Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

14 Augustus - Afrikaanse Taaldag


Afrikaanse Taaldag 14 Augustus word herdenk as die geboortedag van Afrikaans want op die datum op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te Paarl gestig. Derhalwe is Afrikaans vanjaar op dié datum 146 jaar oud. 

Die onstaan van ʼn taal kan met die vorming van ʼn rivierstroom vergelyk word. 
 “Uit ʼn sypeltjie hier en ʼn lekkie daar
Loop daaronder ʼn bekie wat dreun in die kloof.
Die klowe en bekies kom bymekaar 
En stroompies by stroompies, tot strome by strome vergaar, 
maak die grote Oranjerivier” – CJ Langenhoven 
Daarby kan gevoeg word “So het Afrikaans ook sy kinders vergaar.

Enkele Afrikaanse Taalfeite (Afrikaans.com) 
  • Op 8 Mei 1925 (96 jaar gelede) is Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal erken. 
  • Afrikaans het duskant 7 miljoen sprekers wat dit die derde grootste taal in Suid-Afrika maak naas Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Engels word deur 4,8 miljoen Suid-Afrikaners as moedertaal gebruik, dus 9,6% van die bevolking. In Suid-Afrika is minder as die helfte van Afrikaanssprekendes wit (40%). (Sensus: 2011) 
  • Afrikaans is die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noord-Kaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap).
  • Net vyf tale het in die twintigste eeu tot die hoogste vlak ontwikkel: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans.
  • Afrikaans het meer as 450 vakwoordeboeke.
  • Afrikaans word as vak by Belgiese, Nederlandse, Poolse, Russiese en Amerikaanse universiteite aangebied.
  • Afrikaans is die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook Internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar meer as 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan, wat Nederland, België en Suriname insluit.
  • Afrikaans het baie variëteite, bv Kaaps, Oranjerivierafrikaans en Standaardafrikaans. Hierdie variëteite is self heterogeen; Standaardafrikaans sluit bv in: Gariepafrikaans, Griekwa-Afrikaans, Nama-Afrikaans en die Afrikaans van die karretjiemense.
  • Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.
  • Van die meer as 7 000 tale in die wêreld staan Afrikaans (ten opsigte van aantal sprekers) in die 140ste plek.=
  • Afrikaans is die enigste taal ter wêreld wat met monumente vereer word.
  • Afrikaans is die enigste Wes-Germaanse taal wat buite Europa ontwikkel het. Daarom word dit ’n Afro-Germaanse taal genoem wat in Afrika gepraat word.
  • Afrikaans is ook ’n Suider-Afrikaanse Kreoolse taal wat in Botswana, Namibië en Zimbabwe gepraat word. Die kreoolse taal het in die 17de eeu ontwikkel in die Nederlandse kolonie, die Kaap de Goeie Hoop, onder die invloed van Nederlands, Khoi-Khoi en die gesproke taal van die slawe (Maleis).
 ʼn Taal moet op 5 terreine teenwoordig wees. (Prof Wannie Carstens van NWU) 
1) die taal moet tuis gepraat word, 
2) die taal moet ‘n letterkundige funksie hê en dan in die besonder ‘n skriftelike weergawe daarvan, 
3) die taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê (dus as taal van onderwys op ‘n verskeidenheid vlakke), 
4) die taal moet ekonomiese nut hê (mense moet dus die taal kan gebruik in die werksplek) en;  
5) die taal moet ‘n owerheidstaal wees (mense moet in hulle taal met die staat kan kommunikeer).  

Wanneer ʼn taal van hierdie funksies begin inboet, volg spanning noodwendig. 
  • Die SA Grondwet bevestig die status van Afrikaans en ander tale. 
  • Dit is vir ons as Afrikaanssprekende taalgemeenskap om dit op te eis. 
  • Afrikaans is nie ʼn politieke speelbal nie en moet uit die politieke arena gehaal word.  
Wie word nie geraak deur die emosie van Amanda Strydom wat so treffend sing: 
“Ek maak amok in my taal
Ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taal
My asem gly deur my taal
Ek word verlei deur my taal
En ek kan vry in my taal
Ek kan rock in my taal
Ek maak lawaai in my taal
Ek word so kwaai in my taal
Ek kan jou braai in my taal
En ek kan rock in my taal”

Vandag kan ons in Afrikaans, droom, praat, skryf, dig, litigeer, stry, dink, sing, redeneer, fantaseer, kuier, vergader en vele meer. 
                                                                                         Wees Trots Afrikaans. 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: