Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Augustus 2023
Terug na e-Afrikaner

Koalisie gesprekke- Brief aan veelparty nasionale konvensie en partyleiers  


Nasionale Konvensie en Koalisiegesprekke - 16 en 17 Augustus 2023 
- Die Afrikanerbond se skrywe aan politieke leiers

ʼn Belangwekkende ontmoeting van partyleiers vind 16 en 17 Augustus 2023 in Kempton Park plaas. Tydens die gesprek word die moontlikhede vir toekomstige samewerking in ʼn koalisie verder ondersoek. 

Tydens die Bondsraad 2022 opening by die Voortrekkermonument sê Dries Wiese, voorsitter van die Afrikanerbond: “Ons staatkundige belang word ook ondersteun in ons benadering van die eie en nasionale belang wat aansluiting vind in ons visie van “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika” Dis is nie ʼn visie vir Suid-Afrika nie, allermins. Dit is ons visie vir die Afrikanerbond en daardie Afrikaners wat in die lengte en wydte van ons land woon en werk en elke dag ʼn verskil in hulle gemeenskappe maak. Dit is ons visie vir Afrikaners wat Suid-Afrika as hulle tuiste beskou en terdeë bewus is daarvan hulle lotgevalle ineengestrengel is met die van alle Suid-Afrikaners. Dit is ons visie vir Afrikaners wat hulleself nie kan of wil isoleer van Suid-Afrika nie.” 

Dit is vanuit die bostaande perspektief en na aanleiding van die gesamentlike brief aan die burgerlike samelewing gedateer 8 Augustus 2023 waarin die burgerlike samelewing versoek word om voorleggings te maak aan die Nasionale Konvensie, is die onderstaande skrywe deur die Nasionale Raad bespreek. Die Afrikanerbond het die skrywe ook ontvang en het besluit om positief daarop te reageer.   

'n Brief in Afrikaans en Engels is deur Dries Wiese, Voorsitter van die Afrikanerbond, gerig aan die voorsitter van die Nasionale Konvensie, prof William Gumede en ook aan die leiers van die politieke partye wat die Nasionale Konvensie gaan bywoon. Soos versoek is die burgerlike samelewing se insette gelewer teen Maandag 14 Augustus en het ons reeds ontvangserkenning van die Nasionale Konvensie op 15 Augustus ontvang. 

Die brief soos gestuur: 

---------------------------------

Prof. William Gumede 
Voorsitter van die Nasionale Konvensie 
DIE LEIERS VAN DIE VOLGENDE PARTYE 
- Demokratiese Alliansie – Mnr. John Steenhuisen 
- Inkatha Vryheidsparty - Mnr. Velenkosi Hlabisa 
- Vryheidsfront Plus – Dr. Pieter Groenewald 
- Action SA – Mnr. Herman Mashaba 
- United Independent Movement – Mnr. Neil de Beer  
- Spectrum National Party - Mnr. Christopher Claassen
- ISANCO – Dr. Zukile Luyenge

NASIONALE KONVENSIE EN KOALISIEGESPREKKE - 16 EN 17 AUGUSTUS 2023 

Geagte prof Gumede. 

Vanjaar is die 29ste jaar van demokrasie in Suid-Afrika. Net soos baie ander Suid-Afrikaners is ons egter opreg bekommerd oor die stand van ons brose demokrasie. Vandag kyk ons terug na soveel probleme en struikelblokke waaroor Suid-Afrika moet kom. Mense is moedeloos en is daar ʼn ernstige gebrek aan vertroue in die regerende party se vermoë om Suid-Afrika op ʼn pad van demokratiese herstel te plaas en weg van die afgrond van anargie. 

Vir die laaste paar jaar reeds bevorder die Afrikanerbond as ʼn organisasie wat in 1918 gestig is en wat tans op die staatkundige terrein woeker en oplossingsgerig na die toekoms kyk, die breë ideaal van ʼn politieke koalisie. Dit is trouens op ons Bondsraad in 2022 intens bespreek en het ons toe reeds die gedagtes van enkele politieke leiers gehoor in ons besprekinge. 

Op 16 en 17 Augustus 2023 vind ʼn Nasionale Konvensie van opposisieleiers plaas by Emperors Palace in Kempton Park. Dit is waarskynlik simbolies gekies aangesien dit die oorspronklike perseel van die Wêreldhandelsentrum is waar die belangrike Kodesa onderhandelinge plaasgevind het, wat die nuwe demokratiese bedeling tot gevolg gehad het. 

Daardie bedeling wat onderhandel is, het hoop gegee aan miljoene Suid-Afrikaners en moes ʼn bedeling skep gevestig op vaste waardes. Die onderhandelinge is gebaseer op 34 grondwetlike beginsels en die beginsels is in die 1996 grondwet vervat. Die belangrike beginsels se gees en bedoeling het egter vervaag geraak in die regerende party se ideologiese kultuur wat ons grondwet aktief ondermyn het. 

Die Afrikanerbond sal dit waardeer indien u u sal laat lei deur die beginsel van gelyke regte vir alle burgers, kulture en rassegroepe van Suid-Afrika. Die miskenning hiervan die afgelope kwarteeu het ons samelewing opgesweep, afgebreek en oopgekloof. 

Gelei deur die kernbeginsel van gelyke regte, waaronder nierassigheid, soos vasgelê in internasionale konvensies, hoop die Afrikanerbond dat u nuwe partypolitieke bondgenootskap elke Suid-Afrikaanse wet sal herroep wat op ras gegrond is, gerig op die openbare sowel as op die private sektor. 

Hierdie kernbeginsel impliseer ook verskeie gelyke regte vir erfenis, taal en kultuur.

Ons hoop en gebed is dat die Nasionale Konvensie van 16 en 17 Augustus 2023 weer nuwe hoop sal vestig. Indien gelyke regte as uitgangspunt gebruik word dink ons die konvensie is noodsaaklik rondom verskeie ander kwessies, waaronder ons verstaan en interpretasie van die pre-1994 nasionale akkoord en hoe dit in die laaste 29-jaar beslag gekry het en dan veral hoe dit in die toekoms gaan uitspeel. Ons is van mening dat die volgende kwessies dringende besinning verg: 
  • ʼn Herbesinning oor rasgedrewe transformasie as ideologiese denkrigting. 
  • Die suksesvolle implementering van die NOP of ʼn sterk fokus op ekonomiese uitkomstes soos armoedeverligting, werkskepping, sosiale sekerheid, landelike ontwikkeling, privaat grondbesit en eiendomsreg. 
  • Demokratiese konsolidasie wat sy basis vind in ʼn regering van nasionale eenheid; 
  • Moreel etiese grondslae en waardesisteme, 
  • Die regte van minderheidsgroepe, kulture en tale.  
  • Die inkoop en deelname van verskeie rolspelers (nie net partye nie) is hier nodig. 
  • Die grondwet, maar veral die 34 grondwetlike beginsels as belangrike historiese grondslag, 
  • ʼn Nuwe patriotisme met versoening en eenheid as fundamentele rigtingwyser en; 
  • Strategiese leierskap op staatkundige en ander vlakke van die samelewing 
  Ons hoop is dat u gesprekke tydens die Nasionale Konvensie enersyds 'n optimistiese stemming van gelykberegtiging sal aanwakker wat onder andere migrasie uit die land sal laat afneem, en 'n nuwe vaderlandsliefde sal kweek. Dit sal andersyds tallose kulturele, sosiale en ekonomiese praktyke skep wat bydra dat ons land skouspelagtig sal ontwikkel. 'n Nuwe land van vryheid sal gebore word.

Die Afrikanerbond waardeer die uitnodiging opreg om die veldtog van u bondgenootskap te steun. Daar rus ʼn groot en belangrike taak op u skouers. U is die politieke leiers wat in die tydgees van die Kodesa onderhandelinge weer hoop aan Suid-Afrikaners moet gee. Ons is ʼn gebroke samelewing. Dit kan weer geheel word. Ons dra elke leier op in gebed en wil vertrou dat die proses suksesvol sal wees. Mag u in die gees van die verlede en waarin ons vanaf 1990 en vanuit konflik ʼn oplossing kon vind, opnuut weer inspirasie vind. 

Met vriendelike groete 

Dries Wiese 
Voorsitter van die Afrikanerbond 

Datum: 14 Augustus 2023 

---------------------------------

In die afsluiting van die Bondsraad 2022 sê Dries Wiese, voorsitter onder meer met verwysing na die Afrikaner-Broederbond se rol in die 1980s en die oorgang na ʼn nuwe bedeling: “Vandag het ons opnuut weer ‘n onwerkbare en onvolhoubare politieke bestel. Soos in die 1980s moet ons weer vir mekaar sê tot hiertoe en nie verder nie. Anders as in die 1980s kan ons nie van binne af verander nie, en moet ons eksterne vennote vind saam met wie ons weer moet meewerk aan die verandering van die polities- staatkundige bedeling. Ons het reeds met gesprekke begin vir deelname in ‘n burgerlike koalisie. Ons moet hande neem met die opposisie wat reeds in die party-politieke proses begin het met koalisies.” Die bostaande brief is ʼn praktiese demonstrasie van die verbintenis. 

Die meerderheid wit bruin, en swart Suid-Afrikaners het met entoesiasme en ywer die nuwe demokrasie in 1994 verwelkom. Die aanhef tot die grondwet onderskryf plegtig om 'n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep; die grondslag te lê vir 'n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word; die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en 'n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as 'n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem. 

Die meerderheid Suid-Afrikaners het geglo dat ons in 1994 met die aanvaarding van die nuwe demokrasie ondubbelsinnig afstand gebring het tussen die verlede en die hede. Daar is allerweë aanvaar en geglo dat ons ʼn tydperk sou ingaan waar Suid-Afrika met die bestes van die wêreld kon kompeteer. 

Die wesenlike gevaar nou is dat redelike Suid-Afrikaners wat saam skouer aan die wiel gesit het om die nuwe en demokratiese Suid-Afrika tot stand te bring ook ontnugter raak met die demokrasie van 2023 wat oorheers word deur afwesige staatsmanskap en leierskap, politiek vergrype, magsmisbruik, toenemende korrupsie en gebrekkige dienslewering. Daar is daar nog goeie wil tussen Suid-Afrikaners vanuit verskillende gemeenskappe. Dit is hierdie redelike en gematigde Suid-Afrikaners wat veronderstel is om hande te vat en saam te bou. Dit is vir die redelike Suid-Afrikaners waarvoor u hoop moet gee.  

Die vertrekpunt vir die gesprekke moet die riglyne en waardes van die Suid-Afrikaanse grondwet ondersteun. Ons moet mekaar binne die grondwet vind en ons moet net soos in 1994 in die letter en die gees van die onderhandelinge weer soek na die gemeenskaplikhede wat ons saambind. Te veel energie word spandeer aan die soeke na verskille om verdeeldheid aan te moedig. 

Die stem van radikale minderhede bepaal die agenda terwyl die meerderheid gematigde en redelike Suid-Afrikaners dialoog wil voer en mekaar wil vind binne die volgende raamwerk: 
  • Erkenning aan die Suid-Afrikaanse grondwet binne die perke wat ʼn regstaat stel; 
  • Lojaal is aan Suid-Afrika en daarom wil sien dat Suid-Afrika suksesvol geregeer word; 
  • Dat daar konstruktief deelgeneem word aan gesprekke en dialoog maar dat daar struktuur gegee moet word aan verdere gesprekke ten einde ook positiewe uitkomste te verseker; 
  • Dat ons as verskillende groeperinge/minderhede die breë diversiteit van Suid-Afrika verteenwoordig en bepaalde eiebelange bevorder maar dat ons wil meewerk aan sake van nasionale belang. 
  • Dat Suid-Afrika ‘n land is met diverse mense en gemeenskappe en dat die diversiteit erken en gerespekteer moet word.  
  • Dat ons ten volle bewus is van die probleme en uitdagings van vandag en wil meewerk aan die soeke na oplossings. Dit gaan egter nie help om die verlede te blameer of ʼn beter verlede te probeer regverdig of verdedig nie.  
Die Afrikanerbond se visie is “As Afrikaners bou ons saam aan die toekoms van Suid-Afrika.” Dit is in die gees waarin ons soveel verwagting plaas op die Nasionale Konvensie van opposisieleiers op 16 en 17 Augustus 2023. 
 
In Rapport se redaksionele kommentaar van 13 Augustus 2023 word Prof-. William Gumede se gebed vir die Nasionale Konvensie voorgehou. Prof William Gumede, wat die voorsitter is van die veelparty konvensie wat later die week oor koalisies ontmoet se benadering tot die proses word pragtig saamgevat in sy “Gebed vir die veelparty- nasionale konvensie” wat hy beplan om voor elke vergadering te lees. “Hierin erken die teenwoordiges voor God dat daar deurslaggewende oomblikke in die geskiedenis van ‘n land kom waar die besluite wat nou gemaak word die toekoms vir altyd kan verander.” Hierdie is so ʼn oomblik.
“Here, lei ons in ons omgang met mekaar dat ons verstandig en respekvol sal wees.”
En vir die leiers van die verskillende partye: “Here, seën hulle met die genade om uit te styg bo hul kleinlike ambisies, die strewe na hol oorwinnings en bekrompe denke. Herinner hulle, Here, dat elke besluit die grootste openbare belang moet dien.”
Waarop ‘n mens net kan sê: Amen. ‘n Mens kan nie vir ‘n beter uitkoms as dit hoop nie.

Lees die 34 Grondwetlike beginsels waarna bo verwys word. 

Lede en afdelings word genooi om insette te lewer en standpunte te stel oor die Nasionale Konvensie en wat as moontlike uitkomste gesien kan word. Is daar nog sake wat ons onder die politieke leiers se aandag moet bring? Is daar ruimte vir ʼn burgerlike koalisie wat ondersteuneend kan optree? Stuur gerus insette na kommentaar@abond.co.za 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: