Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

Die Afrikanerbond se kommentaar op Art 25 Grondwetwysiging 


Suid-Afrikaners het tot 13 Augustus 2021 geleentheid om kommentaar te lewer op die voorgestelde 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet (om onteiening met nul rand vergoeding vir die doeleindes van grondhervorming duidelik daarin te skryf)

Die implikasies vir die wysiging is soos volg: 
  • Dat waar grond en enige ander verbetering daarop onteien word vir die doel van grondhervorming, die vergoedingsbedrag betaalbaar nul rand mag wees.
  • Dat nasionale wetgewing die toestande moet bepaal waar die vergoedingsbedrag nul rand is.
  • Dat ’n nuwe subafdeling 4A ingevoeg moet word wat aandui dat die staat grond, wat die gedeelde erfenis van alle landsburgers is, moet beskerm
  • Dat subafdeling 5 ingevoeg moet word wat aandui dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet instel om dit vir die staat moontlik te maak om voogskap van sekere grond te kry sodat landsburgers toegang tot grond op gelyke grondslag kan kry.
Die Afrikanerbond  se kommentaar op die voorgestelde 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet  (Ingedien op Woensdag 11 Augustus 2021) 
Die Afrikanerbond verwerp die grondwetwysiging, die proses en die rasionaal van die wysiging 
- Die voorgestelde grondwetwysiging is niks anders as ʼn volle erkentenis dat die ANC absoluut en volkome misluk het in beleid, toepassing en uitvoering van grondhervorming en grondoordrag binne die grondwetlike riglyne nie.  

Die Afrikanerbond het op Woensdag 11 Augustus 2021 kommentaar ingedien by die ad hoc-komitee wat die parlementêre proses vir dié grondwetlike wysiging lei nadat kommentaar uitgenooi is op die voorgestelde 18e Wysigingswetsontwerp van die Suid-Afrikaanse Grondwet. 

Ons moet dit egter opnuut kategories stel dat ons in beginsel standpunt inneem teen die voorgestelde grondwetwysiging omdat dit ʼn fundamentele reg afwater. Daarom kan ons nie voorstelle maak ter verbetering van die konsep wetgewing nie, aangesien ons nie deel kan wees van ʼn hoofsaaklik ideologiese proses wat die grondwet ten alle koste wil wysig verskraal of ons demokrasie ondermyn nie.

Die voorgestelde wysigings aan die grondwet sal na ons mening 'n ernstige invloed op eiendomsreg sal hê en sal nie net tot die landbou beperk word nie. Dit raak almal in Suid-Afrika se eiendomsreg. Die grondwetwysiging op sigself is 'n gevaarlike bedreiging vir die pilare van ons demokrasie.

Ons het reeds by verskeie geleenthede beklemtoon dat ʼn oplossing vir die grondkwessie belangrik is “maar die proses moet eerlik, opreg en openlik geskied. Die proses moet sover moontlik buite die politieke sfeer geskied en nooit vir politieke doeleindes nie.” Dit bly steeds ons standpunt maar dit is duidelik dat ons waarskuwing reeds sedert daardie tyd geïgnoreer is. Die wyse waarop hierdie komitee dit benader het, is en bly problematies en oneerlik. 

Ons standpunt in die verlede en ook nou en vir die toekoms sal wees dat die grondwetwysiging slegs deur die ANC gestoomroller word en dat dit niks anders is as ʼn volle erkentenis dat die ANC absoluut en volkome misluk het in beleid, toepassing en uitvoering van grondhervorming en grondoordrag binne die grondwetlike riglyne nie. Die 1996 grondwet, die vooraf onderhandelde skikking en veral eiendomsreg word ondergeskik gestel aan die ANC se 2017 NASREC-konferensie en die ideologiese raamwerk vir die besluit. 

Dit word egter duidelik dat die politieke proses geensins van enige goedbedoelde kommentare of advies wat die proses kon regstel wou gebruik maak nie. Die kommentare van kundiges en rolspelers is deurgaans geïgnoreer en die ANC se eie belang is deurgaans bevorder. Dit maak enige proses verdag en dit ondermyn enige goedbedoelde kommentaar omdat die politieke besluit wat reeds vooraf geneem is, die hoogste oorweging is. 

Die Speakers Forum van die Parlement het ʼn hoëvlak paneel in 2015 versoek om alle wetgewing sedert 1994 te ondersoek met die opdrag om alle wetgewing sedert 1994 te evalueer en te bepaal hoe effektief dit was en wat die onbedoelde gevolge van die wetgewing kon wees. Die omvattende verslag van die High Level Panel (HLP) onder leiding van oud President Kgalema wat op November 2017 voltooi en by die Parlement ingedien is, en wat meer as 100 aanbevelings bevat, is nog nooit deur die Parlement oorweeg of bespreek nie. Die verslag en aanbevelings is ook op die altaar geplaas deur die ANC se 2017 NASREC konferensie. 
Volg die skakel na die verslag op die Parlement se webwerf: 

Enige rasionaal vir enige grondwetwysiging word op p51 deur die High Level Report verwerp. 
“The Panel is of the view that government has not used the powers it already has to expropriate land for land reform purposes effectively, nor used the provisions in the Constitution that allow compensation to be below market value in particular circumstances. Rather than recommend that the Constitution be changed, the Panel recommends that government should use its expropriation powers more boldly, in ways that test the meaning of the compensation provisions in Section 25 (3), particularly in relation to land that is unutilised or underutilised”
Hieroor en oor vele ander sake het die Parlement en nog minder die ANC hulself uitgespreek of behoorlike argumente teen die verslag in die openbaar gestel. 

Die verslag se eerlikheid oor die stand van sake, veral wat grondhervorming aanbetref was waarskynlik te eerlik, het te diep gesny en het verantwoordelikheid en aanspreeklikheid van amptenare en politici vereis. Dit alleen laat ernstige vrae onstaan oor die motief tot die grondwetwysiging. 

Die Afrikanerbond het deurgaans steun en ondersteuning gegee vir enige inisiatief wat eiendomsreg in Suid-Afrika vestig en beywer onself vir eiendomsreg vir almal in Suid-Afrika. Dit sowel as grondhervorming moet egter kan gebeur in ʼn oop en vrye mark waar daar ewekansig geleentheid is om met of sonder staatshulp eiendom te kan bekom. Daar is meer as genoeg geleentheid in landbou, as een van hierdie komponente, om waardevolle eiendom te kan bekom. Baie voorstelle is reeds in die verlede gemaak om op kreatiewe wyses ʼn oplossing te vind hiervoor. Die portefeuljekomitee en die regering was tot dusver horende doof vir enige konstruktiewe advies.

Die ANC laat hom nou weer aan die neus lei deur sy verknogtheid aan sy ideologie en stel die blinde navolging daarvan, soos ons die ANC deur die jare ervaar het, bo die grondwet en die mense van Suid-Afrika.

Ons doen ook langs die weg weer ‘n beroep op die publiek, en rolspelers om kommentaar in te dien voor 13 Augustus 2021. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: