Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 24 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Die Broederbond - Dr Dioné Prinsloo oor die boek 


KEURDERSVERSLAG AAN DIE SUID-AFRIKAANSE AKADEMIE VIR WETENSKAP EN KUNS 
Dr Dionē Prinsloo 

Die Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918 – 1994 
 Die ontwaking van die Afrikaner  - Prof ELP Stals  

Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond het die historikus, prof Ernst Stals genader om die geskiedenis van die eerste 75 jaar van die Afrikaner-Broederbond (AB) na te vors en op te teken. Aan hierdie opdrag het prof Ernst Stals uitmuntend voldoen en weer eens bewys waarom hy as ‘n bekroonde historikus wye aansien geniet en hoog geag word. Hy het ondermeer die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Besondere Erepenning vir Geskiedenis in 1988 en die Stalsprys vir Geesteswetenskappe in 2016 ontvang. Prof Stals was die ideale persoon om hierdie navorsing te onderneem – ook as die redakteur van Afrikaners in die Goudstad.  

In geskiedskrywing is dit noodsaaklik dat die optrede van mense beoordeel word teen die agtergrond van hulle eie tyd en nie vanuit perspektiewe van die hede nie. As deurwinterde historikus slaag prof Stals om die verloop en die ontwikkeling van die AB as organisasie sedert die stigting deur drie idealistiese jongmans in 1918 tot die kruin van die AB se bestaan in 1991 te ontleed. In 1991 het die AB 19 709 lede in 1 355 afdelings gehad en was die AB deel van ‘n vooruitstrewende Afrikaner- samelewing. 

Dié manuskrip is die verhaal van ‘n organisasie wat hom beywer het vir die herwinning van die Afrikaner se selfvertroue na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog 1899-1902. Verstedeliking, die armblankevraagstuk, woelinge op politieke terrein en uiteindelik die bereiking van republiekwording kom aan die bod. Prof Stals het grondige navorsing in veral die argief van die AB onderneem en die materiaal kronologies sowel as tematies geïnterpreteer en dit word vir die leser in ‘n logiese en deurgaans verantwoorde vorm aangebied. Hierdie werk is nie ‘n poging om die AB se soms omstrede optrede te regverdig nie, en is ook nie bloot ‘n opeenstapeling van feite nie. Nie net suksesverhale van die AB word ingesluit nie, maar ook mislukkings. Die balans word deurgaans gehandhaaf en die optrede van die AB word gemeet aan die eietydse situasie in Suid-Afrika op daardie stadium.  

Hiermee ‘n sterk aanbeveling dat die SAAWK dit sal oorweeg om ‘n ruim finansiële bydrae beskikbaar te stel om die publikasie van dié boek moontlik te maak. Die AB het ’n leidende rol in die verloop van die geskiedenis van SA in die 20ste eeu gespeel. Latere navorsers sal hier ‘n volledige, deeglik nagevorsde en gebalanseerde oorsig van die AB se wel en wee verkry. Ook die algemene leser sal die boek boeiend vind.  
   
Vriendelike groete  
Dr Dionē Prinsloo 
 Sien aangeheg ‘n oorsig van die inhoud van die manuskrip: 

 ‘n Oorsig van die inhoud van die  
Die Geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918 – 1994 
                       Die ontwaking van die Afrikaner 
                                           Prof ELP Stals  
Voorwoord; inleiding; breë lyne van die Afrikaner se ontwikkeling; drie afdelings; 16 hoofstukke; bronnelys; 3 bylaes naamlik Bondsrade 19211993; Lede van die Uitvoerende raad; en Statistiek van Afdelings en lede 1918-1991. 

Reeds ter inleiding word noodsaaklike agtergrondinligting in voëlvlug oorgedra en deurlopend word die geskiedenis van die AB teen die wyer agtergrond van SA gesien en ontleed. Die vroeë politieke geskiedenis (Botha, Smuts, Hertzog) word kernagtig en boeiend saamgevat.  

In drie afdelings konsentreer die skrywer op die opkoms van die AB 1918-1952; die AB in die hoogty van die Afrikaner 1953-1983; en hervorming in stormagtige tye 1983-1993. Elke tydperk word volledig aan die hand van toestande in Suid-Afrika bespreek en in historiese konteks geplaas. 

In afdeling 1 word gekyk na die Johannesburg van 1918 en die ontwikkeling van die organisasie om ‘n eie grondwet op te stel en koers vir die toekoms van Afrikaanse mans (Broeders) aan te dui. Die stelsel van Afdelings wat op gereelde basis vergader en dan op vasgestelde tye by Bondsrade verdere inligting ontvang en ook geleentheid kry om spesifieke uitdagings aan te spreek en insette te lewer, is vroeg reeds deel van die werkwyse van die AB. ‘n Vertroulike karakter was van meet af van groot belang en hierdie gebruik is vroeg verstewig. Oor die optrede na buite is indringend besin en op alle gebiede van die samelewing soos kultuur, ekonomiese sake, die onderwys en die verhouding met ander organisasies is ‘n stewige fondament gelê onder leiding van die Uitvoerende Raad en deur die aanstelling van bekwame organiseerders in die AB se kantoor.  

Die AB was sensitief tov politieke verskille en groot moeite is gedoen om nie by partypolitiek betrokke te raak nie, maar te streef na Afrikanereenheid (egter met wisselende sukses). Maatskaplike en ekonomiese opheffing was ‘n prioriteit en die Ekonomiese Volkskongres van 1939 het bygedra tot die verheldering van die strewe van die AB wat in 1943 sy 25-jarige bestaan feestelikheid gevier het.  

Van 1943 tot 1952 is veral die ideaal van Afrikanereenheid sentraal gestel en met die regeringsverandering in 1948 het die AB besin oor die toekomstaak van die organisasie. Die strewe na ‘n republiek is deur die AB ondersteun. Die AB se interne administrasie en finansies het in die tyd opnuut aandag gekry. Wat sosiale vraagstukke betref is die verhouding tussen die verskillende rasse ontleed en voorstelle gemaak oor toekomstige beplanning vir Suid-Afrika. Ekonomiese en kulturele aangeleenthede, kerke en ideologieë, kommunisme, onderwys en die jeug, sowel as die media, is ook bestudeer en leiding aan die afdelings gegee.   
Die jare 1953 tot 1983 was ‘n bloeityd vir die Afrikaner en ook vir die AB. Onder leiding van verskillende Voorsitters het die AB in getalle gegroei en het die Hoofkantoor met doeltreffende administrasie floreer. In 1953 het die rassevraagstuk opnuut uitdagings gestel en is verskeie nuwe gedagterigtings oorweeg. Ook was onderlinge verskille tussen die AB en SABRA verdelend en hieroor gee prof Stals noodsaaklike inligting gebaseer op sy navorsing.  

Hoofstuk 7 word gewy aan die kleurlinge (sic) en Indiërs en die AB het telkens sy standpunt gestel. In die daaropvolgende hoofstuk word die verhouding met swart mense ontleed en het die UR dit nodig gevind om tov die tuislandbeleid aanpassings te maak en te herposisioneer. In hoofstuk 9 behandel prof Stals die rol van die AB met betrekking tot staatkundige ontwikkeling en politieke verdeeldheid tussen 1953 en 1983. Ten spyte van die verwesenliking van die Republiek in 1961 en die AB se pogings om afstand te handhaaf tov onderlinge twiste onder Afrikaners moes die AB die politieke verdeeldheid oorleef en selfs die voorsitter (prof Carel Boshoff) se bedanking afdwing.  

Hierna is die op kultuur, kerk en ideologie en kom ds Beyers Naudé se bekendmaking van die name van AB-lede aan die Engelse pers ter sprake. Ook hier slaag prof Stals om emosie uit die insident(e) te hou en nogtans die gebeure volledig aan te teken. Hoofstukke 11 en 12 konsentreer op die AB se betrokkenheid by onderwys, die jeug en sosiale vraagstukke in die tydperk 1953-1983, terwyl die volgende hoofstuk oor die ekonomie in hierdie tydperk handel. 
 
Die slotafdeling konsentreer op “Hervorming in stormagtige tye” gedurende die 1983-1993 tydperk en die veranderinge wat die AB in dié jare aangepak het – veral in die ontwikkeling van ‘n toekomsstrategie vir die Afrikaner. Die pas van verandering in die land het versnel en ook die AB het gepoog om veranderinge in gesindhede te vergemaklik. Daar is gesoek na ’n geskikte staatkundige model en op alle ander terreine waarby die AB betrokke was is “Die grondslag en oogmerke van ons strewe” in aanmerking geneem. In hoofstuk 16, die laaste hoofstuk, gee die skrywer veral aandag die omvorming van die AB. Die ledetal het gedaal in die “Nuwe Suid-Afrika” en pogings is aangewend om die AB se beeld na buite in pas te hou. Die AB het besin oor sy karakter en die AB is herdoop tot die Afrikanerbond. Vroue is as lede aanvaar en die besluit geneem tov aanpassing, omvorming of ontbinding. Die Afrikanerbond het die 21 ste eeu betree, soos beskryf word in die werk deur prof OJO Ferreira wat die volgende 25 jaar van die Bond se geskiedenis opgeteken het met die oog op die eeufeesviering van die AB in 2018. 
 
 ____________________________________________________________________________________________________________

Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 


Die openhartige 720 bladsye boek is nou beskikbaar. By die lees van die verhaal oor die Afrikaner-Broederbond in sy geheel, is ʼn mens se gewaarwording dat in baie opsigte die hart van die Afrikaner hier blootgelê word. Dit is moontlik veral aangesien die bronne in ʼn gees van vertroulikheid geskep is en dus in ʼn besondere sin openhartig en onpretensieus van karakter is.

Prof Hermann Giliomee skryf: "Ek reken Stals se manuskrip onder die vier of vyf mees uitstaande historiese werke in Afrikaans
Enige akademiese navorser of persoon wat belangstel in die geskiedenis van die Afrikaner behoort die uitstaande werk van Ernst Stals te bekom.

________________
Vir boekbestellings:           
Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 
 
Lede van die Afrikanerbond en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nog direk van ons kantoor af bestel: 

Bestellings vir die boek kan direk by die uitgewer geplaas word 

E-boek bestellings
https://www.kobo.com/za/en/ebook/die-broederbond 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: