Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 18 Januarie 2022
Terug na e-Afrikaner

Afrikaanse Taalraad: Aksie van die burgerlike samelewing 
- Saam die toekoms in met Afrikaans 


Die onderstaande skrywe is op 10 Desember 2021 deur die Afrikaanse Taalraad aan die President gerig en is ondersteun deur vele organisasies waaronder die Afrikanerbond  - sien die skakel na die lys van organisasies en ondertekenaars onder)  

Geagte Mnr die President

Ope Brief aan die Agbare President Cyril Ramaphosa
Die Afrikaanse Taalraad (ATR – Afrikaanse Taalraad) wens die agbare President as Staatshoof graag geluk met die 25ste herdenking van die ondertekening van die Grondwet deur oudpresident mnr Nelson Mandela op 10 Desember 1996. Dié geleentheid hou verband met die inhoud van hierdie brief.

As 'n verteenwoordigende, grondwetlike liggaam van die Afrikaanssprekende gemeenskap wat Afrikaans in sy volle diversiteit bevorder (insluitend die Afrikaans van die Kaapse Skiereiland, die Weskus, Namakwaland, Gauteng, gemeenskappe soos die Griekwa, ensovoorts), neem die ATR met waardering kennis van u positiewe uitsprake oor Afrikaans asook oor die Khoi- en San-tale. Dit het mense hoop oor insluiting en erkenning gegee. 

Ons maak weens die bogenoemde teësinniglik dog duidelik melding van ons diepe kommer oor die Departement van Hoër Onderwys se taalbeleid van 30 Oktober 2020. Die afwysing van Afrikaans en die Khoi- en Santale as nie-inheems lyk na 'n ontstellende daad van taalonverdraagsaamheid en onregverdigheid. Dit voed ’n vrees vir verskerpte toekomstige uitsluiting en onderdrukking.

Meneer die President, ons hoop ook om u aandag te vestig op die disfunksionele verpolitisering van Afrikaans en van die Khoi- en San/Boesmantale wat steeds voortvloei uit hierdie ondeurdagte beleid. Ons verstaan die historiese bagasie van Afrikaans is ’n gegewe in situasies soos dié — ook dat Afrikaans groter is as dié verlede. 

Dit is die derde grootste taal in die land en word deur mense van alle rasse en klasse gepraat. Dit is ook gebruik as ’n taal van weerstand teen die ongeregtighede van apartheid en koloniale oorheersing. Dit dien steeds as ’n taal van bemagtiging vir duisende leerders en studente waarvan die meerderheid as swart geld.

Ons het onlangs moed geskep toe die Konstitusionele Hof, soos geformuleer deur regter Steven Majiedt in die saak tussen UNISA en AfriForum, die ideologiese verpolitisering van Afrikaans en die “eendimensionele uitbeelding van Afrikaans as wit taal, en as taal van die onderdrukker” gekap het. Die regter se gesaghebbende beoordeling van taalkundige bewyse rakende Afrikaans as inheemse taal behoort enige debat oor dié saak af te sluit.
Dienooreenkomstig, is die nie-inheemse status van die Khoi- en San/Boesmantale in die beleid taalkundig bisar en eties verwerplik. Dié afwysende behandeling van die moedertale van ons volk kom neer op ’n minagting van ons geskiedenis. Die geagte Minister se volharding in die saak ondanks die openbare reaksie daarop is vir ons ’n raaisel. Verteenwoordig dit die pad wat die regering wil volg?

Meneer die President, ons beskou die 2020-taalbeleid as ernstig gebrekkig en dink dit oortree die minimum vereistes van die Grondwet aangaande die gebruik van amptelike tale. Die beleid moet voldoen aan subartikel 27 (2) van die Wet op Hoër Onderwys, wat onder andere uit subartikel 6 (4) van die Grondwet voortspruit. Dié subartikel bepaal dat alle amptelike tale — wat Afrikaans insluit — gelyke aansien en billike behandeling moet geniet, met volgehoue ondersteuning van die voorheen benadeelde tale, insluitende die Khoi- en San/Boesmantale.

Die beleid se insluiting van slegs die Suidelike Sintoetale (Bantoetale) as inheems, tesame met die verpligte ondersteuning wat tersiêre instellings aan hulle moet bied, bots egter met die vereisde gelyke aansien van Afrikaans as amptelike taal en daarmee die billike behandeling van die taal. Dit verminder ook die status van die Khoi- en San/Boesmantale.

Meneer die President, ons hoop om u aandag te vestig op die skerp kontras tussen die huidige beleid en voormalige Minister Kader Asmal se beleid van 2002. Dié beleid het tereg erkenning gegee aan die behoefte om al die amptelike tale te intellektualiseer. Dit het ook “die behoud van Afrikaans as ’n medium van akademiese uitdrukking en kommunikasie in hoër onderwys” ten volle ondersteun en bepaal “dat die vermoë van Afrikaans om as so ’n medium te funksioneer nie afgewater (moet) word nie”. 

Sedertdien is min vordering egter met die ondersteuning van die voorheen benadeelde tale gemaak terwyl Afrikaans sienderoë agteruitgegaan het — ’n proses wat nou ’n kantelpunt nader. Ons is vinnig besig om ’n waardevolle intellektuele hulpbron te verloor terwyl ons terselfdertyd probeer om ander tale binne ’n toenemend eentalige Engelse omgewing te intellektualiseer.
 
Meneer die President, die 2020-beleid se ongrondwetlike mikpunte dompel nie die sprekers van Afrikaans of die Khoi- en San/Boesmangemeenskappe in onsekerheid oor hul identiteit as Suid-Afrikaners en die geworteldheid van hul tale in Afrika nie. Ons weet egter ook tersiêre instellings sal hul taalpraktyke met die nuwe beleid belyn, waarskynlik met ernstige gevolge vir toegang deur Afrikaans. 

Met agting, Meneer die President, die politiek het ons gefaal. Ons neem nietemin kennis van die agbare Minister se stelling dat die gepubliseerde beleid van 30 Oktober 2020 nog deur die kabinet goedgekeur moet word. Ons versoek daarom dat die agbare Minister dit formeel terugtrek, hangende die finale goedkeuring daarvan.
Meneer die President, ons betoog gaan nie net oor Afrikaans nie. Ons glo vas al ons inheemse tale -insluitend Afrikaans en die Khoi- en San/Boesmantale - verdien om as voertuie van bemagtiging vir al ons burgers bevorder te word. Die Afrikaanse gemeenskap het reeds ’n groot bydrae gelewer tot die enorme taak om die voorheen benadeelde tale te intellektualiseer en is bereid om nog veel meer te doen. 
Ons is egter diep besorgd oor die praktiese implementering van die beleid en die beduidende risiko dat ons inheemse tale, Afrikaans ingesluit, tot grootliks simboliese funksies by toenemend eentalige universiteite beperk sal word. In lyn met wyle dr Neville Alexander se redenasies, is ons oortuig dat veeltaligheid nie bereik kan word deur eers van tweetaligheid na Engels-gebaseerde eentaligheid terug te val nie. Ons glo ook die lot van Afrikaans by ons universiteite sal die lot van ons ander inheemse tale bepaal – met geweldige kulturele en sosiale gevolge.

Meneer die President, ons is opreg daarvan oortuig dat ons inheemse tale op ’n regverdige wyse bevorder kan word en op maniere wat mense bymekaar bring eerder as om hulle te verdeel. Ons versoek u derhalwe met alle agting om die leiding in hierdie situasie te neem. Breek asseblief deur die politieke blokkade. Bewerkstellig asseblief ’n hersiening van hoe taal aan ons universiteite gereguleer en gemoniteer word. Tree asseblief op, Meneer die President. 

Die ATR verneem graag of die agbare President gewillig sal wees om ’n wye en verteenwoordigende delegasie van die Afrikaanssprekende gemeenskap te ontvang om hieroor te praat.

Die Uwe
Dr. Conrad Steenkamp
Uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR)

- Lede van die Afrikaanse Taalraad 
- Besigheid en gemeenskapsleiers 
- Taalkundiges, letterkundiges en opvoedkundiges
- Organisasies  

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: