Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 24 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Die Broederbond - Prof Fransjohan Pretorius oor die boek 


KEURDERSVERSLAG AAN DIE SUID-AFRIKAANSE AKADEMIE VIR WETENSKAP EN KUNS 
PROF FRANSJOHAN PRETORIUS 

Die Broederbond - "Die geskiedenis van die AfrikanerBroederbond 1918-1994: Die ontwaking van die Afrikaner"

Ondergetekende ondersteun graag die aansoek van die Afrikaner-Broederbond dat befondsing beskikbaar gestel word ter ondersteuning van die publikasie van hierdie lywige manuskrip. 

Dit is 'n geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond wat in opdrag van sy Uitvoerende Raad geskryf is. Die dienste van prof. Ernst Stals, AB-lid, wat aan die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Namibië verbonde was, is verkry om ‘'n ten volle evaluerende geskiedenis wat 'n kritiese ondersoek en 'n perspektiefstelling binne die breër konteks behels" as mikpunt te stel. Die taak is vanaf Maart 1992 onderneem. Tot sy beskikking was die AB- argief, met onder meer notules van UR-vergaderings en —besluite. Die manuskrip is in 1998 voltooi, maar die AB is kennelik begerig om die inhoud daarvan in hierdie stadium aan die leserspubliek bekend te stel.

Hierdie manuskrip is 'n eerlike poging om die geskiedenis, rol en invloed van die AB in die Suid-Afrikaanse geskiedenis so objektief moontlik te boek te stel, gebaseer op die beskikbare AB-dokumente. En as sodanig is dit 'n lofwaardige poging.

'n Mens moet die aanslag en persoonlikheid van die skrywer in ag neem sy teks bewys dat hy geen sensasiesoeker is nie, maar die rustige, eerlike ondersoeker is wat geen wilde stellings maak nie of nie stellings maak wat nie uit die dokumente te agterhaal is nie- Opvallend is sy erns om negatiewe gebeure nie te verdoesel nie. Wanneer hy kontensieuse sake bespreek oor aanklagte oor die rol wat die AB gespeel het in 'n moontlike beïnvloeding van die regering deur die AB, bv. die aanklag van gen. J.B.M. Hertzog teen die AB, die Beyers Naudé-geval, of die Super Afrikaners-publikasie, stel hy die twee kante van die saak sonder om kant te kies. Vir sowel voor- as teenstanders van die AB kan dit frustrerend wees, maar dit is wel verhelderend en bied perspektiewe waarvan die leser kan kennis neem.

Flaptekste is soms misleidend-positief, maar wat vir die flapteks in die vooruitsig gestel word, kan gerus deur die leser in gedagte gehou word: "Hierdie verhaal, wat 'n lang tydperk dek, is 'n goeie illustrasie van die noodsaaklikheid om mense, hulle opvattings en gebeure teen die agtergrond van hulle tyd te verstaan. Daardeur word reg laat geskied aan die basiese eis dat geskiedskrywing daarop gemik moet wees om die verlede te beskryf 'soos wat dit eintlik was' Indien oordele uitgespreek word vanuit hedendaagse perspektiewe, word die verlede vervals. " Bygesê, ons het hier te make met 'n narratief wat waarskynlik nie deur andersdenkendes as "soos dit eintlik was", bestempel sal word nie. Nogtans bied dit 'n perspektief wat ernstig opgeneem moet te word.

Dit kom duidelik uit die teks na vore dat die AB nie die regering (en spesifiek die Nasionale Party-regering) was nie. Dat die organisasie wel dikwels deur byvoorbeeld lede van 'n komitee of kommissie by besluitneming betrokke was, word nugter deur die skrywer uitgewys. Ook maak hy geen aanspraak dat die AB in beheer van Afrikanerkwessies was nie — byvoorbeeld Afrikaner gerigte feesdae in die dertigerjare. Afrikaanse letterkunde, musiek, teater en geskiedskrywing het op die terrein van die FAK geval en sake van dié aard is na daardie organisasie, en soms ook na die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verwys.
Ondergetekende het tydens die lees van die teks 17 bladsye se aanhalings gekopieer wat hom moes help om tot 'n bevinding te kom. Dit is geensins die bedoeling om hulle almal hier weer te gee nie. Enkeles kan vir die leser as aanduiding dien wat van die teks te wagte kan wees.

p. 90: "Uiteindelik het dit vir die Hertzog- en Malanvolgelinge om 'n politieke magstryd gegaan en die UR [Uitvoerende Raad van die AB] kon nie altyd foutloos 'n objektiewe roete volg nie."
p. 123: "Terwyl die AB hom in die tydperk wat hier onder bespreking is [vroeg veertigerjare] meermale in die politieke vaarwaters bevind het, is nogtans met die uitbouing van die organisasie se werksaamhede op ander terreine voortgegaan. Dit was trouens in 'n belangrike mate aan hierdie ander nie-politieke werksaamhede, tesame met die goed gevestigde organisatoriese struktuur, te danke dat die beweging nie deur die politieke stormwinde uitmekaar gewaai is nie. Sake soos die maatskaplike en ekonomiese situasie van die Afrikaner en sy kultuurbelange het 'n bepaalde bestendigheid en sin aan die basiese bestaansrede vir die Bond verleen.' 
p. 176: "Dit het uit die vorige hoofstuk geblyk dat die AB gedurende die dertigerjare wel by die politiek in Suid-Afrika betrokke begin raak het, as 'n feitlik onvermydelike uitvloeisel van sy doelstellings en die verskeurdheid onder die Afrikaners. Dit het verder geblyk dat daar 'n veel groter raakvlak tussen die politieke beskouings en oogmerke van die AB en die HNP [Herenigde Nasionale Party] was as tussen dié van die AB en die VP. Daarmee het die AB se politieke beskouings 'n partypolitieke kleur gekry, ten spyte daarvan dat dit nie die Bond se bedoeling was nie en herhaaldelik gepoog is om dit te vermy. Dit is egter ook waar dat die sinistere beeld wat van die AB en die politiek geskep is nie met die werklikheid ooreengestem het nie."
p. 203: "As die vraag egter gestel word in hoe 'n mate die AB vir die ontwikkeling en formulering van die apartheidsbeleid, waarmee die HNP die verkiesing in 1948 gewen het, verantwoordelik was, kan hoogstens gesê word dat die Bond daartoe ingestem en dit ondersteun het. Sover dit beleidsformulering betref, is die grondslae vir die apartheidsbeleid sonder twyfel deur die twee groot politieke partye - die SAP/VP en die NP - gelê. "
p. 216: "Dit sou egter beslis 'n fout wees om die rol van Afrikaanse sakeleiers soos Louw, C.G.W. Schumann, Anton Rupert (Rembrandt Tabakmaatskappy), C.H. Brink (FVB), W.B. Coetzer, J.G. van der Merwe en selfs L.J. du Plessis, J.J. Bosman en T.E. Dönges, wat almal lede van die AB was, aan hulle lidmaatskap van die Bond te koppel. Hierdie persone, soos ook talle op ander lewensterreine, het selfstandig opgetree en het 'n invloed op die AB uitgeoefen, eerder as wat hulle optrede en denke deur die AB beïnvloed is.'"
p- 293: Die uitvoering van die apartheidsbeleid tussen die jare 1948 en 1966 was in hoofsaak in die hande van persone soos Malan, Strijdom, Verwoerd, Tomlinson, ens.: "Al hierdie persone was lede van die AB, asook talle mindere figure in die politiek en staatsadministrasie. Bloot op grond hiervan sou geoordeel kon word dat die AB 'n reuse rol gespeel het. Sò 'n gevolgtrekking moet egter eers noukeurig oorweeg word in die lig van wat werklik binne die Bond aan die gang was." En dan besluit die skrywer dat die AB "die segregasiebeleid in beginsel ondersteun en het dit as die tradisionele siening van die Afrikaner i.v.m. die verhouding tussen blankes en nieblankes beskou. Die party en die Bond was dus karperde wat op hierdie terrein saam in een tuig sou trek." Die AB was ondersteunend, nie leidend nie.
p. 293: "Terwyl die NP-regering met groot ywer besig was om sy ondernemings t.o.v. die apartheidsbeleid in dade om te sit, was daar in die AB gedurende die vyftigerjare nie veel meer as 'n passiewe aanvaarding van en vereenselwiging met hierdie maatreëls nie- Daar is weinig aanduidings dat die Bond hom enigsins ernstig met besinning oor die vraagstuk besig gehou het."

Tussen 1975 en 1983 was daar 'n aktiewe betrokkenheid van die AB by politieke denke: p. 621 'Terugskouend het die AB dus oor 'n hele aantal jare, vanaf ongeveer 1975, 'n aktiewe betrokkenheid by die denke oor staatkundige ontwikkeling gehandhaaf. Die Bond het 'n substansiële en selfs inisiërende aandeel in die totstandkoming van die 1983-grondwet en die insluiting van die Kleurlinge en Indiërs in die politieke proses van die land gehad. Wat die vraagstuk van swart deelname aan die regering betref, het die AB wesenlik tot die ontwikkeling van strukture op plaaslike vlak bygedra. Interne verdeeldheid het gedurende die vroeë tagtigerjare tot 'n insinking in die Bond se deelname gelei, waarna die konstitusionele debat weer met horte en stote momentum opgebou het, totdat die daadwerklike politieke inisiatiewe [van die regering] sedert 1990 die gang van die konstitusionele proses oorheers het"
p. 347: 'n AB-komitee in 1969 onder Gerrit Viljoen, in die woorde van die sekretariële verslag: "Die U.R. is hom wel deeglik daarvan bewus dat ons 'n belangrike fase in die ontplooiing van ons beleid van afsonderlike ontwikkeling bereik het en dat ons organisasie alles in ons vermoë moet doen om die regte openbare klimaat [my klem] vir die logiese deurvoering daarvan te skep."
p. 612: Op soek na 'n nuwe staatkundige bedeling vir Suid-Afrika: "Ten einde die AB se denke direkter met dié van die regering te koördineer, is die Adjunk-minister van Staatkundige Ontwikkeling, R.P. Meyer, na die vergadering van die [AB-]komitee op 23 Januarie 1989 uitgenooi. Meyer het inligting verskaf oor die beraadslaginge in amptelike kringe en ook die komitee uitgenooi om die resultaat van hulle besinning beskikbaar te stel.. Hy het trouens 'n noue verbintenis met die komitee behou. Die inhoud van die wisselwerking tussen hom en die komitee word egter nie in die dokumentasie weerspieël nie. Dit was egter waarskynlik so dat die komitee deur regeringsdenke beïnvloed is, eerder as andersom. [my klem]
p. 614: Re onderhandelinge met die ANC: "Die AB het geen rol in hierdie besluit [oor vrylating Mandela, ontbanning ANC] gespeel nie, maar is wel daarop voorberei in 'n ontmoeting van die Minister van Staatkundige Ontwikkeling (dr. G. van N. Viljoen) en sy adjunk (Roelf Meyer) met die UR se Staatkundige Komitee op 27 November 1989."
p. 619: "Dit het vir die AB [teen September 1990] duidelik begin word dat die proses van onderhandeling en grondwetskrywe uitsluitlik 'n aangeleentheid van die politieke partye geword het."

Hier is dus 'n teks wat die denke sal prikkel en wat 'n wye leeskring sal geniet — en verdien. Graag ondersteun ek die organisasie se aansoek om befondsing. Ek mag byvoeg dat ek in geen stadium 'n lid van die AB was of is nie-

Prof. Fransjohan Pretorius

7 Januarie 2020 

____________________________________________________________________________________________________________

Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 


Die openhartige 720 bladsye boek is nou beskikbaar. By die lees van die verhaal oor die Afrikaner-Broederbond in sy geheel, is ʼn mens se gewaarwording dat in baie opsigte die hart van die Afrikaner hier blootgelê word. Dit is moontlik veral aangesien die bronne in ʼn gees van vertroulikheid geskep is en dus in ʼn besondere sin openhartig en onpretensieus van karakter is.

Prof Hermann Giliomee skryf: "Ek reken Stals se manuskrip onder die vier of vyf mees uitstaande historiese werke in Afrikaans
Enige akademiese navorser of persoon wat belangstel in die geskiedenis van die Afrikaner behoort die uitstaande werk van Ernst Stals te bekom.

________________
Vir boekbestellings:           
Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 
 
Lede van die Afrikanerbond en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nog direk van ons kantoor af bestel: 

Bestellings vir die boek kan direk by die uitgewer geplaas word 

E-boek bestellings
https://www.kobo.com/za/en/ebook/die-broederbond 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: