Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Oorsig


Die Afrikanerbond in ʼn Neutedop

Skakel

Oorsig 

Werkswyse van die Afrikanerbond 

Die Afrikanerbond verteenwoordig Afrikaners wat werklik verbind is tot Suid-Afrika en positief wil bydra tot die skep van ʼn suksesvolle Suid-Afrika wat geleenthede bied vir alle Suid-Afrikaners. Daarom is die Afrikanerbond gemoeid met die handhawing van fundamentele regte, die vestiging van demokrasie, die bevordering van verantwoordelike burgerskap en patriotisme. In die bereiking van die doelwitte is die Afrikanerbond gemoeid met regstellende aksie, aksies teen misdaad, landelike veiligheid, grondhervorming, naamsveranderinge, moedertaal onderwys en vele meer. 
 
Die Afrikanerbond verteenwoordig Afrikaners wat ʼn wesenlike bydrae wil lewer tot ’n suksesvolle en vooruitstrewende Suid-Afrika. 
• Daarom glo ons in voortdurende interaksie met die owerheid van die dag;
• Daarom vestig ons gesonde werkshoudinge met die regerende party:
• Daarom het ons ʼn openhartige verhouding en gereelde ontmoetings met politieke leiers en partye regoor die politieke spektrum.  
• Die Afrikanerbond is nie party-polities verbonde nie maar moedig sy lede aan om by die politieke party van hul keuse betrokke te wees.
 
Lidmaatskap van die Afrikanerbond 
• ʼn Lid moet Afrikaanssprekend wees.
• ʼn Lid moet ʼn belydende Christen wees.
• ʼn Lid moet beginselvas wees.
• ʼn Lid moet ʼn ingesteldheid van dienslewering hê wat strook met die doelstellings van die Afrikanerbond. 
• Die minimum toelatingsouderdom is agtien (18) jaar.
• Verkryging en behoud van lidmaatskap van die Afrikanerbond is onderhewig aan: 
 -  Onderskrywing van die Afrikanerbond grondwet
 -  Toegewyde deelname aan die werksaamhede van die Afrikanerbond; en 
 -  Nakoming van die voorgeskrewe finansiële verpligtinge.
• Lidmaatskap tot die Afrikanerbond is en bly vertroulik!

Die Afrikanerbond se lede is diensbaar 
Die vraag word soms gevra: Wat kry ek vir my lidmaatskap van die Afrikanerbond? Die Erekode van die Afrikanerbond sowel as die instellingsformulier het die volgende frase: “Wie toetree, doen dit om te gee, nie om te ontvang nie; om te dien, nie om gedien of persoonlik bevoordeel te word nie.” Die Afrikanerbond is nie ʼn organisasie waaruit lede direkte voordele trek nie. Die Afrikanerbond bied dus nie onmiddellike voordele soos goedkoper vakansieverblyf, afslag by bepaalde winkels, gratis regsadvies, arbeidsondersteuning en so meer nie.
 
Die Afrikanerbond bied wel aan lede die volgende praktiese voordele:
• Die geleentheid om deeglik bemagtig en met die nodige kennis toegerus te word deur: 
 -  Gesaghebbende studiestukke oor aktuele vraagstukke te ontvang
 -  Die ontvangs van gereelde nuusbriewe en standpunte van die Afrikanerbond oor verskeie aktuele kwessies 
 -  Lede se kundigheid aan te wend in die soeke na oplossings 
• Die geleentheid om deel te wees van ʼn afdeling in elke dorp regoor die land waar: 
 -  Studiestukke ontleed en bespreek word;
 -  Knelpunte in die plaaslike omgewing geïdentifiseer en bespreek word;
 -  Kundigheid aangewend word om gesamentlik optrede te beplan en deur plaaslike netwerke tot uitvoering gebring word; 
 
Elke lid van die Afrikanerbond is deel van ʼn netwerk, waardeur elkeen se kundigheid aangewend kan word om deurlopend die beste gebruike, oplossings en werkwyses te vind en te implementeer op so ʼn wyse dat dit ʼn betekenisvolle verskil maak.

Die lotgevalle van die Afrikaner is en bly ineengestrengel met die lotgevalle van Suid-Afrika en almal wat deel is van ons land. Die Afrikanerbond kan nie in isolasie in een lewensterrein werksaam wees nie, maar tree nog altyd op in breë belang van die Afrikaners, binne Suid-Afrika. 
 

Wat beteken ons embleem? 
Ons word baie keer gevra – wat beteken julle embleem? Gebaseer op die eenvoud van die oorspronklike Broederbond embleem, tog meer modern en verteenwoordigend van die huidige eeu. 
 
Die sirkel, driehoek en band is steeds die hoofsimbole. Die driehoek simboliseer die afhanklikheid van God en onderlinge sterkte. Die driehoek is op 'n sirkel geplaas, wat eenheid of gemeenskap aandui. Die sye van die driehoek word gebind met 'n band (wat die seshoekige vorm binne die driehoek is) as teken van die noue verbintenis van broerskap – samehorigheid. Die ovaal is bygevoeg by die oorspronklike logo en verteenwoordig deursigtigheid, perspektief en dimensie. 
 
Word deel van die Afrikanerbond 
Kom word deel van die Afrikanerbond se strewe om as Afrikaner-belange organisasie deel te wees van die bevordering van die eie belang van minderhede in samehang met die nasionale belang. Dit sal ons in staat stel om gemeenskaplike kwessies positief te bevorder binne die breë Suid-Afrikaanse staatkundige bestel.      




Share by: