Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 13 Augustus 2021
Terug na e-Afrikaner

AB Kommentaar op die Universiteit Stellenbosch taalbeleid (Tweede rondte van kommentaar) 


In die vorige weergawe van die e-Afrikaner is lede en vriende versoek om kommentaar te lewer iop die US Taalbeleid. Die onderstaande kommentaar is op Vrydag 13 Augustus 2021 ingedien. Lede het nog tot 14 Augustus 2021 geleentheid om kommentaar in te dien 

Stuur gerus ook u insette na die Afrikanerbond se kommentaar fasiliteit - onder.

KOMMENTAAR VAN DIE AFRIKANERBOND OP DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH SE TWEEDE KONSEPWEERGAWE VAN DIE US TAALBELEID 

Algemene inleidende kommentaar: 
Op 14 Augustus is dit jaarliks Afrikaanse Taaldag en word dit herdenk as die geboortedag van Afrikaans want op die datum op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te Paarl gestig. Derhalwe is Afrikaans vanjaar op dié datum 146 jaar oud. In die tydperk is Afrikaans uitgebrei tot akademiese en wetenskapstaal wat volgens Prof Wannie Carstens, bekende taalkundige, een van vyf vereistes vir oorlewing van enige taal is. 

Dit is daarom terselfdertyd tragies en ironies dat 14 Augustus 2021 aangedui word as die laaste dag waarop mense kommentaar kan lewer op die tweede konsep-weergawe van die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid. Die Beleid (volgens die inleidende gedeelte) beoog “om billike toegang tot die Universiteit van Stellenbosch vir alle studente en personeellede uit te brei, meertaligheid én waardering vir meertaligheid te bevorder, en pedagogies verantwoordbare leer en onderrig te fasiliteer.” Meer oor die taalhersieningsproses kan hier uitgevind word. Die indieningsportaal vir openbare kommentaarbydrae kan hier gevind word. 

Die konseptaalbeleid kan egter nie in isolasie beskou word nie. Die Universiteit van Stellenbosch is reeds vir ‘n aantal jare gemoeid met die omskrywing en aanvaarding van ‘n taalbeleid wat onderrig aanbetref. In die tydperk het die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch, waarskynlik onder politieke druk maar ook vir politieke korrektheid, die afskaling van Afrikaans verdoesel onder die dekmantel van allerlei modelle en opsies wat aangebied is. Die praktyk het egter bewys dat Afrikaans se status as akademiese en wetenskapstaal aan die Universiteit van Stellenbosch erg verskraal het. Ten spyte van talle versekeringe wat gegee is, is dié Universiteit Stellenbosch nou oorwegend Engels en moet Afrikaans stoei om ʼn plek te vind. Dit skep gevolglik onsekerheid en ook veral onrustigheid by studente en ouers en veral ook alumni, aangesien die verwarring toelaat dat die praktyk die taalbeleid vorm en vestig, en nie die mooiklinkende raadsaal teorie van beleid nie. 

Die geskiedenis sal die Universiteit van Stellenbosch nie gunstig beoordeel vir die versaking van sy morele verpligting teenoor Afrikaans op nasionale vlak, maar veral op provinsiale vlak nie. Die Wes-Kaap se demografie word sedert die verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch nie in ag geneem nie. Vir die rekord moet bevestig word dat 49,6% van die Wes-Kaap se inwoners Afrikaans is, teenoor 24,7% Xhosa en 20,2% Engels.

Politieke korrekte argumente stel dit telkens dat Afrikaans ʼn uitsluitende taal is. Deur Afrikaans kan die poorte van Suid-Afrika en Afrika egter ontsluit word, en dit is ʼn gulde geleentheid wat stadig maar seker uit die bestuur van die Universiteit van Stellenbosch se hande gly.  

Dit strek ʼn universiteit met die kaliber van die Universiteit van Stellenbosch, sy bestuur en sy ryke tradisie tot die bevordering van Afrikaans, nie tot eer dat daar nie met kreatiwiteit en respek vir die Wes-Kaap en sy rol in Afrikaans, opgetree is nie.

Ons lewer dan graag op die volgende tegniese aspekte tweede konsep-weergawe van die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid meer volledig kommentaar;

Die Beleid bestaan ook, soos die eerste konseptaalbeleid (‘eerste konsep’) en die 2016 Taalbeleid (‘die 2016 beleid’) vir ontledingsdoeleindes uit twee hoof dele. Die eerste is die Aanhef (Klousules 1 tot 6) en die ander is die operasionele bepalings (Klousules 7 tot 11). Die oorblywende Klousules bevat begripsomskrywings en bronmateriaal. 

Spesifieke kwessies in die Aanhef tot die Taalbeleid 

1) Die Aanhef bevat wel belangrike en selfs belowende verbintenisse. Die waarde van veeltaligheid vir die akademie word ingesien en is daar tot ʼn mate ʼn verbintenis by die diskoers oor veeltaligheid as werkbare en waardige alternatief as Engelse eentaligheid. 
 
2) Daar was ʼn belangrike klemverskuiwing in die taalstryd van 2021. Die klem het ons insiens geskuif van die stryd vanaf die behoud van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch en die voordele van moedertaalonderrig, na ʼn ander en meer belangrike vraag oor die oorheersing van Engels. Laasgenoemde was die gevolg van die aandrang op dekolonisering, en die betekenis daarvan vir plaaslike taalskatte soos Afrikaans. Hierdie klemverskuiwing figureer nie in die Aanhef nie. 

3) Engels se oorheersing word geïgnoreer en selfs aangemoedig deur die Beleid se skynbare aanvaarding dat mense vrye taalkeuses kan maak.  

4) In Klousule 2 rondom die ‘Meertalige konteks’: is na ons mening ʼn belangrike verwikkeling naamlik die erkenning van Afrikaans se internasionaliseringswaarde.” 
“Afrikaans is ’n internasionaal gerekende taal wat oor verskeie dissiplines heen ʼn aansienlike akademiese repertoire ontwikkel het, waartoe die US beduidend bygedra het. Die toepassing en verryking van die akademiese waarde van Afrikaans is ’n manier om ’n groot en diverse gemeenskap te bemagtig. Vaardigheid in Afrikaans ondersteun ook internasionalisering omdat dit ’n geleentheid skep vir leer en navorsing met van die Universiteit se standvastigste [sic] akademiese vennootskappe in Nederland en België.” (Eie beklemtoning

5) Ons sien wel ʼn belangrike verwikkeling in die verbintenis tot “aktiewe” aanmoediging van meertaligheid, ook individuele meertaligheid. Veral merkbaar is ook die aanvaarding van sogenaamde transtaligheid as tegniek om meer as net een taal (soos Engels) in die leer- en leefomgewing van die US aan te wend. Paragraaf 7 van Klousule 2 openbaar ʼn nuutgevonde waardering vir meertaligheid as samelewingseienskap en toon die waarde daarvan om “afgeronde individue” aan die US te help koester. Samevattend skep Klousule 2 ʼn verbintenis tot ʼn taalpositiewe omgewing op grond van die US se teenwoordigheid binne ʼn meertalige konteks. 

6) . Klousule 5 handel oor die Mikpunte van die konseptaalbeleid op. Onder hierdie mikpunte by Klousule 5.5 verskyn die belangrike doelwit om: “…individuele en institusionele meertaligheid as ’n belangrike kenmerk van die US te bevorder ten opsigte van hoe die Universiteit funksioneer, hoe studente leer, en die gedifferensieerde graduandi-eienskappe wat in akademiese programme en ko-kurrikulêre aktiwiteite ontwikkel word.”

7) Wat wel problematies bly, is die volgehoue uitlating van die Artikel 6 van die Grondwet, die taalklousule, uit die Beleid. Die Artikel verleen aan Afrikaans amptelike status saam met 10 ander tale. Om dit uit te laat uit die beleid moet bevraagteken word omdat die Grondwet se Artikels 29 (taal in onderwys) en 9 (die reg tot gelykheid) wel ingesluit word in die taalbeleid. Dit wil dus lyk asof die Grondwet selektief ingespan word. ʼn Volledige opweging en akkommodering van grondwetlike oogmerke in enige taalbeleid en veral sonder verwysing na Artikel 6 kan nie behoorlik plaasvind nie. Artikel 6(2) lê bepaalde pligte op staatsorgane, ook universiteite, om positiewe stappe te neem ten einde taalstatus en aanwending van inheemse tale te verhoog en aan te moedig. Selfs al was Afrikaans nie ʼn inheemse taal nie, plaas Artikel 6(2) ʼn baie meer omvangryke plig op die US ook wat Xhosa aanbetref. 

8) In die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020) is Afrikaans en die Khoisan-tale uiters kontroversieel en hoogs onwetenskaplik uit die omskrywing van “inheemse taal” verwyder. Dit word dus bevraagteken waarom die US-bestuur blykbaar gemaklik is om die konsepbeleid aan te bied en nog steeds hierdie uitsluitende definisie te gebruik. Klousule 5.2 gee steeds uitvoering aan die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020 en die omskrywing verskyn nog steeds in die konseptaalbeleid se lys begripsomskrywings. 

9) Wat die meertalige leeraanbod betref, moet ons verwys na Klousules 6.9 en 6.10 van die Beleid. Dit is reeds erg problematies en gaan voort om verwarring te vestig aangesien die meertalige leeraanbod afhanklik gemaak word van studenteaanvraag, veranderende demografie en personeelbeskikbaarheid. Dit is vir die volgende drie redes problematies:
  • Soos reeds duidelik gestel is die studenteaanvraag na die Afrikaanse leeraanbod reeds deur die 2016 beleid ernstig te na gekom. Die Afrikaanse aanbod is vaag, verwarrend en wispelturig en skep deurlopende onsekerheid. 
  • Die indiensnemingsbeleid van die Universiteit van Stellenbosch sowel as die 2021 Beleid en nog minder die 2016 beleid maak enige voorsiening vir die aanstel van Afrikaansmagtige doseerpersoneel. Dit bied ook nie billike alternatiewe in gevalle waar ʼn gekwalifiseerde Afrikaansmagtige personeellid nie te vinde is nie; 
  • Dit is op die laat stadium nie billik om te verwys na die aanvraag van Afrikaans en om dit as ʼn “keuse” deur studente aan te bied nie. Tot nou toe het Engels se dominansie en sistemiese oorheersing die de facto omgewing geskep het dat studente dikwels geen keuse gebied is anders as om na Engels oor te slaan nie. Die toepassing in praktyk is anders as wat die beleid voorgee of hoe die beleid aangebied word. Daar is dus nie sprake van ʼn vrye taalkeuse nie. 
Operasionele hoofdeel 

10.) In die operasionele bepalings is dieselfde klousules om met die Afrikaanse aanbod weg te doen, steeds teenwoordig. Die Afrikaanse aanbod word steeds beperk en geen konkrete voorsiening word gemaak vir nagraadse Afrikaanse studies nie. Engelstalige oorheersing word hierdeur vasgesement. U word daarom verwys na Klousule 7.1.8 van die gebruik van tale anders as Engels in nagraadse klasse (insluitend nagraadse modules op voorgraadse vlak) deurdat die tale slegs vir leer en onderrig aangewend mag word indien alle ander studente en personeel die tale akademies magtig is. 

11) Hierdie besondere bepalings skep gevolglik die indruk dat die gebruik van enige tale - anders as Engels – noodwendig die ʼn risiko skep vir studente wat nie die besondere tale magtig is nie. Dit bevorder geensins meertaligheid nie en bevestig die praktyk dat daar noodgedwonge na Engels oorgeskakel sal word.  

12) Wat ons wel verblydend vind is dat die geleenheid in Klousule 7.3.5 bestaan, dat daar wel ʼn operasionele verbintenis is tot Afrikaans as wetenskapstaal waarin navorsingsuitsette en ander hoër funksies verwag word. Die aanwendingswaarde van transtalige tegnieke wat in 7.1.1 neerslag vind bevestig dus wel ʼn omgewing vir ander tale, anders as Engels. Ons sou dis graag wou sien dat dit na die praktyk uitgebrei word dat dosente en personeel positief in die klasomgewing moet optree om aggressie in klasse teenoor Afrikaanse te vermy en uit te roei. 

Punte vir aanbeveling en oorweging 

Dit moet onomwonde gestel word dat die verengelsing van die Universiteit van Stellenbosch besondere skade aangerig het aan die Afrikaanse aanbod. 

Groot getalle Afrikaanse studente is in die vyf jaar van betekenisvolle Afrikaanse studies ontneem.

Om weer enigsins betekenisvol te werk na ʼn Afrikaanse aanbod sal dit nodig wees om ʼn Vaste verbintenis tot moedertaalonderrig vir Afrikaanssprekendes te bied. Die teorie moet aanklank en ooreenstemming vind in praktyk.  

Enige taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê as deel van die vyf voorwaardes vir ʼn taal om te oorleef. (dus ook as taal van onderwys op ‘n verskeidenheid vlakke). Daarom moet ons en veral die Universiteit van Stellenbosch die geleentheid skep en dit moontlik maak dat studente op alle vlakke maar veral ook in die Afrikaanse letterkundige en geesteswetenskaplike omgewing woeker, sodat Afrikaans se kulturele funksies steeds lewenskragtig kan groei. 

Dit is telkens bewys dat Afrikaanse gegradueerdes ten beste vir die beroepswêreld in Afrikaans voorberei kan word; 

 ʼn Opleidingsprogram wat spesifiek op jong veeltalige akademici ingestel is, en sover diensbillikheidswetgewing bepaalde vereistes stel, moet daar spesiaal op Afrikaansmagtige dosente van voorheen-benadeelde gemeenskappe gefokus word. 

Die taal en indiensnemingsbeleid moet uitdruklik voorsiening maak vir die aanstel van Afrikaansmagtige personeel of billike alternatiewe waar ʼn gekwalifiseerde individu nie beskikbaar is nie. 

Skep aansporingsmeganismes om nagraadse studies in ʼn institusionele taal of tale - anders as Engels te voltooi. Dit kan ook gedoen word met bykomende vertalingsondersteuning aan en publikasie van verdienstelike navorsingsaflewerings. Die Afrikaanse gemeenskap sal beslis ondersteuning gee en Afrikaanse uitgewers sal die geleentheid aangryp.). 
 
Skep ʼn praktyk waar transtalige en taalpositiewe voorgraadse klasse in Afrikaans en Engels vloeibaar dog gelykmatig aangewend word. Die praktyk moet gevestig word waar besprekinge en beantwoording van vrae tale, anders As eensydige en dominante Engels aangemoedig en ondersteun word. 

13 Augustus 2021 

kommentaar oor die US se taalbeleid

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: