Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Augustus 2023
Terug na e-Afrikaner

Plaasmoorde, haatspraak en terreur 


Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Verskeie kommentators van regoor die politieke spektrum het indrukke gelewer oor die sogenaamde “struggle lied” “Kill the Boer – kill the farmer Dit is met verwysing na die EFF se 10de verjaarsdagviering by die FNB Stadion op Saterdag 29 Julie 2023 en die slagspreuke wat telkens by die geleentheid herhaal is en gedreunsang is deur 100 000 volgelinge in die FNB Stadion en waarskynlik opgeslurp is deur duisende regoor die land wat dit gehoor het. Insiggewend dat die EFF 10-jaar vier maar hulself assosieer met die “struggle” wat teen apartheid gerig was en wat reeds dertig jaar gelede ʼn einde gekry het in die oorgang na ʼn nuwe bedeling. 

As vertrekpunt moet aanvaar word dat as politieke leier het Malema geen beheer oor sy volgelinge se reaksie op sy uitsprake nie, veral nie as misdadige elemente dit verder uitbuit nie. Enkele plaasmoorde het plaasgevind na die gebeurtenis en het die verwysing ook internasionaal opslae gemaak met Elon Musk wat dit op sy twitter (X) tydlyn geplaas het en verwys het na ‘genocide.’ Om plaasmoorde vir die huidige te koppel aan volksmoord is waarskynlik nog nie die geval nie, maar dat plaasmoorde op sy eie ʼn onaanvaarbare tendens is binne breë misdaadstatistiek in Suid-Afrika, is ʼn gegewe. Plaasmoorde en aanvalle raak ons almal en dit word op verskillende vlakke anders ervaar, sommige Afrikaners beleef dit as etniese suiwering. 

Malema se verduideliking 
Malema het by herhaling bevestig dat die Boere in die liedjie “kill the Boer, kill the farmer” nie na individue verwys nie maar na 'n stelsel van onderdrukking. ʼn Groot klomp joernaliste en politieke korrektes het die EFF se verduideliking onvoorwaardelik aanvaar en op die wa gespring om die EFF se reg tot haatspraak te verdedig. Plaasmoorde is dus 'n illusie volgens diegene. 

Die uitspraak word volgens Art16 van die Handves van Regte (Hoofstuk 2) in die Suid-Afrikaanse Grondwet deur verskillende howe anders geïnterpreteer. Die reg ter sprake handel oor Vryheid van Uitdrukking waartoe elkeen die reg het maar dan word die reg beperk aangesien dit nie die volgende omvat nie “16(2)(a) propaganda vir oorlog nie: (b) die aanstigting van dringende geweld nie; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.” Daar word dus gehoop dat die Appélhof wat op 4 September 2023 die saak aanhoor, wel onomwonde sal beslis dat dit haatspraak is. 

Malema se ware intensie teenoor sy verduideliking 
Die lied en verduideliking moet egter gelees en verstaan word saam met Malema se uitlatings die laaste paar jaar. 

As deel van 'n toespraak in Newcastle op 7 November 2016 het Malema gesê: "Ons vra nie vir die slagting van wit mense nie, ten minste nie nou nie." (We are not calling for the slaughtering of white people, at least for now.”) 

In ʼn TRT World TV Onderhoud sê hy op 11 Junie 2018: “I've never slapped a white person, I've never called for their slaughter. I've never called for their killing, at least for now. I can't guarantee the future."

 Op 14 September 2019 plaas Malema ʼn aanhaling van Robert Mugabe op Twitter (X) “The only white man you can trust is a dead white man.” 

In die hof tydens die haatspraaksaak op 17 Februarie 2022 herbevestig Malema sy standpunt dat hy moontlik eendag kan eis dat witmense geslag moet word.      

Malema se uitsprake ter verduideliking van die onlangse uitsprake in die FNB stadion flous andere maar is nie so onskuldig nie. Saamgelees met sy herhaling van Mugabe se standpunt voorspel “Kill the Boer, kill the Farmer” dit net onheil. Enige kommentator wat hieroor anders dink, of dit sag wil afmaak en met satire spot en dit as eenvoudige struggle semantiek en regse propaganda afmaak, is naïef.  

In die hele debat is daar nog ʼn paar kwessies wat ook aandag moet kry. 

Naamregte en kondonering
In die openbare kontroversie is die sakegemeenskap se stem stil. Die saamtrek van die EFF was op 29 Julie 2023 by die FNB Stadion. FNB het die naamregte gekoop, alhoewel die stadion aan die Johannesburg Stadsraad behoort. Tot dusver was FNB stil oor die koppeling van die naam van die stadion aanhitsing tot moorde op witmense en veral boere wat ook seker hulle kliënte is. Beteken die stilswye dan ook dat hulle die uitspraak kondoneer? Ons sal graag FNB se standpunt hieroor wil verneem.
 
Instansies wat kan optree 
Dit blyk dat die Menseregte kommissie sedert 2010 vir Malema met fluweelhandskoene hanteer het en hulself uitgewurm het uit die verantwoordelik om onmiddellik en beslissend op te tree. Die kans het die SAMRK uit sy vingers laat glip en sit ons 13 jaar later steeds met die gebakte pere en groter verdeeldheid en raspolarisasie. Die verdere vraag moet nou ook gevra word of Malema nie ook deur ander instansies tot orde geroep behoort te word nie. As ʼn verkose openbare verteenwoordiger en leier van ʼn politieke party tree Malema strydig met die ampseed as lid van die Parlement op en behoort die Parlement beslis op te tree. Die verdere vraag is of die EFF gegewe die OVK se Gedragskode vir politieke partye veral met die bepaling oor die aanhitsing tot geweld, nie ook strydig met die Kode optree nie, en of die EFF dan op die basis aan die 2024 verkiesing kan deelneem? Dit is ʼn kwessie wat gerus deur politieke opposisiepartye verder hanteer behoort te word. 

President Ramaphosa se stilswye 
Die vraag is ook aan President Ramaphosa gevra wat sy standpunt is? Bekommerde Suid-Afrikaners moet egter nie hulle asem ophou nie. Op 26 September 2018 het President Cyril Ramaphosa met die finansiële nuusdiens Bloomberg gepraat tydens die Bloomberg Global Business Forum in New York. Tydens die onderhoud het President Ramaphosa ontken dat plaasmoorde plaasvind. Die president was skynbaar nie bewus van ʼn verklaring op 2 Julie 2017 wat onder sy naam deur GCIS uitgereik is en sê adj president Ramaphosa “Parliament also successfully debated issues of importance such as, the increase in farm murders and farm attacks in South Africa.... “ Vir Bloomberg en die buiteland word daar nou vertel daar is geen plaasmoorde nie. Dit het in 2023 nie verander nie. President Ramaphosa sal nie erken dat daar ʼn groeiende probleem is wat plaasmoorde aanbetref nie, en hy sal ook nie vir Malema repudieer nie. Daar is te veel elemente in sy eie partygeledere wat baat by aanhitsing en geweld en is die “Kill The Boer – Kill the Farmer in April 1993 ” struggle lied trouens in die ANC se jeugliga gebore met Peter Mokaba. Dit was in die tydperk van intense onderhandelinge vir ʼn nuwe bestel. Die ANC was sedertdien nog nooit bereid om die lied te veroordeel, of homself daarvan te distansieer nie. Wat die ANC se agenda met die lied was het ons vir die laaste 30 jaar gesien. 

Plaasmoorde – net nog statistieke
Die amptelike definisie van plaasaanval en plaasmoord is volgens Landbou.com formeel in 1997/98 bekend gestel en is saamgevat in die polisie se landelike veiligheidstrategie en word soos volg omskryf: "Geweldsdade teen persone of plase en kleinhoewes verwys na dade gemik op 'n persoon/persone wat op plase en kleinhoewes woon, werk, of besoek, hetsy met die bedoeling om te moor, verkrag, besteel of liggaamlike leed aan te doen.” https://www.landbou.com/landbou/video-argief/plaasaanvalle-en-moorde-so-lyk-syfers-20170914 Volgens SAAI word daar sedert die ANC in 1994 aan bewind gekom het, elke tweede dag gemiddeld een plaas aangeval en elke vyfde dag ʼn boer of ’n lid sy gesin, ’n gas of ’n plaaswerker vermoor. TLU-SA se statistieke tot Julie 2023 beraam dat sedert 1 Januarie 1990 is 2 247 plaasmoorde en 6278 plaasaanvalle in Suid-Afrika aangemeld. In die eerste ses maande van 2023 was daar 109 plaasvalle met 34 moorde. Hiervan was 18 boere, 10 direkte familie en 6 werkers. 
 
Die statistieke moet gesien word teen die uiters gewelddadige land wat Suid-Afrika is en waarin 74 mense elke dag vermoor word met amper 27 000 mense in 2022/23 alleen. Dit plaas Suid-Afrika in uiters ongewenste geselskap. Suid-Afrika is 8e op die lys van gevaarlikste lande in die wêreld as die moordstatistiek per 100 000 van die bevolking in ag geneem word. In El Salvador die gevaarlikste land is daar 52.02 moorde per 100 000 van die bevolking, gevolg deur Jamaika (43.85) Lesotho (43,56), Honduras (38.93) Belize (37.7) Venezuela (36.69) Saint Vincent en die Grenadines (36.64) en dan Suid-Afrika met 36.5 moorde per 100 000 van die bevolking.

Plaasmoord as terreur 
Midde in plaasmoorde en aanvalle kan die uitlatings nie meer geduld word nie. Haatspraak is ʼn versagting van die aanhitsing tot geweld en moord. In ʼn gewelddadige land soos Suid-Afrika kan daar eenvoudig geen ruimte meer wees vir enige politikus wat volgelinge opsweep nie. Dit sluit die president in wat sy ANCYL opsweep tot groter militansie en rewolusie. 

Het die tyd nie aangebreek dat politieke en plaasmoorde en aanvalle en ook vorme van infrastruktuurbeskadiging, -vandalisme en -diefstal wat ekonomiese sabotasie is as vorme van terreur uitgewys en as sodanig gestraf moet word nie?   

In enige demokrasie is daar bepaalde sleutelkenmerke en waardes van toepassing. Dit sluit in respek vir basiese menseregte, politieke verdraagsaamheid, 'n veelparty kiesstelsel, ʼn demokratiese verkiesing, burgerlike deelname en respek vir die reg. Hierdie waardes word weerspieël in internasionale raamwerke en konvensies wat wet en orde wil verseker. In Suid-Afrika word dit egter deur selfverklaarde “revolusionêres” in die EFF èn die ANC misken. Dit op sigself is ʼn bedreiging vir demokrasie. Malema kan nie aanspraak maak op sekere regte, maar dan self ander se regte vertrap en sodoende die demokrasie en sy instellings bedreig nie. Sy herhaalde verwysings na die doodmaak van burgers, is aanhitsing tot moord. 

Daar is internasionale definisies en omskrywings van terrorisme The Convention for the Prevention and Punishment of Terrorism (Geneva, 1937) omskryf dade van terrorisme “as "criminal acts directed against a State or intended to create a state of terror in the minds of particular persons, or a group of persons or the general public". In die VN se Staatsveiligheidsraad se resolusie 1566 van 2004 word terrorisme as volg omskryf: “Any act or threat of violence, whatever its motives or purposes, that occurs in the advancement of an individual or collective criminal agenda and seeking to sow panic among people, causing fear by harming them, or placing their lives, liberty or security in danger.”

In die Aanhef tot die Protection of Constitutional Democracy against Terrorist and related terrorist activities Act 33 of 2004 saamgelees met Wysigswetsontwerp B15B-2-22) word die volgende gestel: “WHEREAS the Republic of South Africa is a constitutional democracy where fundamental human rights, such as the right to life and free political activity, are constitutionally enshrined; 
AND WHEREAS, in whichever form, are intended to achieve political and other aims in a violent or otherwise unconstitutional manner, and thereby undermine democratic rights and values and the Constitution;
En volg die omskrywing later “terrorist activity”, with reference to this section and sections 2, 3 and 17(2), means- (a) any act committed in or outside the Republic, which is intended, or by its nature and context, can reasonably be regarded as being intended, in whole or in part, directly or indirectly, \ (ii) intimidate, or to induce or cause feelings of insecurity within, the public, or a segment of the public, with regard to its security, including its economic security, or to induce, cause or spread feelings of terror, fear or panic in a civilian population; or
 
Artikel 14 van die bovermelde wet 
14. Any person who- (a) threatens; (b) attempts; (c) conspires with any other person; or (d) aids, abets, induces, incites, instigates, instructs or commands, counsels or procures another person, to commit an offence in terms of this Chapter, is guilty of an offence.

Haatspraak word ideologies geïnterpreteer deur kommentators en in sommige van die regspraak. Aanhitsing tot moord is nie meer haatspraak nie, maar behoort dit ook na ons mening aandadigheid en aanhitsing tot terreur te wees. Indien die bestaande wetgewing nie so geïnterpreteer word of toegepas kan word nie, behoort die wetsontwerp wat tans oorweeg word, dringend uitgebrei te word om wel voorsiening te maak. Daarom sal ons graag ook opposisiepartye wil versoek om dit te oorweeg om dringende leiding te neem in die verband. Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald het tydens twee onlangse geleenthede reeds verwys na die Malema uitsprake en moontlike terreur. 


In die geval van Netwerk24 se artikel hieroor het dr Groenewald slegs verwys na die definisie van terreur in die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal wat omskryf word as “‘n georganiseerde, skrikaanjaende daad of veldtog van geweldpleging om ʼn politieke doel te bereik; ‘n skrikbewind en bedreiging van die veiligheid van iemand of ‘n groep deur geweld.” 

Malema – ʼn reeksoortreder 
Die Afrikanerbond bly van oordeel dat Malema ʼn haatspraak reeksoortreder is en dat sy opstokery ʼn direkte verband het met misdaad en veral plaasaanvalle en plaasmoorde. Beide die ANC en die EFF se onverantwoordelike flirtasie met revolusie, dek die tafel vir populisme en geweld deur volgelinge, wat op onverantwoordelike wyse deur die politieke leiers aangehits word. 

Ons kan nie anders as om te vra wat nog moet gebeur en hoe wreed en koelbloedig moet misdaad en plaasaanvalle nog wees alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik toetree nie? Suid-Afrikaners belewe tans niks anders as terreur in die landelike omgewing met plaasaanvalle nie en in ʼn groter konteks ekonomiese sabotasie met die diefstal en vandalisme van infrastruktuur nie en dit verg dringende en nuwe prioriteite en optrede. Politieke leiers kan nie hiervan gevrywaar word nie. 

Misdaad, wetteloosheid en die gepaardgaande kommer oor die verval van die strafregstelsel in Suid-Afrika het egter nou ‘n keerpunt bereik en sal daar nou nuut en indringend besinning moet kom oor die totale misdaadsituasie in Suid-Afrika. Dit is bewonderingswaardig dat Suid-Afrika voortdurend op die diplomatieke voorpunt is tydens internasionale stryd- en brandpunte, maar dit kan nie geskied ten koste van die lae intensiteit misdaadoorlog en terreur aan huis, waarin 27 000 Suid-Afrikaners jaarliks afgemaai word nie. 

Dit het nou tyd geword vir die regering om saam met bondgenote uit die burgerlike gemeenskap, wat insluit die landelike gemeenskap, georganiseerde landbou, lede van oud-veiligheidsmagte en andere nou ‘n geen-toleransie beleid te aanvaar en onvermoeid toe te tree tot die bestryding van misdaad. Elke strategie van die regering teen misdaad, het tot dusver skouspelagtig misluk. ‘n Nuwe, drastiese benadering wat optrede teen terreur insluit met nuwe, maar verreikende uitkomste vir ‘n abnormale situasie met betrekking tot misdaad, is nou dringend nodig.     
Tot tyd en wyl moet ons ondersteunend optree tot enige regsaksie van enige party of instansie rondom haatspraak. Ons glo egter dat dringender en meer drastiese vervolging in die toekoms moet plaasvind.

Lede en afdelings word genooi om insette te lewer en standpunte te stel oor die artikel en moontlik insette te lewer oor die perspektief dat plaasmoorde en plaasaanvalle as terreur beskou en gestraf moet word. Is daar ander wetgewing wat effektief aangewend kan word? Is daar ander perspektiewe oor haatspraak wat aangewnd kan word? Stuur gerus insette na kommentaar@abond.co.za 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: