Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 26 November  2020
Terug na e-Afrikaner

 Hoe het Afrikaners 'n besondere plek in die samelewing 
verwerf en wat dryf ons? 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Vanoggend, na ek my rekenaar aangeskakel het begin ek die rekenaarmuis rondskuif om my dokumente te begin oopmaak. Geen beweging, geen lewe, morsdood. Terwyl ek die pakkie met ekstra battery uithaal om die oues te vervang, begin ek onwillekeurig dink aan die batterye wat my laai, ons laai, weer nuwe lewe bring en ons aktiveer om ons dagtaak te doen. Ons het nie werklik die keuse om met ʼn pap battery ons lewenstaak aan te pak nie. Dit is nie ons nie, dit is nie deel van ons DNA nie. 

In my kantoor by Die Eike hang ‘n afdruk van die Afrikaanse Handelsinstituut se kernwaardes rondom Afrikaner-Eerbaarheid - Die afdruk lui soos volg: 
Laat ons te alle tye streef om die volgende ideale uit te leef:- 
Eerbaarheid: Wees altyd onkreukbaar, eerlik en deeglik. Wees openlik en reguit in raad en daad. 
Regverdigheid: Bly steeds redelik en regverdig. Gaan wanpraktyke teë en roei verdagmakery uit. 
Onpartydigheid: Wees eerlik in beslissings en onafhanklik in optrede, Handhaaf onpartydigheid van oordeel. 
Verantwoordelikheid: Gebruik toevertroude gesag en amp nie vir eie belang nie. Bevoordeel nie vriende en familie nie. 
Betroubaarheid: Hou vertroulike amptelike inligting dig. Misbruik vertroue nie vir selfverryking nie 
Naastediens: Streef edele en onbaatsugtige gemeenskapsdiens na. Handhaaf altyd die Goue Lewensreël van naasteliefde.   
Dit is egter meer as die ses waardes wat ons batterye aan die gang hou en vir ons staande hou met ʼn werksywer en etos wat ook integriteit uitstraal.  

RW Johnson skryf op 22 November in Rapport oor ʼn ontleding van die DA die volgende: Die DA besef nie watter prys hy gewen het met Afrikaner-steun nie. Oral waar Afrikaners betrokke was, het hulle vaardighede en vasberadenheid na die tafel gebring.

Prof Hermann Giliomee skryf op 16 November in Beeld met verwysing na die Groot Trek Feesvieringe van 1938 – “Die vieringe het die prikkel gelewer vir die mobilisering van Afrikaner-kapitaal om Afrikaanse ondernemings te stig. Sowel Malan as die Vrystaatse kerkleier JD (Vader) Kestell het gesê die beste herdenking van die Voortrekkers sou wees om arm Afrikaners met ’n reddingsdaad te help. Kestell het verklaar dit is die Afrikaners se verantwoordelikheid om dié uitdaging te aanvaar. “Geen regeringswelsyn of hulp van buite sal hulle help nie; die antwoord lê in ’n kollektiewe poging deur die Afrikaners.”
Kestell se wekroep – ’n volk red homself – het die hooftema van die vieringe geword. Wat aanvanklik voorgestel is, was ’n volksfonds wat gebruik sou word om arm Afrikaners op te hef. Maar die Afrikaner Broederbond het téén enige ‘liefdadigheidsplan’ besluit. In die plek daarvan het hy voorgestel die koopkrag en kapitaal van die volk moet produktief ingespan word om die Afrikaner in staat te stel om ekonomies onafhanklik te word. Nuwe ondernemings wat deur Afrikaner-entrepreneurs op die been gebring word kon die armes “red” deur aan hulle werk te verskaf.” 

Ons ken die geskiedenis en ons weet wat die gevolg was van die harde werk en ywer wat hieruit gespruit het. Die Afrikaner se bydrae het gesorg dat die land ʼn ekonomiese en industriële reus op die vasteland geword het. 

Dit het egter nie na 1994 opgehou nie. In ʼn uitstekende ontleding van Clem Sunter wat op 24 Maart 2010 in News24 gepubliseer is skryf hy oor die Afrikaner wat hulself na 1994 ekonomies bevry het en entrepreneurs geword het. Hy sê dan: “’n Mens kan hierdie verskynsel die Groot Trek in besigheid noem. Pas aan of sterf, het John Vorster gesê. Die Afrikaners het individueel en kollektief die eerste opsie gekies. Net soos die Jode in Amerika, die Pakistani’s in Londen en die Chinese in Australië, het die Afrikaner ’n kollektiewe bewuste wat die geestelike grondslag van ’n effektiewe kommersiële netwerk vorm. Taal, godsdiens, kultuur en ’n gemeenskaplike lewensuitkyk bind hulle saam in spanne wat feitlik onoorwinlik is wanneer hulle uitgedaag word deur teenstanders wat onderling minder samehorig is. Hierdie eienskap kom vanselfsprekend ook na vore in sport. Dit is ’n vorm van ubuntu: jy help my en ek sal jou help, want saam kan ons meer bereik. Daar is wel ’n voorwaarde: Jy moet Afrikaans praat!” 

Is bogenoemde alles ʼn rede hoekom Afrikaners grootliks ʼn eiland van uitnemendheid geword het in ʼn see van middelmatigheid, verval en ʼn staat wat sorg? Hoe lank kan die uitnemendheid staande bly in ʼn land waar 17,8 miljoen Suid-Afrikaners afhanklik is van maatskaplike toelaes? Volgens CEIC data het Suid-Afrika se arbeidsproduktiwiteit in Junie 2020 met 4,40% gedaal. Produktiwiteit was op sy hoogste in Maart 2010 met 8,38% na die rekordlaagtepunt van -4,40% in Junie 2020. Te dikwels word die raskaart gespeel wanneer dissipline of produktiwiteit aangespreek word. 

Tans is 14,7 miljoen Suid-Afrikaners werkloos of sowat 30.8% van diegene wat kan werk. Dit is selfs hoër as die werkloosheidsyfer voor 1994. 

Terwyl menige kenners en kommentators telkens daarop wys hoe die ekonomiese landskap die laaste paar jaar dramaties verander het word ongelykhede, armoede en werkloosheid by swart Suid-Afrikaners voorgehou as die grootste uitdagings wat die hoof gebied moet word en is ekonomiese vryheid “radical economic transformation” die politieke gonswoord en die alfa en omega na die beloofde land. Ook in die verband is dit gerieflik om gereeld die rassekaart te speel. 

Baie nuwe beleide binne dieselfde ideologie van 26 jaar se ANC regering, word telkens aangepas met nuwe ekonomiese programme, verskerpte rasgebaseerde ekonomiese strategieë om breër swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moes nog meer van die dieselfde bereik:   
• Onhaalbare teikens van produktiewe grond moet ten alle koste in swart besit wees.
• Demografiese verteenwoordiging in elke sektor van die ekonomie onder andere aandeelhouding in genoteerde maatskappye op die Johannesburgse Effektebeurs.  
• Meerderheid van nie-uitvoerende en uitvoerende direkteure van genoteerde maatskappye moes swart wees.
• Swart ondernemings wat die voorkeur leweransier moes wees  
• Regstellende aksie moes toesien dat demografiese verteenwoordiging ten alle koste toegepas word. 

Dit moet dus vir enige waarnemer duidelik wees dat slegs ʼn baie klein deel van die bevolking enigsins gebaat het by al die verskillende ekonomiese beleidsrigtings van die ANC regering wat sedert 1994 toegepas is. Eerder as om te erken dat dit misluk word nog meer teikens gestel, nog meer uitgedeel en nog meer afgeneem. In ʼn gesprek gister met ʼn aantal rolspelers sê iemand terloops: “Die ANC het slegs twee faksies – Die wat langs staatsweë vat en die wat steel.” Hoe groter die staatsingryping hoe meer bly produktiwiteit daal, werkloosheid word al groter, daar is min na geen dissipline in die werksplek en onbuigsame arbeidsregulasies wat tot voordeel van die werknemer is. Wanneer elke argument faal en statistieke die teendeel bewys word die raskaart gespeel. 

Die ekonoom Ulrich Joubert skryf verlede jaar in ʼn artikel in die AB Nuusbrief juis oor die bogenoemde en maak dan die volgende voorstelle ter oplossing:   
• Die onderwys en opleidingstelsel moet dringend transformeer sodat kwaliteit onderwys en opleiding gelewer word.
• Die arbeidsbedeling moet baie meer plooibaar en aanpasbaar gemaak word sodat mense eerder as masjiene en robotte in diens geneem kan word.
• Die groei in staatsuitgawes moet beperk word. Korrupsie, wanbesteding en verkwisting moet stopgesit word.
• Die arbeidsmag in die openbare sektor — van sentrale tot plaaslike regering asook staatsondernemings — moet drasties verklein word.
• Onsekerheid oor eiendomsonteiening sonder vergoeding of die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel, moet uit die weg geruim word.  
• Owerheidsbeleid moet die privaatsektor stimuleer sodat meer besigheid winsgewend gedoen kan word en mense in diens geneem kan word.
• Die rol van die staat in die ekonomie moet aansienlik verklein word. Staatsondernemings word dus geprivatiseer.
• Die inmenging van die staat in die werking van die ekonomie moet beperk word.
• Baie meer klem moet op toerisme geplaas word om ons natuurlike hulpbronne te benut as skepper van welvaart.
• Die ekonomie vra nie of jy oud of jonk is, man of vrou is of aan watter rassegroep jy behoort nie. Die enigste vraag wat gevra word, is kan jy die werk doen?  
• Die keuse is of jy die land verarm deur die beleid wat jy volg, of ontsluit jy die potensiaal wat opgesluit lê in die land en sy mense? Oor die afgelope vyf-en-twintig jaar, het beleid die land verarm.

Die meerderheid Afrikaners, so is ons ervaring, wil deel wees van ʼn suksesvolle Suid-Afrika. Dit is ons volledige tuiste en wil ons ons hier uitleef. Afrikaners wil egter ook nie op die kantlyn sit en toeskouers wees in ʼn land waarvan ons volledig deel, maar waarvan ons ten dele uitgesluit word nie. 

Afrikaners het deur hul eie verlede ’n besondere volwassenheid bereik wat daagliks teruggeploeg word in die huidige samelewing. Op een of ander wyse oorkom Afrikaners al die struikelblokke wat in hulle pad geplaas word. Ons het kulturele kenmerke wat Afrikaners saamsnoer soos 'n gemeenskaplike geskiedenis, ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing en 'n Westerse lewenswyse. (met erkenning aan die Voortrekkers) 
Die geskiedenis en die hede wys:
• Afrikaners is mense wat standvastig is en glo in God-Drie enig.
• Afrikaners is skeppers en bouers 
• Afrikaners is konstruktief krities oor die hede.
• Afrikaners streef in alle omstandighede na vryheid.
• Afrikaners het respek vir ander mede Suid-Afrikaners 
• Afrikaners is onlosmaaklik trots op ons taal en kultuur.
• Afrikaners is omgee mense wat lief is vir hul gesinne en familie.
• Afrikaners is diensbaar en betrokke in hul gemeenskappe by kerke, skole en organisasies.
• Afrikaners is staatmakers om werk gedoen te kry en betroubaar om dit af te handel.
• Afrikaners is pioniers wat grense skuif.
• Afrikaners skep hul eie toekoms.
• Afrikaners leer uit hul geskiedenis en handhaaf tradisies
• Afrikaners is mense met uiteenlopende standpunte en nie skaam om dit te stel nie.
• Afrikaners is vrydenkers en handhaaf hul standpunte en oortuigings met begrip vir andere.  
• Afrikaners is patriotte, lief vir hulle land en die grond wat ons bewerk. 

Op een of ander wyse word ons batterye daagliks herlaai met die inspirasie uit die verlede ons toewyding aan die hede en met ons oog altyd op die toekoms. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: