waarnemer, Moeletsi Mbeki het reeds in September 2011 ernstige kritiek uitgespreek teen die regering se beleid van swart ekonomiese bemagtiging deur te sê dat dit niks gedoen het vir die meerderheid Suid-Afrikaners nie. Hy gaan verder deur te sê “If the big economic players want to see economic freedom they should support entrepreneurship and not the institutionalised corruption that is BEE.”

Wat die ANC en die regering duidelik nog nie besef nie, is dat die staat nie armoede, ekonomiese ongelykheid en werkloosheid in Suid-Afrika kan aanspreek nie. Geen staatsinmenging hoe diskriminerend of voorskriftelik ook al sal dit kan bewerkstellig nie. Veel eerder moet die ekonomiese omstandighede geskep word waarbinne die privaatsektor werk kan skep om die ekonomie te laat groei. Die trajek van bevoordeling aan slegs enkeles in die politieke elite is nie volhoubaar nie. Terwyl die ANC by monde van sy sekretaris-generaal die “revolusie” bly bevorder en die beperkte opbrengste van belastings na die politieke elite bly kanaliseer, word die kloof tussen arm en ryk al hoe groter en vind swart ekonomiese ontmagtiging op ʼn ongekende skaal plaas.

Deel met ander belangstellendes

Share by: