Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 15 Februarie 2021
Terug na e-Afrikaner

Bind die demokrasie vryheid te veel, of te min? 


Deur Herman Toerien
 
Verskeie gebeurtenisse speel nou saam om skerp vrae oor die doeltreffendheid van grondwette in demokrasie te stel, en of ander faktore nie ook te veel ingrepe maak in oor wat nou eintlik veronderstel is om die beste grondwet ter wêreld te wees nie. 

Die onderwerp is te wyd om in een artikel behoorlik onder die loep te neem, dit akademies te ontleed en gesaghebbend in ‘n studiestuk te giet, maar so iets is in elk geval veronderstel om as’t ware eers as ‘n gebrom onder die kiesers te ontstaan, en die meriete daarvan deur verskillende vlakke te neem tot waar die meriete dit deur demokratiese metodes kan dra. Maar ‘n paar gebeurtenisse die afgelope ruk is so erg dat die saambind daarvan nie meer agterweë kan bly nie. 

1. Die aanklagte teen oud-pres. Donald Trump van die VSA: Is die deugbaarheid van hoe bepaal word of iemand skuldig is of nie, nie maar soos om ‘n wenner uit ‘n hoed te trek nie? Kortom, het die basiese grondbeginsels van ‘n juridiese basis nie eenvoudig in die slag van ‘n politieke benadering gebly nie?

Kort na die Konstitusionele Hof teen oud-pres. Jacob Zuma beslis het oor sy weiering om voor die Zondo-kommissie te getuig, het een van sy ondersteuners op nasionale radio bitterlik oor die howe gekla wat die grondwet hoër as die “wil van die mense stel.” In die Trump-geval het ‘n groep politici hul sin gekry op gronde wat min met normale regspraak te doen het. Het die “regters” se gewetes enige rol gespeel? Het regskennis enige rol gespeel? Is dit korrek dat koerante kon aankondig dat Trump onskuldig (bevind) is? Of het blote politieke voorkeur ‘n rol gespeel dat dit meer korrek sou wees om bloot te bevind hy is nie skuldig bevind nie? Is die stelsel waarvolgens Trump verhoor is enigsins in pas met die demokratiese regsbeginsel dat daar skeiding tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag moet wees, en nie eenvoudig onder die tafel ingevee is nie?

‘n Mens weet in die praktyk dat die skeiding van magte nie altyd absoluut kan wees nie. Hoe sinvol bv is dit dat die Openbare Beskermer deur die Wetgewende gesag aangestel moet word? In SA se geval het die praktyk van aanstelling reeds heelwat moeilikheid gemaak, soos nou weer die geval is. Die John Hlope-geval wys dat enige versmelting van om deur kollegas en politieke maats verhoor te word, nie deug nie.
 
Hoe dikwels bly regverdige geregtigheid nie weens die erodering van die skeiding van magte in die slag nie?

2. Zuma se optrede in regering, en veral daarna, kan dikwels op geen wyse binne ʼn demokrasie regverdig word nie. Zuma het hom genoeg in sy kritiek op die regspraak aan die begrippe van demokrasie en grondwetlikheid afgevee, veral rondom die kernbeginsel van demokrasie, naamlik dat die regeerder veronderstel is om in algemene belang, en nie in belang van die wenner te regeer nie. Kyk maar na die ampseed soos dit in die grondwet vervat is. In ‘n ware demokrasie is daar geen ruimte vir die toepassing van een stel reëls vir die land en sy mense en ʼn ander stel reëls vir die regeerder nie. Maar dan is daar ook geen ruimte vir korrupsie ook nie. 

3. In ‘n demokrasie word ‘n hoë premie gestel op die rol van die onafhanklike media. Dit word dikwels as die vierde been, weliswaar nie-amptelike been van die regering genoem, met die waghondfunksie voorop. Die gevolg is egter dat die media of op allerlei slinkse maniere onderdruk word, of dat staatsgeld gebruik word om gunstiger publisiteit te verseker. Soms word selfs gewelddadige metodes ingespan. Dit het onlangs aan die lig gekom dat die Staatsveiligheidsagentskap ‘n Engelstalige koerant klandestien met miljoene rande gehelp het. Staatdienspensioengeld is blatant gebruik om ‘n koerantgroep te “beïnvloed” en toe dit verkwansel is, dit eenvoudig af te skryf. Wat is die verskil nou eintlik met die destydse “Inligtingskandaal” wat enorme publisiteit en implikasies vir die regering gehad het?

4. Gemeenskapsbelangegroepe, net soos die vrye media ‘n integrale deel van ‘n vrye demokrasie, word gereeld as vyande afgemaak. Waar sou die land gewees het as dit nie vir groepe soos Solidariteit, AfriForum, Outa, Freedom under Law en vele ander was nie?

Solank as of dit lyk of die parlement eerder as die tronk, die tuiste van die korrupte is, so lank gaan dit moeilik wees om die parlement as baken vir demokrasie te laat uitstaan. Die hartseer is dat die sentrale regering se voorbeeld ook deurvloei na provinsiale en munisipale regeringsvlak. Die verwoestende geskrum om die opperhand op outokratiese wyses te bekom doen ons demokrasie nie goed nie.  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: