Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Februarie 2021
Terug na e-Afrikaner

Die gewaande "oppermag" van die ANC bo die grondwet 


Deur Jan Bosman 
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 
 
Na elke verkiesing verklaar openbare verteenwoordigers, deur die aflê van ʼn ampseed of plegtige verklaring dat hulle “die Grondwet en die ander reg van die Republiek sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou;” en belowe dan ook plegtig om hulle funksies as lid van die wetgewer na die beste van hulle vermoë uit te voer. 

Elke president se ampseed of plegtige verklaring sluit ook die bogenoemde in maar dan onderneem die president ook dat hy/sy “sal bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad;” en dan ook dat hy/sy “die regte van alle Suid-Afrikaners sal beskerm en bevorder.” 

Dit is dus die vaste onderneming van elke verkose openbare verteenwoordiger en dit sluit elkeen in of jou van nou Zuma, Malema of Van der Merwe is. Veral ook as jy president Zuma is en jou land jou eerste prioriteit behoort te wees. Maar duidelik geld ander reëls vir ANC verteenwoordigers, of jy nou president van die land is of nie. Om ʼn ANC verteenwoordiger te wees vrywaar jou van verpligtinge binne die regstaat wat Suid-Afrika veronderstel is om te wees met ʼn grondwet wat die oppergesag van die land is. Tydens ʼn ANC verkiesingskonferensie in November 2015 in Natal word mnr Zuma wyd in die media aangehaal toe hy sê "I argued one time with someone who said the country comes first and I said as much as I understand that I think my organisation, the ANC, comes first," Mnr Zuma was op daardie stadium nog stewig in die saal as president van die Republiek van Suid-Afrika. 

Dit is daarom opvallend dat kommentators en die openbare mening nou skielik mnr Zuma se weiering om gehoor te gee aan ʼn verskyning voor die Zondo grondwetlike kommissie van ondersoek, sowel as Ace Magashule se kommentaar ter verdediging van mnr Zuma, as ongrondwetlik beskou. 

Mnr Zuma is egter nie geïsoleerd in die siening nie. Dikeledi Magadzi, adjunkminister van vervoer, sê voor die Zondo kommissie op 8 Februarie 2021 ter verdediging van die ANC: “If I perish, then so be it - but the ANC comes first and everything else follows.” Dus - Die ANC kom altyd eerste en alles volg daarna. Dit sê sy ter verdediging dat die partylyn altyd gevolg word wanneer hulle oor ʼn kwessie in die parlement stem. Met die standpunt wat sy en waarskynlik die meeste ANC lede volg, word die ANC bo “die Grondwet en die ander reg van die Republiek” gestel wat sy plegtig onderneem het sy “sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou.” Hiermee word die grondwet op ʼn onwaardige wyse ondermyn en is ʼn klap na elkeen wat op een of ander wyse die konstitusionele demokrasie in stand probeer hou. 

Zuma, Magashule en Magadzi se gedrag is nie vreemd nie. In die laaste dekade of meer het die ANC deur sy houvas op regering ʼn Suid-Afrika geskep wat gekenmerk word deur: 
• ‘n ANC wat die “struggle” geskiedenis plaas bo die gedeelde Suid-Afrikaanse geskiedenis wat alle minderhede, kulture en gemeenskappe omarm; 
• ‘n ANC wat sy eie belang plaas bo landsbelang – dit vind veral uiting in die alles verterende soeke na mag en rykdom van die ANC elite; 
• ‘n ANC wat kaderbelange plaas bo gemeenskapsbelange – die ineenstorting van munisipale besture as gevolg van die aanstelling van party lojaliste in stede van kundige en ervare munisipale amptenare is ‘n treffende bewys; 
• ‘n ANC wat eiebelang najaag ten koste van die grondwet en die regstaat – die optrede en gedrag van die Zuma lojaliste en die stilswye van die ANC en sy leierstrukture hieroor dien as bewys;  
• ‘n ANC wat nuwe rassisme bevorder deur ideologies gedrewe wetgewing en deur onverantwoordelike uitsprake ‘n wig indryf in die brose eenheid wat bekend staan as die Suid-Afrikaanse samelewing.  

Zuma se standpunt in 2015 dat die ANC eerste gestel moet word moes toe al vele wenkbroue laat lig het en reeds toe moes die ANC teen hom opgetree het. Zuma het met die uitspraak bevestig dat hy sy amp as president van die land nie waardig nie. Deur die optrede en uitsprake in stilswye te kondoneer het die ANC as meeloper oor die laaste aantal jare bygedra daartoe om die Suid-Afrikaanse grondwet, sy waardes en bepalings verder te erodeer. 

Wat egter meer is, is dat die Zondo kommissie na staatskaping nie net die ongebreidelde staatskaping uitgelig het nie maar dit het duidelik geword dat die ANC en sy lede die staat en al sy strukture ingespan het in die interne politieke gevegte teen mekaar.  
 
Omdat die ANC sy ideologie heel eerste stel, ver verhewe bo die grondwet en die staatkundige bestel het dit die deur oopgemaak vir vele onheilighede. Transformasie binne die doelstellings van die Nasionale Demokratiese Revolusie is verhef bo grondwetlike waardes, staatskaping is moontlik gemaak eerder as ʼn staat met voldoende kapasiteit, en korrupsie het die norm geword bo hulpbronne om mense te ontwikkel. So is die oë gesluit vir alles wat in die naam van transformasie gebeur het. 

Ons sit tans met ʼn onhoudbare situasie in Suid-Afrika Waar die ANC tans buite die grondwetlike demokrasie beweeg word Suid-Afrikaners noodwendig meegesleur. Die grootste gros van Suid-Afrikaners is vasgevang binne die raamwerk van die grondwetlike demokrasie maar is opgesaal met ʼn regering wat lankal reeds die grondwet verwerp en veel eerder die voorskrifte van die Freedom Charter en die Nasionale Demokratiese Rewolusie aanhang. Dus geld een stel reëls vir Suid-Afrikaners en ʼn ander stel reëls vir die ANC en sy leierskap. 

Die vraag is of Suid-Afrika veel langer die ANC kan bekostig? Mnr Zuma se standpunt dat die ANC eerste gestel word bo die land en die grondwet het reeds ʼn streep in die sand getrek. Die ANC en sy leierskap sal deur sigbare optrede die teendeel moet bewys. Die standpunt is vantevore ingeneem dat die ANC sy besluite kollektief neem en kollektief verantwoordelikheid neem. Daarom moet die ANC kollektief skuld aanvaar vir die ondermyning van ons staatsbestel. Dit geld die ANC in al sy strukture, verteenwoordigers en leierskap wat deur die kondonering van die standpunt, die ANC nog steeds eerste stel. 

Die interne faksiegevegte wat nou in die ANC woed gaan die land en sy mense, sy minderhede en sy brose ekonomie enorme skade berokken. Dit kan egter suksesvol die hoof gebied word deur ʼn gebalanseerde middelgrond van enersdenkendes wat die grondwet as baken stel waarbinne die volle potensiaal van Suid-Afrika in die beste belang van sy bevolking ontsluit kan word. Ons glo die meerderheid Suid-Afrikaners onderskryf die grondwetlike waarstelsel wat lynreg in stryd is met korrupsie, staatskaping en wanbestuur soos wat dit onder die ANC gedy. 

Nasiebou en versoening verlang aktiewe deelnemers maar die werking en stand daarvan word bepaal deur die regerende party. Die ANC staan nou voor ’n kruispad en moet kies: Wil hy ’n inklusiewe Suid-Afrika net in naam bevorder, maar 'n rasbehepte samelewing toepas? Wil die ANC die Suid-Afrikaanse samelewing toenemend bestuur sodat 'n geselekteerde elite groep die enigste deelnemers is en die meerderheid bly net toeskouers? Gaan die ANC regering die grondwet met al sy bepalings en regte voortspruitend, aanvaar en konsekwent toepas – ook op homself en sy lede? Dit is die eise wat nasiebou aan die ANC stel.  

Dalk het dit tyd geword om ernstig te begin besin oor ons verkiesingstelsel, en die lysstelsel wat die party as werkgewer verhef bo die norme en veragtinge wat die grondwet stel. Die ANC het die ou Nederlandse spreekwoord se waarheid bevestig “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt.” 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: