Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 12 November  2021
Terug na e-Afrikaner

FW De Klerk se toespraak tydens AB Bondsraad - 29 Mei 2015


TOESPRAAK DEUR VOORMALIGE PRESIDENT FW DE KLERK
AAN DIE BONDSRAAD VAN DIE AFRIKANERBOND, VOORTREKKERMONUMENT, PRETORIA
29 MEI 2015

FW DE KLERK - ONS TOEKOMS IS IN ONS EIE HANDE

Dit is ‘n groot eer vir my om hierdie belangrike vergadering van die Bondsraad by die Voortrekkermonument toe te spreek - hierdie nasionale gedenkwaardigheid wat so belangrik is vir die identiteit, die geskiedenis en die siel van ons mense.  

Dit is ook ‘n gepaste tyd vir die Bondsraad om plaas te vind. Die AB se voorganger het ‘n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van ons mense gedurende die twintigste eeu - eerstens wat die herlewing van Afrikaner-nasionalisme ná die Eerste Wêreldoorlog betref en toe in die politiek van die Afrikaners in die ontstuimige jare wat daarop gevolg het.  

Die AB het ‘n leidende rol gespeel as intellektuele klankbord in die daarstelling van aparte ontwikkeling. Toe dit duidelik geword het dat aparte ontwikkeling nie ’n regverdige oplossing vir ons ingewikkelde probleme sou kon bied nie, het die AB - onder leiding van veral prof De Lange - gehelp om die weg te baan vir ’n onderhandelde oplossing – ‘n oplossing wat die regte en vryhede van alle Suid-Afrikaners kan beskerm.

Dit is nou 21 jaar sedert die aanvang van ons nuwe grondwetlike demokrasie. Gedurende hierdie tydperk het ons grondwet ’n raamwerk daargestel vir relatiewe vrede en vooruitgang. Ons is weer eens ‘n volwaardige lid van die internasionale gemeenskap; ons kan ons mede-Suid-Afrikaners as gelykes in die oë kyk; ons ekonomie is drie keer groter as wat dit in 1994 was; en die meeste wit mense het voorspoed beleef - meer so as enige van ons ander gemeenskappe.

Daar is baie kritici van die besluite wat ons aan die begin van die 1990s geneem het. Sommiges sê ons moes vasklou aan die ou bedeling. Ander beweer ons kon ’n beter ooreenkoms onderhandel. Sommige dink ons kon een of ander vetoreg vir minderhede beding het.  

Laat ek dit duidelik stel: indien ons nie so gou as moontlik - na die ineenstorting van die Sowjet-Unie - ‘n skikking bereik het nie, sou die balans van magte onverbiddelik - en baie vinnig - teen ons gedraai het. Met elke jaar wat ons langer sou wag sou ons vermoë om ons kern belange te verseker, verswak- presies wat met Ian Smith in Rhodesië gebeur het.

Om aan die mag van destyds vas te klou was eenvoudig net nie ’n opsie nie. Ons sou waarskynlik kon voortgaan om Suid-Afrika vir nog 15 tot 20 jaar onder toenemend moeilike omstandighede te regeer. Ons sou heeltemal geïsoleerd geraak het. Ons ekonomie sou verlam word. ‘n Hoë persentasie van die wit bevolking sou geëmmigreer het. Ons jong mans sou die helfte van elke jaar op die grense moes veg of oproerigheid in townships moes onderdruk. Inter-rassige vyandigheid sou toegeneem het tot ‘n vlak wat ’n wedersyds aanvaarbare, onderhandelde oplossing minder en minder moontlik sou maak met elke jaar wat verby gaan.

Ander wou gehad het dat ons ‘n wit tuisland êrens in die land moes vestig. Daar is en was egter geen plek in Suid-Afrika waar wit mense naastenby ‘n meerderheid uitmaak nie. Daar was nie ‘n kans dat wit mense hul gemaklike lewens in ons stede sou prysgee en na verafgeleë gebiede sou trek om ‘n nuwe staat te stig nie.

Diegene wat dink dat ons ‘n vetoreg vir minderhede kon beding, verkeer onder ‘n totale wanindruk. Sodanige uitkoms sou heeltemal onaanvaarbaar gewees het vir die grootste meerderheid van Suid-Afrikaanse burgers - en die internasionale gemeenskap sou dit ook nooit aanvaar nie.

Soos dit staan het ons ‘n Grondwet onderhandel waarin alle partye pynlike kompromieë moes aangaan.  

Soos Ngoako Ramathlodi ‘n paar jaar gelede toegegee het, het die balans van magte ten tyde van die onderhandelings die ANC gedwing om reuse toegewings te maak. Hy het gekla dat terwyl die ‘regime’ elemente van politieke mag aan die swart meerderheid toegestaan het, wesenlike mag ook weggeneem is van die wetgewer en die uitvoerende gesag en dat dit in die regbank, Hoofstuk 9-instellings en die burgerlike samelewing gevestig is. Gevolglik, volgens hom, “the black majority enjoys empty political power while forces against change reign supreme in the economy, judiciary, public opinion and civil society.”

Hy het voorts gekla oor hoe “white economic interests” litigasie gebruik om inisiatiewe, gerig op fundamentele verandering, te beperk. 

Terselfdertyd bestaan daar geen twyfel dat die Grondwet onder toenemende druk verkeer nie.  

Van alle kante sien ons die stelselmatige en doelbewuste erosie van die regte en vryhede vervat in die Grondwet.  

Dit is nie my bedoeling om vandag te praat oor die agteruitgang van die nuwe Suid-Afrika, sedert die 2007 oorwinning van die SAKP en COSATU by die ANC se nasionale konferensie by Polokwane nie. Tydens ‘n paneelbespreking saam met voormalige President Motlanthe op 21 Mei het ek uitgewei oor die bedreigings wat ons nou die hoof moet bied. My toespraak is op die webstuiste van die FW de Klerk Stigting vir diegene wat belang stel in my menings oor die situasie waarin ons onsself tans bevind.

Feit is dat die situasie baie ernstig is.

Ek wil vandag eerder praat oor die toekoms en wat ons sal moet doen indien ons ons posisie in ons pragtige land wil verseker. Die boodskap wat ek wil oorbring, is dat ons toekoms weer eens in ons eie hande is - soos so dikwels in die verlede tydens ons onstuimige geskiedenis.

Eerstens dink ek dis belangrik vir ons om te definieer wie presies ons is.

Ons het verskeie identiteite:
  • Ek is FW de Klerk, ‘n individuele persoon.
  • Ek behoort aan die De Klerk, Coetzer, Van Rooy en Fouché-families.
  • Ek is ‘n lid van die Gereformeerde Kerk.
  • Ek is ‘n Afrikaner.
  • Ek praat Afrikaans – so ek is ook ‘n Afrikaanse.
  • Ek is ‘n Suid-Afrikaner.
  • Ek is ‘n Afrikaan.
  • Ek is ook ‘n lid van die groot Wes-Europese Kultuur.
  • Ek is ‘n burger van die wêreld.
Geen van hierdie identiteite is wedersyds uitsluitend nie. Almal van hulle verryk my en maak my wie ek is. Ek is trots op almal van hulle en nie skaam vir enige een van hulle nie.

Hierdie identiteite word almal deur ons Grondwet erken en beskerm. Hulle is almal belangrik vir my menswaardigheid - die grondliggende waarde waarom die res van die Grondwet wentel.

Die probleem is dat twee van hierdie identiteite - my identiteit as Afrikaner en Afrikaanse - onder enorme druk verkeer.  

Die ANC/SAKP-alliansie probeer om my skaam te maak oor my Afrikanerskap:
  • Ons President vertel vir ons dat al die probleme van Suid-Afrika begin het met die aankoms van ons voorvaders in die Kaap 363 jaar gelede.
  • Die President en voorste lede van sy regering verwys toenemend na ons as “kolonialiste” - asof ons indringers is wat onlangs hier aangekom het en oor geen historiese regte of eise beskik nie;
  • By elke geleentheid blameer die ANC-regering sy eie mislukkings op die beleidsrigtings van regerings wat voorheen deur Afrikaners gelei is;
  • Die ANC laat min geleenthede verby gaan sonder om te beweer dat die beleid van voormalige regerings wat deur Afrikaners gelei is “’n misdaad teen die mensdom” was;
  • Hulle verskerp oral hul aanvalle op ons nasionale simbole en erfenis. Hulle wil standbeelde van ons helde wegbêre in ‘n soort “Boerassic Park”. En wanneer ek van helde praat bedoel ek nie tipiese politici nie. Ek praat van die Paul Krugers en die Christiaan de Wets.  
  • Afrikaans word nie meer billik of met gelykheid van aansien behandel nie, ten spyte van die duidelike vereistes van die Grondwet. Engels word oral as die de facto enkele amptelike taal op die land afgedwing.
  • Ons Minister van Hoër Onderwys en Opleiding sê vir ons dat daar geen plek vir ‘n Afrikaanstalige universiteit is nie.
  • Die Departement van Onderwys in Gauteng probeer parallelmedium onderrig op nie-rassige Afrikaanse enkelmedium skole afdwing. Hulle weet baie goed dat wanneer ‘n streekstaal gedwing word om in opvoedkundige instellings met ‘n wêreldtaal mee te ding, die wêreldtaal uiteindelik die streekstaal vervang.
Ongelukkig is baie van ons mense reeds sterk deur hierdie stortvloed van kritiek beïnvloed - tot op die punt waar hulle nou skaam is om hulself Afrikaners te noem.

Hierdie skuldgevoel is ondermynend en verhoed ons dikwels om op te staan vir die regte wat ons in die Grondwet onderhandel het.  
  • In die voortgesette debat oor die toekoms van Afrikaanstalige universiteite, het Afrikaanse intellektuele dikwels die ANC se weergawe van transformasie gesteun; 
  • Baie aanvaar die ANC se grondwetlik ongegronde standpunt dat alle instellings die demografie van die land moet weerspieël;   
  • In Nedlac vind mens dat groot maatskappye - sommige onder leiding van Afrikaners - dikwels die ANC se ideologiese programme navolg. Min waag dit ooit om hul teen regeringsinisiatiewe uit te spreek - ten spyte van die skade wat dit aan hul eie belange kan of sal doen. Hulle het onlangs die opspraakwekkende Onteieningswetsontwerp goedgekeur. Sodoende het hulle ingestem tot die ontwerp van ‘n stelsel wat hulle en hul eiendomsregte eendag moontlik kan vernietig. 
Sommige Afrikaners volg anti-wit ANC-beleidsrigtings na omdat hulle bang is; ander volg dit na omdat hulle deur hul eie historiese skuldgevoel verlam word.

Die eerste ding wat ons moet doen om ons toekoms as Afrikaners te verseker, is om ’n gebalanseerde siening van ons verlede te ontwikkel en om te ontsnap aan die skuldgevoel wat veroorsaak dat so baie van ons skaam is vir wie ons is.

Laat ek dit dadelik duidelik stel dat – wanneer ek hierdie dinge sê - dit nie my bedoeling is om apartheid te regverdig nie.  

Apartheid het politieke regte en vryhede van diegene wat nie wit is nie ernstig beperk en was ’n belediging vir hul menswaardigheid. Dit het hul vermoë om aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem, beperk; dit het tot die gedwonge verskuiwing van meer as drie miljoen mense gelei; en meer as 17 miljoen mense is in hegtenis geneem vir pas-oortredings.

In Mei 1996 het ek voor die Waarheids- en Versoeningskommissie opreg om verskoning gevra vir al die ongeregtighede wat apartheid veroorsaak het. Selfs meer belangrik is die feit dat die Nasionale Party ses jaar vantevore die proses om apartheid af te skaf ingelui het en die leiding geneem het in die daarstelling van ’n nie-rassige grondwetlike demokrasie.

Maar was apartheid ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ soos wat die ANC so dikwels aanvoer?
 
Die Instituut vir Geregtigheid en Versoening het vroeër hierdie jaar berig dat 52.8% van wit mense steeds so dink - maar is hulle reg?
 
Eerstens moet ons kyk na die oorsprong van die klagte: 

In November 1966 het die VN se Algemene Vergadering verklaar dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is - en in 1973 het dit die Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid aanvaar.  

Beide die resolusie en die Verdrag was politieke inisiatiewe van die Sowjet-Unie - wat self wesenlike misdade teen die mensdom gepleeg het - met inbegrip van die uitwissing van miljoene mense. In 1976 toe die Verdrag in werking getree het, was 23 van die 31 ondertekenaars volgens Freedom House “nie vry nie”. Ses was “gedeeltelik vry” en slegs twee was “vry”. Ironies genoeg is Suid-Afrika geklassifiseer as “gedeeltelik vry” - en het oor ‘n beter punt vir menseregte beskik as 27 van die ondertekenaars.

Die 109 state wat gevolglik by die Verdrag aangesluit het sluit nie een van die belangrike demokrasieë in nie - selfs nie die groot ondersteuners van die ANC soos Swede of Noorweë nie. Die Verenigde State se afvaardiging het die volgende aangevoer:

“Deplorable as it is, we cannot, from a legal point of view, accept that apartheid can in this manner be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly construed under existing international law...”

Die idee dat apartheid ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ was, is steeds en was, ‘n ‘agitprop’-projek wat deur kommuniste ingestel is om wit Suid-Afrikaners te stigmatiseer deur hulle te assosieer met werklike misdade teen die mensdom - wat oor die algemeen totalitêre onderdrukking en die slagting van miljoene mense ingesluit het.

In teenstelling hiermee is 23 000 mense dood tydens Suid-Afrika se politieke geweld tussen 1960 en 1994 - waarvan minder as 4 000 se dood deur veiligheidsmagte veroorsaak is. Die meeste van die res van die sterftes het voorgekom tydens die konflik tussen die IVP en die ANC. In Kenia het die Britte meer as 320 000 mense geïnterneer tydens die Mau-Mau opstand en meer as ‘n duisend lede van die Mau-Mau gehang. In Algerië het die Franse die dood van meer as 140 000 mense veroorsaak in ‘n oorlog wat meer as 700 000 lewens geëis het.

Dit is ook ongewoon dat - waar misdade teen die mensdom ter sprake is - 
  • Die aandeel van die onderdruktes in nasionale inkomste in 25 jaar byna verdubbel het - van 28% in 1970 tot byna 50% in 1994;
  • Verrykende hervormings - met inbegrip van vakbondregte - die mag van die onderdruktes bevorder;
  • Die onderdruktes van enklawes voorsien word - met inbegrip van ‘n derde van hul bevolking - waar hulle vry is van die onderdrukker se wette;
  • Onderwysvlakke van die onderdruktes vining verbeter - met 12 keer meer swart mense wat matriek in 1994 slaag as in 1980 - en met meer swart mense as wit mense in 1994 by universiteite; of dat
  •  65% van die onderdrukkers se belastinggeld bestee word aan maatskaplike dienste vir die onderdruktes.  
Niks hiervan het ten doel om die ongeregtighede wat tydens apartheid gepleeg is, goed te praat nie. Ons moet egter ‘n gebalanseerde insig oor ons verlede ontwikkel - nie een wat gebaseer is op ’n eenvoudige swart-/wit-, goeie-/bose-raamwerk nie - maar ‘n raamwerk wat die oneindige skakerings van grys wat ons geskiedenis reflekteer.  
 
Afgesien van die ongeregtighede wat tydens apartheid gepleeg is, moet ons ook die volgende in gedagte hou:
  • Die ingewikkelde geskiedenis wat die situasie geskep het waarin wit Suid-Afrikaners hulself in die 80s bevind het;
  • Die gegronde eksistensiële vrese en bekommernisse van voormale regerings - met inbegrip van die Afrikaners se stryd om selfbeskikking; die toekoms van minderhede; die broosheid van demokrasie in Afrika; en die dominante invloed van die SAKP in die ANC;
  • Die wesenlike - maar nooit voldoende - sosio-ekonomiese vordering wat deur swart Suid-Afrikaners tydens die 70s en 80s gemaak is;
  • Die verrykende hervormings wat deur PW Botha ingestel is, maar met minagting afgewys is; en
  • Die moed van wit Suid-Afrikaners, in hul soeke na ‘n billike oplossing, om hul vertroue in ons nie-rassige Grondwet te plaas.
 As Christene moet ons ons oortredings erken - maar dit word nie van ons vereis om moreel minderwaardig teenoor enige iemand te voel nie - minste van almal teenoor die Marxiste-Leniniste wat tradisioneel ‘n sterk rol gespeel het in die benadering en beleidsrigtings van die ANC.
 
Die tweede probleem wat ons die hoof moet bied indien ons ’n positiewe toekoms wil verseker vir onsself en vir al die mense wat in Suid-Afrika woon, is om te besef dat ons nie magteloos is nie.

Te dikwels versuim ons om ons regte op te eis omdat ons daarvan oortuig is dat ons te min en te swak is om ‘n verskil te maak.

Dit is verkeerd.  

Die Grondwet bemagtig almal van ons om ons regte te beskerm.

Dit gee aan ons die mag van vrye uitdrukking.  
  • Ons moet al die media tot ons beskikking gebruik om die wêreld in te lig dat ons nuwe vorms van rassisme onder die vaandel van ongebalanseerde regstellende aksie en demografiese verteenwoordiging verwerp;
  • Ons moet die toenemende invloed van die SAKP in die ANC-alliansie ontbloot. Die SAKP is vining besig om een van die magtigste elemente in die Alliansie te word, sonder ’n enkele stem in ‘n vrye verkiesing.
  • Ons moet ons mede-Suid-Afrikaners waarsku oor die katastrofiese gevolge van die ANC se huidige aanval op eiendomsregte en hul onverstandige en onverstaanbare grondhervormingsvoorstelle.
Die Grondwet verleen aan ons ander belangrike magte:
  • Ons het die reg om te vergader, te betoog, ‘n betooglinie te vorm en petisies aan te bied. Ons moet gebruik maak van hierdie regte om só sigbaar en duidelik uitdrukking te gee aan ons griewe en aan ons aandrang op ons regte.  
  • Ons het die reg om te staak om ons belange te beskerm.
  • Ons het die reg tot vrye politieke aktiwiteit. Ons moet dit gebruik om aan te sluit by die politieke partye van ons keuse en om NROs te ondersteun wat veldtogte voer wat ons ondersteun.
  • Ons het die reg op toegang tot die howe. Ons moet ongrondwetlike wetgewing onverbiddelik in die howe beveg. Hierdie taak moenie aan ‘n paar toegewyde NROs oorgelaat word nie. Ons moet almal betrokke raak by die ondersteuning van litigasie ter verdediging van ons regte en die Grondwet.     
Dit is egter nie net van die Grondwet dat ons ons mag kry nie:

• Ons vaardighede en ekonomiese hulpbronne verleen aan ons die werklike vermoë om die gang van sake te beïnvloed.
• Afgesien hiervan sal ons kan reken op toenemende steun van die internasionale gemeenskap en van Suid-Afrikaners van alle rasse wat ons bekommernisse deel.

So ons is glad nie magteloos nie - met dien verstande dat ons die wil het om dié mag waaroor ons beskik te gebruik ter verwesenliking van ons grondwetlike regte.

Om hierdie rede moet ons ons wil versterk en mobiliseer. 

Ons moet almal tot die besef kom van die noodsaak van aktiewe optrede, ten einde ons regte en ons regmatige belange te verdedig.  

Tyd is besig om uit te loop. Ons moet onsself op hoogte bring oor die aard van die bedreiging – van dit wat die ANC en die SAKP in detail uitspel in hul Strategy and Tactics-dokumente en in die South African Road to Socialism. Waarom dink ons dat hulle nie ernstig is oor die nastrewe van hul openbaar verkondigde doelwitte nie?

Ons moet verstaan dat die doelwit van die ANC se “radikale tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie” is om ons eiendom, ons maatskappye, ons vooruitsigte vir indiensneming en ons kulturele erfenis te beperk tot die krimpende persentasie van die bevolking wat ons verteenwoordig. Dit is ongeag ons vaardighede, die bydrae wat ons lewer en alles wat ons in die verlede opgebou het.

Ons sal ons wil ten beste kan versterk indien ons daarvan oortuig is dat ons saak reg is.
  • Ons moet onsself herverbind tot die waardes wat in die Grondwet verskans word;
  • Ons moenie net strewe na die behoud van ons eie regte nie - maar na die regte van alle Suid-Afrikaners.
  • Ons moet die morele hoë grond handhaaf deur sterk standpunt in te neem oor die Grondwet wat ons almal te goeder trou tussen 1990 en 1996 beding het.
  • Ons moet die instellings beskerm wat die Grondwet daargestel het - met inbegrip van onafhanklike howe en Hoofstuk 9-instellings - nie net ter wille van onsself nie, maar ter wille van die beskerming van die regte van almal in die land.  
Ek is daarvan oortuig dat ons in staat sal wees om ons posisie in Suid-Afrika vir nog baie jare te verseker: 
  • Indien ons die skuldgevoel kan afskud wat die ANC gedurig probeer aanwakker;
  • Indien ons sukses kan behaal op die slagveld van idees;
  • Indien ons die bemagtiging wat die Grondwet aan ons bied gebruik;
  • Indien ons onsself kan bevry van ons gevoel van ontmagtiging; en 
  • Indien ons seker is dat ons saak reg en noodsaaklik is.
Soos ek voorheen genoem het is die toekoms van ons mense weer eens in ons eie hande - soos wat dit vir soveel keer in ons ontstuimige verlede was. Dit is vir ons om die uitdaging te aanvaar en te bepaal of ons ons plek in Suid-Afrika sal behou - en of ons die verhoog van die geskiedenis apologeties sal verlaat om slegs ‘n voetnota in die storie van ons vasteland te wees.

Ons moet onthou wat ons mense in die verlede bereik het:
  • Hoe ons die onbekende aangedurf het om ons eie soewereine republieke te stig;
  • Hoe ons die krisisse by Weenen en Bloedrivier oorleef het;
  • Hoe ons vir drie jaar die magtigste ryk van die moderne era tydens die Tweede Vryheidsoorlog afgeweer het; 
  • Hoe ons uit die as van ‘n nederlaag opgestaan het om ons reg tot selfbeskikking te verseker;
  • Hoe ons vir 13 jaar sterk gestaan het teen die uitbreiding in Suider-Afrika van die Sowjet-Unie en Kuba; en 
  • Hoe ons uiteindelik daarin geslaag het om ‘n regverdige en billike Grondwet vir alle Suid-Afrikaners te onderhandel.
Moet ons rêrig so bekommerd wees oor ons vermoë om ons regte teen Jacob Zuma en sy “tweede fase”-gevolg te beskerm wanneer dit gemeet word teen hierdie prestasies?

Hiervan kan ons seker wees: ons toekoms en die toekoms van alle Suid-Afrikaners is op die spel.

Soos Edmund Burke meer as twee eeue gelede opgelet het: “All that is necessary for the triumph of evil is that good men do nothing.” Indien ons niks doen nie sal die magte van die “tweede fase” seëvier tot nadeel van alle Suid-Afrikaners. Indien ons egter saamstaan; indien ons die wil het; indien ons oortuig is daarvan dat ons saak reg en noodsaaklik is, dan het ons rede om vol vertroue te wees dat ons suksesvol sal wees. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: