Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

Olimpiese spele - waarom die beste van atlete verwag 
maar politici presteer nie!  


Deur Jan Bosma
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond  


In die afloop van die Olimpiese Spele in 2021 is dit gepas om te kyk na die leuse van die Olimpiese Spele wat ook die strewe en uitdaging is vir elke atleet Citius, Altius, Fortius wat vanuit Latyn na Afrikaans vertaal word as "Vinniger, Hoër, Sterker.” (Die AB Voorsitter verwys in sy Augustus skrywe in die Nuusbrief ook hierna) 

Vir die huidige spele is die woord tesame of gemeensaam bygevoeg om ook die ondersteuning en solidariteit vir mekaar in die tyd van Covid-19 te wys. Die Latynse leuse lees dan nou ‘Citius, Altius, Fortius – Communis’ wat vertaal word na together in Engels, ensemble in Frans en gemeinsam in Duits. Vanweë ideologiese en historiese oorwegings sal die term communis beslis nie goed op ʼn Afrikaanse oor val nie. Dalk sal die terme tesame of gemeensaam beter werk in die konteks waarin die Olimpiese Spele se grootbase die besluit geneem het. 

Dit is dalk juis as gevolg van die regering se geflankeerdery met ideologie of ʼn toepassing van kommunisme waarin Suid-Afrika sy moeilikheid te danke het omdat dit ʼn stelsel is waarin alle eiendom deur die gemeenskap besit word en elke persoon bydra en ontvang volgens sy vermoë en behoeftes en onafwendbaar ʼn stelsel skep van middelmatigheid.  

Waarom verwag ons altyd dat ons atlete en sportspanne altyd na hul beste moet presteer? Waarom altyd Vinniger, Hoër, Sterker en verwag ons van hulle meriete, prestasie en uitnemendheid? Ons as kiesers en as gebruikers van dienste het egter oor jare maar aanvaar dat ons middelmatige of ondergemiddelde dienste, regering en politieke besluite kry. As land het ons die strewe na uitnemendheid al lankal verloor. Beurtkrag, korrupsie, staatskaping, onbevoegdheid, slaggate, lekkende waterpype en magsmisbruik het al so deel van ons vuisvoos lewe geraak dat ons jubel en juig as ons iewers ʼn sprankie hoop van dienslewering kry. 

Dalk is stille aanvaarding deel van die probleem. Ons is dalk te bang om iets te sê omdat ons mense kan vervreem, of mense se gevoelens kan seermaak as ons verwag dat hulle net die basiese goed moet doen en dit reg moet doen. Omdat meriete en uitnemendheid dan ook ʼn rol moet speel het ons eerder verval in middelmatigheid. Die strewe na middelmatigheid moet gesoek word in die kultuur van geen-verantwoording en geen- aanspreeklikheid. Dit is dan wanneer toe-eiening (entitlement) ons samelewings begin oorheers het. Kenners beskryf die kultuur van toe-eiening (Culture of Entitlement) as: 
  • 'n Houding waar mense glo dat hulle nie deur verdienste iets hoef te kry nie. 
  • Dit is aan hulle verskuldig as gevolg van wie hulle is, nie as gevolg van wat hulle doen nie. 
  • Dit wat hulle het as vanselfsprekend, bly vra vir meer, en is nooit tevrede nie. 
  • Om goed te lyk is meer belangrik as om goed te doen. 
Blaamverplasing het ook ʼn norm geword in die kultuur van geen aanspreeklikheid. Prof William Gumede van Wits skryf in die Sunday Times op 1 Augustus 2021 besonder behendig en sonder om doekies om te draai hieroor en sê: “Die probleem is dat baie swart Suid -Afrikaners blykbaar na sondebokke soek en die skuld gee aan almal - apartheid, wit monopoliekapitaal, die res van Afrika - vir die probleme wat deur korrupte, onbevoegde en onverskillige mede-swart leiers, regeringsamptenare en sakelui veroorsaak word. Die neiging van baie swart kiesers om ander vir hul probleme te blameer, gee in wese aan swart leiers en die ANC 'n vrypas om openbare hulpbronne te plunder, nie die dienste te lewer wat hulle beloof het nie, en nie omgee vir diegene wat hulle aan bewind gestem het nie.” 

Hierdeur word dit nie ʼn swart of raskwessie gemaak nie maar ʼn saak van aanvaarbare middelmatigheid of onderprestasie in beide gedrag en optrede. 

Vinniger, Hoër, Sterker kan nie vandag meer vra of jy wit of swart is nie. Dit duld doodeenvoudig nie meer die kultuur van middelmatigheid en onderprestasie nie. Daarom is dit dringend noodsaaklik dat ons van politici en veral die regering verwag om te doen presies dit wat ons van ons atlete en sportmanne en sportvroue verwag. Uitnemendheid, verdienste, prestasie en meriete. Vinniger, Hoër, Sterker vra – nee vereis dat jy die beste is in wat jy doen op die sportveld, in die openbare sektor, die privaatsektor, in die politiek en in die kabinet.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: