Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 10 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Die Broederbond - Boekbekendstelling 


Die onderstaande artikel het op 8 Mei 2021 2021 in Beeld verskyn. 

"Eerlike studie oor Broederbond" 
Raymond Willemse 

In 'n tyd waar geskiedenis gekriminaliseer en verdag gemaak word, gee 'n nuwe boek oor die Afrikaner-Broederbond (AB) noodsaaklike perspektief oor die pad wat die Afrikaner in Suid-Afrika geloop het.

So sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Langner was een van die sprekers wat by die bekendstelling van Die Broederbond: Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994 in 'n video-insetsel aan die woord was.
"As 'n mens terugkyk na die geskiedenis, was die stigting van die AB een van die belangrikste bakens in die Afrikaners se opstand," sê Langner.

Dit het die historikus prof. Ernst Stals ses jaar geneem om die boek te voltooi. Hy is in 1992 deur die AB se uitvoerende raad genader om die geskiedenis van die beweging sedert sy ontstaan in 1918 tot 1994 op te teken. Die manuskrip is in 1998 voltooi en enkele eksemplare is gedruk, maar die boek is Woensdag amptelik bekend gestel in die NG kerk Aan-die-Berg se gemeentesaal in Northcliff, Johannesburg. Die lywige boek beslaan 720 bladsye. 

Van die hoogtepunte daarin is die ontstaansgeskiedenis van die AB, die organisasie se karakter en werkwyse, die AB en rassevraagstukke in die vorige eeu, maatskaplike vraagstukke en die regeringsverandering van 1948, asook die ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner.

Stals was by die bekendstelling in gesprek met die veteraanjoernalis Freek Robinson. Volgens Stals was geen onderwerp taboe in die skryf van die boek nie. "Daar was geen beperkings nie. Dis nie 'n huldigingsbundel nie, dis 'n eerlike – sover my vermoë dit toegelaat het - Wetenskaplike studie. Die opdrag aan my was dat ek dit moet skryf net soos dit is." Stals sê die AB het sy ontstaan gehad in 'n tyd van groot ellende van die Afrikaner in Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog. "Dit strek oor dekades van politieke woelinge, van verdeeldheid onder Afrikaners, van meningsverskille en van politieke en ekonomiese omstandighede heen. Dit was jong manne wat ontsteld was oor die wyse waarop daar na die Afrikaner gekyk is in sy moeilike situasie en die agterstande wat hy op kulturele, ekonomiese en politieke terreine gehad het."

Die voorwoord is geskryf deur prof. Hermann Giliomee, historikus. Hy het destyds gesê hy reken Stals se manuskrip is onder die vier of vyf mees uitstaande historiese werke in Afrikaans.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ʼn ruim skenking gegee vir die druk van die boek. Prof. Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, sê die opname van historiese gebeure is vreeslik belangrik vir die voortbestaan van samelewings. "Die akademie wil 'n eietydse akademie wees vir wetenskaplikes, geskiedskrywers, kunstenaars en letterkundiges. Daarom sal ons in die akademie altyd probeer om ondersteuning te gee aan uitnemende publikasies van daardie aard."

Stals, wat by die boekbekendstelling ook 'n oorkonde van die AB se uitvoerende raad ontvang het, het ná die tyd gesê ander kultuurgemeenskappe moet ook hulstories skryf. "Dit was 'n voorreg om die boek te skryf en om aan te voel hoe ʼn kultuurgemeenskap se hart klop, en te besef kultuur is nie sommer net iets wat uit die duim gesuig word nie.

________________
Vir boekbestellings: 
Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 
 
Lede van die Afrikanerbond en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nog direk van ons kantoor af bestel: 

Bestellings vir die boek kan direk by die uitgewer geplaas word 

E-boek bestellings
https://www.kobo.com/za/en/ebook/die-broederbond 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: