Stigterslede

ʼn Eeu van Diens en genade

Op 5 Junie vanjaar is die Afrikanerbond 100 jaar oud. Die organisasie wat op 5 Junie 1918 in Malvern in Johannesburg deur ʼn klein groep Afrikaners gestig is se stigtingsdoelwitte is soos volg geformuleer:

  1. Die aaneensmelting van Afrikaners; Afrikaners oor die lengte en breedte van ons land, die verlang na die opheffing van ons volk, te laat saamwerk om die verskil van opinie oor volksvraagstukke uit die weg te ruim, en 'n gesonde en vooruitstrewende eensgesindheid te bewerkstellig.
  2. Die ontwikkeling van 'n egte, ruimhartige demokratiese volkslewe, en die opleiding van die Afrikaner tot die regte gebruik daarvan.
  3. Die opwekking van die selfbewussyn van die Afrikaner, en die inboeseming van liefde vir sy taal, geskiedenis, tradisies, land, volk en godsdiens.
  4. Die bevordering van oorspronklike Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in alle opsigte.
  5. Die veredeling van die samelewing op grondslag van die skoon ou sedes en karaktertrekke van ons volk.
  6. Die behartiging van die ekonomiese belange van Afrikaners,
  7. Die handhawing van die beginsels van Jesus Christus.

AB Boek4Eenhonderd jaar is in ʼn oogwink verby. Die Afrikanerbond en sy voorganger die Afrikaner-Broederbond het die hand van die Afrikaner styf vas geklem het toe ons gekniel, gekruip, geloop en gehardloop het. Deur loutering, swaarkry, oorlog, dikwels in die voorste linies in elke dag se strewe en veg vir vryheid was ons langsaan vir advies, agter vir steun en voor as leier en baanbreker na beter Gods begrip. Na hierdie eeu staan ons danksy die Afrikanerbond en sy voorganger geestelik fiks, blakend gesond, vindingryk en as volk emosioneel volwasse om vir die volgende 100 jaar in ons vaderland, Suid Afrika, die Afrikaner te dien by uitnemendheid, welwetende dat God regeer.

Ons is nou 24 jaar reeds in die nuwe demokrasie en regte en vryhede van alle Suid-Afrikaners is nou opnuut weer in die spervuur. Daarom moet ons saam, met ander weer kyk na maniere en oplossings om daardie regte en vryhede weer op te neem. Die Afrikanerbond, binne ʼn Christen Demokratiese beskouing staan gereed om daardie uitdagings vir die beskerming en bevordering van elkeen se regte en vryhede weer op te eis.

Die Afrikanerbond het nog altyd sy idees en inspirasie getap uit daardie Afrikaners wat in die lengte en wydte van ons land woon en werk en elke dag ʼn verskil in hulle gemeenskappe maak. Die deelname en betrokkenheid in die Afrikanerbond was in die besonder ʼn tuiste vir Afrikaners wat Suid-Afrika as hulle land beskou en terdeë bewus is daarvan hulle lotgevalle ineengestrengel is met die van alle Suid-Afrikaners. Die Afrikanerbond wil Afrikaners nie isoleer van Suid-Afrika nie.

Daarom moet Suid-Afrikaners en dan veral die Afrikaners wat erns het met Suid-Afrika dit bly doen binne die volgende verwysings:

  1. Ons almal, ook Afrikaners sal opnuut moet kyk na oplossings en ons kan dit nie in isolasie of afgesonderd in eie kokonne doen nie.
  2. Veral moet ons weet dat die Afrikaners deur vennootskappe en bondgenootskappe moet fokus op gedeelde probleme. Suid-Afrika in sy diversiteit kan net slaag as ons deur hierdie vennootskappe brûe kan bou om probleme te oorbrug.
  3. Daar sal met groter integriteit deur die staat en die regering en leiers gehandel moet word in die soeke na oplossings. Die goeie trou wat ons voor die 1994 skikking ervaar het en die hoop op nasiebou is deur eensydige handelings ongedaan gemaak. Vandag vervang ons mislukkings met nog groter mislukkings. Suid-Afrika en sy mense verdien beter.
  4. Daar is nodig vir ʼn hernude verbintenis tot die grondwet – beide deur die regering en die burgerlike samelewing met - ʼn nuwe verbintenis en konsolidasie en voortdurende instandhouding van die grondwet.
  5. Suid-Afrika kan slaag en suksesvol wees as elkeen na verdienste en in ʼn gelyke samelewing tot volle voordeel van die land kan optree – dit geld vir elke sfeer van ons samelewing
  6. Neem die lesse uit die verlede en begin met bemagtiging van Suid-Afrikaners. Dit kan slegs gebeur deur die daarstelling van kwaliteit onderwys. Moet nie dit wat opgebou is afbreek nie.
  7. Erkenning, begrip en respek vir mekaar. Dit sluit mekaar se geskiedenis en erfenisse in.
  8. Die najaag van ʼn ideologie het Suid-Afrika in die laaste eeu duur te staan gekom – in die verlede sowel as die hede. Ons toekoms kan nie deur uitgediende ideologie lamgelê word nie. Leer die lesse van die verlede.
  9. Suid-Afrika is groter as die belange van kaders en ʼn party. Ook hier het ons duur lesse geleer in die verlede en die hede.
  10. Suid-Afrika is nie ʼn land met ʼn eensydige geskiedenis nie. Daar is te veel groepe en kulture om ʼn sakpas geskiedenis te probeer afforseer. Die struggle was nie alles nie, die Anglo-Boereoorlog was nie alles nie, Die Mfekene was nie alles nie, maar dit alles is deel van ons gesamentlike Suid-Afrikaanse legkaart.

Die Afrikanerbond vier nou sy 100e bestaansjaar. Het die Afrikanerbond en Afrikaners ‘n rol te speel in Suid-Afrika? Hierop is die antwoord onbeskaad en beslis JA Ons het nog steeds ʼn taak en roeping om te vervul en ons doen dit onbeskaamd in diens van die Afrikaner, maar ons sal moet aanpas vir die nuwe omgewing en die nuwe uitdagings.

As Afrikaners en as Afrikanerbond het ons die verbintenis reeds gemaak deur onsself na ons kontinent Afrika te vernoem. Daarom is ons volledig mede-eienaars van Suid-Afrika, met al sy goeie en slegte. Anders as wat deur politieke propaganda beweer word is ons lojaliteit toegespits op Suid-Afrika omdat die land ons verlede, ons hede en ons toekoms is.

Ons hoop om in die skryf van die geskiedenis van die Afrikanerbond en sy voorganger die honderd jaar van hoogtepunte en laagtepunte te omskryf binne die konteks van die tyd. Ons weet ook dat die Afrikanerbond ʼn organisasie gebore is uit die nood van die Afrikaner en die Afrikaner vergesel het op sy ontwikkeling die laaste 100 jaar.

Die enorme ontwikkelinge wat Suid-Afrika die laaste honderd jaar beleef het kan op baie wyses gesoek word in die geskiedenis van die Afrikanerbond of dit nou in die bevoegde staatsdiens was, die infrastruktuur, die industrieë die ekonomie die kulturele en staatkundige bydraes.

Ons kan ons koppe omhoog hou. Ons is Afrikaner! Wees Sterk!

Jaco Schoeman

Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond