Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Februarie 2021
Terug na e-Afrikaner

Onteiening - dalk die laaste spyker in die kis van die Suid-Afrikaanse ekonomie? 


Deur Dries Wiese 
Voorsitter van die Nasionale Raad 

In Augustus 2019 praat Dr Frans Cronje van die Instituut vir Rasseverhoudinge by Vrystaat Landbou en ek haal graag aan: 
“Daar is net een ding om oor te praat – en dit is hoe om onteiening sonder vergoeding (OSV) te keer. Dit is die grootste bedreiging, nie net teenoor landbou en die breër ekonomie nie, maar teenoor die hele grondwetlike bestel, burgerregte, en die oppergesag van die reg wat hierdie land in 25 jaar moes trotseer. Indien ons nie hierdie bedreiging oorbrug nie, verdoem ons Suid-Afrika tot ’n toekoms van armoede, mislukking, en chaos.

Hoe is dit moontlik dat ons ’n punt bereik het waar so ’n bewering gemaak kan word?
Die antwoord is, stadig en met voorbedagte rade. My analis-kollegas het oor die afgelope 12 jaar meer as 30 beleids-, regulatoriese en wetgewende pogings nagespoor om eiendomsregte te ondermyn. 

1. Dit het met die 2007-aanval op die gewillige koper/gewillige verkoper-beleid by die ANC-konferensie in Polokwane begin.
2. Hierdie aanvalle het op hul beurt die inhoud van die konsep-Onteieningswetsontwerp van 2008 bepaal.
3. Dit het op sy beurt die staking van die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie in 2010 meegebring.
4. Daarna was daar die landbou-groenskrif van 2011, wat vooraf gewaarsku het teen elke risiko vanaf grondplafonne tot OSV – wat almal binne die volgende ses jaar tot beleid en wetgewing geformuleer sou word.
5. ’n Jaar later was daar die 20%-voorstel in die Nasionale Ontwikkelingsplan.
6. Die 50/50-voorstel was kort op sy hakke.
7. Dit is gevolg deur die Grondrestitusie-wysigingswet van 2014 wat honderde duisende nuwe grondeise wou ontlok sonder die begroting om dit te finansier.
8. Daarna het die Eiendomswaarderingswet gekom deur middel waarvan die Staat probeer het om dié begrotingsverpligting te verminder.
9. Dit is gevolg deur die Agrigrond-wetsontwerp waardeur die Staat kuratorskap van alle landbougrond wou verkry, soos die Groenskrif gewaarsku het – waardeur hy aan enige begrotingsverpligting sou ontsnap.
10. Hierna het die Regulering van Grondbesit-wersontwerp gevolg, wat plaasgroottes sou beperk en boere sou dwing om van die surplus afstand te doen.
11. Dit is gevolg deur die voorgestelde wysiging van die Grondwet.
12. En nou, uiteindelik, is daar die aanbevelings van die presidensiële adviespaneel.” 

Sedert die analise van 2019, wat ons destyds na Afrikaans laat vertaal het en aan ons lede gesirkuleer het het die aanslag nie opgehou nie. Soos wat dit al gebruiklik geraak het misbruik die regering die afsluiting van die jaar, Kersfees en die Kersvakansie om belangrike wetgewing te publiseer en dan kommentaar te vra. In Desember 2020 was daar in verskeie Sondagkoerante advertensies rondom die Onteieningswetsontwerp. (Dit moet nie verwar word met die proses om Artikel 25 van die Grondwet te wysig om Onteiening sonder Vergoeding moontlik te maak nie.) Dit is 'n afsonderlike proses en sal ook in 2021 momentum kry.  

Belanghebbendes en belangstellende persone, instansies en organisasies word nou genooi om kommentaar in te dien voor of op 28 Februarie 2021. (Die proses is uitgestel nadat dit aanvanklik op 10 Februarie ingedien moes word.  

Wat Onteiening sonder Vergoeding en die grondwetwysiging aanbetref het ons enkele dae gelede verneem dat die voorgestelde wetsontwerp om artikel 25 van die Grondwet te verander om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak teen middel Maart afgehandel word. 

Hier is dus twee stukke wetgewing en prosesse ter sprake en lede en elkeen wat eiendom en bates in Suid-Afrika besit moet duidelik kennis neem en betrokke moet raak in elke moontlike inisiatief om dit te stuit.  

Die Afrikanerbond is op rekord en ons wil dit weer onomwonde stel dat enige proses om ʼn verandering in eiendomsreg in die grondwet, artikel 25, nie aanvaar kan word nie. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom word nou slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes. Deur enigsins met ʼn proses te begin vir onteiening sonder vergoeding, hoe ook al verdoesel, is ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet. 

Beide die wetgewings wat onteiening aanraak tas die wese van eiendomsreg in sy wese aan en elkeen moet kennis neem daarvan. Dit word algaande duideliker dat die ANC se ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie nou verskerp word en daarom die hernude aandrang op die wetgewing. Dit moet bygevoeg word dat die motiewe verdoesel word en dat dit in die eerste plek nie gaan oor grond nie maar oor stemme. Dit het mnr Moeletsi Mbeki onlangs bevestig in ons webinaar. Kyk gerus op ons webwerf na die onderhoud met mnr Mbeki. 

Die Suid-Afrikaanse regering kan nie meer vertrou word met grond, eiendomsreg of selfs prosesse tot grondhervorming nie. Daarvoor is die bal te veel keer laat val en verbrou deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering en onbeholpe beleidsimplementering met grootskaalse korrupsie. Daarom verfoei die Afrikanerbond opportunistiese aksies en uitsprake om nou eiendom te probeer bekom, te onteien of prosesse te misbruik met uitsprake en blatante leuens. Selfs onbeskaamde toeëiening gegrond op afkoms of ras of wanvoorstellings wat as ʼn reg voorgehou word, sonder om op meriete enige aansprake te kan maak op eiendomsreg, kan nie meer geduld of aanvaar word nie. 

Daarom sal die Afrikanerbond as fasiliteerder van die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte nie ophou op druk toe te pas ten einde die wetgewing te stuit nie. die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte het in die tydperk van Covid-19 verskeie kere virtueel ontmoet en verskeie ander groeperinge is ook aktief besig met mobilisering teen Onteiening sonder Vergoeding. . Ons sal dus voortgaan met steun vir enige inisiatief tot moontlike regsaksie, mobilisering van internasionale begrip en openbare druk deur middel van vertoë en petisies. 

Dit wil voorkom asof die ongrondwetlikheid en die drakoniese aard van Onteiening net nie wil deurdring tot die ANC, sy leierskap of sy alliansie vennote nie. Die Suid-Afrikaanse regering is besig om sy rug op internasionale norme en standaarde te keer. Dit kan doodeenvoudig nie toegelaat word om te gebeur nie – die burgerlike gemeenskap het die verantwoordelikheid om alles moontlik te doen om dit te verhoed.

Die Afrikanerbond het deurgaans steun en ondersteuning gegee vir enige inisiatief wat eiendomsreg in Suid-Afrika vestig en beywer onself vir eiendomsreg vir almal in Suid-Afrika. Dit moet egter kan gebeur in ʼn oop en vrye mark waar daar ewekansig geleentheid is om met of sonder staatshulp eiendom te kan bekom. Daar is meer as genoeg geleentheid in landbou, as een van hierdie komponente, om waardevolle eiendom te kan bekom. Baie voorstelle is reeds in die verlede gemaak om op kreatiewe wyses ʼn oplossing te vind hiervoor. 

Die Afrikanerbond wil by herhaling pleit dat hierdie ondeurdagte en onnodige fokus op die onteiening van grond anders hanteer word. Dit is krities noodsaaklik dat die ANC regering eerder ernstige onderhandelinge met die georganiseerde landbou en ander geaffekteerde partye aanknoop om ooreen te kom op ’n grondhervormingsproses wat billik en regverdig, nie-verdelend, doeltreffend, ekonomies aanvaarbaar, vinnig en landboukundig volhoubaar sal wees.

ʼn Afwatering van eiendomsreg sal verreikende implikasies inhou vir enige vertroue in Suid-Afrika, sy regering en toekomstige beleggings. Dit mag dalk die laaste spyker wees in die kis van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is geldig vir nasionale en internasionale vertroue en dit sal enorme negatiewe implikasies inhou vir elke Suid-Afrikaner. Daarom sal die Afrikanerbond enige proses wat veranderinge beoog of in die vooruitsig het, teenstaan. Lees gerus ons kommentaar op die bestaande Wetsontwerp op Onteiening en gebruik die fasiliteit op ons webwerf om insette te lewer (Afrikanerbond kommentaar) 

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: