Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 24 Mei  2021
Terug na e-Afrikaner

Die Broederbond - Prof Henning van Aswegen oor die boek 


Prof Henning van Aswegen  (Verslag aan die AB se Nasionale Raad) 

ELP Stals: DIE BROEDERBOND. Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918 — 1994. Publikasie deur die Nasionale Raad van die Afrikanerbond, Februarie, 2021.

Die geskiedenis van Suid-Afrika en meer spesifiek die geskiedenis van die Afrikaners in die loop van die 20e eeu kan nie geken en verstaan word sonder ‘n deeglike kennis van die werksaamhede en invloed van Die Afrikaner-Broederbond (AB) nie. Hierdie organisasie het vanaf sy ontstaan in 1918 en in die dekades daarna tot aan die einde van die eeu 'n uiters belangrike rol gespeel in haas elke faset van die Afrikaner se politieke, ekonomiese en sosiale lewe en het in simbiose met die ander "volksorganisasies" soos die Handhawersbond, FAK, Voortrekkers e.a. ‘n bepalende rol in die lewe en denke van die Afrikaners gespeel, al was die meerderheid Afrikaners nie lede daarvan nie. Dit is om die rede dat die publikasie van hierdie belangrike manuskrip in boekvorm so belangrik is, trouens dit moes al etlike jare vroeër plaasgevind het.

Dit is ʼn lywige boek van 720 bladsye bestaande uit 16 hoofstukke plus ‘n aantal bylae, 'n volledige bronnelys en 'n baie nuttige indeks. Die eerste vier hoofstukke dek die ontstaan, vroeë organisasie en geleidelike ontwikkeling en groei van die AB vanaf 1918 tot 1952. Die outeur neem die leser stelselmatig deur die ontwikkelingsjare waartydens die AB sy sentrale organisasie gevestig het en plaaslike rade en selle se strukture gevorm is. Dit is 'n tyd waarin kernsake geformuleer en hulle optrede na buite in alle erns beplan en geloods is. Afrikaner eenheid en die maatskaplike opheffing van die arm Afrikaners was dadelik hoë prioriteite, terwyl alle fasette van die Suid-Afrikaanse politiek soos die rassevraagstuk, immigrasie, onderwys, landbou en arbeid ook hoog op hulle agenda was. Hierdie groeifase is ook gekenmerk deur die negatiewe houding van die onderskeie regerings (Hertzog en Smuts) teenoor die AB en hoe dit hierdie liggaam se ledetal en optrede onder groot druk geplaas het. Die outeur beskrywe hierdie gebeure in besonderhede en pluis die aksies van die AB en die wisselwerking met die regerings met kundigheid uit. Daar word nooit die indruk geskep dat die AB oorheersende rol gespeel of die hooffiguur op die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en kulturele toneel was nie, maar die leser bly bewus van die aktiewe aanwesigheid van die AB en sy invloed op die terreine.

Die periode 1953 tot 1983 was vir die Afrikaner 'n tyd van konsolidering van politieke mag en 'n hoogtebloei op talle terreine. Dit was ook ‘n tyd waarin die AB tot sy volle ontplooiing gekom en ‘n veel beduidender rol in alle fasette van die landspolitiek en kulturele lewe van die Afrikaners gespeel het. Die Nasionale Party het in die jare die brandende rassevraagstuk en talle ekonomiese en sosiale probleme aangepak en op dié terreine met die ingewikkelde probleme van ‘n land met 'n groot aktiewe swart bevolking en die interafhanklikheid van blank en swart geworstel. Die AB het ook met die probleme geworstel en met verskeie moontlike oplossings voor 'n dag gekom. Dit was duidelik dat hulle nou ‘n meer aktiewe en invloedryke rol gespeel het en ook dat binne die geledere van die AB daar ʼn verskeidenheid van menings en soms ernstige verskille was wat tot groot interne spanning gelei het. Weer eens voer die outeur die leser op ‘n weloorwoë reis deur die ingewikkelde vraagstukke en lig die rol van die AB daarin kundig toe. Die verhouding tussen regering, party en AB word fyn ontleed en die binnewerkinge van die AB met sterker wordende uiteenlopende menings en politieke agendas in die Uitvoerende Raad wat tot uiteindelik tot skeuring sou lei, word met gesag behandel.

Die jare 1983 tot en met 1994 was krisisjare vir die Nasionale Party, die blankes van Suid-Afrika en ook vir die AB. Drukfaktore van binne en buite Suid-Afrika het verandering genoodsaak en die AB het dringend en ernstig besin oor ‘n moontlike aanvaarbare staatkundige bedeling wat blank en swart tevrede sou stel en die Afrikaners steeds beskerm. Die outeur slaag uitmuntend daarin om die dwingendheid en erns van die AB se soeke na 'n oplossing te ontleed, asook om die magteloosheid en ten dele koersloosheid van die organisasie aan die kaak te stel. Teen 1990 het die AB haas irrelevant geword en in 1993/94 is dit tot die Afrikanerbond herdoop.

Vir die skryf van 'n goeie, aanvaarbare en geloofwaardige geskiedeniswerk is daar altyd bepaalde voorvereistes:
  • Die werk moet berus op omvattende en deeglike navorsing. In die verband voldoen hierdie manuskrip in 'n hoë mate daaraan. Die Bronnelys agter in die werk toon die omvang van die navorsing duidelik. 'n Groot aantal sekondêre bronne is geraadpleeg wat noodsaaklik is om die tema in sy breëre konteks te plaas en die menings van ander outeurs te bepaal. Die kern van die navorsing was die dokumente opgeneem in die Argief van die AB. Dit is ʼn omvattende reeks dokumente wat alle fasette van die werksaamhede van die organisasie dek. Hieruit is die meeste boustene vir die werk verkry. Enkele ander kleinere dokumenteversamelings en koerantberigte is ook geraadpleeg. Daar is ook samesprekings met enkele Uitvoerende Raadsvoorsitters gevoer wat belangrike mondelinge inligting verskaf het. Die skrywer stel dit duidelik in die voorwoord tot die werk dat hy nie alle AB dokumente geraadpleeg het nie. Dit geld hoofsaaklik vir die dokumente van die AB takke, asook die dokumente van die ander mede Afrikaner organisasies met wie die AB noue bande gehad het. Dit sou die omvang van die navorsing uiteraard aansienlik laat toeneem het. Die outeur was van mening dat dit nie vir die fokus van die studie noodsaaklik was nie en dat dit uit ʼn tydsoogpunt nie haalbaar sou wees nie. Dit is jammer aangesien veral uit die dokumente van die takke kon daar sekerlik goeie inligting vir die funksionering van die AB op voetsoolvlak verkry word. Dit doen egter min afbreek aan die omvang en diepte van die navorsing wat gedoen is.
  •   Die versameling van materiaal is relatief waardeloos as daardie materiaal nie in geordende samehangende geheel saamgebind word nie, m.a.w. in struktuur geplaas is waarbinne die verhaal logies en verstaanbaar vertel kan word. Soos hierbo aangetoon het die skrywer besluit om die AB se geskiedenis chronologies aan te bied en binne die chronologie te fokus op die kern temas waarop die AB sy werksaamhede gefokus het. Dit gee aan die werk 'n vaste struktuur en die outeur het op die wyse nie alleen die groei van die AB nie, maar ook sy optrede oor die jare netjies en verstaanbaar aangebied. Die chronologiese aanbieding bring uiteraard mee dat die sentrale temas (politieke en sosiale vraagstukke, die ekonomie en rassevraagstuk ens.) versnipper word en die leser sukkel om ‘n geheelbeeld van elk te kry. Maar dit is 'n keuse wat die outeur gemaak het en hy slaag steeds daarin om die geskiedenis van die AB op oortuigende wyse weer te gee.
  •   Een van die groot intellektuele eise aan die historikus is om die magdom versamelde stof wat sy navorsing opgelewer het, te verwerk, diepgaande te ontleed sodat hy die werklike inhoud, betekenis en logiese samehang van die los dele daarvan kan bepaal. Dit verg harde intellektuele werk wat die grondslag lê vir die geloofwaardigheid van die werk en wat dit die stempel van kwaliteit verleen. In die opsig sien mens die hand van die meester in die werk. Hy was deurentyd in beheer van sy materiaal; hy het geen gevolgtrekkings gemaak wat hy nie kon substansieer nie; hy fokus met insig op die belangrike elemente rondom die AB se denke en werksaamhede en bou so ʼn netjiese aaneenlopende en insiggewende verhaal. Hy is nie blind vir die foute en mistastings van die AB nie, ook nie vir die interne spanninge wat van tyd tot tyd voorgekom het nie. Hy hanteer hierdie aspekte egter met 'n goeie aanvoeling vir die omstandighede van die tyd waarin dit voorkom en bied verklarings vir hierdie gebeure. Hy ontleed die kritiese werke wat oor die AB geskryf is noukeurig en wys op die sterk en swak punte van hierdie werke wat dikwels inderhaas geskryf is om sensasie te verwek. Hy verwerp die spekulasie en halwe waarhede wat in van die boeke opgedis is en stel die verdraaide feite en bevindings in die korrekte lig. Hy projekteer nie die AB as 'n super-Afrikaner organisasie met omvangryke magte en onbeperkte invloed nie. Inteendeel hy gee ‘n nugtere beskrywing van die groot en soms lompe organisasie wat daagliks met sy eie interne probleme ook moes worstel in sy pogings om sy groter ideale te bereik. Wat sy aanslag des te merkwaardiger maak is dat hy hoofsaaklik met stof uit die AB argiewe werk wat so maklik kon lei tot 'n eensydige beeld van die AB as die dominante faktor in die geskiedenis van die Afrikaner. Sy ingeboude sin vir "objektiwiteit" en die waarheid het hom deur hierdie slaggate gelei en die resultaat is 'n boek wat jare lank sal geld as die standaardwerk oor die AB. 
  •   Die skrywer moet deurentyd d.m.v. voetnote na sy bronne verwys om die oorsprong van die bronne te bevestig. Daardeur kan kontrole oor die bronne en bevindinge van die skrywer uitgeoefen word. Dit is wetenskaplik noodsaaklik en bevestig die geloofwaardigheid van die navorsing. Hierdie werk voldoen in alle opsigte aan die vereiste. Die talle voetnote en die netjiese versorging daarvan is 'n duidelike teken van ʼn gesoute historikus wat die waarde van netjiese en korrekte bronneverwysings ken. Alle geraadpleegde werke, sekondêre sowel as primêre bronne, word volledig in ʼn omvattende bronnelys aangedui. 

Die werk is nie sonder gebreke nie. Mens sou graag meer insig in die rol van die vername leiersfigure van die AB wou gehad het. Mense soos o.a. HJ Klopper, HB Thom, JC van Rooyen en later PJ Meyer, G van N Viljoen en JP de Lange. In welke mate was hulle die aanvoorders van nuwe denke oor staatsake of was hulle maar net deel van kollektiewe besluitneming in die Uitvoerende Raad? Aan die ander punt van die spektrum sou die posisie en rol van die plaaslike AB afdelings en hulle lede baie interessante en waardevolle inligting kon oplewer. Hoe het hulle binne hulle gemeenskappe gefunksioneer? Mens is egter bewus daarvan dat so iets ʼn studie op sy eie sou verg. Die werk is dig gepak met feite en is beslis nie ligte leesstof nie. Dit gaan heelwaarskynlik die fynproewer bevredig, maar nie die algemene publiek nie. Dit is helaas die geval met talle diepdelwende historiese studies.

Daar bestaan by my geen twyfel dat hierdie manuskrip gepubliseer moet word nie. Dit is 'n werk van hoogstaande gehalte en die enigste omvangryke en geloofwaardige werk wat tot op hede oor die AB geskryf is. Dit is ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaner se geheue van sy verlede en sal lank die standaard werk oor hierdie organisasie bly.

HJ van Aswegen
Krugersdorp 31/12/2020

____________________________________________________________________________________________________________

Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 


Die openhartige 720 bladsye boek is nou beskikbaar. By die lees van die verhaal oor die Afrikaner-Broederbond in sy geheel, is ʼn mens se gewaarwording dat in baie opsigte die hart van die Afrikaner hier blootgelê word. Dit is moontlik veral aangesien die bronne in ʼn gees van vertroulikheid geskep is en dus in ʼn besondere sin openhartig en onpretensieus van karakter is.

Prof Hermann Giliomee skryf: "Ek reken Stals se manuskrip onder die vier of vyf mees uitstaande historiese werke in Afrikaans
Enige akademiese navorser of persoon wat belangstel in die geskiedenis van die Afrikaner behoort die uitstaande werk van Ernst Stals te bekom.

________________
Vir boekbestellings:           
Die Broederbond 
– Die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond 1918-1994.” 
Deur Prof ELP Stals 
Met voorwoord deur Prof Hermann Giliomee 
 
Lede van die Afrikanerbond en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nog direk van ons kantoor af bestel: 

Bestellings vir die boek kan direk by die uitgewer geplaas word 

E-boek bestellings
https://www.kobo.com/za/en/ebook/die-broederbond 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: